nie …”
“Die hoof van die lughawe het seker soos alle kastige grootmense gesit en wonder wat om te doen,” sê Ruyssenaer. “Maar ons het gedoen in plaas van om te dink.”
“Dis alles goed en wel vir julle,” sê Willemse, “maar my pa is baie streng. As hy hiervan hoor, haal hy my uit die skool uit, en dan is dit na die maan met my vioolstudies. Klaar met skool, klaar met my toelatingseksamen … klaar met alles!”
“Skool!” sê Beswetherick skielik geskok. “Wie is julle?”
“Watter soort skool?” vra Glenton skerp. “Is julle vakleerlinge by die lughawe?”
“Nee, ons is nog in die gewone skool,” sê Richard. “Kosskool.”
“Sy pa is ons hoof,” vertel Krynauw. “Hy het ons omgepraat om julle te red … Ek bedoel Richard, nie sy pa nie … Want hy wou nie hê ons land se mense moet julle uitmekaar skeur nie.”
“Maar die pette en jasse …”
“Ons het dit in die vliegpersoneel se wagkamer gekry en geleen.”
“So julle het ons met gesteelde klere deur die doeane en almal gesleep! Dan gaan dit mos lyk of ons moordenaars op vlug in ’n vreemde land is.”
Glenton se stem versag by die laaste woorde. Hy sal daardie laaste oomblikke in die brandende vliegtuig en die besluit wat hy moes neem nooit vergeet nie. Hy druk met sy elmboë op sy knieë en laat sak sy voorkop op sy gebalde vuiste. Beswetherick kyk na hom en draai dan weg na die venster.
Richard praat weer. “Julle is reeds deur baie. Ek hoop nie ons optrede maak dinge vir julle nog moeiliker nie.”
“Wat sou gebeur het as ons nie ingespring het nie?” vra Ruyssenaer. “Jy het gesien hoe hulpeloos is die polisie. Kyk, daar kom nou eers versterkings van die stad af aan.”
Drie polisiemotors jaag verby lughawe toe.
“Kom ons ry agterna,” sê Willemse, “en probeer die ouens weer by die gebou insmokkel. Hulle kan vir die mense in bevel verduidelik wat gebeur het, natuurlik sonder om ons name te noem.”
“Hulle kan dit tog in elk geval nie uitspreek nie,” sê Krynauw.
“Nee wag,” keer Ruyssenaer terwyl Richard die motor omdraai en terug lughawe toe begin ry. “Voor ons weer by die lughawe kan wegkom, gaan iemand hierdie kar sien en die nommer neerskryf. Hoe lank dink julle sal dit vat voor die polisie weet die vlieëniers is met doktor Serfontein se motor ontvoer?”
“Besef julle nie wat julle doen nie,” sê Glenton. “Julle hele toekoms kan daarmee heen wees.”
“Dis nie te sê nie,” antwoord Richard.
“Julle het dit ter wille van ons gedoen,” sê Glenton bedruk. “En ons is dankbaar, maar ek wil nie eens dink aan al die publisiteit wat hierdie saak ons gaan besorg nie.”
“As julle albei aangeval was, sou die publisiteit nie minder sleg gewees het nie,” sê Richard soos hy weer naby die gebou stilhou. “Wim, gaan loer gou by die ingang. As alles veilig lyk, kan die menere terugstap. Dan los ons die klere hier op ’n bondel waar die lughawepersoneel dit weer kan kry, so ons is minstens nie diewe nie.”
Willemse hardloop terug en die Engelse se oë rek. Hulle kan nie glo iemand wat so stewig gebou is, is tot sulke spoed in staat nie.
Maar skielik is daar nie meer tyd vir verwonderd wees nie.
“Riek … Ry!” brul Willemse al van ver af soos hy terughardloop. “Die hele spul kom aan … Die polisie, die pers, almal!”
“Wat …” roep Ruyssenaer en Krynauw gelyk uit.
“Hulle dink seker die twee ouens het weggehol en kan nog nie te ver wees nie. Ry, Riek! Voor hulle die nommerplaat sien …”
“Ek vlug nie weer soos ’n bandiet nie …” begin Beswetherick. Maar die motor jaag reeds weg.
Toe Riekie weer stilhou, is dit langs ’n plantasie.
“Hierdie affêre het nou ver genoeg gegaan,” sê Glenton met gesag. “Julle en daardie mense op die aanloopbaan verstaan die saak ewe min. Net ons twee weet presies hoekom ons vliegtuig neergestort het. Ons moet dit bekend maak om te keer dat so iets weer gebeur. Ons gaan nou onmiddellik te voet terug en ons oorgee …”
“Nee!” sê Richard so hard soos hy selde praat. “Julle kan dit nie doen nie.”
“Ons moet. Ons is getroud,” sê Beswetherick. “Daar is mense wat op ons staatmaak. Wat sal hulle dink as ons net vlug? Hulle gaan glo ons is werklik skuldig.”
“Sy kind is maar net ses maande oud,” sê Glenton. “Die jongste van my drie is al agt. Hoe gaan hierdie ding vir hulle lyk, om nie eens te praat van my vrou en ons ouers en die lugredery vir wie ons werk nie?”
Richard lyk vir ’n oomblik moedeloos, maar hy ruk hom gou weer reg. “Dis te laat om te sê ons het verkeerd opgetree,” sê hy ferm. “Dit is nou nie meer net ’n kwessie van julle posisie nie. Ek moet julle vra om my ’n paar dae tyd te gee sodat my pa nie hiervan te hore kom nie.”
“Wat bedoel jy, Riek?” vra Ruyssenaer. “Jy weet goed die enigste ding om nou te doen, is om jou pa te bel en te vra om hierdie storie te hanteer. Hy is al een wat ons kan help. Wat hy daarna met ons aanvang, is bysaak.”
Richard laat sak sy kop en sy hande klem die stuurwiel vas. “Hy is siek. Hy het miskien nie meer baie lank om te … om te lewe nie. As hy hierdie skok of enige ander skok kry …”
“Die hoof?” hyg die ander seuns almal gelyk.
“Wat … makeer hom?” stamel Ruyssenaer. “Watter siekte is dit?”
“Dis seker maar sy hart. Hy praat nie daaroor nie. Ek het toevallig daarvan gehoor, maar oom Eugene weet alles. Niemand mag weet nie. Ons moet dit so lank as moontlik van my ma af weghou.”
Die laaste deel van die gesprek was in Afrikaans. Die seuns het heeltemal van die twee buitelandse vlieëniers vergeet.
“Maar,” sê Glenton in antwoord op Richard se vorige Engelse woorde, “hoekom het jy jou hierin begewe as jy jou pa enige skok wil spaar?”
“Ek het nie gedink ons sal … Ek het nie aan die moontlike gevolge gedink nie.”
“En jy, meneer,” sê Willemse vir Beswetherick, “het ook nie juis helder gedink toe jy so maklik praat van jou gaan oorgee nie. Die polisie en mense op die lughawe is ewe rasend. As hulle julle nou in die hande kry, stop hulle julle eers in die tronk en vra later vrae.”
Beswetherick lyk nog steeds verontwaardig.
“Kom nou,” sê Ruyssenaer. “Daar kon baie erger dinge met julle gebeur het as om deur ons ontvoer te word. As ons nie vandag ingespring het nie, het julle nou in stukke op die aanloopbaan gelê en dan was van ons land se mense moordenaars. Dinge is nou soos dit is.”
“Maar hoe kan ons hier in julle land bly? ” vra Glenton radeloos. “Ons ken niemand nie, ons het niks Suid-Afrikaanse geld nie. Hoe kan ons hier bly sonder dat iemand ons aangee?”
“Ons kan julle Swaziland toe stuur,” antwoord Richard. “My pa het plase daar en as julle ver genoeg van Mbabane of Bremersdorp af is, kan julle maande lank veilig daar bly.”
“Wonderlik!” sê Beswetherick wat lyk of hy in trane wil uitbars. “En wat van ons gesinne in Engeland? Waar sal hulle dink is ons? Sê nou ons skryf om hulle gerus te stel, hoe lank sal hulle stilbly as die koerante sê ons het weggeloop om die ondersoek na die vliegramp mis te loop?”
“Dit