Na hierdie twee onbevredigende gesprekke sien die hoof se vrou die onderwysers Flip Venter en Helmuth Geer aan die ander kant van die binneplein aankom. Hulle lyk ook maar bedruk. Toe hulle haar gewaar, gaan staan hulle tot haar verbasing botstil. Dan groet hulle met ’n vinnige kopknik en verdwyn deur ’n ingang na die klaskamers se vleuel asof hulle ’n spook gesien het.
“Nou ja!” sê sy vir haarself. “Roelof het almal weer lelik omgekrap, al erken hy dit nie. Hy maak mense seer sonder dat hy eens bewus is daarvan.”
Daar bly vir haar niks anders oor as om maar terug huis toe te gaan nie.
Barbara het natuurlik by die eerste geleentheid haar kommer op haar ouboet se skouer uitgesnik, en dit was die vorige nag net ná sy aankoms hier. Kort daarna het hy die skokkende nuus met meneer Geer, die sportonderwyser, gedeel. Hulle is sonder versuim na meneer Spaulding, wat in sy jeug ’n lid van Geer se bende was. Die musikus is vaal van skok en nadat die drie lank en gespanne in stilte gestaan het, roep hy uit: “En Krynauw is weg Kaap toe! Ons kan hom nie eens uitvra nie.”
Die agtjarige Dirkie Olivier kom nou die eerste keer skool toe, want hy het ná die Kersvakansie pampoentjies gehad en kon toe nie saam met sy twee groot broers kom nie. Maar hy weet natuurlik alles van Keurboslaan af. Sy pa was mos vroeër hier.
Hy staan nogtans ’n bietjie onseker met ’n kolf in sy hande en kyk na die lang seun wat hom wil begin afrig. Thys en Theuns is rugbymanne en kon hulle klein boetie nie eintlik touwys maak nie.
“Wie’s jy nou eintlik?” vra Ruyssenaer.
“Dirk Olivier, oom,” sê Dirkie huiwerig.
Met een vinnige blik wys Ruyssenaer vir dié wat naby genoeg staan om te hoor enigeen wat die nuwe kind uitlag, sal met hom te doen kry.
“Is Thys en Theuns jou broers?” vra hy.
“Ja, oom.”
“Gee daardie groot stok eers vir iemand anders voor jy jou daarmee seermaak. So, vat nou hierdie bal.” Ruyssenaer roep na waar Richard met ander leerlinge besig is.
“Ja?” antwoord die hoofseun.
“Kom ’n slag hier en laat hierdie grootman vir jou boul. Ek kan dié ape hier nie vertrou om my te help nie.”
“Dis goed. Daan, neem jy my plek hier in. Kyk mooi dat Loggenberg nie gooi as hy boul nie.”
Dirkie kyk met groot respek na die hoofseun in die wit klere. Dis mos hy wat verlede jaar in Engeland voor die koningin krieket gespeel het. Thys-hulle het hom daarvan vertel.
Richard bekyk die nuwe skolier met kalm, vriendelike oë.
“Nou, sien jy daardie oom?” vra Ruyssenaer.
“Ja …”
“Vat die bal en gooi hom so hard as jy kan daarmee.”
“Sal hy nie baie kwaad wees nie?” aarsel Dirkie.
Nie eens Ruyssenaer se strengste blik kan keer dat die toeskouers lag nie. Die nuweling lyk baie verleë.
“Genoeg gerunnik van julle!” beveel Ruyssenaer. “Brian, Leenderd en Rynault Serfontein, hoekom oefen julle nie?”
“Ons het ’n soort toetswedstryd,” sê Brian nog laggend. “Maar party is nog nie hier nie. Ons speel kastig op die oostelike veld.”
“Gaan dan dadelik soontoe. Jy, kêrel, gooi die hoofseun met die bal. Jy hou ons op.”
“Mik na die paaltjies, Olivier,” roep Richard van die ander kant af.
Dirkie se vrees slaan weg. Die hoofseun ken sy naam en noem hom daarop asof hy ook een van die manne hier is! Hy voel dadelik ’n paar sentimeter langer.
Toe hy die bal met al sy krag gooi en die hoofseun dit sowaar raak slaan, besef hy nie Richard moes vinnig ’n hele treë gee om dit reg te kry nie. Hy is so trots soos nog nooit vantevore nie, en van dié dag af word krieket die middelpunt van sy bestaan.
Later toe almal terug skool toe gaan, sien Brian die klein regop figuurtjie stap en sy ondeunde oë vonkel.
Hy knipoog vir sy maats en sê vir Dirkie: “Haai. Lekker gespeel?”
“Baie lekker! Die hoofseun kon elke bal raak slaan, maak nie saak hoe ek dit gegooi het nie.”
“Maar dis mos nie die bedoeling nie,” sê Ben Serfontein. “Jy moet probeer om die paaltjies …”
“Moenie jou aan hierdie vent steur nie,” sê Brian vir Dirkie. “Hy’s net jaloers op jou. Jy gaan ’n goeie krieketspeler word. Enigiemand kan dit sien … Maar as jy wil hê almal moet van jou hou, moet jy nie so eerbiedig teenoor die groot menere wees nie. Anders dink almal jy’s ’n bangbroek. Die seniors is niks beter as ons nie.”
“Maar Thysie het gesê ’n mens mag nie parmantig met hulle wees nie,” sê Dirkie verward.
“’n Ouboet sê sulke dinge net om jou te laat verstaan hy’s jou ouboet. As jy so voor die seniors kruip, gaan niemand van jou hou nie.”
“Brian, oppas vir jou!” waarsku ’n groot seun in die verbygaan. “Jy weet jy mag nie met die nuwe kleingoed gekskeer nie.”
Brian steur hom nie aan die goeie raad nie. Jan Serfontein, een van die hoof se menigte neefs, is ’n goeie kêrel en almal sê hy gaan volgende jaar ná Richard hoofseun wees, maar hy is dit nog nie!
“Dis tipies die groot menere,” sê Brian vir Dirkie. “Hulle wil van ons ander slawe maak! Sien jy daardie langbeen wat daar stap? Gaan sê vir hom: ‘Hallo, ou Slangvanger.’”
Meneer Brink se bene is in werklikheid nogal taamlik lank in vergelyking met sy bolyf. Hy weet sy bynaam is Slangvanger, maar dit hinder hom glad nie. Hy is genooi om vanmiddag saam met die hoof tennis te speel. Op pad bane toe sien hy Brian langs een van die heel kleintjies stap en besluit om hom by ’n later geleentheid te waarsku om hulle met rus te laat.
Maar nou kom die nuweling na hom toe en dit lyk of hy met hom wil praat.
Omdat meneer Brink wit klere soos die krieketspelers dra, lyk hy vir Dirkie net soos een van die groot seuns.
“Hallo, ou Slangvanger,” sê hy effens bang, maar dapper soos Brian vir hom voorgesê het.
“Hallo,” sê meneer Brink. “Jy is waaghalsig. Dis gevaarlik om ’n onderwyser so aan te spreek.”
“Ha! Jy’s nie ’n onderwyser nie. Jy’s net ’n groot seun!”
“Wie het dit vir jou gesê?”
“Daardie ou …” Dirkie draai om na Brian toe, maar hy en al die ander het reeds by die groot gebou in verdwyn.
“Hy’s weg!” sê Dirkie hees.
“Ja, en as jy mooi kyk, sal jy sien ek is eintlik ’n onderwyser.”
Dirkie kyk goed. Ja, dis waar!
Die feit dat die meneer glimlag, stel hom nie gerus nie.
“Bly liewer weg van seuns van daardie ouderdom,” waarsku meneer Brink. “Hulle sin vir humor lei hulle dikwels die verderf in. Loop nou en moenie weer so dom wees nie. Jy mag nie eens die seniors so aanspreek nie. Jy moet ouer mense respekteer.”
Dirkie hardloop met bewende knieë skool toe.
Meneer Brink is vies oor Brian se optrede en later die dag bevind Brian hom voor die prefekteraad. Die groot kêrels sit rondom ’n lang tafel in ’n vertrek met mooi houtpanele. Hulle is almal eenders aangetrek en lyk ernstig en streng. ’n Vergadering van die prefekteraad is ’n gewigtige aangeleentheid op Keurboslaan.
Richard sit met sy hande voor hom op die tafel gevou en lyk meer