“Wat gaan ons vir hom sê?” wonder mevrou Mostert onrustig.
“Net wat ek gehoor het. Dis erg genoeg!” sê Barbara bedroef.
Dokter Krynauw en die jongmense ry die volgende oggend so vroeg dat selfs Dian nie tyd het om te huil nie.
Op pad beweer Tiesjie sy voel sleg en gaan naar word, maar niemand steur hulle aan haar nie. Sy is die enigste Serfontein met donkerrooi hare en ook die een met die meeste nukke.
Richard het vandag sy skooldrag aan: ’n grys broek, kleurbaadjie en donkerblou jas. Die prefekte se wapen pryk saam met die hoofseun en sportkaptein se balkies op sy kleurbaadjie se borssak. Niemand wat Richard se loopbaan gevolg het, kan sê hy beklee hierdie posisies net omdat hy die hoof se seun is nie.
Vanoggend kyk dokter Krynauw hom kort-kort vraend aan. Hy ken hierdie kinders so goed soos sy eie Felix, Adolf en baba Annette, en daar skort iets met Richard. Wat kan dit wees? Hy het nie met sy pa vasgesit nie, want Krynauw was tog die hele aand by die Serfonteins.
“Voel jy nie lekker nie?” vra hy in die ry vir Richard langs hom.
“Nee, alles is reg; dankie, oom Gene.”
Maar die seun is beslis gespanne.
Hy kyk onderlangs na hulle familievriend. Richard verwonder hom aan oom Eugene wat so normaal lyk en praat. Maar die dokter dink natuurlik net hy en die hoof is bewus van die geheim, en hulle wil die bekommernis en vrees so lank as moontlik vir sy ma wegsteek. Al is sy ook hoe sterk, pak daardie ou vrees van destyds haar soms onverwags beet. Wanneer dit gebeur, kan net haar man se aanraking en rustige woorde die skaduwees verban … Maar Josef sal moet weet, en Richard moet hom vertel. Terwyl hulle pa nog lewe, is daar hoop en hulle moet hulle ma so lank as moontlik beskerm.
Richard voel skoon oorweldig deur al die verantwoordelikhede. Dis nie net hulle gesin wat betrokke is nie, maar baie ander mense ook. As daar enige gewone sterfling ooit onontbeerlik was, dan is dit sy pa.
“Wat gaan in jou kop aan, Riek?” vra dokter Krynauw ná nog ’n lang stilte. “Goeie voornemens vir die komende kwartaal?”
“Ek kan doen met ’n paar. Ek sukkel nog om my humeur te bedwing, oom Gene.”
“Wel, jy is ’n Serfontein. Jou pa het ’n onmenslike kwaai humeur, maar dit keer nie dat hy wonderlike werk doen nie.”
Richard se kenspiere trek styf asof hy seerkry.
“Jy kan hom baie help,” gaan Krynauw verder, “veral in die tyd wat vir hom voorlê. Hy het jou ondersteuning nou meer as ooit nodig.”
Die dokter kyk onrustig na die uitdrukking op Richard se gesig.
“Ek kon my pa baie meer gehelp het. Ek sal myself altyd verwyt dat ek dit nie gedoen het nie,” kom dit so gebroke dat dokter Krynauw nie weet wat om te dink nie. Hy bly daarom maar stil.
Maar Richard weet wat om te dink. Oom Gene het hom gewaarsku … sonder om in woorde te sê wat verkeerd is.
“Ek laai jou nou by die lughawe af, dan stuur jou pa later sy motor met een van Morgan se garagemense soontoe sodat Josef dit huis toe kan neem.”
“Dis reg so, oom.”
“En wat van jou?”
“Ek gaan na my oupa-hulle toe. Josef moet hulle ook gaan groet. Ek sal daar vir Pa wag tot ons die trein moet haal. Pa huur ’n motor vir die dag se gebruik.”
“Dis alles baie ingewikkeld. Dit sal makliker wees as jy jou eie motor het … Pas jou op, Riek. Jy wil tog nie hê jou pa moet oor jou ook onrustig wees nie. Hy moet weet jy kan jou ma bystaan as Josef nie daar is nie.”
Richard kan nie hierop antwoord nie, en dokter Krynauw is allesbehalwe tevrede toe hy van hom afskeid neem.
OP DIE LUGHAWE
Richard sou verkies het om alleen te wees terwyl hy vir Josef se vliegtuig wag, maar toe hy by ’n restaurant op die lughawe ingaan, verwelkom drie vrolike gesigte hom. Hulle jasse hang oor hulle stoele en hulle dra Keurboslaan se kleurbaadjies.
Ruyssenaer sê soos so dikwels op die rugbyveld: “Riek! Hier!”
Richard is dankbaar om te kan sit. Mense se nuuskierige oë hinder hom altyd.
“Hallo, Ruys … Wim … Daan …” sê hy. “Wat maak julle hier?”
“Ons kom vir Josef groet,” sê Ruyssenaer, “en ons het gedink jy sal ook hier wees.”
Hy kyk stip na Richard en sy lippe verloor vir ’n oomblik die spottende trek waarmee hy gewoonlik sy gevoelens wegsteek.
“Gaan dit goed by die huis?” vra Ruyssenaer dan.
Richard antwoord nie dadelik nie.
“Alles was nog reg toe ek vanoggend daar weg is,” antwoord hy dan.
“Het jy gesien hoe drom die mense hier buite en in die aankomssaal saam?” vra Danie Krynauw, dokter Krynauw se neef. “Daar’s massas joernaliste ook. Ek wonder, is dit alles oor Josef?”
“Wel, hy het deksels goed gespeel daar anderkant,” sê Willemse.
“Nee, ek dink dit gaan oor meer as net Josef,” antwoord Danie.
“Spaulding kom met dieselfde vliegtuig terug,” sê Willemse, “en die pers hou hom altyd dop.”
Afgesien van die feit dat Wim ’n taai rugbyspeler is, is hy ook ’n uitstekende violis. Daarom het hy groot respek vir meneer Bertrand Spaulding, Keurboslaan se senior musiekonderwyser, wat ook ’n bekende komponis en dirigent is. Die musikus het die afgelope vakansie weer vir hom groot lof in sowel Europa as Amerika ingeoes.
“Brian kom ook terug,” sê Richard afgetrokke. “Hy was by sy ouers in Londen.”
“Liewer Spaulding as ek met daai dekselse knaap bo in die lug!” snork Willemse.
“Die mense hier binnekant is ook rusteloos,” sê Krynauw. “Ek gaan bietjie buite rondkyk.”
Hy kom gou weer terug. “Daar is ’n groot deurmekaarspul,” sê
hy. “Julle het seker gehoor van daardie Britse vliegtuig wat ’n paar dae gelede naby Harare in vlamme neergestort het? Nou ja, die vlieënier en sy assistent het mos van daardie uitskietgoed gehad en toe hulle eie lewens gered.”
“Terwyl al hulle passasiers dood is!” sê Willemse ongelowig.
“En nou?” vra Ruyssenaer.
“Die twee word hiernatoe gebring sodat hulle met ’n Britse lugredery se vliegtuig terug Engeland toe kan gaan,” verduidelik Krynauw. “Hulle vliegtuig is veronderstel om oor ’n kwartier te land.”
“Maar wat maak al die mense hier?” wil Ruyssenaer weet.
“Hulle sê daardie vlieëniers is skurke, en hulle wil hulle uit-jou as hulle hier inloop. Party dreig om hulle te lyf te gaan. Daai ouens weet nie wat vir hulle wag nie.”
“Wat traak dit ons mense?” vra Richard. “Die vlieëniers sal mos in Engeland gaan verduidelik. Hulle sou hulle vliegtuig mos nie aspris laat val nie.”
“Nee,” sê Krynauw, “maar dis verkeerd as ouens wat vir ander se lewens verantwoordelik is, sorg dat hulle wegkom terwyl hulle weet daar is g’n uitweg vir hulle passasiers nie.”
Richard frons asof hy vir die eerste keer vandag van sy eie bekommernis vergeet.
“Daar was net twee uitskietstoele,” sê hy, “en net die vlieëniers kon dit gebruik.