“Moenie so oorborrel nie, Ma! Hy’t my bloot uit jammerte kom aflaai.”
“Jammerte lyk nie só nie, Karoliena. Hoor wat ek vandag vir jou sê. Vat daardie stukkie lap daar in die voorkamer se kas, loop na ant Martjie Salie toe by Veldmanspad en kyk laat sy vir jou iets nuuts aanmekaarnaai. Sê ek gee haar ’n goeie kooksel patats en die bosbok se boud. Johannes hou voor Sondag weer voor my deur stil, hoor wat ek jou sê.”
Hy het die Sondagmiddag gekom.
Maar Donderdag en Vrydag was eers twee bergwinddae wat soos ’n angstigheid in haar kom kriewel het. Toe die donderwolke die Saterdag oor die bos begin bol, kon niks haar keer nie. Sy’t in die pad geval Diepwalle toe – vir ingeval dit die dag was waarop die boomspook weer uit die kalander sou klim …
Drie keer tevore het sy gaan kyk op dae toe die weer gewees het soos daardie eerste keer. Bang dit sal weer gebeur. Bang dit sal nié weer gebeur nie. Dat dit destyds net verbeel was – al het sy geweet dit was nie.
Die vorige keer, toe die weer ook reg was, was dit gedurende die kort vakansie in April en amper tyd dat sy weer moes terug Wittedrift toe. Sy het die dag op haar hurke by die boom gaan sit terwyl die blitse die bos groenblink om haar bly slaan het. Toe die weer begin verbytrek, het sy kliphard en ergerlik in die kalander in geroep na bó: Word wakker! Ek weet jy’s daar binne! Word wakker!
Niks.
Behalwe die gevoel dat ’n boom besig was om van haar ’n swaap te maak – en die groot druppels om haar begin neerplof het. Die twee houtkappers wat onder van Gouna se kant af met die sleeppad langs gekom het, het met vraende oë by haar kom vassteek.
“Is daar fout, Karoliena?” het een gevra.
“Nee.” Oom Gieljam Botha en oom Daantjie Zeelie. In hulle beste klere soos vir kerk, nie in toiings soos vir gaan houtkap nie. Nie byle of sae by hulle nie. “Hoe’s oom-hulle dan so in die Sondag in plaas van in werksdag?”
“Moenie nog praat nie, Karoliena. Ons staan voor jou in moeilikheid waarvan ons nog nie eers die diepte weet nie.”
“Wat het oom-hulle gedoen?”
“Dis wat ons op pad is om te gaan hoor,” sê Gieljam Botha. “Die grootman oor die bos, mister Keet, het ons by name Diepwalle se bosboustasie toe laat roep om hom dringend te kom sien. Ek loop met ’n knoop in die maag wat nie wil skiet gee nie. Dis meer as ’n maand van ek die ou bloubokkkie onwettig in die strik gevang het. Vir wat nou eers?”
“Sê ek ook,” sit oom Daantjie by. “As dit nou een van die houtkopers was oor die vrag waenhout wat ek stilletjies van Gouna se kant af dorp toe gevat het om treingeld te spaar, kan ’n man verklaring kry.”
“Miskien is dit niks ernstigs nie, oom. ”
“Keet laat roep nie as dit nie vir groot sake is nie, Karoliena. Dalk het die Voorsienigheid jou vandag oor ons pad gestuur; ons hoor jy’s nou geleerd, jy skryf tot vir die manne magistraat toe as dit moet.”
“Ek kan ongelukkig nie namens oom-hulle vir meneer Keet skryf nie.”
“Maar jy kan saamstap bosstasie toe en gaan help uitluister …” Hulle was skaamteloos benoud.
“Meneer Keet sal vra wat ek daar kom soek, ek’s nie geroep nie.”
“Ek sal sê jou ma is my eie bloedniggie.”
Sy’t eintlik uit nuuskierigheid met hulle saamgestap.
Keet het die twee ou verskriktes buite voor die deur van die klipgebou ontvang. Hulle nie binnegenooi nie, hom weinig aan haar gesteur.
“Ek verstaan dat julle twee manne is wat hout kén,” sê Keet toe hy van die boonste trappie af met hulle kom staan en praat. Hy kon netsowel gevra het of hulle kan asemhaal. “Ek verstaan dat julle van die oudste houtkappers in die bos is.”
“Soos meneer sê.”
“Dan hoef ek julle nie vandag te vertel hoe belangrik die hout uit hierdie bos vir die staat is nie …”
“Nee, meneer.” Hulle was steeds onrustig oor iets; het gestaan en rondtrap soos kinders wat vir straf wag. Vir haar het dit meer geklink of meneer Keet draaie praat – dat hy maar nog net by die inleiding was.
“En watter hout, soos ons almal weet, is die koningshout in hierdie bos?”
“Stinkhout, meneer.”
“Presies. Stinkhout wat nie net ons sierlikste nasionale geboue verfraai nie, maar ook hoeveel vername geboue oorsee! Hoekom? Omdat dit van die uniekste houtsoorte op die hele aarde is en slegs in Suid-Afrika voorkom! Een van die allerduurstes.”
“Hoekom word ons wat hom kap en uitsleep dan so min vir hom betaal?” het oom Gieljam ’n bietjie durf herwin.
“Julle kry nog steeds ’n goeie prys vir eersteklas stinkhout.”
“Wat ’n man waar kry? Volgens die houtkopers kap ons net second quality – dis nou as die geluk ons die jaar help met ’n ou stinkhoutjie in ’n wêrrie.”
“Julle sal altyd iets kry om oor te kla, oom. Wat ek egter vandag aan julle wil openbaar, kan groot rampspoed vir ons houtbedryf wees, want dit het nou aan die lig gekom dat sogenaamde stinkhout by die tonne uit Brasilië ingevoer word vir meubels wat ten duurste op die mark gestoot word – wat direk met ons hout kompeteer.”
“Hoe nou?”
Toe draai meneer Keet om en gee een harde roep na binne: “Sampie, die hout!”
En Sampie die klerk kom met ’n moot hout onder die arm en lê dit op die onderste trappie neer. Mooi ligte-donkerige hout. Die twee ou houtkappers staan nader, bekyk die moot asof hulle eers wil seker maak dis nie ’n slang nie …
“Toe?” vra meneer Keet. “Watse hout sê julle is dit daardie?”
“Nou’t meneer ons vas. As daar ’n bassie aan was dat ’n man hom aan die lyf kon probeer uitken …”
“Is dit stinkhout?”
“Nee, nie stinkhout nie, daarvoor sal ons meneer ’n tjap gee.”
“Presies. Dít is van die sogenaamde stinkhout wat nou uit Brasilië ingevoer word.”
“Ag nee wat,” sê oom Daantjie met duidelike minagting, “dan’t hulle nog sleg gestain ook. Ons sou dit met muishondbostreksel baie beter gedoen het. As die houtkoper sê die stinkhout wat jy gebring het, is te lig van kleur, hy kan jou net ’n ligte prys daarvoor gee, kom lê ons hom net bietjie in die muishondbostreksel – ander week koop dieselle houtkoper dieselle hout vir donker stinkhout. En beter prys.”
Toe draai Keet na háár toe. “Juffrou, ek weet nie waaroor jy daar staan en lag nie, ek vind dit uiters steurend!”
“Ekskuus, meneer.”
Op pad terug huis toe sien sy mister Fourcade se motor van ver af aankom. Van die dorp se kant af. Sy waai sodat hy haar moet sien, want die blyste bly is altyd mister Fourcade.
En hy lag dat sy kop agteroor buig toe sy hom van die muishondbostreksel en die stinkhout vertel. Sien tot in sy keel, sy mooi geel tandjies; hy vee die lagtrane met ’n groot wit sakdoek uit sy oë wat nes ’n bloubok se ogies blink.
“Houtkappers? They’re brilliant people!”
Hy vra of sy haastig is om by die huis te kom? Nee. In haar hart sê sy: Moenie weggaan nie, bly eers ’n rukkie in die bos. Hy vra of haar ma nie onrustig sal word oor haar nie. Nee. Haar ma weet sy kom weer huis toe. Hy sê: You’re a very special child. Sy sê: En oom’s ’n baie special oom. Maar ek’s nie meer ’n child nie; as ek nou weer verjaar,