Toorbos. Dalene Matthee. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Dalene Matthee
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624066101
Скачать книгу
met die sleepsel mote nie omdat olifante goed weet die osse is ook vir hulle bang. Duiwelsgoed, sê die houtkappers, wat jou sal fyntrap as hulle kan. Soos die hele wêreld jou fyntrap – maar steeds die hout wil hê wat jy kap!

      “En as die bos die dag uitgekap is, oom?” vra sy eendag vir een van die oues.

      “Dan’s ek lankal dood.”

      “Dan beter oom vinnig doodraak, die bietjie van die bos wat oor is, gaan nou opgepas word, sê mister Fourcade.”

      “Sê vir hom ek sê sy gat. En joune ook. Kry jou loop, Karoliena!”

      “Hulle sê die bos was voortyd maklik twintig keer so groot as wat hy nou is.”

      “Toe sou ’n man darem nog lekker voor die voet kon gekap het …”

      “Wat’s die snaaksste iets wat oom al in die bos gesien het?”

      “Vir jou. Want vir wat sluip jy gedurig hier rond? Wat makeer jou om ’n goeie eerbare man net so te los en aan te loop?”

      “Dis maande gelede, oom, maar julle wil dit nou eenmaal nie laat los nie!”

      “Omdat ons nie kan verstaan hoe ’n mens kan uitkoms kry en dit dan sommer net so wegsmyt nie! Veral nie in hierdie bos nie.”

      “Oom sal nie verstaan nie.” Sy’t self nie altyd heeltemal verstaan nie. Daar’s dinge wat raaisels bly. Al dink mens hoe hard.

      Naudé sal ook nie verstaan nie.

      Sy vat die sleeppad terug Diepwalle se kant toe. Terug boomland toe …

      Tussen mensland en boomland is ’n brug waaroor jy maklik kom terwyl die vrede om jou opnuut in jou lyf intrek en jou optel tot in die hoogste boomtop waar piet-my-vrou sy wyfie roep en roep en roep. Waar die paddas op die bosvloer klik-praat met mekaar. En met jou. Jou vra waar jy was, jou sê dat tier laas nag sagvoet kom kos vang het. Willevark se kind opgevreet het. Kyk! Daar’s sy spoor, en sy mis.

      Waar jy opkyk en kroonarend teen die bloue lug bo die bosdak sien sweef, soek-soek na ’n opening waardeur hy geruisloos kan val om ’n aap of ’n bokkie te gryp en jy mooi in jou hart vra: Asseblief, net nie vandag ’n bloubokkie nie, hulle laat nog lammertjies suip.

      Dan begin jy in jou eie vlug weer stadig afwaarts daal tot onder in die skemer bos om die voetpad te soek. Boom toe. Háár boom. Met die baie name waarmee sy hom al gedoop het, maar nie een wat wil pas nie. Kalander, Koning, Oudste, Mooiste, Hoogste.

      Amper by Diepwalle loop sy uit die hardepad en stoot met haar lyf ’n pad deur die onderbos en bobbejaantou-gordyn waar die bosdou nog in die skadu’s lê en aan haar lyf en hare afvee.

      Dag, Boom, sê sy toe sy by hom kom en haar kop eerbiedig laat sak soos vir bid.

      Vir niemand kan sy sê wat sy weet nie, want niemand sal haar glo nie. Miskien sal sy eendag vir mister Fourcade sê. Die enigste met wie sy eendag wel ’n stukkie daarvan vertrou het, was ou Abel Slinger …

      Sy het die dag kortpad gekies met die voetpad langs van Barnardseiland af, Diepwallebos deur om by die huis te kom. So twee uur ver se stap. Sy en haar ma woon toe nog onderkant Diepwalle se bosboustasie. Haar ma het haar die oggend eiland toe gestuur om die rooi rok te gaan terugleen by haar suster Maria omdat haar ma daardie tyd begin tof en tooi het vir oom Cornelius Kapp van Langvleibos se kuiers. Saans sit hulle in die voorkamer en sy, Karoliena, lê in die agterkamer. Dan roep haar ma om te vra of sy al slaap, dan hou sy haar aan die slaap, dan blaas hulle die kers in die voorkamer dood, dan hoor sy hoe die kooi in die voorkamer al vinniger en vinniger kraak …

      Dan wens sy sy kon diep die bos in loop en nooit weer terugkom nie. Dis net dat sy toe nog so bang was vir donkerbos.

      Dit was warm dié dag – benoudwarm – die tweede bergwinddag na mekaar. Die sweet stroom haar later af; die bos was droog, die kleinste stokkie het onder haar voete geklap, selfs die bome het anders gekraak. Soos goed wat tande het. Die lug was anders, die lig was anders, alles was helderder, asof mens dieper as gewoonlik die bosruigtes in kon sien. En doodstil. Spokerig stil.

      Toe die eerste blits die bos blink slaan, het sy so groot geskrik dat sy soos ’n verskrikte ding begin hardloop het. Toe die tweede bliksemstraal val, het sy hardop begin huil van bang dat die weer haar ook kom doodslaan het soos vir haar pa. Sy was amper by die ou groot kalanderboom ’n ent voor jy die hardepad by Diepwalle kry, toe dit haar byval dat jy nie in donderweer moet hardloop nie! Sy was in elk geval so moeg, sy’t sommer die sloop met die rok in in die sleeppad neergegooi en van vrees met haar rug teen ’n lêboom gaan staan om te bedaar. Toe spat die derde blits. Toe sy opkyk, sien sy die beweging van die vreemde spookgedaante wat stadig besig was om uit die kroon van die kalander op te rys asof dit ver oor die bos wou uitkyk. Lang vaalgroen kleed, nie van rokslap nie, fyner en slapper; bene en arms onder die kleed se voue; ’n lyf. ’n Kop met slierte lang vaalgroen hare. Helder. Nie soos in droom nie. Helder. En iewers bo in haar kop sê woorde vanself: Dít, Karoliena, is die boom se geheim.

      Agterna het sy onthou dat die boomspook nie tot by die voete uit die boom gekom het nie. Dat sy nie kon sê of dit ’n wyfie- of ’n mannetjiespook was nie.

      Die aand toe sy haar ma hoor roep om te vra of sy al slaap, was sy reeds buite in die donker en die reën. Sy’t vroegaand, toe die simpel oom kom, die houtluik in die agterkamer oopgemaak en suutjies deurgeklim om in die bosrand te gaan wegkruip.

      Sy was nooit daarna weer bang vir donkerbos nie.

      Lank, lank daarna het sy eendag vir ou Bothatjie gevra wat die snaaksste iets is wat hy al in die bos gesien het. Toe sê hy dokter Phillips se gesig toe hy hom die dag die drie stinkhoutjies wys.

      Niemand ken die bos soos ou Bothatjie nie. Soms voel dit vir haar of hy nie soos ander mense gebore is nie, maar dat hy op ’n dag uit ’n boomsaad op die bosvloer begin groei het.

      Rooi-els se klein bruin saad in die sagte doppie. Want selfs sy wilde bos witgrys hare is die kleur van ’n rooi-els se blom, en ’n lang, woeste baard. Soms vra vreemdes hom om teen die bosrand te staan sodat hulle van hom ’n kiekie kan neem.

      Markus Josias Botha. Van Jim Reid-se-draai bokant Diepwalle. Ou Bothatjie, sê hulle vir hom. Oujongkêrel. Netjiese plankhuisie minder as ’n klipgooi van een van die olifante se hoofpaaie deur die bos. Nee, hy’s nie bang vir die dikbene nie. Sê hy’t afspraak met hulle: Hy hinder hulle nie, hulle hinder hom nie. Kom skuur partykeer lyf teen ’n hoek van die huisie dat sy paar stukkies bordegoed klingel, maar rig nie skade aan nie. Weet hy’t ’n hoë man se permissie om daar te woon.

      Hy vertel jou graag van die hoë man. Kom mos een oggend by my aan op ’n spoggerige perd, kom stel homself bekend, sê hy’s dokter Phillips. Ek sê, aangenaam, ek het juis so pyn agter die blad. Nee, sê hy, nie daardie soort dokter nie, ’n plantdokter. Aangestel by Diepwalle deur die goewerment self om dringend bestudering van die bos te maak. Research. Dat ek nie langer hier by Jim Reid-se-draai kon huismaak nie, al die mense gaan uit die bos gehaal word. Ek skrik nie. Ek waarsku hom net dat ek met my eie oë gesien het dat ’n olifant ’n perd flou jaag in hierdie bos. Sodat misterdokter nie kan sê hy’t nie geweet nie. Olifant is ’n slim man, voorjare het ons nie eers sy naam in hierdie bos genoem nie van banggeit hy hoor en kom jaag jou. En ongelukkig sal misterdokter my nie die bos kan uitsit nie, want ek is die eintlike een wat jou van bestudering sal moet leer.

      ’n Paar maande later sit die man op daardie einste boomstomp voor my deur. Te voet gekom om met my akkoord te kom maak. Goewerment wil al die ooptes waar dit uitgekap is, oorgeplant hê. Ek sê: bos laat hom nie van mens plant nie. God het hom klaar geplant, vergange al. Slimgod, Gewag tot die bome halflyf hoog staan voor Hy bosbok kom injaag het, want anders was alles afgevreet. Waar dit uitgekap is, is dit uitgekap en neem die fyngoed oor. Soos die olifante wat hulle so aan’t uitskiet is, en nie sal terugkom nie. Dood is dood. Misterdokter sê hy aanvaar dit nie, ons moet ’n proef maak. Ek, Bothatjie, moet ’n proef maak teen ’n sjieling ’n dag hier op Jim Reid-se-draai op die oop stuk wat voorjare ’n depot was vir die hout wat uit Kom-se-bos gesleep is en waar ek die stuk skoongemaak het vir my tuindery. Altyd iets wat in die pot gegooi