Die staat teen Anna Bruwer. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795704130
Скачать книгу
konstabel stoot my vorentoe, sluit nog ’n deur oop, ’n dik staaldeur, en ’n traliehek. Die reuk wat uit die vertrek opslaan, is tasbaar. Ek draai my kop weg.

      Stemme begin protesteer.

      “Hoe moet ons slaap as jy die hele tyd inkom?”

      “Wat tog nou weer?”

      “Iemand sieke’ wat ons djoin.”

      Ek staan versteen. “Kan ek nie hier,” ek beduie na die groot vertrek waarin ons staan, “bly nie? Asseblief?”

      “Nee.” Sy druk my ongeduldig binnetoe.

      Ek draai om, die man is weg, ek kan hardloop. En as hulle my skiet? Nee, ek sal moet ingaan. Want dit was mý keuse.

      “Kom nou!” sê die konstabel kwaai.

      Ek tree stadig vorentoe, kyk vir oulaas om. Die man is terug, hy hou ’n matras en ’n grys kombers na my uit.

      “Maak vir haar plek!” sê die konstabel vir die vae vorms in die skemer vertrek.

      Die deur slaan agter my toe.

      Ek staan stil, laat my oë aan die min lig gewoond raak. Ses gesigte kyk terug na my. In die een hoek ’n toilet, darem effens beskut met ’n lae muurtjie rondom. Regs van die deur ’n sementbank, reeds beset deur ’n lyf.

      “ ’n Wit vrou,” fluister ’n stem.

      Dit beweeg soos ’n eggo deur die vertrek. ’n Wit vrou, ’n wit vrou, ’n wit vrou.

      Ek kyk op, na die kaal gloeilampie teen die hoë plafon. My wêreld het gekrimp tot dít: ’n vuil vertrekkie met bekrapte mure. Een wat ek met ses vreemdelinge moet deel. Met die reuk van urine en ontlasting wat oor alles hang.

      Al wat ek voel is die moegheid. My hele lyf voel dood. My kop is dof, my oë branderig.

      “Dis ’n klein prys om te betaal,” sê ek hardop. “Dis ’n baie klein prys om te betaal.”

      “Sê jy, girl, sê jy.” Die vrou naaste aan my kyk my ’n oomblik stil aan.

      Sy beduie my na haar kant toe, maak ’n plek langs haar vir my oop. Ek laat die matrassie op die sementvloer neerplof, vou die grys kombers dubbeld vir ’n kussing, krul my in die fetusposisie op. Die matras is so dun dat ek die koue van die sement daardeur kan voel.

      Ek kry koud, dink ek vaagweg, dis somer in die Vrystaat en ek kry koud. My oë gaan vanself toe.

      Windhond wag geduldig vir die mikrogolfoond se horlosie om oor te slaan na 07:50. Dan plaas hy ’n deksel oor die sissende wors, draai die stoofplaat af en breek ses eiers in die pan op die stoofplaat langsaan. Vier vir hom, twee vir sy vrou. ’n Ongesonde ontbyt, hy weet dis wat sy gaan sê. Maar vanoggend het hy krag nodig.

      Net toe hy die eierpan van die stoofplaat trek en die roosterbrood in ’n bord laat gly, stap sy die kombuis binne.

      “ ’n Ongesonde ontbyt,” sê sy en soen hom op die wang. “Wat maak jy so vroeg by die huis?”

      “Kon nie meer die kantoor uitstaan nie. En ek’s honger. Lekker gestap?”

      Sy knik.

      Hoe lank is dit al dat sy elke oggend gaan stap? wonder hy. Vyf jaar? Tien?

      Hy tree in November eindelik af. Dalk is dit dan die tyd om elke oggend die vyf kilometer saam met haar te gaan stap. Hy begin die borde aandra tafel toe. Haal sap uit die yskas, skink filterkoffie.

      Sy glimlag vir hom. “Dankie, Leon, dit lyk heerlik.”

      Toe hy sy leë bord wegskuif, draai sy na hom. “Wat pla jou?”

      “Pla?”

      “Ja, ek kan sien iets pla. Vertel my.”

      Dis wat hom in die eerste plek na Marie aangetrek het, behalwe haar voorkoms, natuurlik: haar belangstelling. In hom. In wat hy dink. In wat hy voel.

      “Dis hierdie saak,” sug hy.

      “ ’n Nuwe saak?”

      Hy knik.

      “Vertel my.”

      Dis die ander rede hoekom hy haar uit die staanspoor onweerstaanbaar gevind het: sy val jou nie in die rede nie. Sy gee jou kans om jou storie te vertel. Sy luister na elke woord en dan vra sy vrae.

      “Maar is dit nie ’n open-en-shut case nie?”

      “Dit is,” sug hy. “Skulderkenning, vingerafdrukke op die moordwapen – neem ek aan, want ons wag nog vir forensies. Bloed aan haar klere, aan haar persoon. ’n Ooggetuie. Dis ’n open-en-shut case, maar . . .”

      Sy wag stil dat hy sy gedagtes formuleer.

      “Maar vir die eerste keer in my professionele loopbaan kry ek die moordenaar jammer. Dink jy ek raak oud?”

      Sy lag. “Jy sal nooit oud raak nie, Leon.”

      “Anna Bruwer glo dit was haar lot om haar stiefpa te vermoor, dat sy nie ’n keuse gehad het nie. Sy het agt ure gery om hom twee keer voor ’n ooggetuie te skiet. By hom in sy bloed gekniel om seker te maak hy’s dood.”

      “ ’n Wraakmoord.”

      Hy kyk lank na haar. “Ja,” knik hy oplaas. “Ek vermoed dat hy haar seksueel misbruik het. Verkrag het. Vir haar en haar suster.”

      “Dan is dit goed dat hy dood is.”

      Hy skud sy kop. “Nee, moord bly moord. In my vyf-en-dertig jaar diens het ek nog nooit iemand moes doodskiet nie. Waarskuwingskote, ja.”

      “Daar is gevalle waar dit onvermydelik is, Leon, jy kan nie stry nie.”

      “Nee. Jy kan wond, jy kan dreig, jy kan met iemand redeneer, maar moord? Nee, soos ek vir Anna Bruwer gesê het: jy het altyd ’n keuse.”

      Dis skemer in die sel toe ek wakker word, alhoewel die son hoog sit. As ek my nek op ’n sekere manier draai, kan ek die son deur die klein venstertjie sien.

      Ek wonder nie waar ek is nie. Ek is nie gedisoriënteerd nie. Die reuke, die klanke, die hele mistroostigheid laat by my geen twyfel nie. In die hel, dis waar ek is. Deur my eie toedoen. My keuse. Het ek die regte keuse gemaak? Hoekom twyfel ek nou?

      Dis net omdat ek bang is. Ek hét reg gekies. Dit was my verantwoordelikheid om ’n einde aan alles te maak.

      Ek draai versigtig op my rug, die regterkant van my lyf protesteer. Doodgeslaap. Dood. ’n Woord wat ’n mens hoeveel keer per dag gebruik sonder om te dink. Ek sal jou doodmaak. Hoeveel het die moed om dit regtig te doen?

      Ek het hom nooit gedreig met die dood nie. Net dat ek my ma sou sê. Nie dat dit gehelp het nie. Maar met die dood? Nooit. Gewens, ja. Daaroor gedroom. Gefantaseer. Gewoonlik ’n grieselrige, bloederige affêre in my kop sien afspeel. Ek wou hom seermaak, soos hy met my gedoen het. Soos hy met Carli gedoen het. Ek wou hom verneder. Tot in die aarde toe. Maar nooit, nie vir een oomblik het ek gedink ek gaan dit doen nie. Nie ek nie. Nie goeie, wetsgehoorsame Anna nie. En tog, hier lê ek op ’n vuil matras met ’n stinkende kombers onder my kop, my lyf seer en koud.

      Ek draai my kop effens. Die ander vroue lê ook almal op hulle matrasse, oënskynlik aan die slaap. Sou dit al ná middagete wees? Kry ’n mens drie maaltye hier: ontbyt, middagete, aandete?

      Ek probeer so geruisloos moontlik wegskuif van die vreemde lywe wat aan myne raak, maar maak nie saak watter kant toe ek mik nie, daar is ’n lyf wat teen myne druk. Ek wens vir ’n tandeborsel, mondspoelmiddel. My blaas is vol, al het ek nog niks gehad om te drink nie. Dit laat my besef dat ek dors is. Vir enigiets, maar verkieslik koffie.

      Hoe laat is dit? Uit gewoonte kyk ek na my pols. Niks. Nie ’n horlosie nie, nie ’n selfoon nie. Ek dwing my lyf in ’n sittende posisie. Die toilet is ’n probleem. Dis oop. En vuil.

      Die vrou wat vir my plek gemaak het langs haar kom ook regop en gaap hard. “Vir wat’s jy in,