Die staat teen Anna Bruwer. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795704130
Скачать книгу
Sy snuif, bekyk my op en af. “Kan nie vir prostitution wees nie, niemand sal na jou kyk met daai baggy klere en short hare nie. Vir wat dra jy jou hare so stomp?”

      Toe ek nie antwoord nie, sê sy: “Ek’s in vir prostitution. My derde keer. As dit so aanhou, gaan ek customers begin verloor.” Sy klink selfvoldaan.

      Ek hou my oë afgewend, hoop sy kry die boodskap dat ek nie met haar wil praat nie. Ek wil met niemand praat nie, ek wil net sit. En dink. En bid. En hoop.

      Sy snuif weer, fluister dan hard: “My toppie se skuld. Hy’t my ge-use en ge-abuse. Jy kan maar sê hy’t my virrie trade grootgemaak.”

      Ek draai my kop weg van haar. Ek verstaan dit nie. Hoekom is daar vroue wat seksueel misbruik is en tog is hulle bereid om seks te hê teen betaling? Hoe kan hulle hoegenaamd seks hê?

      Tog verstaan ’n deeltjie van my dit. Het ek nie op skool rondgeslaap nie? Links en regs seks gehad sonder die byvoordeel van betaling. En al lewe ek reeds jare lank in selfopgelegde selibaatskap is die wete altyd daar: jy was ook so. Jy is nie beter as ’n prostituut nie.

      “Moord.” Ek draai terug na haar. “Ek is in vir moord.”

      “Die bastard jou verkrag?”

      Ek knik, verbaas.

      “Goed so, dat jy hom gelem het.”

      “Ek het hom geskiet.”

      “Good for you,” kom ’n ander stem by. “Ek moes my man met die lem bykom, hy het my geslaan. Virrie laaste keer, mind you.”

      Almal sit nou regop, gaap, vee hare plat, krap aan ’n jeukplek. Ek begin gesigte by die stemme las.

      “Ek’s in vir diefstal.”

      “Dronk op straat.”

      “Drugs.”

      “My naam is Violet,” sê my prostituut-buurvrou. “Wat’s joune?”

      “Anna. Ek is dors.”

      “Kom.” Sy staan kreunend op, trek my aan die arm op. “Ek wys jou.”

      Langs die toilet is ’n gat in die muur en ’n spuitkop waaruit water drup. “Kyk,” beduie sy, “jy trek die levertjie en die water spuit uit.”

      Ek doen dit, drink groot slukke water.

      “Wil jy pie?”

      Ek knik.

      “Haai, kyk weg,” praat sy met die ander. “Sy wil pie en nie gesien word nie!”

      “Dis baie vuil, miskien moet ek knyp.”

      “Sallie werkie. Ons het ook niks om skoon te makie. As ons net ’n kombers gehet het, kon ons dit oppie vloer gooi, dan is jou voete darem droog. Was dit winter gewees kon ons, dan kry jy twee komberse. Maar nou . . .” Sy trek haar skouers op.

      “Gee my kombers.”

      Sy skud haar kop. “Nee, jy gaan hom nodig het vanaand, dit raak koud. Pie nou maar.”

      Ek gaan sit, gril vir die nat onder my voete, vir die sweetpakbroek wat nou ook nat om die pype gaan wees.

      “Sjame, nie eers ’n pêntie nie,” skud een van die ander kop.

      “Sjarrap jy!” sis Violet. Sy kyk na my. “Mary,” beduie sy met die kop, “hou haarself so heilig soos die virgin, maar suip aanmekaar. Het nog nooit ’n pêntie gesien nie, wat van dra.”

      “Fok jou, Violet!”

      “Fok jou terug, Mary.”

      Dankie tog hier is toiletpapier, sug ek en trek my broek op.

      Ek draai om, soek waar ek die toilet moet trek, maar Violet keer. “Sallie helpie. Die ding is lankal stukkend.”

      Buite die geluid van sleutels, die hek wat skree. Die staaldeur gaan oop.

      “At last, ek is fokken honger!” sê iemand.

      ’n Vrou staan voor die traliehek, borde in haar hande. Iemand agter haar gee nog borde aan, sy vir ons.

      Ek gaan sit op my matras, kyk na die enemmelbord in my hand. Geen mes, geen vurk. Waterige, fyngekookte hoender op papgekookte rys. Groen groente. Spinasie? Groenbone? Kan papgekookte ertjies ook wees.

      Ek is honger. Wanneer laas het ek geëet? Ek kyk af na die bord. Tronkkos.

      Nee, besluit ek, só desperaat is ek nie. Ook nie so honger nie.

      “Gaan jy nie eet nie?” Violet se oë bly op my kos.

      Ek skud my kop en hou die bord na haar uit.

      “Asseblief, Sup, dis ou mense en hulle het ver gekom,” praat Joubert van Heerden mooi. “Net tien minute, hier in jou kantoor, onder jou toesig. Hulle is baie bekommerd oor haar, en ek oor hulle. Laat hulle net sien dat sy oukei is.”

      Windhond wik en weeg, kyk opsommend na die man.

      “Sup ken my,” pleit die prokureur nou behoorlik. “Ek sal nooit so iets vra tensy dit regtig nodig is nie. Asseblief.”

      Hoeveel keer het hulle twee nie al in die hof teen mekaar baklei vir reg en geregtigheid nie? dink Windhond. Hy oorweeg die opsies. Dit word nie gedoen nie, sy is ’n verdagte. Maar wragtig, hy kan nie aan haar dink as ’n moordenaar nie. Wat gaan tien minute ook nou eintlik aan hom doen? Vir haar, aan die ander kant, kan dit dalk baie beteken.

      “Goed,” hoor hy homself sê. “Maar net tien minute. En vanaand ná agt, wanneer hier minder oë is.”

      Toe Van Heerden met ’n dankbare glimlag uit die kantoor loop, skud Windhond sy kop. Hy is besig om sag te word, so op sy oudag.

      Hy tel die gehoorbuis op, skakel sy huisnommer. “Ek gaan laat wees vanaand,” sê hy toe Marie antwoord. “Ek het my deur die snotneusprokureurtjie laat ompraat dat die moordverdagte besoek mag ontvang. Vanaand in my kantoor. Ek is besig om my edge te verloor.”

      “Wat jy doen, is menslik, Leon. Deernisvol.”

      Hy snork en sit die telefoon terug op die mikkie. As hy tot laat op kantoor moet bly, kan hy hom net sowel besig hou, besluit hy en trek Anna Bruwer se dossier nader.

      Hy, Windhond Webber, deernisvol!

      Ek lê op die matras, arms onder my kop gevou, starend na die plafon. Probeer uitwerk hoeveel tyd verloop het sedert middagete. Probeer my verbeel dat ek op ’n ander plek is. Dat ek nie die geskel en gevloek en gekerm om my kan hoor nie. Dat ek die son op my vel kan voel. Dat ek nie honger is nie. Ook nie dors nie.

      As ek opstaan vir water, gaan hulle weer met my wil praat, en ek wil nie mee gepraat wees nie. Nee, dan eerder dors.

      Ek maak my oë toe, sien bloed, maak hulle vinnig weer oop. Moenie dink aan sy liggaam nie. Moenie dink aan al die bloed nie. Moenie onthou dat jy gegly het in die plas bloed wat langs hom opgedam het nie, hoe jy hande-viervoet daarin gestaan het nie. Moenie onthou hoe jy jou bebloede hande na sy bebloede nek uitgesteek het om sy pols te voel nie. Moenie sy lewelose oë onthou nie. Dink aan iets anders.

      Soos wat? Soos: is dit moontlik dat jou reuksin mettertyd kan afstomp? Of raak jy net gewoond aan die stank, sodat dit normaal begin ruik? Is dit moontlik dat ek, wat twee keer ’n dag moet stort, soms meer, myself kan ruik en dit as niks afmaak nie?

      Ek sal nooit sy oë vergeet nie. Nee, dink aan iets anders!

      Sal dit beter gaan in die tronk as hier in die aanhoudingsel? Daar sal darem seker iets wees om te doen? Hulle sal my seker besig hou? Probeer rehabiliteer dalk?

      Die gerinkel van sleutels dui iemand se aankoms aan. Dis dieselfde konstabel wat my vanoggend hierheen gebring het.

      “Kom,” sê sy, “julle het ’n uur.”

      ’n Uur vir wat? Mag ons stort?

      Sy laat die deur oopstaan, stap na die eerste deur, sluit dit sorgvuldig agter haar toe.