Misverstand op Keurboslaan #9. Theunis Krogh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Серия: Keurboslaan
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798153850
Скачать книгу
maklik om ’n miljoenêr se seun te wees nie. Net waar jy gaan, word pryse vir jou verdubbel.”

      “Moes jy vir haar vliegkaartjie betaal?”

      “Ja, moenie vra hoe nie! My rekening is al oortrokke en ek hoop maar net die bank laat weet nie vir Pa daarvan nie. Ek het Amanda belowe alles sal reg uitwerk as ons eers hier is. Sy verstaan gelukkig ons is nog effens te jonk om haar nou al aan Mamma en Pa voor te stel.”

      “Hoe oud is sy?”

      “Sewentien.”

      “Wil jy regtig nou al trou?” vra Richard.

      “Of ek wil of nie is tot daarnatoe. Ek kon die arme meisie nie in so ’n toestand alleen in Londen los nie. Ek het belowe sy sal hier veilig wees, en sy vertrou my, so dis dit!”

      “As jy dink Pa gaan jou vrou vir jou onderhou, maak jy ’n groot fout.” Maar Richard voel dadelik skuldig hieroor en voeg dan met opregte warmte by: “Ekskuus, ek moes nie so gesê het nie. Maar dis moeilik om te aanvaar een van ons is al oud genoeg om aan sulke dinge te dink.”

      As hy so optree, het Richard dieselfde sjarme wat sy pa so ’n sterk houvas op ander gee.

      Josef vergewe hom dadelik.

      “Daar was nie sprake van ’n verlowing tot ons hier op die lughawe aangekom het nie,” vertel hy. “Maar toe sien Immigrasie hoe jonk sy is en wou allerhande dinge weet, soos waarheen sy gaan en sulke goed. Sy kon natuurlik nie ’n adres gee nie. Hulle wou die Welsyn laat kom en sy het haar doodgeskrik. Gelukkig vra sy toe iemand om my te roep. Ek het net eenvoudig gesê ons is verloof en ek neem haar na my ouers toe, en daarna was alles doodreg. Die Serfontein-naam het weer sy werk gedoen.”

      “Jy moes Mamma dadelik gesê het. Sy help altyd, al is sy ook hoe kwaad.”

      “Nee, daar’s ’n snaakse atmosfeer by die huis. Ouma het haar laat weet ek was onbeskof om ’n meisie in Pa se kar te laat wag en ek kon nie wag om na haar terug te gaan nie. Mamma het nog nie daarvan gepraat nie; Fräulein het my gesê … Maar nou ja, kwaad ofte nie, Mamma sal my nou moet help!”

      “Nee! Jy mag haar nie hiervan vertel nie,” sê Richard vinnig. “Sy sal dit nooit vir Pa wegsteek nie, en hy mag dit nie weet nie.”

      Richard het aan hoeveel verskillende maniere gedink hoe hy vir Josef die waarheid oor hulle pa se gesondheid gaan vertel, maar die tyd vir diplomaties wees, is verby.

      Hy vertel kort en saaklik wat hy by Barbara gehoor het.

      Josef is eers doodstil, dan praat hy met stywe lippe en ’n hees stem. “Dis nonsens! Barbara het verkeerd afgeluister.”

      “Ek het dit ook vir myself probeer sê, maar oom Gene se hele houding wys daar is iets verkeerd. Jy het self gehoor hoe hy nie reguit kon antwoord toe oom Bertrand vra hoe dit hier gaan nie, en op pad lughawe toe het hy my ’n paar keer probeer waarsku om die lewe vir Pa so maklik moontlik te maak.”

      “Pa lyk ernstiger as gewoonlik, dis waar, maar ek het gedink dis omdat hy vir my vies is. Jissou, Riek, ek is regtig erg in die knyp met geld! Die bank gaan Pa een van die dae laat weet.”

      “Hoeveel geld het jy nog oor?”

      “Ek sê jou mos my rekening is oortrokke, en daar sit Amanda in die hotel! Ou Broad is gaaf, en sy vrou ook, maar hy het niks daarvan gehou toe ek met ’n jong meisie daar opdaag en hom vra om vir haar ’n kamer te gee nie.

      “Dit mag nie by Pa uitkom nie.”

      “Nee, o hemel nee … As hy so siek is … Het Barbara glad nie gehoor wat makeer nie?”

      “Nee, maar soos oom Gene gepraat het toe hy my probeer waarsku het, kan dit dalk sy hart wees.”

      “Maar as Broad huis toe bel en Pa kom iets oor, kan dit Mamma se einde ook beteken. En Berrie wat so sensitief is, en Dian en …”

      Josef steek vas. Hy leun sy kop moedeloos teen die deurkosyn.

      “Ek moes oom Gene reguit gevra het, maar ek kon nie,” sê Richard.

      “Ja-nee,” sê Josef, “partykeer kan ’n mens dit nie vat om die waarheid te hoor nie … As ek net vir Amanda kon gaan sien om haar gerus te stel, maar ek het nie eens geld vir petrol nie, en daardie verbrande karretjie van my vreet olie.”

      “Ek het ook nie ’n sent nie,” sê Richard. “En ek het ander verpligtinge. Ek moet twee buitelanders onderhou.”

      Hy vertel vir sy broer die hele storie.

      Josef is uit die veld geslaan. “Het jy dit gedoen! Ek sal dit van Ruys en die ander verwag, maar jy van alle mense … Gelukkig is Pa se bestuurder op Stegi die goeie oom Bokhorst. Enigiemand anders sou Pa dadelik laat weet het wat aangaan.”

      “Oom Bokhorst wou. Ek moes hom van Pa se siekte vertel, maar selfs toe was dit vir hom byna ondenkbaar om Pa te bedrieg. Die vlieëniers voel ook sleg dat hulle misbruik maak van Pa se gasvryheid, maar hulle het hom by die stasie in die stad en weer op Breyten gesien, en van toe af is hulle meer bereid om te wag eerder as om hom te ontstel.”

      Richard hoef nie meer te sê nie. Josef weet watter indruk hulle pa op mense maak.

      “Dit kan darem nie so aangaan nie,” sê hy. “Hulle het pligte wat hulle moet nakom.”

      “Ja, maar vir eers weet ons nie wat om te doen nie,” sê Richard bedruk. “Hulle sou oor die Mosambiekse grens kon gaan, maar hulle verseg. Hulle sê dan is hulle misdadigers.”

      “Dis reg. Maggies, wat het ons besiel?”

      Die twee broers kyk mekaar moedeloos aan. Dan kry Josef ’n ingewing.

      “As ons Amanda ook soontoe vat, is ons probleme minstens onder een dak. Maar waar kry ek geld vir petrol? … Jou vlieëniers is verstandig om nie oor die grens te gaan nie, want ek het gister in Mbabane gehoor die plaaslike mense kom in opstand teen hul regering. Dit het iets met ’n sendelingvrou te doen. Vir nou word niemand toegelaat om Maputo toe te ry nie.”

      “Dit sal beter wees as ons jou Amanda uit Mbabane kan wegkry.”

      “Sy’s g’n my Amanda nie! Ek het net gesê ons is verloof. Ons is glad nie.”

      “Weet sy dit?”

      “Natuurlik. Sy weet mos ek het so gesê om haar uit die moeilikheid uit te kry.”

      Richard maak ’n flou handgebaar en verander die onderwerp.

      “Daar is nog ’n probleem,” sê hy dan. “Brian moet vanaand aan Pa gerapporteer word en hy sal heel waarskynlik moet slae kry.”

      “Maar met Pa se swak hart sal hy mos nooit so iets doen nie!”

      “Ek wens ek was so seker daarvan. Hy was homself en ander nog nooit eintlik genadig nie.”

      “Jy’s reg, en hy mag die ou juis ’n loesing gee om aan homself te bewys hy is nie regtig so siek nie.” Josef slaan sy arm om Richard se skouers.

      “Komaan, ons moet iets probeer doen. Ons sal oom Bertrand moet inspan sonder om vir hom te veel te sê. Hy maak simpel grappe, maar hy is darem baie betroubaar.”

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro,