Honger honde rem aan kettings en kinders speel eenbeentjie. Ou vrouens loer deur vuil, gekraakte vensters. Dun straaltjies rook klim die lang leer en ’n effense reuk van pap hang in die lug. En die boykie wag.
Uiteindelik, met die geblomde kombers oor haar skouers met ’n groot haakspeld vasgemaak, verwerdig sy haar om aan die boykie te erken dat sy gereed is.
Die jong man staan op, stof hom af en loop na die bakkie toe. Terselfdertyd word die beat van Afrika stil. Almal kyk hoe die ou vrou in die voertuig klim en langs die konstabel gaan sit. En in stilte hou die ou vrou van Afrika haar kop omhoog.
“Jy moet my eers na Louwkie se huis toe vat,” sê sy toe hulle op die grootpad indraai. “As ek nie die voëls voer nie, gaan hulle vrek. Die hond ook,” pleit sy.
“Ons kan nie in die huis inkom nie, alles is gesluit,” sê hy.
“Die voëlhokke is agter die huis, ek het ’n sleutel vir die hek.”
Sy hoor hom sug, sien hoe hy vlugtig op sy horlosie kyk.
By Chesterlaan nommer 199 sluit sy die hek oop, die boykie op haar hakke. Sy sluit die garage ook oop, skep hondekos uit vir Kerneels, wat al om die bang man se bene snuif. Die voëls word gevoer.
Shorty se kop is vol gedagtes en woelinge. Sy weet hulle gaan nog baie vrae vra, en sy wil eers die storie in haar kop agtermekaar kry voor sy dit vir hulle vertel.
Vandag is Sondag en gister se warmte het verdwyn soos ’n skollie met ’n gesteelde hoender onder die arm. Maar dit was Dinsdagmiddag warm toe sy vir Louwkie en Oubaas groet. Woensdagoggend was ook warm, maar sy het nietemin haar kombers saamgevat in geval van ’n Hoëveldse donderstorm. Die taxi het haar naby Louwkie se huis afgelaai.
By die hek het Kerneels getjank toe hy haar sien. Hy het sy sagte snoet tussen die tralies gedruk terwyl sy die hek oopsluit. Maar al is hy ’n goeie hond, het Louwkie gesê sy moet versigtig wees om hom nie te laat uitgaan nie, want hy is nie streetwise nie.
“Is jy honger?” het sy hom gevra.
Sy het die huis oopgesluit, eintlik die woonstel. Louwkie en Oubaas het langs die groot huis gebly, maar hulle het nooit daarna verwys as ’n woonstel nie. Op die muur langs die voordeur is ’n bordjie en daarop staan: Ons Huis. Die groot huis het hulle verhuur aan ’n vrou en haar dogter. Maar dié was weg Durban toe.
Soos altyd het Shorty die veiligheidshek oop- en toegesluit, toe die voordeur. “Ons lewe in gevaarlike tye,” het Oubaas altyd gesê.
“Ek moet vir jou sleutels laat maak, Shorty,” het Louwkie lank gelede gesê. “As ons jou nie by die hek hoor roep nie, gaan jy daar soos ’n fool staan en wag vir ons om jou in te laat.” So sy dra die sleutels van altyd af.
Met die inloop het sy na Louwkie geroep, maar geen antwoord gekry nie. Die klein huis was doodstil. Sy het by die slaapkamer ingeloer. Louwkie en Oubaas was albei nog in die kooi. Dit was vreemd. Louwkie het altyd vroeg-vroeg opgestaan om die voëls en die hond kos te gee en om vir Oubaas aan te trek.
Louwkie het op haar sy gelê. Shorty het oor haar gebuk en gevra: “Is jy siek, Louwkie?”
Aan Louwkie se pap ooglede kon sy sien Louwkie is te siek om te antwoord, die kombers tot by haar oor opgetrek. Shorty het nie meer uitgevra nie. Sy het geweet jy torring nie aan Louwkie as sy siek voel nie.
Sy moes eers vir Kerneels kos gee. Hy het soos ’n honger hond geëet. Die voëls moet ’n bietjie wag, daar sal nog saadjies rondlê in die hok. Terug in die kombuis het Shorty eers mieliepap vir haar en Louwkie gekook. Sy het melk en ’n bietjie botter ingeroer en dit vir Louwkie gevat, maar Louwkie was te siek om die bakkie by haar te neem.
Die bedkassie was vol goed. Shorty het die Bybel, ’n lamp, twee biblioteekboeke, ’n glas water, pille, brille en ’n selfoon alles eenkant gestoot en die bakkie pap bo-op ’n boek gesit, binne Louwkie se bereik.
“As jy voel jy het genoeg krag om jouself op jou elmboog te lig, roep my. Ek gaan eers vir Oubaas aantrek.”
Oubaas was ’n lightweight en sonder bene. Shorty kon hom maklik optel. Sy het sy gesig afgevee, maar nie sy tande geborsel nie, want sy het nie geweet of hy tande het nie. Oubaas het nooit sy mond oopgemaak nie. Sy het hom teen die kussings maak sit.
Hy het net ’n pajamabaadjie aangehad. Sonder bene was ’n broek nie nodig nie. Sy het die pajamabaadjie uitgetrek, sy onderbroek aangetrek en sy frokkie in sy onderbroek ingedruk. Toe het sy vir hom ’n skoon hemp aangetrek.
Geduldig het hy haar dopgehou terwyl sy stadig die knope vasmaak. Omdat sy hande yskoud was, het sy vir hom sy pullover ook aangetrek. Louwkie het nog doodstil gelê, maar Shorty het geweet met die halftoe oë word sy fyn dopgehou. Sy het nie omgegee nie, Louwkie weet sy werk altyd mooi en versigtig met Oubaas. Sy het hom nog nooit seergemaak of laat val nie.
Shorty het na die ou man gekyk, altyd so stil en tevrede, sonder klagtes.
Sy het hom versigtig in sy gunstelingstoel neergesit, hom met ’n gordel vasgemaak en sy arms opgelig. As sy arms afhang, is dit sleg vir sy bloedsirkulasie; hy sal needles en pins in sy arms kry. Dis wat Louwkie altyd gesê het.
Shorty het die gordyne oopgetrek sodat die son lekker op Louwkie se bed en oor Oubaas kon skyn. Shorty het hom daardie dag so jammer gekry. Die ou man moet rasend van bekommernis wees oor sy siek vrou.
Sy het vir haar en Louwkie rooibostee gemaak. Oubaas het nie gedrink nie. Shorty het gewonder wat sy met Louwkie moet doen. Hulle dokter se naam is Drikus Opperman, maar sy kon nie die foon gebruik nie, want dit het met ’n kode gewerk, en daar was nie lugtyd op haar of Louwkie se selfoon nie.
Sy sal wag, het sy besluit. Miskien is Louwkie môre beter.
Met dié dat sy Louwkie se tee op die kassie neersit, het sy oor Louwkie se grys krulle gevryf. Louwkie se voorkop was koel, dus het sy gereken Louwkie het nie koors nie. Sy het skaars aan haar pap geraak, maar Louwkie was lief vir haar rooibos, sy sal dit wel drink. Het sy haar nie geken nie!
Oubaas het haar aangekyk.
Sy het vir hom geglimlag. Raak aan Oubaas en Louwkie het jou aangekyk, raak aan Louwkie en Oubaas het jou aangekyk. So was dit met die twee van hulle.
Shorty kyk op en sien daar is nou drié poelies wat na haar storie luister. Een van hulle het die masjien ’n slag afgeskakel, binne-in gevroetel en dit weer aangeskakel.
“Het mevrou Louw enigiets geëet tussen Woensdag en Saterdag?” wil die man weet.
“Natuurlik,” sê sy verontwaardig. As hy geluister het, sou hy gehoor het dat Louwkie ’n bietjie pap geëet het.
“Sy het ’n bietjie pap geëet. Ek het ook rys, mashed potatoes en minced meat gemaak. Ek is seker sy het van alles ’n bietjie geëet.”
Die mans kyk mekaar in stilte aan.
’n Vrou in uniform kom binne en gee vir Shorty ’n beker soet rooibos en ’n beskuitjie. Sy bedank die vrou en neem ’n slukkie.
“Ouma, wanneer het Ouma by meneer en mevrou Louw begin werk?”
Dis ’n maklike vraag, sy sal die dag nooit vergeet nie.
Destyds het Oubaas en Louwkie nog in die ou huis in Spoorwegstraat in Homelake gebly. Dit was laat Maandagoggend toe sy daar aankom, moeg geloop van werk soek. Die huis het nie mure of ’n hek gehad nie.
“Môre, miesies!” het sy deur die veiligheidshek geroep toe Louwkie die voordeur oopmaak. Shorty het gereken sy en die vrou is omtrent ewe oud, maar uit respekte het sy haar miesies geroep. Sy het dadelik gesien hulle is ook ewe kort, want hulle het mekaar reg in die oog gekyk.
“Ek