“Jy het ’n junior uitgedaag om astrant te wees met meneer Brink,” sê Richard.
“Moenie my sê die klein swaap het dit gedoen nie! Hy het soontoe gestap, maar ek het gedink hy sal omdraai en weghol as hy sien dis ’n grootmens.”
“Hy het gesê wat jy hom opdrag gegee het om te sê … Meneer Brink beskou dit as ernstig. Ons ook.”
“Aag, maar wat is so verskriklik daaraan?” vra Brian half smekend. “Ek het net vir hom gesê ou Slangvanger is ’n seun en …”
Richard val hom in die rede. “Op ’n vergadering soos hierdie word ’n onderwyser nie bespot nie. Jou houding bewys jy het geen respek vir die prefekteraad nie. In so ’n geval word die saak aan die hoof gerapporteer.”
“Nee wag!” gil Brian. “Ek het net ’n grap gemaak.”
“Dis nie nou die tyd vir gekskeerdery nie.”
Net ’n klein gedeelte van Richard se gedagtes is by Brian en sy oortreding, maar hy is so gewoond daaraan om sy plig na te kom dat hy dit outomaties doen. “Loop nou, asseblief,” sê hy.
Toe Brian druipstert uitgaan, verslap Richard. Hy lyk so uitgeput dat Ruyssenaer vir hom wink om saam buitentoe te gaan. Krynauw en Willemse volg hulle na die tuin.
“Het jy die plaas gebel?” vra Ruyssenaer.
“Ja, die bestuurder sê hulle is baie rusteloos.”
“As ons net by jou pa kon raad vra,” sê Krynauw. “Maar nou kan ons nie.”
“Riek, weet jy regtig nie watter siekte hy het nie?” vra Willemse. “Kan jy hom nie net probeer pols nie?”
“Hy sal my niks sê nie. Die siekte moet ter wille van my ma so lank as moontlik stil gehou word.”
Willemse wil graag sê die Serfonteins se verbrande terughoudendheid moet nou ’n slag end kry. Geen man het die reg om so iets vir sy gesin weg te steek nie. Maar Richard kry reeds te swaar, so hy bly liewer stil.
“Haai!” sê Krynauw. “Sê nou hy’t ’n hartkwaal. Dis gewoonlik wat fout is as ’n man nog kan rondloop terwyl die dokters niks meer hoop vir hom het nie. Wat sal gebeur as hy besluit om Brian vanaand te looi? Hy slaan deesdae al hoe minder, maar hy kan dit nie verdra as ’n nuwe kind, veral so ’n kleintjie, vir die gek gehou word nie. En om alles te kroon, het Brian pad gegee en die kind in die steek gelaat.”
Daar volg ’n doodse stilte.
“Ek sal vir Josef moet sê,” kom dit dan van Richard. “Ek moes dit al lankal gedoen het.”
Hy stap weg en lyk baie eensaam in die toenemende donker.
Soos hy verwag het, brand daar ’n lig in die houtwerkkamertjie wat Josef al as ’n jong seun vir hom in ’n hoek van hulle tuin gebou het. Wanneer hy bekommerd is, vlug hy altyd hierheen, en Richard het agtergekom daar skort op die oomblik iets.
Van buite af hoor hy die geluid van hout wat gesaag word.
Hy krap saggies aan die deur. Dis altyd sy manier om hier te klop.
“Kom in, Riek,” nooi Josef.
Hy buk oor ’n stuk houtwerk en sy hare hang in sy oë. Hy gee vir sy broer ’n glimlag, maar nie die soort wat sy vriende ken nie.
“Hoe lyk dit my daar’s fout?” vra hy.
“Ja, wel … Wat maak jy daar?”
“’n Stoel vir ouma, met aan die een kant ’n rakkie vir haar boek en bril, en aan die ander kant een vir haar naaldwerk. Hopelik kry ek dit voor Kersfees klaar. Dis goed om so iets te maak vir iemand wat oud is. Ouma sal weet dit het tyd en moeite gekos, en dan voel ek dink sy gaan nog lank lewe.”
Richard kyk met goedkeuring na sy broer, maar dan skiet die wete dat hulle pa nie sulke vooruitsigte het nie hom weer te binne.
Hy hoes iets uit sy keel weg en praat dan vinnig. “Jy voel nie lekker nie. Wat makeer? Sê my.”
Hy wil Josef se persoonlike probleem eers uit die pad kry voor hy hom met die grootste van alle tragedies konfronteer.
“Wel, ek moet seker vir iemand sê … Ek is verloof.”
“Jy is wat?”
“Weet jy nie wat dit beteken nie?”
Josef hou op met werk en trek sy baadjie aan voor hy ’n sigaret aansteek.
“Aan wie is jy verloof?”
“Ek het julle gister aan mekaar voorgestel, maar jy het nie juis belang gestel nie. In die kar het jy glad nie met haar gepraat nie.”
“Nee, ek … ek is jammer as ek ongeskik was, maar … Kom sy van oorsee af?”
“Ja, maar sy is Afrikaans. Sy het net daar gaan studeer.”
Josef kyk sy broer nie in die oë nie.
“Wat het sy gestudeer?” vra Richard wat ’n slag het om dadelik die kern van ’n probleem raak te sien.
“Dans.”
“Is sy ’n danseres?”
“Ja, en dis juis die ding.” Josef is verlig om iemand in sy vertroue te kan neem. “Ek het haar in ’n nagklub in Londen ontmoet. Sy was ’n … ’n hostess soos hulle dit noem, wat met die kliënte moet dans. ’n Hele klomp van ons was ná die wedstryd daar, die Engelse span ook, en een van die manne het vir my gesê die meisie is van Suid-Afrika af en ek moet haar ’n bietjie leer ken. Ek wou nie eintlik nie, maar toe …”
“Toe wat?”
“Wel, jy weet hoe gaan dit ná ’n groot wedstryd.”
Richard kyk hom in stilte aan.
Josef lyk skielik heelwat waardiger. “Ek het nie my mond aan drank gesit nie. Ná daardie moeilikheid met die platry van die tuine het ek Pa belowe om nooit weer te drink nie. Die manne lag my uit, maar ek steur my nie daaraan nie.”
“Ja, dis wat ek gedink het,” sê Richard.
“Maar toe stel iemand my aan Amanda voor … en sy was so klein en fyn en onskuldig dat ek nie kon verstaan wat sy in so ’n omgewing maak nie. Sy is ’n weeskind; haar pa is dood toe sy sestien was. Sy het net ’n paar duisend rand by hom geërf. Dit was nog altyd haar droom om ’n danseres te word – ballet natuurlik, nie nagklubgoed nie. Sy het rondgesoek totdat sy mense gekry het wat oorsee wou gaan met klein kinders wat op die skip opgepas moes word. Dis hoe sy in Engeland gekom het.”
“Daar is uitstekende dansskole hier in Suid-Afrika.”
“Ja, maar sy was net sestien. Op daardie ouderdom sou die Welsyn haar in ’n weeshuis gestop het.”
“Ek verstaan.”
“Sy het dadelik begin studeer, maar haar geld het gou opgeraak en uiteindelik moes sy hierdie ander werk gaan doen.”
Josef gooi sy sigaret neer en trap dit versigtig dood.
Richard kan hom die res voorstel. Josef sou haar sover hy kon met geld gehelp het, maar hy is hopeloos met geldsake en skuld sy pa nog steeds geld vir die tyd wat hy op universiteit gemors het.
“Dit moet vir jou swaar wees,” sê Richard, “om so lief vir iemand te wees en te weet sy is alleen daar in die stad.”
“Sy is nie. Amanda is in Mbabane, in Broad se hotel.”
Richard kan sy ore skaars glo. Sy ouer broer wat hom in hierdie krisis moet bystaan, daag hier op met ’n nagklubdanseres as verloofde en neem haar na ’n hotel hier naby sonder om haar aan sy ouers voor te stel!
Josef skrik vir die uitdrukking op Richard