Misverstand op Keurboslaan #9. Theunis Krogh. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Серия: Keurboslaan
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798153850
Скачать книгу
die verkeerde bevele gegee; dis hoekom die vlieënier te gou in die donker begin neerdaal het,” verduidelik Richard.

      “Ja, ek weet,” sê Krynauw, “maar sou jy jou eie lewe op daardie manier gered het?”

      “Natuurlik. Die twee ouens het glo vrouens en jong kinders. Hulle dood sou nie een enkele passasier gered het nie.”

      “Ek weet darem nie,” sê Krynauw terwyl die ander ingedagte na Richard sit en kyk. “Gaan vertel dit vir die mense daar buite. Hulle is baie kwaad en reg vir baklei.”

      Richard frons dieper. “Dis lelik,” sê hy. “Dit kan uitloop op moord. Die vlieëniers sal in Engeland voor ’n hof of minstens ’n raad moet verskyn. Maar die mense wat hier geweld wil gebruik, is ons eie mense. Ons kan dit nie toelaat nie.”

      “Daar is seker ’n paar honderd daar buite wat hulle tande slyp,” sê Krynauw. “Gaan sê dit vir hulle. Ek waarsku jou, hulle lyk van die gevaarlike soort. Daar is ook ’n klomp studente by.”

      Maar Richard antwoord ferm en kalm: “Ons moet doen wat ons kan. Ons moet die mans van die vliegtuig af tot in die gebou kry sonder dat iemand hulle herken. Dan moet hulle weggesteek word tot die mense uitmekaar gaan.”

      “Wat kan eenvoudiger wees,” sê Ruyssenaer sarkasties.

      “Presies,” antwoord Keurboslaan se hoofseun ongesteurd. “Ons vermom hulle net.”

      “Wie’s ons?” vra Willemse.

      “Ons vier natuurlik.”

      “Kan julle dit glo? Dis kastig die ou wat vir ons ander ’n voorbeeld moet wees.”

      “As iemand iets gaan doen, moet dit gou gebeur,” sê Krynauw. “Die vliegtuig gaan enige oomblik land.”

      Richard staan op.

      “Hier naby is ’n sitkamer waar die bemanning ontspan en hulle jasse en baadjies uittrek,” sê hy. “Ek en Josef is ’n ruk gelede saam met ons ouers deur die hele gebou en ek weet waar dit is. Kom, los julle baadjies hier op die stoele.”

      Eenvoud is ’n kenmerk van alles wat Richard aanpak. As hy nie geweet het waar die personeel se sitkamer is nie, sou hy gou genoeg op die een of ander manier uitgevind het. Daar hang ’n hele paar baadjies aan hake, asook groot jasse en pette.

      Hy het weer sy eie donkerblou jas aangetrek, en al dra hy nie ’n pet nie en al ken die beamptes hom nie, huiwer niemand toe hy uitroep dat almal onmiddellik moet kom help met die aankoms van die vliegtuig uit Zambië, of hulle aan diens is of nie.

      Almal weet natuurlik daar word moeilikheid verwag.

      ’n Paar gryp na hoede en jasse, maar nie almal nie.

      “Riek,” sê Ruyssenaer toe Richard kort daarna met arms vol klere uitkom, “jy is so gelukkig soos my oom Kootjie Duwenhage!”

      Buite druk die lughawepersoneel en bekommerde polisie die malende skare met moeite terug tot agter versperrings wat inderhaas opgerig is.

      Tussen die skare verskyn daar vier jong mans, elkeen met ’n amptelike pet laag oor die oë getrek.

      “Oppas vir die pers, Riek!” waarsku Willemse. “Jy en Ruys is deksels lank. Kyk, daar is die ou met wie jy vasgesit het toe ons tweede span teen St. John’s gespeel het … Die een wat gesê het hy gaan jou van nou af Curly noem.”

      Richard slaan sy blou jas se kraag op asof hy koud kry.

      Die vliegtuig het so pas geland. Daar is ’n gebrom onder die wagtendes.

      “Wat kom soek julle hier?” vra ’n taamlik bejaarde polisieman vir ’n groep mans wat by hom probeer verby druk.

      “Ons wil daardie vuilgoed uit ons land wegjaag!” kom die antwoord. “Ons gaan hulle wys wat dink ons van lafaards!”

      Die vliegtuig land en beweeg stadig na sy parkeerplek toe. Daar klink oral dreigende krete op.

      “Vandag is daar moord as ons hulle nie keer nie,” sê ’n sersant vir een van sy manne.

      Met al die gestoei en gedruk tussen die polisie, personeel en die paar honderd mense wat die vliegtuig met alle geweld wil bestorm, sien niemand die vier mans wat aan boord gaan nie. Iemand wat hulle wel opgemerk het, sou gedink het dis lughawepersoneel wat aangesê is om die oorsese vlieëniers te beskerm. Die vier seuns het elkeen ’n ekstra jas en pet oor hulle arms.

      Skielik breek die skare deur die versperrings en storm by die polisie en beamptes verby. Maar toe hulle by die vliegtuig se treetjies kom, klim daar vier groot en twee kleiner mans uit, almal met lugrederypette op. Twee tingerige mans loop in die middel van die groep. Die vier groot jongmans baan hulle weg doodluiters en ongejaagd deur die woedende skare.

      “Ekskuus, asseblief,” sê een van die twee grootstes. Blykbaar hanteer hulle sake van hoër belang as hierdie moontlike aanval.

      Op pad na die gebou skep die oorsese vlieëniers weer asem. Hulle vliegtuig se vlieënier is ’n halfuur gelede per radio verwittig om moeilikheid te wagte te wees en hy het hulle op sy beurt weer gewaarsku. Hulle het natuurlik niks vir die ander passasiers gesê nie. Die twee buitelandse vlieëniers het die lawaai gehoor toe die vliegtuig land en bra onwillig saamgegaan toe die vier jongmans kom aanbied om hulle deur die massa mense te help.

      Maar hulle is nie regtig lafaards nie, al volg hulle die Keurboslaners met stywe kenne en waaksame oë.

      “Waarheen gaan ons?” verneem die een man in Engels. Hy is korterig en het ’n bruin snor.

      “Ons moet dadelik in die motor wat buite wag, klim,” sê een van die redders. “Daan, gaan haal jy gou ons kleurbaadjies.”

      “Hoe kom ons daar buite?” vra dieselfde man. “Hulle het oor en oor gesê ons moet net hier in die lughawe bly. Ons is veronderstel om hier vir ons vlug Londen toe te wag.”

      “Veronderstel is een ding en ’n pynlike dood is iets anders,” sê Ruyssenaer. “Wees bly julle klere is nog nie van julle afgeskeur nie.”

      Op dieselfde oomblik is die vlieënier van die vliegtuig wat pas geland het besig om die polisiehoof te verseker die buitelandse vlieëniers is nie meer aan boord nie.

      ’n Kreet van woede gaan op van dié wat dit hoor.

      “Hoe so? Het jy hulle dan iewers uitgesmyt?” skree iemand.

      “Nee, vier beamptes het hulle kom wegneem. Ek was maar te dankbaar.”

      Dis genoeg vir die menigte. Hulle breek los en storm na die uitgange.

      In die aankomssaal is daar nie tyd om te mors nie.

      “Gou!” sê Richard. Die ses beweeg inderhaas verby verwarde doeanepersoneel na buite. Voor die vlieëniers mooi weet wat gebeur het, sit hulle agter in ’n yslike swart motor.

      “Daar’s die voorbokke nou by die ingang, Riek,” roep Krynauw. “Ry!”

      Riek gooi sy pet agtertoe en gryp die stuurwiel. Voor die eerste mense by die gebou uitstorm, is die motor weg. Hulle gaan om ’n paar draaie en hou dan langs die pad stil.

      “My naam is Richard Serfontein,” stel Richard homself voor. “Dit is Ruyssenaer, Willemse en Krynauw.”

      Die Engelsman probeer die vanne uitspreek, maar gee vinnig moed op. “Maar wie …” begin hy.

      “Wil jy jou en jou vriend nie eers voorstel nie,” onderbreek Ruyssenaer.

      “Ek is Glenton,” sê die man met die snorbaard, “en dit is Beswetherick.”

      “Hemel … Aangenaam,” sê Ruyssenaer. “Dis ’n lekker naam om in ’n storie te gebruik, want dit maak sommer ’n hele bladsy vol.”

      “Hou jou in!” brom Willemse. “Die mense sal dink jy’s mal om grappe te maak terwyl hulle lewens in gevaar is.”