Die staat teen Anna Bruwer. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795704130
Скачать книгу
is sop en amper ’n kwart brood. Droog, geen smeer. Beker koffie. Ek is lus vir koffie. Ek is mal oor koffie, maar dié reuk walg my.

      Ek hou my kos uit na Violet, wat dit vinnig gryp.

      Ek kyk op na die venstertjie, waar dit al donker is. Sluit my ore vir die geslurp en gesluk om my. Een trietserige dakliggie wat die donkerte moet verdryf. En nie ’n baie goeie job doen nie. “Sit hulle die lig snags af?”

      Violet hou op slurp, breek luidkeels ’n wind. “Never-ever, darling. Daai lig brand dag en nag.”

      Die deur skreeu weer oop, ’n ander gesig verskyn. “Bruwer, kom saam.”

      Hoekom? wil ek vra. Waarheen? Maar stom Anna staan net op, loop agter haar aan.

      Sy sluit die deur agter my. “Hou uit jou hande.”

      “Hoekom?” vra ek tog.

      “Ek moet jou boei.”

      “Hoekom?” skrik ek.

      “Sodat jy nie weghardloop nie. Hou jou hande voor jou uit.”

      “Ek sal nie weghardloop nie.” Ek kyk af na my hande, sien dat daar nog droë bloed onder my naels sit.

      “Maak nie saak nie, ek moet nog steeds.” Die koue boeie glip om my polse, klik toe. “Kom.”

      Ek herken die pad na die superintendent se kantoor. Voor sy die deur oopmaak, sorg ek dat my masker stewig in plek is. Hy mag nie sien hoe bang ek is nie.

      Maar toe die deur oopgaan, sien ek die drie mense vir wie ek die liefste is. Ek voel hoe my masker glip. Ek hou my oë neergeslaan terwyl sy die boeie losmaak, wil graag in Marnus se arms inloop. Wil hê dat hy die een moet wees wat my vashou, my vertroos. Weet ek kan nie.

      Daarom loop ek in tannie Miriam se oop, wagtende arms in. Ek laat toe dat haar kop op my skouer rus, ek hou haar rukkende lyf styf teen myne vas. Ek word die vertrooster.

      Oom Retief se hand kom swaar op my skouer lê. “Anna.”

      In daardie een woord hoor ek soveel meer. Liefde, aanvaarding, verdraagsaamheid. Ondanks.

      Ek draai na hom. “Ek moes dit doen, oom. Ek kon nie anders nie. Vir Carli, vir myself.”

      “Sjuut,” sê hy en druk my teen hom vas.

      Toe hy my laat los, mag ek na Marnus draai. Mag ek in sy omhelsing instap. Weet ek dis waarvoor ek die hele tyd gewag het. Dat dit reg is, en terselfdertyd heeltemal verkeerd.

      “Ag, kind . . .”

      Dis tannie Miriam wat my na ’n stoel lei, ’n toebroodjie aanbied, vir my soet koffie uit ’n fles skink. Ek eet en drink en sluk dankbaar onder hulle blikke. Tannie Miriam is hartseer, maar tevrede dat ek die kos so geniet. Oom Retief is bekommerd. Marnus . . . Ek weet nie wat hy dink nie, hy was nog nooit maklik om te lees nie.

      Superintendent Webber staan eenkant, langs die prokureur van vroeër. Albei se gesigte is onleesbaar. Hulle het hulle maskers van professionaliteit op, besef ek.

      “Ek wil hê jy moet iets vir my doen, Anna,” sê oom Retief.

      Ek knik.

      “Ek wil hê dat jy Joubert as jou regsverteenwoordiger sal vertrou.”

      Ek kyk vlugtig op na die groot man. “Ek is skuldig, oom.”

      “En dis die ander ding, my kind. Jy moet onskuldig pleit wanneer die verhoor begin.”

      “Maar ek ís skuldig. Ek het hom geskiet, ek wou, ek móés.”

      “Skuld is ’n relatiewe begrip, Anna. En jy is mos ’n vegter. Wat het van jou vegtersinstink geword?”

      “Het ek destyds vir Carli geveg, oom? Vir myself?”

      Sonder dat ek dit kan keer skiet my oë vol trane. “Nee, ek het verkies om te vlug, om by oom-hulle te gaan bly, om te maak asof niks gebeur het nie. Ek het van Carli vergeet, ek het haar gefaal.”

      “Jy kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir wat met Carli gebeur het nie, Anna!”

      Tannie Miriam se stem is skerper as wat ek dit al ooit gehoor het.

      “Wie anders sal vir Carli verantwoordelikheid neem?”

      Marnus kom hurk voor my, vat my hande in syne. “Asseblief, Anna? Aanvaar Joubert se hulp.”

      Ek kyk lank na die geliefde gesig voor my, knik dan. Ek weet ek het hulp nodig.

      Oom Retief maak keel skoon. “Joubert, wie is die staatsaanklaer?”

      “Vicky Gouws, oom.”

      “Het julle al ooreengekom oor borgvoorwaardes?”

      “Ja, sy sal nie borgtog teenstaan nie. Die een ding waaroor sy egter baie sterk voel, is dat Anna nie toegelaat kan word om die stadsgrense te verlaat nie.”

      “Sy is nie ’n vlugrisiko nie, en sy het ’n besigheid in Knysna. Het jy dit so aan haar verduidelik?”

      As antwoord lig die prokureur sy wenkbroue.

      Oom Retief glimlag flou. “Ek is jammer, natuurlik sou jy.”

      “Al wat ons nodig het,” Joubert van Heerden kyk na my, “is ’n beëdigde verklaring deur juffrou Bruwer.”

      “Ek het al ’n verklaring by die superintendent gemaak.”

      “Hierdie is iets anders, Anna,” verduidelik oom Retief. “Hierdie verklaring dui aan waar jy sal bly, dat jy nie op die vlug sal slaan nie, dat jy na jouself kan omsien, ensovoorts.” Hy draai na Joubert. “Kan ons dit sommer nou doen?”

      “Reeds gedoen, oom. Ek het haar besonderhede uit die polisieverklaring gekry. Sy moet net deurlees en teken.”

      Hoekom praat hy nie met mý nie? Ek hou my hand uit vir die vorm, maar dis superintendent Webber wat dit by die prokureur vat. Hy beduie ek moet hom volg.

      Ek stap gedwee agter hom aan na die aanklagkantoor. Hy wink ’n konstabel nader.

      “Indien daar enige foute is, haal dit net deur en maak dit reg.”

      Ek skrik effens vir die stem agter my, ek het nie besef die prokureur het ons gevolg nie. Ek lees die verklaring vinnig deur, kyk op na die konstabel toe ek die eed aflê en teken op die aangewese plek.

      Terug in die superintendent se kantoor hou tannie Miriam klere na my uit. Jeans, tekkies sonder veters, onderklere, ’n bloesie, ligte baadjie. Seep, nie sjampoe nie, deodorant, tandeborsel, nie tandepasta nie, handdoek.

      “Hulle het die sjampoe en tandepasta gevat, bang jy drink dit. Ook jou veters.”

      Ek knik.

      “Sup Webber sê jy kan stort voor jy teruggaan.”

      “Jy kan in die sel stort,” praat die superintendent vir die eerste keer met my. “Ek sal sorg dat jy tandepasta kry.”

      Buite die deur gaan ek staan. Ek draai om sodat ek na die drie gesigte kan staar. Sodat ek elke detail daarvan in my geheue kan brand. Doen ek die regte ding? Moet ek nie . . .

      Nee, ek moenie. Ek doen die regte ding.

      Die konstabel sluit die eerste hek sorgvuldig toe, laat die deur oopstaan. “Stort en trek aan, ek het nie baie tyd nie.”

      Ek draai die kraan oop, die water is koud. Staan bibberend en kaal onder die yl straaltjie, was my hare, my lyf met die seep. Hou my tandeborsel na haar uit sodat sy tandepasta kan opsit. Borsel en borsel om die suur smaak uit my mond te kry.

      Sy gee die handdoek aan. Ek droog af, maak of ek nie haar oë op my lyf voel nie. Spuit deodorant aan. Trek aan.

      “Dankie, konstabel.”

      Sy vat die rooikop se gymklere, hou haar hand uit vir die toiletware en handdoek. “Ek gaan dit môre nodig kry,” keer ek.

      “Mag