Ruyssenaer sien Richard sal nie nou kan praat nie en probeer sy vriend help. “Meneer, jy erken ons het julle uit ’n lelike storie gered. So gee ons net ’n paar dae … sê maar ’n week. Ek sal vir julle mense boodskappe stuur om te sê julle is veilig. Riek se pa is ernstig siek. Dit kan vir hom en ons, nes vir julle, ernstige gevolge hê as die polisie nou hiervan uitvind. Op die plaas kan julle minstens verniet bly tot ons ’n plan maak. Miskien kan ons die saak nog op so ’n manier aan doktor Serfontein verduidelik dat hy nie te groot skrik nie.”
Nou bly almal stil. Willemse verbreek uiteindelik die stilte. “Kyk, daar kom ’n vliegtuig aan! Dis seker Josef s’n.”
Richard is nou oor sy oomblik van swakheid. “Ek moet dadelik ry,” sê hy. “Klim almal uit en loop tot by die bushalte hier naby. Ek het nie genoeg geld om julle van die stad af die hele ent pad per motor te stuur nie, maar ons kan onder mekaar genoeg bymekaar maak vir die trein vannag, en dan vat ons julle van Keurboslaan af met Groenewald se motor.”
“Ja, ry jy nou,” sê Ruysseaner. “Hulle kan vandag by ons huis bly. My pa en ma is nie daar nie. Daan kan vir hulle klere leen. Myne sal te groot wees.”
“Dankie,” is al wat Richard antwoord, maar die ander verstaan hom. “Gooi al die pette en goed hier in die kattebak. Ek sal ’n plan maak om dit terug te gee.”
“Maak gou!” sê Willemse. “Die vliegtuig land seker al.”
Terwyl die groot vliegtuig stadig neerdaal en die passasiers hulle veiligheidsgordels vasmaak, kyk Bertrand Spaulding stip na Josef Serfontein wat ’n entjie voor hom sit. Die musikus se nefie, Brian, langs hom, kan skaars stilsit so opgewonde is hy. Hy gaan mos terug kosskool toe. Onder die hare wat so lig soos sy oom s’n is, maal planne om die skool weer lekker op horings te neem.
Wat skort met Josef, wonder meneer Spaulding, dat hy hom so eenkant hou? Die hoof se oudste seun is net so lank soos hy. Hy het effens krullerige bruin hare en sy groen oë lyk soos sy ma s’n. Die handvol sproete op Josef se neus en wange maak hom ’n baie aantreklike jong man.
Sy oë staar net so stip soos meneer Spaulding s’n, maar hulle is gerig op ’n meisie wat ’n entjie voor hom sit. Nogtans is daar nie asemlose bewondering in hierdie blik nie. Meneer Spaulding besluit die meisie is die oorsaak van Josef se afsydigheid.
Josef het nie een keer met haar gepraat nie, maar sy aandag bly die hele tyd op haar gerig. Die meisie kyk af en toe na Josef as die lugwaardin vir haar iets aanbied, asof sy bang is om ’n fout te maak, of dalk iets te vat waarvoor sy nie kan betaal nie.
Wanneer dit gebeur, kyk Josef vinnig om na meneer Spaulding toe. As hy dan sien hy word nie dopgehou nie, stuur hy vir sy beskermling met sy oë of ’n kopbeweging ’n boodskap.
Sover die musikus kan uitmaak, is die meisie nie juis ’n skoonheid nie. Sy lyk net doodgewoon in ’n ligbruin jas en ’n serp.
Kort daarna land die vliegtuig en die passasiers mag afklim.
Brian volg sy oom huppelend by die steil trap af. Onder gewone omstandighede sou Josef saam met sy eertydse onderwyser gestap het. Maar nou het hy min om vir hom te sê. Hy stap nie langs die meisie nie, maar sy bly op sy hakke terwyl sy haar effens verweerde handsak styf vashou.
Meneer Spaulding draai skielik om sodat Josef verplig is om by hom aan te sluit. “Bly naby my,” sê die onderwyser, “en ek sal sorg dat hulle jou nie vir al jou onwettige bedrywighede in die tronk stop nie.”
Josef probeer glimlag, maar hy lyk verleë. Hy sê niks van die meisie nie. Hy gaan vinnig by die lughawegebou in met die meisie nog steeds op sy hakke. Omdat hulle vanne ver uit mekaar op die alfabet is, moet hulle na verskillende doeaneafdelings toe gaan. Terwyl meneer Spaulding saam met Josef en Brian na die gepaste S-toonbank beweeg, kom fluister ’n beampte iets vir Josef. Sonder om die Spauldings te groet, beweeg Josef saam met die man
weg.
“Radi boghoe!” sê die musikus in Russies wat hy as kind vlot gepraat het.
“Isvinite djadja?” vra sy nefie ewe kontant.
Brian se ma is Afrikaans, maar sy dwing haar man om met haar en hulle seun Russies te praat.
“Dit gaan jou nie aan nie,” antwoord sy oom streng op perfekte Afrikaans.
“Is dít Josef se meisie?” vis Brian verder.
“Hou jou neus daar uit!” word hy toegesnou.
Toe hulle in die voorportaal kom, is Josef en die meisie al daar. As hulle al in die vliegtuig taamlik bekommerd voorgekom het, lyk dit nou of hulle op pad na ’n begraafplaas toe is.
Daar is baie mense wat vriende kom ontmoet. Die onrus van ’n rukkie vroeër is nog merkbaar. Die polisie is nog buite met die publiek besig, maar die joernaliste is al weer op die uitkyk vir interessante persone tussen die passasiers wat so pas aangekom het.
“Hallo, meneer Spaulding!” roep een van hulle uit. “Lekker gekuier? Gaan jy die Amerikaanse aanbieding aanvaar, of bly jy by ons?”
“Hallo,” sê die musikus wat al so gewoond is aan hierdie soort vraag dat hy dit nie eens antwoord nie. Hulle sal tog in elk geval net skryf wat hulle wil.
“Josef Serfontein! Wat maak jy nou al hier? Die kriekettoer is mos nog nie oor nie!”
Josef groet vriendelik, maar verduidelik niks nie. Die Serfonteins het vroeg geleer om geduldig te wees met die pers. Hulle beroemde pa was self eens op ’n tyd ’n joernalis.
“Hier kom jou klein boetie!” sê ’n stem.
“Hi there, Curly!” groet iemand Richard wat besig is om ’n pad deur die skare te baan na waar sy broer en meneer Spaulding se koppe bo almal s’n uitsteek. Hy het die jasse en pette buite op ’n bank laat lê.
Meneer Spaulding frons. Die jonger Serfontein lyk nog meer bedruk as sy broer. Is dit miskien nie oor die meisie wat Josef bekommerd is nie? Is daar miskien probleme in die Serfontein-gesin?
“Riek! Gaaf dat jy gekom het,” sê Josef.
“Die kar is hier,” antwoord Richard. Hy raak skoon benoud as hy dink aan wat hy later vir Josef moet vertel. “Dag, oom Bertrand. Hallo, Brian. Pa sê ons moet oom-hulle aflaai net waar oom wil wees.”
“Dankie. By die garage dan. My motor is daar, en ek ry reguit Keurboslaan toe.”
“Riek …” sê Josef effens huiwerig. “Ek het hierdie dame … juffrou Le Roux … belowe om haar na … haar hotel toe te vat. Maar ons kan jou eers by oupa-hulle gaan aflaai. Sy sal nie omgee om buite in die kar te wag nie.”
“Reg,” antwoord Richard ingedagte.
Gewoonlik sou hy gesê het hulle kan ’n dame nie buite in die motor laat wag nie, maar nou kyk hy nie eens na haar nie.
“My maggies! Kyk wie kom hier aan,” sê meneer Spaulding. “Krynauw, jou leegloper, hierdie tyd van die dag! Jy is tog sekerlik nie hier om my te kom ontmoet nie.”
Voor dokter Krynauw hom kan antwoord, val sy blik op Richard.
Toe hy dokter Krynauw so onverwags sien, het Richard versteen. Sy donker oë rek so wyd oop dat die hele iris sigbaar is.
“Riekie! Wat makeer?” vra die dokter.
“Oom Gene … hoekom …” stamel hy.
Dokter Krynauw wonder oor die seun se vreemde reaksie, maar hy antwoord so normaal moontlik.
“Ja, hoekom. Vra dit! Ek moet weg Kaap toe sonder dat ek eers vir my ’n tandeborsel by die huis kon gaan haal. Julle weet mos ek neem nie sulke goed Keurboslaan toe nie,