Ter wille van Talita. Helena Christina Hugo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Helena Christina Hugo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318367
Скачать книгу
“Tot siens, Dominee, Edwina sien jou vanaand by die Bybelstudie. Dis haar beurt. Ek moet kinders oppas.”

      Die jongste enetjie staan in die deuropening. Sy gee een treetjie na binne. “Is Pappa klaar?” vra sy onskuldig.

      “Wat het ek gesê?” Theuns raap sy Bybels op en storm op die kind af. “Ek het gesê: Bly buite!”

      “Ek is.”

      “Jy is nie!”

      “Ek het net my toontjies laat intrap.”

      Johan wil glimlag, maar Theuns word kwaad.

      “Wag tot ons by die huis is, dan trek ek jou velle af.” Hy stoot die kind voor hom uit, gaan staan skielik en kyk om hom rond. “Waar is jou suster?”

      “Huis toe, sy wou nie langer wag nie.”

      “Alleen?”

      “Sy’t saam met oom Ollie geloop. Pappa maak my seer!”

      Johan sluit haastig die konsistoriedeur, toets die slot en draai om. Theuns het Danika se vlegsel beetgekry en sleep haar op ’n drafstap in die rigting van hul huis oorkant die kerk se erf, twee huise van die pastorie af. Die meisietjie probeer vergeefs haar hare uit haar pa se greep losrem. Johan wil hulle agternasit, maar hou homself in toom. As hy inmeng, kan Theuns onbeheerbaar raak.

      Here, laat Edwina hom kalmeer.

      Hy kyk totdat hulle uit sy siglyn verdwyn.

      Dan steek hy die sleutels in sy sak en stryk aan pastorie toe.

      Theuns hét ’n probleem en hy behoort aangespreek te word, maar wat sê hy vir hom? Hy is ’n man met sterk beginsels, daarteen kan niemand stry nie. Ongelukkig sien hy nie sy eie foute raak nie, ander mense s’n wel. Só seker is hy van die pad wat hy ingeslaan het, hy verskil dikwels ernstig van die kerkraad én van Johan. In die proses tree hy bombasties en dominerend op, soms beledigend.

      Johan stap vinniger. Verbeel hy hom of hoor hy gille uit die rigting van die Van den Heevers se huis? Is dit werklik of is dit sy gewete wat by hom spook? Theuns sal seker nie sy dogtertjies pakgee omdat hulle moeg geword het om vir hom te wag nie? Of is dit omdat hulle hul name op George se lys neergeskryf het?

      Johan gaan staan by sy tuinhekkie en luister.

      Nou hoor hy niks.

      Dit troos en hy stap flink stoep toe.

      Emma se swaardlelies en dahlias staan hoog teen die sitkamer­muur. Party maak al knoppe. Somer is vroeg vanjaar en Kersfees is om die draai. Om te kan uitkamp by die see is regtig lekker – as die kinders se maats dit nie kaap nie. Rentia het ’n ongesonde bewonde­ring vir klein Herman en Jan wil saam met Boetie Hermanus toe. Johan het voorgestel dat hulle daar gaan kamp. Dit was ook nie goed genoeg nie – te vernederend, die tente teenoor die Bezuidenhouts se luukse strandhuis.

      Johan sug en stoot die pastorie se voordeur oop. Hoe keer jy dat jou kinders jou lewe as vervelig en armsalig ervaar? Hoe leer jy hulle van eenvoud en stilte as hulle klatergoud en geraas verkies? Hoe voed jy hulle op sonder om hul drome te vertrap?

      Hy trek die deur agter hom toe.

      “Emma!” roep hy.

      Sy antwoord nie.

      “Emma?”

      Sy is nie in die kombuis nie en die stoof staan koud. Hy loop in die gang af en loer by haar ateljee in. Ook nie daar nie. Hy kry haar in haar onderrok op hul dubbelbed, vas aan die slaap. Haar kerkrok is oor die stoel gedrapeer, haar hofskoene netjies langs mekaar. Hy staan ’n ruk na haar en kyk – sy Emma. Sonder haar sou hy iemand soos Theuns van den Heever lankal aan die keel gegryp en geskud het, praat nie eens van klein Herman Bezuidenhout nie.

      Johan haal diep asem. As hy aan klein Herman dink, dink hy aan Rentia en ’n benoudheid kom lê op sy bors. Hy trek sy baadjie uit en hang dit in die kas. Hy maak sy das en sy boonste hempsknope los, loop suutjies om die bed en sit en trek sy skoene uit.

      Emma roer agter hom. “Hoe laat is dit?” vra sy deur die slaap.

      “Twaalfuur.”

      “Dis dan nog lig.”

      “Twaalfuur in die dag,” sê hy en maak hom langs haar tuis.

      Sy skouer skuur teen hare. Moegheid vloei soos water deur sy lyf.

      “Simpel van my om aan die slaap te raak,” sê sy.

      “Dit was ’n besige tyd en dit gaan nog besiger raak,” sê hy.

      Sy nestel stywer teen hom aan. “Was jy heeltyd by die kerk?”

      “Theuns het my daar gehou.” Johan sug. “Die Here het hom gestuur om my te toets.”

      “Wat het hy nou weer gedoen?”

      “Sy dogtertjies onnodig verskree.”

      “Klink soos ek en Rentia.”

      Dis waar. Die tiendagvakansie was nie sonder voorval nie. Rentia en Emma het elke dag rusie gemaak en hy was die tussenganger.

      “Klein Herman is ook gestuur.”

      Dit troos Emma nie. Haar selfverwyt het ’n sweep geword waarmee sy haarself kasty. “Ek moet geduldiger wees met Rentia. Ek is immers volwasse, sy nie.”

      Hy het dit al gesê, en hy sê dit maar weer. “Jy wil haar beskerm – ek ook – en sy wil ons nie glo nie.”

      “Dis hoekom ek so moeg is. Ek kan werk tot ek omval, dag en nag. Ek kom daardeur, maar ek loop my vas teen ons kind se selfvernietigingsdrang – dít kort voor haar matriekeksamen. Wat doen ons?”

      “Ons bid. Ons laat dit aan die Here oor.”

      Hy wag. Gewoonlik beaam sy sy woorde. Nie vandag nie. Johan luister na haar asemhaling. Sy neem vlak teugies. Sy is ontsteld omdat sy twyfel, vermoed hy, aan sy eerlikheid.

      Bid. Laat dit aan die Here oor.

      Dis wat hulle glo en dis wat hulle met die gemeente en die res van die mensdom deel. Maar die laaste tyd het ook hy vergeefs gesmeek dat die Here Rentia se oë oopmaak, haar laat sien – selfs al moet dit haar skok – wie en wat klein Herman is.

      Emma snuif. Sy vee haar trane met haar vingerpunte af. Hy wikkel sy sakdoek uit sy broeksak en gee dit vir haar aan.

      “Ons moenie dat hierdie ding ons geloof aantas nie,” sê hy.

      “Ek sukkel, maar ek hou nie op bid nie, Johan, al weet ek nie meer wat om vir die Here te vra nie. Die antwoord wat die laaste tyd na my toe deurkom, is Andrea. Ek moet met Andrea gaan praat – vrou tot vrou, moeder tot moeder. Maar ek wil nie ’n gek van myself maak nie.”

      Johan sit regop en swaai sy bene oor die rand van die bed. “Ons het raad vir ander mense, nie vir onsself nie.”

      “Ek bel haar vieruur, kom wat wil.”

      “Vir Andrea?”

      “Nee. Rentia. Andrea-hulle is weg vir die naweek.”

      “Miskien moet ek met klein Herman gaan gesels.”

      “Moenie eens daaraan dink nie!”

      “Dalk het Theuns vir ons raad.”

      “Ons is almal in dieselfde bootjie.”

      “Ouers van dogters,” sê Johan. “Ek gaan vir my ’n toebroodjie maak, wat van jou?”

      Hy is al halfpad in die gang af, toe hoor hy haar roep.

      Twee

      “Ek het vergeet om te sê. My gedagtes was heeltyd by Rentia en vanoggend was ons laat.”

      “Jy weet al van Donderdag af.”

      “Jammer.”

      Johan