“Ja.”
“Nog harder, juffrou Bruwer. Het jy dit gedoen op 9 Februarie 2004?”
“Ja.”
“Het jy dit in die oggend gedoen?”
“Ja.”
“Was die vuurwapen ’n 9 mm-pistool?”
“Ja.”
“Het jy hom met die vuurwapen vermoor?”
“Ja.”
“Het jy die opset gehad om hom te vermoor?”
Sy weifel ’n oomblik. “Ek weet nie.”
“Hoekom het jy dan die sneller getrek?”
“Omdat ek moes.”
Hy laat dit eers daar. “Woon jy in Knysna?”
“Ja.”
“Is jy hier met jou motor?”
“Ja.”
“Hoe lank is jy al in Bloemfontein?”
“Ek het vanoggend hier aangekom. Ek is baie moeg, superintendent. Kan ek nie asseblief gaan slaap nie?”
“Jy kan later slaap.” Hy leun verder agteroor, sodat die stoel kraak. “Jy het al die pad van Knysna af gery om hom te kom skiet?”
“Ja.”
“Vir geen ander rede nie?”
“Nee.”
“Daar is ’n aktetas in jou motor gevind, met handskoene, ’n klapmus en ’n flits.”
Sy antwoord nie.
“Juffrou Bruwer, verduidelik vir my hoekom jy die moeite gedoen het om dit alles in te pak, maar dit nie gebruik het nie.”
Sy haal haar skouers op. “Ek weet nie.”
“Jou doel was om hierheen te kom en hom te kom vermoor.”
Sy antwoord nie.
“Was jou plan om dit geluidloos, ongesiens te doen?”
“Ek wou dit soos ’n rooftog laat lyk,” erken sy.
“Hoekom het jy nie?”
“Ek het net skielik nie meer die nut daarvan gesien nie.”
“Hoekom ’n knaldemper?”
“Sodat die skote nie gehoor kan word nie.”
Hy pen haar vas met sy oë, strek sy bene lank voor hom uit. “Hoekom het jy jouself kom oorgee?”
“Want ek het iemand doodgeskiet en julle sou my in elk geval gevang het.”
“Dis waar.”
Vir ’n oomblik is dit stil in die vertrek, met net die geruis van die vroegoggendverkeer wat deur die oop vensters kom. Eienaardig, dink Windhond, gewoonlik probeer verdagtes hulleself onmiddellik verontskuldig. Sy sit net daar, gelate en bang. Baie bang. Haar bewende hande en die feit dat sy kort-kort sluk, gee haar weg.
Hy leun vorentoe. “Hoekom, juffrou Bruwer? Hoekom het jy hom geskiet?”
“Ek moes. Vir Carli. En vir myself.”
“Wie is Carli?”
“My sussie.”
“Waar is sy?”
“Sy is dood. Hy het haar vermoor.”
“Hy het haar vermoor?”
“Sy het selfmoord gepleeg, maar dis net so goed hy het self die tou om haar nek gesit. Ek het nie ’n keuse gehad nie, ek moes dit doen.”
“Is die moordwapen, die pistool, jou eie?”
“Ja.”
“Waar kry jy dit?”
“Oom Retief het dit vir my gekoop, ’n paar jaar terug al. Sodat ek myself kon verdedig, indien nodig.”
“Het jy enige opleiding in die gebruik van wapens gehad?”
“Ja. Ek is moeg, superintendent, asseblief?”
Hy ignoreer haar gepleit. “Met ander woorde, jy weet hoe om ’n wapen te gebruik. Sou jy jouself as ’n goeie skut beskryf?”
“Ja. Ek is regtig baie moeg, superintendent.”
Hy knik sy kop langsaam. “Verduidelik dan aan my, juffrou Bruwer, hoekom dit vir jou nodig was om eers die blompotte agter meneer Du Toit stukkend te skiet.”
Sy antwoord nie.
“Kom ek verduidelik vir jou hoe ek dit sien. Jy kan my enige tyd reghelp. Jy lui die klokkie, Du Toit maak die deur oop. Jy staan daar, sonder jou klapmus, sonder jou handskoene, wapen in die hand. ’n Goeie skut. Jy skiet eers die blompotte agter hom flenters. Hy duik vorentoe, gaan op sy maag lê, sy arms beskermend oor sy kop. Jy kyk hoe hy homself natmaak van vrees, dan eers stap jy nader. Teen daardie tyd moes hy al probeer regop kom het, op sy knieë dalk?”
Toe sy nie antwoord nie, vervolg hy: “Eers dan skiet jy. En een skoot, deur ’n opgeleide skut, van naby met ’n 9 mil, is nie goed genoeg nie. Jy skiet hom twee keer, deur die kop.”
Joubert van Heerden sit vorentoe. “Superintendent.”
Windhond hoor die waarskuwende klank in die prokureur se stem, maar hy ignoreer dit. “Hoekom was dit nodig, juffrou Bruwer?”
Stilte.
“Hoekom was dit nodig, juffrou Bruwer?” herhaal hy. “Hierdie . . . drama vooraf?”
Sy kyk net af na haar hande, frommel die stukkie papier wat sy vashou.
“Juffrou Bruwer, is jy bereid om ’n bekentenis voor ’n landdros af te lê dat jy verantwoordelik is vir die dood van Danie du Toit?”
Joubert staan op. “Sup, as jy dink ek gaan toelaat dat jy haar hier uitsleep en voor ’n landdros bring vir ’n bekentenis, maak jy ’n fout. Die vraag is – soos jy behoort te weet – of sy toerekeningsvatbaar is. En daaroor – soos jy ook goed behoort te weet – moet ’n sielkundige besluit. Met ander woorde, die enigste plek waarheen Anna Bruwer nou gaan, is na die selle, totdat ek haar by ’n sielkundige of psigiater kan kry. En jy,” hy draai na Anna, “sê nie een woord verder nie.”
En dís die rede hoekom hy nie van prokureurs hou nie, dink Windhond en skakel die masjien af.
Eers dan kyk sy op. “Soms, superintendent, het jy nie ’n keuse nie. Om hom te skiet was my lot.”
Skielik is die vuur in Windhond geblus. Hy voel tam en dis nog oggend, die hele dag lê voor.
“ ’n Mens het altyd ’n keuse, juffrou Bruwer.” Hy reik na die telefoon, skakel ’n nommer en sê kortaf: “Kom haal haar.”
3
Die konstabel wat my kom haal is ’n groot vrou. Met elke tree wat sy gee maak haar sykouse ’n irriterende girts-girts-geluid. Ek wil skreeu, van irritasie, van moegheid.
Ons stap met ’n ander gang af, deur ’n sydeur wat op ’n stoep uitloop. Dankie tog hulle het my nie in boeie geslaan nie. Is dit omdat ek myself kom oorgee het?
’n Paadjie met ’n netjiese grasperk aan weerskante lei na ’n ry eenderse deure aan die linkerkant. Vrolike blomme in die beddings. Aan die regterkant is nog ’n gebou, met komberse oor die heining gegooi. Nat komberse, ek kan dit ruik.
Die konstabel roep ’n naam en ’n man in uniform kom nader, loop agter ons aan. Sy haal ’n bos sleutels uit haar sak, sluit die eerste deur oop. Dan ’n hek.
Die selle, besef ek, en alles in my protesteer. Ek steek vas, maar die konstabel druk my hard tussen die blaaie.