Hulle aanblik was herkenning en afskeid in een.
Hy glo dat hy hierdie vrou nooit op aarde weer sal sien nie. En al gebeur dit wel – so ’n intuïtiewe wedersydse binnekyk, so ’n totale herkenning, is nie herhaalbaar nie. Onder ander omstandighede, ’n ander land, ’n ander tyd, wie weet?
Vir ’n instansie wat sogenaamd geen siësta kan bekostig nie, is die kantore van die Observer bra verlate.
Mr Cockburn is ’n paar uur lank huis toe, vertel ’n pienkgesig kantoorjonge. Mrs Cockburn het vanmôre geboorte aan hul eersteling gegee. John, sal hy heet. Johnny.
Dus het Cockburn goeie gebruik van sy eerste “wedded winter” met sy uitbundige Kate gemaak. Dis net mooi nege maande. Hy sal ’n besoekie by die Cockburns gaan aflê sodra dit betaamlik is. Met ’n geskenk deur Amod gekoop. Môre, dalk. Afhangende van hoe die skip se sake vorder. ’n Besoek aan ’n nuwe, stralende ouerpaar. Hy sal dit wel oorlewe.
Ywerige ou Cockburn! By Eton moes hy ingekoop word. Hy was berug vir die vulgêre som sakgeld wat hy kry. Wat ’n katastrofe was sy eerste en enigste besoek aan Banthorp. Hy het die een faux pas ná die ander begaan. Het ingeloer by die harnas van ’n voorvaderlike Normandiese kryger, was behep met die pagters, met die Gipsies in die dennewoud, het die jaghonde “dogs” genoem, gesels oor geld en profyt, en knaend vergeet om agter die Butler te hou. Dis net die daaglikse jag wat die besoek kon red. Ná Eton het hul paaie uiteengeloop, om hier aan die Kaap weer te kruis.
Hegte vriende sou hulle nooit kon word nie. Soos die spreekwoord lui: “Love and Lordship like no fellowship.”
Henry kondig aan dat hy ’n wyle sal wag. Eintlik het hy nêrens anders om te gaan nie. Hy sou eerder in die pragtige tuine van Government Avenue wou vertoef, maar dis te na aan Government House. Hy wil nie op straat of in die militêre kwartiere herken word nie.
“Would you perhaps need something, Sir?”
“Aah … why no, thank you.” Hy wil tog ’n glas water vra, maar die sku kantoorjonge het hom reeds uit die voete gemaak. Op Cockburn se lessenaar staan in elk geval ’n kraffie en ’n gebruikte glas. Henry haal die sysakdoek uit sy mou en vee die rand van die glas skoon voor hy skink.
Half geskrewe artikels lê oor die houtblad gesaai. Daar is, te verwagte so kort voor die winterstorms, een oor die Hollander Vanderdecken, “still sailing the ghostly Flying Dutchman”; beenwit, stil in die storms, met ’n bebaarde ou man wat alleen op die agterstewe staan. Outydse seilskip, vreemd gloeiend met ’n spookagtige rooi lig in die mis.
Henry skuif die papier hoër om die immer boeiende verhaal beter te kan lees. Dan verstaan hy. Reg voor hom lê ’n studio-daguerreotipe, die soort wat in houtsneë verwerk en op papier afgedruk word.
Dis van ’n vrou. ’n Mooi jong vrou, modieus geklee.
Dis sy – die een van die Heerengracht, die onverskrokke boomdraagster. Met ’n rof geskrewe artikel in Cockburn se skrif, vol deurhalings en invoegings. Henry se oë skeer so vinnig moontlik oor die hooffeite, ingeval iemand hom onderbreek. “Joined in matrimony … Most notable marriage,” lui die opskrif. “The marriage of Miss Gertruida du Toit, youngest daughter … to Mr Francois Viljoen … up North … across the Vaal … Boer territory … solemnised last week at …”
Dan was hy reg, waarlik reg. Wie het ooit gesê dat instink onderskat moet word?
In digterlike taal skets Cockburn kortliks die verhaal van ’n jeugvriendskap wat onderbreek is deur die wegbreek van die Viljoens in 1838; eers na die Oos-Kaap, daarna Natal. Toe Engeland oorgaan tot die anneksasie van Natal, trek hulle oor die Vaalrivier op soek na grondgebied vir ’n eie republiek.
Francois Viljoen het nie sy jong vriendin vergeet nie, het vir haar begin skryf en haar eindelik kom haal.
Swierig neutraal herroep Cockburn die massa-emigrasie wat sowat tien jaar gelede begin het en steeds voortgaan. Vir die Goewerment ’n skok en verleentheid, veral aangesien vele van hierdie families welaf en invloedryk was.
Cockburn berig hoe hy twee jaar gelede op die stoep van die Commercial Exchange gestaan het waar die Oos-Kaapse eiendom van ’n Trekkerleier, ene Retief wat in Natal deur die Zoeloes vermoor is, opgeveil is. Dit eis tog ’n sekere drif, taaiheid en veerkrag om alles agter te laat behalwe jou eie gesin, jou wa, ’n klompie vee, jou Bybel en geweer. So spekuleer die koerantman. Om ongetemde Afrika binne te trek, die geweldige land, wild en pragtig met sy fel sonlig en kleure, sy onmeetlike afstande, diep stiltes, skielike dood.
Cockburn speel veilig in sy bespiegeling oor agterhaalde geskiedenisfeite. “That the Emigrants in times past have suffered grievances, no reasonable person can deny; that they in their turn have committed many unjustifiable acts, is equally certain.” Die vrystelling van die slawe is wel lomp gehanteer deur Sir Benjamin D’urban. Daar was griewe oor die sogenaamde onderdrukking van Hollands, oor ’n gebrek aan beskerming op die grense, oor die moontlikheid van gelykheid tussen wit en swart.
Maar was dit genoeg rede vir ’n soort omgekeerde rebellie? Onder hul eie Hollandse bewind was hulle ook maar vol griewe. Geen juk pas skynbaar op hul skouers nie. Te verstane ook; hul voorouers was landverlaters wat elk met ’n grief teen Europa na Afrika gekom het.
Vir die Boer is die verlies van sy vryheid erger as die dood. Is hulle nou tevrede daarbo in hulle nuwe, eie gebied? wonder Cockburn. En swenk veilig na ’n romantiese antwoord: “Most probably yes, as far as the hunting grounds are concerned. But hunting grounds can be interpreted in more than one sense. As the poet said …”
Henry slaan sy blik plafonwaarts. Altyd dít, of: “Was not that Shakespeare …?”
Kan hierdie huwelik heling bring waar daar wrywing en misverstand oor die Trek was? “Alas not …”
Want die romantiese berig oor die afgelope huwelik het sy skadukant. Die paartjie het verkies om stil in die pastorie te trou, aangesien die bruid se familie teen die huwelik gekant is. Hulle wou wel vir haar ’n bruilof gee, maar die bruidegom het geweier.
Hoekom hy dan nie maar die huwelik in Transvaal laat voltrek het nie? Hy sou wel ’n behoorlike chaperone kon kry om hulle op die reis te vergesel. Maar: “A Transvaal marriage certificate would not have been recognized in British territory …”
Lank staan Henry oor die berig en die beeltenis gebuig. Hy dink oor die jong vrou. Nou reeds word haar lot deur haar man bepaal. En sy lot sal deur die wette van Afrika bepaal word. Die harde wette van ’n pionierslewe.
Oplaas moet Henry erken dat Cockburn iets van ’n goëlaar met woorde is. Vanwaar anders hierdie bewoënheid, asof die berig, die ode aan vryheid, in hom as totale buitestander weerklank vind?
Om van begin tot einde jou eie saak te moet veg. Om nie deur die Empire beskut te word nie. Om beweeg te word deur eie hoop en wanhoop. Om volgens jou eie reëls te lewe, jou eie ideale na te jaag. Om die tydloosheid van ’n ruwe dog maagdelike land volgens jou eie patroon te omvorm. Om deel van die pols van die aarde te word; van die grond, lug, riviere, berge, son en maan. Met geen aanspraak op gevestigde ordes, beskawing, geriewe nie.
Liggies skud Henry Dalmain sy kop. Hy drink die glas dorstig leeg. Hy het eintlik iets sterkers as lou bergwater nodig. Wat gaan met hom aan?
Hy dwing hom om te dink aan sy koel, aangename erfenis in Oos-Anglia. Normandiese kastele tussen Middeleeuse markdorpies vol kerktorings. Kultuurryke Norfolk, met die skynsel van die son teen die hange van die woude van Thetford Chase. Die drie riviere met hulle valleie. Die Broads, waar die reieragtige roerdomp snags hard in die rietmoeras skree.
En Banthorp Estate self – die Village, die vleie en weilande, mere, die parke en lanings, die stalle vol perde, die pagplase met hul rustige koeistalle. Banthorp Hall, die eeue oue herewoning, gebou van die gemmerkleur sandsteen van die omgewing, die mure versag en verfraai deur groeisels van klimop, magnolia en wisteria.
Hy hoor die jagters se “View halloo!” en “Foradaway!”, die horings in die mis, die mal geblaf van die honde.
Sy erfenis,