Die enigste goed aan die skool was die boekerytjie in die skemer kamertjie waar jy in die boeke mag gelees het. Moeilike woorde, nie soos skoolwerk nie. Meneer Johnstone wat Engels gegee het, het haar altyd Vrydae ’n boek koshuis toe laat neem vir die naweek. Net leen. Dan draai sy die boek in ’n doek soos die geheim wat sy vir haarself aan’t bêre was: Dat sy eendag ’n rykmens-mens sou wees.
Sy moes net eers wegkom uit die skool uit.
Boeke het gehelp om die tyd te laat verbygaan, die nimmereindigende kwartale.
Wanneer dit tyd geword het vir skoolvakansie, het die onderwysers gewoonlik begin verneem na ’n geleentheid wat haar kon huis toe neem – al was dit net tot op Knysna. Daarvandaan loop sy Langvleibos toe na haar ma. Die ander twee meisiekinders in die skool wat ook uit die bos gekom het, het sommer self huis toe gestap. Daglank. Agter die berg langs tot by die Uniondalepad wat oor Prins Alfredspas van die Langekloof af kom, dan oor die berg en van die agterkant af die bos in. Haar ma wou nooit hê sy moes saam met hulle stap nie, hulle was hierjy mense se kinders. Die onderwysers wou ook nie eintlik dat sy huis toe stap nie. As die vakansie amper verby was, het oom Cornelius begin verneem na ’n geleentheid terug Wittedrift toe vir haar.
Eenkeer laat roep die skoolhoof haar en sê sy moet haar goed vinnig bymekaarmaak, daar’s ’n man wat haar geleentheid kan gee tot in die bos. Sy was baie bly. Sy hardloop koshuis toe, gooi haar klere in die soetkys wat die Kerk haar gegee het, vee haar gesig af, trek haar skoene aan, kam haar hare.
By die kantoor sê die hoof die man sal nou weer terug wees, hy het net gou met een van die ander onderwysers gaan praat oor ’n sekere wilde blommetjie wat glo in die koppe bokant die skool groei.
“Die man is ’n plantkundige – wat noem ons nou weer ’n plantkundige, Karoliena?” Soos skoolhou.
“Botanis, meneer.”
“Korrek. Die skool sluit nou wel eers oormôre, maar aangesien hy bereid is om jou tot by Diepwalle te neem, het ek besluit om jou vandag reeds verlof te gee om huis toe te gaan.”
“Dankie, meneer.”
Meneer Kritsinger, hy was nie onaardig nie. Sy wou net nie in sy simpel ou skool wees nie. Die Kerk het gesê sy moet geleerd kom, die grootste probleem met die armblankes in die bos is hulle ongeletterdheid. Oom Cornelius sê dis ’n lieg. Diaken van Zyl sê die houtkappers se grootste probleem is die feit dat hulle so ’n ongodsdienstige spul is. Sal dorp toe stap vir koffie en suiker, maar nie om in ’n kerk te kom nie! Toe sê een van die houtkappers vir hom, trek bietjie uit jou manel, dan sê jy dit weer. Ons gaan iedere Sondag kerk by Veldmanspad se skool, en Woensdagmiddae biduur wat die boswagter vir ons hou – as ons nie te ver van die huis af kap nie. So hou jou bek.
Skielik vra meneer Kritsinger dié dag: “Karoliena, is jy gelukkig hier in die skool?”
Nee, sê sy in haar hart. “Ja, meneer,” sê sy met haar mond.
“Jy moet my belowe dat jy nie die skool sal verlaat nie.”
Ek sal. “Nee, meneer.” Waar’s die man wat my geleentheid gaan gee?
Toe kom die man. Mens kon aan meneer Kritsinger se manier sien dat hy ’n vername man was; hulle het net Engels gepraat en meneer Kritsinger het saam buitetoe geloop en die man innig bedank vir sy ontferming oor die poor girl; sy het dit nie maklik nie, haar vader is ’n houtkapper.
In haar hart sê sy: Dis nie waar nie, my pa is lankal dood.
Wonderlikste was dat die man ’n motorkar had! ’n Motorkar met ’n afslaankap, baie soos ’n perdekar, maar met wiele in plaas van perde en die motor se letters was CCO 10. Sy het al ’n hele paar keer vantevore in ’n motor gery, dit was lekker gou. Oom Wiljam Stander bokant Veldmanspad het vier melkkoeie en ’n motorkar gehad wat £40 gekos het, maar die mense moes betaal as hulle wou saamry. Dan lag oom Wiljam en sê hy maak party maande meer uit mense oplaai as uit melk verkoop.
Toe loop meneer Kritsinger om die motor, maak die agterste deur oop en sê vir haar sy moet agter inklim. Die Engelsman sê: Nee, laat haar voor sit.
Toe sit sy voor.
Toe ry hulle. Tog te lekker! Ná ’n ruk begin sy wens die pad agter die berg langs moet nooit ophou nie, dat die vriendelike ou oom haar nooit weer moet aflaai nie. Hy praat Engels, sy praat Afrikaans, hulle verstaan mekaar goed. Sy bril se raam lyk van dieselfde stoffasie gemaak as haar kam. Die pak klere wat hy aanhad, was blougrys soos ’n bloubokkie se jas; om die waarheid te sê: hy’t van die kant af kompleet soos ’n ou bloubok met ’n bril op gelyk! En hy praat met haar asof sy ’n gewone mens is wat hy opgelaai het, nie ’n armblanke nie. Sy vra: Hoeveel kinders het oom? Nee, hy het nie kinders nie. Sy vra: Waar is oom se vrou? Nee, hy het ook nie ’n vrou nie. Sy sê vir hom, dis geen wonder oom het nie kinders nie. Hy lag, en vra hoe lank sy al op Wittedrift skoolgaan. Amper twee jaar, sy’s in standerd agt. Hy vra of sy skool geniet. Nee. Hy vra uit watter deel van die bos sy kom. Langvleibos. Is sy lief vir die bos? Sy vra: Hoe’s mens lief vir ’n bos? Dis net ’n bos. Sy vra: Waar woon oom? Witelsbos, dis ’n hele ent anderkant Wittedrift. Hy vra of sy Diepwallebos ken. Sy sê meeste van die voetpaaie, ja. Hy vra of sy al ’n olifant gesien het. Sy sê baie spore, baie mis, maar nog nie eintlik baie olifante nie. Hulle is baie gevaarlik; beste is om maar altyd ’n stinkhout of ’n witels in die oog te hou om in op te klim vir ingeval hulle jou jaag – die ander bome in die bos is te regop om te klim. Het oom al ’n olifant gesien? Ja. Hy’t lank in die bos gewerk. Was oom ’n houtkapper? Nee, hy is die landmeter wat lank gelede die bos in seksies opgemeet het. Weet jy wat ’n seksie is? Ja, oom, dis ’n wêrrie. Die houtkappers moet lootjies trek om ’n wêrrie te bekom om in te kap, hulle is baie ontevrede omdat hulle nie meer mag kap soos hulle wil nie. Hy sê hy weet. Die mense in die bos word al meer armer, oom. Hy sê hy weet. Hy vra: Woon meneer Barnard nog by Jim Reid-se-draai? Ek weet nie, oom, daar woon baie Barnards in die bos; daar bo by Jim Reid-se-draai woon net so ’n snaakse wilde oom in ’n houthuisie. Dis hy, sê die man en glimlag sy gesig vol plooie.
“As jy hom weer sien, sê vir hom mister Fourcade stuur groete. Hy ken my.”
Toe hulle by Buffelsnek om die varingdraai kom, hou hy stil en klim uit om ewe aandagtig na ’n boom langs die pad te gaan staan en kyk. Op en af. Op en af.
“Dis ’n rooihout, oom,” sê sy toe hy omdraai en terugkom by die motor. Skielik kyk hy haar aan asof hy haar die eerste keer raaksien. “Ons noem hom sommer papierboom omdat sy bas so nes velle papier afskilfer, maar ou Abel Slinger, dis ’n baie ou man in die bos, noem hom kouhout omdat daardie boom selfs op die warmste bergwinddag ysig koud voel onder jou hand of agter jou rug as jy bietjie lafing soek.” Sy wou nog bygevoeg het dat Abel se ou vrou altyd ’n stukkie rooihout aan ’n riempie om haar nek dra omdat dit glo alle booshede weghou. Of dat jy van die bas moet snuif as jou kop seer is.
“Ken jy al die bome in die bos, Karoliena?”
“Die meeste, nie almal nie.”
“En die plante in die onderbos?”
“Nie almal nie. Maar meeste, dink ek.”
“Waar woon Abel Slinger deesdae?”
“’n Ent met Ysterhoutrugpad in, amper by Dirk-se-eiland – as oom weet waar dit is …”
“Ek weet, ek het daar opmetings gedoen. Abel was vir my cooking boy.”
“O. Wat is die snaaksste iets