Hy ry die dag terug Diepwalle toe, verby Kalander, skud-skud in die sleeppad van Gouna se kant waarlangs oom Gieljam en oom Daantjie die oggend gekom het.
Sy vra vir hom wat van die houtkappers gaan word. Hy sê hy weet nie, maar hy is dikwels bekommerd oor hulle. Sy vra vir hom waarom hulle nie maar net meer betaal kan word vir die hout wat hulle kap nie. Hy sê: Karoliena, die lewe is oraloor die wêreld dieselfde. Omdat mense oraloor die wêreld dieselfde is. Glo my. As ek iets het wat jy graag wil hê, kyk jy vir hoe min geld jy dit by my kan kry, sodat jy die volgende man wat dit weer by jou wil koop, heelwat meer kan vra. So hou dit aan.
“Eintlik sê oom die houtkappers gaan nie meer geld gegee word nie.”
“Nee, daar sal ’n ander plan bedink moet word om hulle tegemoet te kom.”
“Wat sou oom met hulle gemaak het? Oom is slim, oom moet iets dínk!” Sy wou regtig weet.
“Moenie jou oor grootmensdinge kommer nie, Karoliena. Kommer oor jouself. Goewerment het groot sê, mense het klein sê. Die beste is om na jou eie hart se sê te luister.”
“Waar’s oom se sê?”
“Witelsbos.”
“Die houtkappers het nie sêplek nie.”
“Ek weet.”
“Jissus, oom!”
“Dis nie nodig om te vloek nie, Karoliena.”
“Oom Cornelius het ook by die planters gaan inval. ’n Sjieling ’n dag. As ek net die koshuisgeld wat die Kerk my gee vir my ma kan vat, sal dit beter gaan met hulle. Dan hoef ek nie weer Wittedrift toe te gaan nie.”
“Bly in die skool.”
“Een van Gouna se houtkappers het laas maand skelm ’n stinkhout in die goewerment se reserve by Lelievlei gekap, toe vat die boswagter die hout en sleep die oom na die magistraat. Toe kry hy tien pond boete, toe het hy dit nie, nou moet hy vir ’n maand padklippe kap. Ander gee sy huismense kos. Hoekom lag oom?”
“Sommer weer vir die muishondbostreksel. As die goewerment nie jare gelede die deure so dig gesluit het vir die houtkappers om te keer dat hulle sakemanne word nie – liewers die bos in klein stukkies aan hulle verkoop het sodat hulle self kon leer om nie die bos onder hulle eie voete uit te kap nie, en self die hout behoorlik te bemark – sou dinge anders verloop het. Selfs vir die bos. Die goewerment bekommer hulle nie werklik oor die bewaring van die bos nie, alleen oor hoeveel hulle daaruit vir die staatskas kan maak. Hulle sal vinnig hierdie ingevoerde kamma-stinkhout laat uitroei, en sorg dat die egte stinkhout van die bos koningshout bly.”
“En die houtkappers?”
“Ek dink nie die goewerment is heeltemal sonder plan nie, Karoliena. Daar word nou gedink om ’n ouderdomspensioen in te stel …”
“Aag! Baie van hulle is al so oud, hulle weet nie eers meer wanneer hulle gebore is nie. Die goewerment wil bewys hê. Oom Cornelius sê die goewerment bly maar hoop hulle slaan dood neer van moeg.”
“Genoeg, Karoliena!” Asof hy haar mond toedruk.
Toe stop hy die motor om die ander mister Fourcade te word: slu ou bosbok met ’n menskop.
“En wat soek ons vandag?” vra sy toe hulle uitklim. Soos om saam met hom te begin speel, deur ’n hek te glip waar geen houtkapper of goewerment of Wittedrift of armblanke kan agterna nie!
“Ons hoop om vandag iewers aan ’n geel- of ’n kershout ’n paar orgideë te vind, want hulle behoort te begin blom het. Boomorgideë. Hulle neem niks van die boom waarop hulle groei nie, net vashouplek.”
“Dan’s ek mister Fourcade se orgidee want ek vat niks van oom nie. Net soms vashouplek.”
“Almal het vashouplek nodig, Karoliena.” Het sy haar verbeel, of het die ouman hartseer geklink? Seker nie, want hy het weer die orgideë bygesleep. “Oral deur die bos leef hierdie blomtuine in die lug – klein en perfekte orgideetjies, meesal hoog in die bome waar ons hulle nie van naby kan sien nie. Soms tot twintig aan ’n stringetjie. Ons noem hulle epifiete.”
“Ek het nie vandag lus vir hoë woorde leer nie.” ’n Ander ding het skielik in haar kop begin inval …
“Moenie luikop wees nie, Karoliena.”
Sy het skielik geweet sy kom nie deur die hek nie, die houtkappers staan in die pad. “Oom, ek is deurmekaar!”
“Hoekom?”
Sy was te bang om dit te sê. Dat sy nie geweet het dat sy eintlik lankal ’n ander pa gekry het nie. Mister Fourcade was haar pa, sy het dit nog net nie besef nie! Toe sê sy sommer ’n ander ding: “Die houtkappers kap die bos dood, die bos maak die houtkappers dood. Nou begin hulle die ooptes in die bos herplant sodat hulle dit weer eendag kan doodkap.”
“Liewe kind, moenie jou vasdink in mure nie. Hou jou oë oop vir jou eie uitkoms in die lewe. Daar sal vir die houtkappers uitkoms wees. Vir die bos ook.”
“Hoe? Wat?”
“Wanneer dit amper te laat is, begin mense altyd wakker word. Ek verneem dat hier reeds voorlopers van die Carnegie-kommissie in die bos beweeg.”
Simpel antwoord. “Wat is die snaaksste iets wat oom al in die bos gesien het?” Sy had weer ’n pa, daar was weer skaduwee oor haar kop.
“Jy het my die vraag vantevore al gevra, Karoliena.”
“Ek weet. Iets snaakser as ’n orgidee.”
“Nee, nie iets snaaks nie. Net iets mooi en perfek soos Mystacidium capensa.”
“Ek het nie lus vir hoë name nie!”
“Jy is koppig vandag, Karoliena. Wat pla jou?”
“Ek wil nie terug skool toe gaan nie! Ek wil nie meer ’n armblanke wees nie!” Sy wóú dit vir hom sê. Sy moes die woorde uit haar lyf uit kry.
“As jy nie meer ’n armblanke wil wees nie, moet jy teruggaan skool toe.”
“Almal wil my met ’n ketting aan die skoolhek vasmaak!”
Hy’t hom nie regtig gesteur nie. Net sy hand uitgesteek na die kwar voor hom en liggies geraak aan die lang stringerige vetplant wat uit die bas rank. Mystacidium capensa, sê hy saggies – kompleet asof hy die simpel ding met sy vingerpunte doop.
Daar was nie eers ’n enkele blommetjie aan nie.
Net in haar hart het dit geblom. Mens moet ’n pa hê …
5
Die Sondagmiddag het Johannes Stander weer voor oom Cornelius se huis in Langvleibos stilgehou.
Skemeraand het sy ’n vreemde gevoel gekry dat die lewe skielik opwaarts begin val het. Geweet hoe dit moet wees om van modder skoongewas te word; hoe dit is wanneer ’n strepie lig skielik in die donker begin glim …
As haar ma net nie so orig was nie! Strik in die hare en twee rooikol wange. Opgedollie in oom Cornelius se enigste wit hemp by die aaklige pers romp en die paar groen skoene wat Krismis in die kerkverpleegster se genade-pakkie was. Drie nommers te groot. Sy’t sonder ophou gespog dat die Kerk mos nou bly neul oor die kind – dis nou sy, Karoliena – wat moet Oudtshoorn toe gestuur word om vir teacher te gaan leer. Waar moes die geld vandaan kom? Andries Koen wat bokant Soutrivier kap, sê dit het hom £32 vir die eerste jaar gekos om sy meisiekind Oudtshoorn toe te stuur; £64 vir die tweede jaar. Ons is nie almal Andries Koens wat kan grond byhuur en vee aanhou nie, ek hoor hy’t al weer bygehuur. Terwyl hy kap, pas die stomme vrou vee op soos ’n meid. Die ander dogter is goed getroud in Johannesburg.
“Ma …”
“Gooi