“’n Operasie?” vra meneer Spaulding wat sy skoolloopbaan op Keurboslaan begin het toe Eugene Krynauw die onderhoofseun was.
“Sal seker maar wees, ja.”
“Is dit dan ’n hoë kokkedoor dat jy so rondjaag?”
“Nee,” sê die dokter terwyl hy weer bekommerd na Richard kyk. “Dis ’n kind uit die agterbuurte, by die Somerset-hospitaal. Ek weet nog nie presies wat skeel nie. My kollega daar het net gevra ek moet so gou moontlik kom. Josef, jy lyk ook nie watwonders nie. Het jy griep of iets?”
“Nee, oom Gene. Hoe gaan dit hier?”
“Heel goed met my en die gesin, maar ek sien hulle omtrent nooit nie. Tessa gaan weer skoolhou by die kleuterskool waar sy Dolf en Annette kan saamneem. Anders raak sy te verveeld by die huis.”
Richard lyk darem nie meer asof hy wil flou word nie, besluit die dokter.
“Kom jy pas van Keurboslaan af?” verneem meneer Spaulding. “Hoe gaan dit daar?”
Dokter Krynauw kyk van die een Serfontein na die ander. Die bleek, stil meisie agter Josef, se teenwoordigheid ontgaan hom nie. Hier, nes by Richard, skort daar beslis iets.
“Wel,” sê hy half vies omdat dit lyk of die twee groot seuns juis nou dat hulle pa so besig is, met probleme na hom toe wil gaan, “dis moeilik om te sê presies hoe dit gaan. Maar ek wens ek hoef nie nou weg te gaan nie.”
Hy sê dit omdat hy graag met Josef en Richard sou wou praat.
“Dokter Krynauw … dokter Eugene Krynauw … na toonbank nommer tien, asseblief,” kom dit oor die luidspreker.
“Ha! Dit lyk of hulle vir my plek het. In die vliegtuig sal die mense my ten minste met rus moet laat. Tot siens, almal.”
Met hierdie woorde is hy weg, en die ander gaan na waar doktor Serfontein se stadsmotor in die sonlig blink. Niemand sal ooit raai dit was kort vantevore by ’n misdaad betrokke nie.
AMANDA
Die hoof is duidelik ontevrede met die lewe. Hy eet vandag nog minder as gewoonlik en sê nie ’n enkele woord nie. Josef en sy ma kyk mekaar betekenisvol aan.
Doktor Serfontein word soms geleidelik stiller en stiller, en praat dan ná ’n paar dae glad nie. Josef weet hy is vir ten minste ’n deel van sy pa se donker bui verantwoordelik, want die swart oë rus af en toe vorsend op sy gesig. Sulke blikke van sy pa is op die oomblik vir Josef moeilik om te verdra.
Maar die hoof se vrou is nie by die algemene onguns ingesluit nie, en ná ete volg hy haar na haar sitkamer waar sy haar huishoudelike rekeninge wil nagaan. Hy gaan staan voor ’n venster en kyk oor die tuin uit.
“Weet jy of Barbara iets makeer?” vra hy.
“Barbara? Nee, hoekom?”
“Dit lyk of sy ongesteld is. Trane en so meer.”
“Jy het haar nie dalk aangespreek nie?”
“Glad nie. Ek het nog nooit nodig gehad om dit te doen nie.”
“Dan is sy seker maar weer verlief op jou. Dit gebeur mos af en toe. Maar ná ’n potjie tennis saam met Geer-hulle vergeet sy dit mos altyd vir ’n ruk.”
Die hoof draai hom om en tot haar verligting beweeg sy wenkbrou.
“Omdat jy met my opgeskeep sit, dink jy alle vrouens, jonk of oud, wil ook wees. Maar my betowering kon tog nie vir mevrou Mostert ook oorweldig het nie, want sy loop net so in trane rond.”
“Sy én Barbara? Wat gaan aan? Ek het van niks gehoor nie.”
“Richard is net so eienaardig. Ek verstaan nie waaruit spruit sy skielike vreemde gedrag nie.”
“Dis pure hardkoppigheid. Hy is al nors vandat jy hom by jou ouers gaan haal het …”
“Nou oordryf jy.”
“Jy het self gesê hy wou nie tydens die treinreis by jou kom aanmeld soos die hoofseun behoort te doen nie. En boonop wil hy nie vir jou vertel wie die twee vreemdelinge is met wie jy hom sien praat het nie. Dis nie soos ek my seuns grootgemaak het nie.”
“Dis moeilik om hulle te beheer wanneer hulle te groot vir ’n ma se tug word,” sê die hoof met ’n flou glimlag. “Dis veral moeilik as hulle nie ’n woord wil praat nie. Moet voorlopig niks sê nie.”
“Watter soort mense was daardie twee mans?”
“Ek sal nie kan sê nie. Hy het op Breytenstasie weer met hulle gepraat tot hulle na een van die Mbabane-busse toe is. Dit beteken dalk alles niks nie, maar hy lyk so skuldig, en dis ongewoon vir hom … Ek is jammer. Ek moes jou nie daarmee lastig geval het nie.”
“Onsin. Ek is die kind se ma. Jy as pa is gans te versigtig. Jy is altyd bang om met hulle privaatsake in te meng. Hulle is nog te onervare om privaatsake te hê. Josef se gewete pla hom ook, en dis geen wonder nie. Watter soort gedrag is dit om net vyf minute by sy oupa-hulle te kuier en niks oor die toer te vertel nie?”
Voor doktor Serfontein kan antwoord, kom iemand in die gang af.
“Waar is sy? In dié vertrek?” vra ’n vrouestem in Engels.
Die hoof lyk dadelik omgekrap. As hy werklik aan ’n ernstige siekte gely het, was sy broer Adolf se vrou, Coralie, vir ’n groot deel daarvan verantwoordelik. Haar man is ’n senior lid van die personeel en die hoof het groot respek vir hom as broer en medewerker, maar hy vermy so ver as moontlik alle kontak met sy skoonsuster.
Met ’n veelseggende kyk na sy vrou verlaat hy die vertrek deur ’n stoepdeur. Voor hy nog baie ver is, hoor hy Coralie se kenmerkende: “Oh, my dear!”
Al die jare wat hy haar ken, het hy haar nog selde ’n sin op ’n ander manier hoor begin. Nou voeg sy daarby: “Who is the pretty girl Djouzef has been seen driving about?”
Mevrou Serfontein antwoord geduldig dat sy nie al Josef se vriende ken nie. Sy praat wel Engels, maar sy spreek haar seun se naam op die regte manier uit.
Hulle drink saam koffie en gesels heel vriendelik oor die een en ander, maar Helen is verlig toe Coralie ná ’n rukkie groet. Sy het natuurlik gesien sy gaan nie hier skindernuus oor ander se sake kry nie.
Nou versomber mevrou Serfontein se mooi gesig, net soos haar man s’n waar hy in die studeerkamer agter sy lessenaar sit.
Helen wens Josef was nog jonk genoeg om pak te kry.
Coralie se geskinder is nie die eerste nuus wat sy van haar oudste seun se gedrag hoor nie. Haar skoonma het haar die vorige aand gebel en gesê ’n meisie het tydens Josef se kort besoek buite in die motor gewag. Josef het niks van haar genoem nie, maar hy kon nie wag om weer by haar te kom nie.
As iemand hom nou hier in Keurboslaan se omgewing saam met ’n meisie sien ry het en hulle haar nie ken nie, moet dit die vreemdeling wees wat hy hierheen gebring het – en dit sal enige ma van ’n seun wat maar net negentien is bekommerd maak.
Helen besef sy sal nie nou met Josef of Richard kan praat nie. Die spanproewe het reeds begin, en alles draai nou net om krieket. Die paar rugbywedstryde wat oorbly, is skielik van minder belang. Richard sal die hele middag op die krieketveld besig wees en Josef help ook altyd daar wanneer hy tuis is. So die moederlike vermaning sal voorlopig moet wag.
Mevrou Serfontein besluit om eers na mevrou Mostert en Barbara te gaan om te probeer vasstel wat met die twee getroue helpers skort. Sy slaan haar kameelhaarjas om haar skouers en stap deur die skoolterrein na die groot gebou se voorkant toe. Sy verlustig haar vir ’n oomblik lank in die pragtige uitsig oor die fluweelgrasperke en groot bome. Deur die bome se takke sien sy die dakke van Keurboslaan se