Toorbos. Dalene Matthee. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Dalene Matthee
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624066101
Скачать книгу
het nie. Daar’s te veel van ons. Ons had nie praat nie, ons moes net saamdraf. En toe? Toe ons klaar in die boek is, sê hulle, nou moet julle liksens koop om te kan kap en meneer sê die kommissie-besigheid kom soek oorsake?”

      “Die doel van die kommissie is juis om na al julle probleme te luister, vas te stel waarom julle so verarm het.”

      “Wat het die goewerment vir meneer gesê om hierdie keer vir ons te kom sê?” vra een van die ander kappers, agterdogtig.

      “Ek is deur die kommissie gestuur, nie deur die goewerment nie! Ons sal slegs die nodige verslae aan die goewerment voorlê sodat daar oplossings gevind kan word.”

      “Sodat dit ’n goewermentsaak kan word?” vra een. Houtkappers is nie dom nie.

      “Ja, uiteindelik sal die goewerment die nodige besluite neem.”

      “’n Bosslak, meneer, is nie ’n vinnige ding nie. Maar teen goewermentsake is hy van groot spoed en meneer gaan nog so staan en rondtrap, dan duiwel meneer vandag van daardie stomp af.”

      “Ek verseker u dat dit nie sal gebeur nie. Ek vra slegs van u ’n redelike kans om u in te lig oor die werksaamhede van die kommissie …”

      “Ek dog meneer sê hulle kom hoor hoekom ons so verarm is,” gooi Willem van Huysteen hom voor die kop. “Ons gee meneer die redes, maar miskien kan meneer nie so lekker hoor nie?”

      Dit bring Jan Zeelie styfbeen op sy voete. “Of miskien soek meneer nog meer van die oorsake. Soos die dag toe die goewerment besluit het om die hele helse bos in blokke te laat uitmeet; elke blok ewe genommer en weer in vier gedeel, op elke boom wat volgens hulle kapbaar is, word ’n blerts geverf. Nou moet ons elke jaar op ’n bepaalde dag by die naaste bosstasie gaan lootjies trek vir ’n flentertjie bos en die blertse vat wat die lootjie jou gooi. Jaar lank daarmee tevrede wees. Mag nie ’n byl aan ’n boom sit wat ryp vruggies of sade aanhet nie! Ons sê vir die bewaarders: dis nie ’n vrugteboord nie, dis ’n bos! Help niks. Goewermentswet. Maar die goewerment bly skree hout, hout, hout. Uit party blokke mag ons nou nie eers meer ’n splinter verwyder nie, want dis konsuis reserves wat die goewerment in bewaring vir die nageslagte hou en vir die mense wat van oral kom om te kom kyk hoe lyk die bos.”

      Naudé se geduld is besig om op te raak, mens kan dit aan sy lyf sien. “As ek net tot u kan laat deurdring hoe belangrik die werksaamhede van die Carnegie-kommissie vir u gaan wees!”

      “Ek dog meneer sê julle kom om na ons probleme te luister,” herinner Salie van Huysteen hom en draai na die ander om hom. “Onthou julle nog die jaar toe die hele land oor waenhout gekerm het en ons dringend moes assegaai kap vir speke, maar die goewermentsbewaarder weier amper drie maande lank permissie omdat die assegaaie konsuis besig was om te blom?”

      Toe beur Naudé vir hom ’n praatbeurt oop. “Die kommissie is nou amper twee jaar besig om hierdie land in haglike omstandighede te deurreis om oral onderhoude met die armblankes te voer! Met die trekboere, die bywoners, diamantdelwers, gouddelwers, die biltongboere van die Bosveld …”

      “Meneer …”

      “Dis ’n feitesending van enorme omvang wat derduisende ponde kos en deur besorgdes in Amerika betaal word! Ons kom binnekort, ten laaste, by die verarmdes in hierdie bos om met hulle onderhoude te voer. Ons móét u samewerking kry!”

      “Meneer! Iemand het jou die verkeerde adres gegee. Die gouddelwers wat voorjare in hierdie bos was, is lankal weg of dood. Al oorblyfsels is die uitgekapte dele agter by Millwood.”

      Van die manne het begin opstaan om hulle bladsakke te vat terwyl Naudé hulle met waardige ergerlikheid probeer keer: “Die Carnegie-ondersoek is ’n kans tot redding wat u nie durf laat verbygaan nie!”

      “Klink my na ’n dokter wat kom voel en vat om vas te stel wat jou makeer, maar sonder die medisyne wat jy nodig het.” Ou Salie.

      “As u my nie so aanhoudend in die rede wou val nie!”

      Toe val hy van die stomp af.

      En sy draai om en loop terug die bos in.

      Sy kan nie sien hoedat Naudé veel met hulle uitgerig sal kry nie. Houtkappers is houtkappers. Anderster mense. Ongeheiligde tweebeen-osse met ’n ander soort slim in die kop wanneer dit hulle pas. Geheimsinnig soos die diepste boskloof waar weinig waag om ’n voet te sit, wat met mekaar geheime taal praat sodat een kan spring om die bosbok, wat verwurg lê in ’n onwettige strik, onder die boswagter se neus te gaan wegsleep. Wat môre met die openhartigheid van kinders hulle diepste vrese uitpraat; ’n laaste stukkie brood of patat met mekaar deel; ’n swakke se byl by hom vat en sy houe vir hom kap. Die hoogste krans aan die bergvoet uitklim om ’n heuningnes by te kom vir ’n soetigheidjie – of om heuningbier te brou vir vrolikheid.

      Twee van hulle het eendag gedreig om haar magistraat toe te sleep oor ’n byenes.

      “Om my waarvoor te laat aankla?”

      “Poging tot verminking!”

      Sy was die middag aan’t wegkruip by ’n spruit in Gouna-se-bos om die skoenlappers af te loer wat middae kom sandmodder vreet langs die kant. Skielik hoor sy iewers byle inval en begin kap-kap-kap. Sy hoor dis twee man wat kap. Dit was ’n bietjie laat in die dag vir houtkappers om in te keep en te begin kap aan ’n boom. Sy steur haar eers nie. Hou haar oë op die strepie spoelsand aan die kant van die stroompie waar seker maklik honderd, tweehonderd, groot skoenlappers vlerk teen vlerk besig was om modder op te slurp. Almal eners. As een opvlieg, kom ’n volgende in sy plek sit. Mooi skoenlappers. Sagbruin vlerke waarop geel kolletjies en blokkies al op die rante langs geverf is. Eers lank daarna, toe sy eendag ’n dooie optel, sien sy die blou en oranje kolle wat soos oë op die vlerke geverf is. Maar dáárdie dag het sy haar net aan hulle verkyk. Aan die dosyne wat oraloor die oopte bo die bosstroom bly sweef het asof hulle in die lug aan’t speel was; aan die talle wat op ’n oorhangtak van ’n notsung gaan sit het om te rus en die tak vol spatsels kleur gemaak het.

      Die byle kap-kap-kap. Sy hoor later nie net die gekap nie, sy hoor ook veraf stemme. Sy staan op, en sê vir die skoenlappers sy sal weer die volgende dag kom, hulle moet tog asseblief ook weer daar wees.

      Sy’t nie ver geloop nie, toe kry sy hulle langs die voetpad wat van Diepdraai se kant af kom: twee manne besig om ’n jong witels te kap om die byenes bo in ’n mik te bekom. Sy word só kwaad, sy skree en vra vir hulle of hulle gek is! Hulle los die byle, die een – sy dink hy was ’n Tait – skree terug en sê: Nee, daar’s net een gek in die bos en dit is Karoliena Kapp wat rondsluip waar ’n meisiekind nie hoort nie! Sy sê sy hoop die bye storm en steek hulle vrek, want vir wat die arme boom staan en afkap, loop soek heuning in die berg! Die ander een erg hom opnuut, hy gooi sy byl neer en sê: Gaan in jou maai, geen wonder die vreemdes dink ons is wilde mense nie, kyk hoe verwilder sien jy daar uit! Jou pa draai in sy graf! Sy buk, sy gryp die byl en swaai ’n kap na sy bene. Hy spring ’n hoë spring, die ander een ruk die byl uit haar hande. Hy skree: Is jy mal, jy kon hom vermink het!

      Nee, die kommissie van vreemdes sou nie die houtkappers verstaan nie.

      Anderster mense. Wat ’n boom kan omkap en laat val waar húlle hom wil hê vir die opsaag en uitsleep. Wat ’n boom se binneste aan ’n knoppie op die bas kan uitken, weet dat daar êrens binne ’n probleem wag: wurms, rooi are, gom – dat die houtkoper hulle nie die hout sal laat aflaai op sy werf nie; hulle leeghand sal laat terugdraai bos toe.

      Houtkappers is boomslim, houtslim. Wat met ’n linksbyl ’n moot só gelyk kan kap dat jy sal stry dis met ’n skaaf gedoen; of met ’n dissel duisende speke in ’n leeftyd uitkap vir honderde waens se wiele; honderde disselbome, honderde ander wa-parte; wat berge dwarslêers uit geelhout en stinkhout gekap en gemoot het vir die treinspore – al het min van hulle idee gehad hoe ’n regte trein lyk. Ken net die houttreintjie. Telegraafpale. Pikstele, balke, planke. Houtkappers wat soms die mooiste huisgoed vir hulle plank- of kleihuise uit ’n stuk edelhout kon toor en nie dink om daarmee te spog nie.

      Houtkapper wat lewenslank in ’n strik van armoede vasgewoel is omdat hy nie weet hoe om homself los te woel nie. Nie