Hulle twee was saam op ’n hoë machaan langs die oopgekapte dryfroete, besig om ’n mensvretertier voor te lê. Oerwoudbewoners, oordag sku met hul skraal bessiebruin lywe en wilde swart hare, drywe met huilende krete en ’n geroffel van tromme die diere voor hulle uit.
’n Verwilderde gestorm verby die geligte plankplatform: bokke, herte, ’n lomp hiëna, bosvarke, ’n beer, luislang. Poue swerm met klaende gekrys oor die blaredak. In dié vreemde atmosfeer word kodes verbreek. Hulle gesels oor die gesluierde, beeldskone, gekoesterde Indiese vroue.
“Have you ever …” Cockburn se woorde ry op sy asem.
“No,” sny Henry die vraag vererg af. “You know damn well that they’re sanctuaries of purdah. But aah … I …” Hy bieg plotseling en onbeplan oor sy verhouding met Rosemary.
“What about Lady Claire then?”
Tydens Cockburn se enigste besoek aan Banthorp het hy Claire Devenish van Shinwell ontmoet. Sy was ’n subdebutante, gereed om met die London Season aan die hof gepresenteer te word. Cockburn was egter meer beïndruk deur die feit dat sy met vossejag pal by die honde hou, die afmaak aanskou, en in ’n regte outydse klipkasteel woon, met ronde en vierkantige torings, poortkamers en ’n houtbrug wat aan die beskermende grag van vroeër eeue herinner.
Voordat Henry kon antwoord, was die Bengaalse tier in die smal oopte onder hulle; ’n enorme dier, manjifiek gestreep. Op sag gekussingde pote draal hy verby die machaan, ongeërg, wreed behaaglik, versadig van mensvleis – want ’n vrou is die vorige nag in ’n nabygeleë dorpie verslind.
Cockburn lig sy geweer, maar Henry hou hom teë. Die kans sou gegun word aan hulle gasheer, die sierlike maharadja op die volgende machaan, wat net een tier kort om sy vyftigtal vol te maak.
Henry sou as hoflikheidsgebaar die vel kry.
Ná die enkele plofslag sê hy kalm aan Cockburn: “I’m going to marry her, of course.” Sonder om ’n naam te noem. En goed ook maar dat Cockburn nie gevra het nie, want daar was geen uitgemaakte antwoord nie.
Niks, maar niks, kan die tweeledigheid van die Kaap beter demonstreer as die Grand Parade nie. Die groot publieke plein, eens die spasie tussen Van Riebeeck se kleifort en die Kasteel, waar snags luiperds gesluip het. Hierdie area herberg tans beide oorwinnaar en oorwonnene, bied die geskiedenis van die kolonie in ’n neutedop aan.
Op die verste deel staan die Kasteel, die klipgebou wat die hart van Kaapstad is, ironies genoeg deur die Hollanders gebou om ’n Britse inval af te weer. Nou wapper die Union Jack seëvierend op een van die bastionne. Daglank is daar die getrappel van hoewe op keisteen, blafbevele, marsjerende voete, vaandelparades onder begeleiding van die regimentsorkes.
Die klein Britse garnisoen het ten doel om die onrustige koloniste aan die status quo te herinner. Andersyds baat dit ironies by die vrywillige en gratis kommandostelsel van dieselfde koloniste, veral nuttig om die swart stamme in bedwang te hou en veediefstal te straf.
Met ’n poortmuur word die militêre deel geskei van die eintlike Parade, naaste aan die Heerengracht. ’n Fontein herinner aan een of ander held wat ’n aantal skipbreukelinge met sy perd uitgeswem het. Die grond word deur die Kaapse boere gebruik vir markte en vendusies, maar veral as uitspanning. Hier wemel dit van rytuie, trekdiere en plattelandse mense. In die lug damp die wilderige mengelreuk van beesmis, rookvuur, tabak, leer, perdesweet en velle.
Naby Henry is ’n bebaarde jong man besig om ’n tentwa te laai met sakke en kaste negosie, terwyl ’n bruin kneg die osse nader bring. Die jong man se blik onder die breërandhoed is turend dog onverbaas. Hy is fors, gehard, leertaai, breedgeskouer in halfbeste klere. Die kneg is, om die waarheid te sê, deftiger as hy gekleed.
Die wa getuig van ruwe paaie en strawwe elemente, met die kap sonverweer en op talle plekke gelap. Die groot voorraad lewensmiddele vertel op hulle beurt van tekorte en huishoudelike ontberinge, van lang tye ver weg van ’n handelspos.
Die storie van elke kolonie.
’n Laaste vuurtjie troetel ’n swartgebrande ketel. Die rokie drywe langsaam weg. Henry wag op die reuk, asof dit hom iets meer kan vertel. Maar die ligte wind stoot verkeeerd. Hy vind dit moeilik om weg te kyk. Iets krap aan hom. Iets meer as sy persoonlike krisis. Hy skryf dit toe aan die stof en lawaai van die Heerengracht. Die hoë, logge stoepe waarop handelaars en huisbewoners in pyp- en sigaarrook gehul sit, blok die straatkante op. Dit behoort gesloop te word vir sypaadjies. En die swaar ossewaens met hul rammelende ysterwiele moet na die buitestrate verban word.
Gelukkig is die kanaal, waarmee die Hollanders hul tuisland probeer naboots het, opgevul sedert hy laas hier was. Dit was tog net ’n broeiplek vir muskiete, ’n gevaar vir dronk matrose en ’n stortplek vir vuilgoed. Maar daar kort ’n goeie laag gruis. Tans ’n stofgemors, is dit maklik om te raai dat dit in die winter ’n moeras sal wees.
Hy dwing hom tot landheergedagtes. Want dalk gaan hy tog huis toe.
Hoewel hy die ander voetgangers instinktief ontwyk, bots hy byna teen ’n gestalte. ’n Vrou. Onwillig om te glo dat dit met hom kon gebeur, verklaar sy brein dit ook vlug. Sy dra ’n boompie, waarvan die verkleurende blare haar uitsig tot ’n mate moet versper. Die worteldeel is in sak gehul.
’n Sekonde lank, terwyl hy geëmbarrasseerd oorweeg na watter kant toe om uit te wyk, blik hulle mekaar onverhoeds aan.
Haar geelbruin oë smelt saam tot een pelserige vlak.
In die gedrang is hulle kortstondig saam afgeseël. Hulle deel ’n lot, onbekend maar herkenbaar.
So kort duur dit, kwalik ’n veeg. Maar ook ’n ewigheid. Dis of hy haar moes herken.
Iets van Claire? Van Rosemary? Of ’n seldsame oertipe, wat die vroulike geslag volledig gestalte gee?
Hy raak in groet en apologie die rand van sy keil voordat hulle mekaar verbysteek. Hy wil hom verbeel dat haar knie onder die donker romp effens knikbuig, maar dit kon verbeelding wees. Haar romp is donker, bloes en hoed wit.
Is sy nie bang dat die bloes vuil kan word nie?
Hy verkeer in ’n eienaardige waas van onwerklikheid. Die verwisseling van kontinente? Of dalk was hy doodgewoon te lank in Indië, waar alles vervloei of saamsmelt met iets anders. Om die betekenis van iets te ontrafel is soos om na die enkele draadjie in ’n tapisserie van petit point te soek.
Sy gesig voel warmer as flus (sy skoot Franse bloed, die damnosa hereditas wat immer beur teen die Angel-Saksiese selfbeheersing). En dit terwyl háár gesig koel room gebly het. Sy moet Kaaps-Hollands wees. Goed opgepas, opgevoed, verfynd, haar eenvoudige kledy ten spyt.
Maar sy behoort nie ’n boom te dra nie, al is dit nog so klein. Dan snap hy, sonder dat iemand hom dit hoef te sê: hierdie boompie is bestem vir daardie wa, soos hierdie vrou vir daardie man.
Hulle bestemming lê ver, en hulle is reeds op pad.
Het sy die boompie iewers gaan haal om as laaste halm mee te voer? Dalk teen die man se wil in? Waarom anders dra sy dit self? Hoekom het hy nie die kneg gestuur nie? Is die inspan belangriker, die wegkom uit die knellende stad?
Meteens weet hy wat flus aan hom gekrap het. Dis die verkeerde uur vir inspan en vertrek. Vir mens en dier is ’n heel vroeë oggendskof beter, en eintlik die reël.
En as sy Kaaps is, soos hy vermoed, waar is haar mense wat kom afskeid neem? Gaan sy vanaand by hulle oorslaap, iewers in die omgewing? Waar is dan die liggeveerde rytuig om haar soontoe te neem? Hoe ver is die reis, en sal sy dit deurstaan? Net om die berge na die binneland oor te kom, is ’n onmenslike taak. Die naaste bergpas is by die dorp Tulbagh, as hy reg onthou.
En die boompie, ewe broos? Sal dié oorleef?
Dalk het sy maar net die man kom wegsien. Dalk is hy haar broer, of ’n neef. Maar waar is haar chaperone?
Dalk was sy glad nie na die Parade op pad nie. Dalk draai sy by ’n winkeldeur in, of by haar eie huis.
Hy weerhou hom