“Natuurlik nie! Ek bedoel dat jy kos so ooglopend geniet. Hoe kan jy in elk geval soos ’n man eet met daardie lyf van jou?”
Daleen is mooi, besluit sy. Haar blonde hare kort, soos ’n seun s’n. Sy dra amper nooit grimering nie, maar soos sy daar staan, natgesweet, hare plat teen die kop en toebroodjie in die hand, is sy steeds mooi.
Anders as ek, sug Amelia innerlik, wat elke oggend grimering aansit, hare kleur, sodat Gert die verval nie so rááksien nie. Nie dat Gert kýk nie, hy het haar jare laas gesién. Net jammer sy kan niks aan haar lyf doen nie, sug sy weer terwyl sy onwillekeurig oor haar effense bolmagie streel. Is dít dalk die rede vir Gert se afsydigheid?
“Al iets van Gert gehoor?” vra Daleen terwyl sy na ’n stukkie vleis reik.
“Ek het vroeg gebel. Dit gaan goed met hom,” sê Amelia. “Hy stuur groete.”
“Dankie, vir die groete én die broodjies.” Daleen haal ’n koffiebeker van die rak af. “Wil jy ook hê?”
“Ek sal maak,” sê Amelia en neem die beker by Daleen.
“Daleen,” begin sy versigtig terwyl sy die ketel aanskakel, “ek hou nie daarvan om stories aan te dra nie – dis maar net ’n ander woord vir skinder, en jy weet hoe ek dáároor voel. Maar as ek stilbly, voel ek daaroor óók skuldig.”
Daleen knik net en wag dat sy verder praat.
“Ek is bekommerd oor Karien,” sê Amelia sag. “Dalk is ek net laf, almal het tog hulle af dae, maar . . . Ek wou vroeër vir haar koffie kamer toe neem, toe hoor ek haar huil.”
“Is jy seker sy het gehuil?” vra Daleen verbaas.
“Ja, en dit was nie die eerste keer nie. Gister toe ons vir jou gewag het, kon ek sweer sy het óók gehuil. Ek wou vanoggend by haar ingaan . . . Ek bedoel, as dit iemand anders was, as dit jý was, het ek ingegaan, maar . . . ek kon nie. Dit was so ’n verlore huil. So ’n seerkryhuil.”
“Dink jy ons moet met haar praat?”
“Ek weet nie.” Amelia trek haar skouers moedeloos op. “Ons praat van Karién.”
Daleen knik. Karien du Plessis huil nie. Sy swets, baklei, krop op, maar sy húil nie.
Amelia gee haar koffie aan, neem ’n versigtige sluk van haar eie. “Ek het so ’n nare gevoel oor Karien.”
Hulle drink in stilte, tot Karien hulle begroet met ’n vrolike: “Môre, môre!” Dit word amper onmiddellik gevolg met: “Kos! Lekker!” terwyl sy terstond na ’n broodjie reik.
Sy lyk nie soos een wat gehuil het nie, dink Amelia. Karien lyk dramaties, soos altyd. Vandag in pers, gekleurde vere ingeryg aan ’n toutjie om haar nek. Swart hare liniaalreguit. As Amelia haar nie self hoor huil het nie, sou sy dit nie geglo het nie. Karien speel dalk beter toneel as wat selfs sý besef.
“So,” wil Karien kouend weet, “wat is ons planne? Ry ons, bly ons?” Haar hande gesels saam, sodat sy broodkrummels oral mors.
Sy skreeu om hulp, soos Hansie en Grietjie, dink Amelia terwyl sy haar vriendin stip dophou. Maar wie is die heks in Karien se verhaal?
“Ons ry,” sê Daleen beslis. “Ek wil nie meer as een dag op dieselfde plek oorstaan nie.”
“Veral omdat ons ’n reis wat normaalweg minder as ’n dag duur so uitrek,” beaam Amelia.
Die ry-stop is vir haar lekker; sy neem soveel foto’s dat sy gaan sukkel om die mooistes vir haar scrapbooking uit te soek. Vanoggend vroeg het sy die binne- en buitekant van die rondawel afgeneem, selfs ’n entjie gaan stap om meer van die oord op film vas te lê. Voor hulle ry, moet sy Daleen en Karien oortuig om vir haar te poseer. Sy weet hulle sal weer hulle monde vol hê daaroor, nie een van hulle is lief vir foto’s nie, maar sy het ’n projek in gedagte en dit kan net werk as sy foto’s van hulle almal het.
“Nou goed,” besluit Daleen, “dan is dit logies dat ons Burgersdorp toe ry. Slaap ons daar, of ry ons ’n bietjie verder?”
“Kom ons kyk hoe dit daar lyk voor ons definitief besluit,” stel Amelia voor.
“Kom ons kyk hoe ons vóél voor ons besluit,” is Karien se reaksie.
“Maar eers gaan ons stap, vir oulaas,” sê Daleen beslis.
“Jy het dan nou net gedraf!” roep Karien verontwaardig uit.
“Juis. Ek het tot onder by die dam gedraf. Julle moet dit sien: bruin water wat in hierdie wind branders maak.”
As dit so aanhou, sal sy vir haar tekkies moet koop, dink Amelia. Stáptekkies. Haar peperduur stewels sal dit beslis nie lank hou nie.
“Nou toe, almal klaar geëet?” vra Daleen. “Kom ons gaan stap hierdie broodjies af.”
“Jy’s laf,” sê Amelia. “Daar’s nie ’n manier hoe jy my in hierdie wind buite gaan kry nie. Ek het in elk geval klaar gebad. Ek is skoon en lekker warm aangetrek.”
“Kom nou, Amelia, jy gaan spyt wees jy het nie saamgekom nie. Die uitsig is absoluut fantasties. En die kans dat jy dit weer só gaan sien, is skraal.”
Amelia staan besluiteloos, dan kry sy ’n idee. “Goed,” sê sy slinks, “op een voorwaarde: ek vat my kamera saam en ek gaan foto’s neem. Van júlle.”
Daleen en Karien rol hulle oë dramaties, maar Amelia weet hierdie rondte is hare.
Die wind waai so erg dat sy aan haar baadjie moet vasklou, haar kamera stewig in haar een hand. Hulle stap kop onderstebo teen ’n bult af agter Daleen aan.
Die wind maak enige gesprek onmoontlik; jou woorde word uit jou gedagtes gewaai nog voor dit in jou mond gaan lê het, dink sy terwyl sy haarself toenemend jammer kry. Sy is nie ’n sportiewe mens nie. Die meeste wat sy doen, is om naweke saam met haar kinders en Gert perd te ry, teen ’n gemaklike pas, al beteken dit ook sy is heelwat later as hulle terug by die huis.
Nou loop sy saam met haar vriendinne in ’n wind van bykans orkaansterkte teen ’n bult op, na ’n dam wat sy ewe goed vanuit die rondawel se venster kon sien. Wat haar die meeste pla, is dat hulle téén hierdie wind moet terug. Dit is sulke tye dat sy Daleen verwens. Al genot wat sy hieruit put, is dat sy nie die enigste een is wat so oor Daleen voel nie. Karien se gesig spreek boekdele.
Toe Amelia egter uiteindelik al blasend langs die waterkant staan, is sy bly dat sy vir ’n slag nie daarop aangedring het om te bly nie. Dit ís mooi, Daleen het nie oordryf nie. Nie eens die feit dat haar stewels in die modder vassuig en definitief nou geruïneer is, kan haar ontstel nie – nie met hierdie uitsig nie. Die bruin water strek so ver as wat sy kan sien, met eilandjies hier en daar bo die oppervlak. En ja, Daleen was reg: die water maak nie net golfies nie, dis branders.
Sy haal dadelik haar kamera uit sy sakkie en begin foto’s neem. Sy maak of sy nie die onderlangse blikke tussen Daleen en Karien sien nie. Hulle gaan só verras wees deur haar projek dat sý die een sal wees wat op die ou end meerderwaardig glimlag.
“Kom, ek wil ’n foto van elkeen van julle hê.”
“Ek hou nie van foto’s nie,” keer Daleen.
“Ek ook nie!” roep Karien uit.
“Tough! Ék hou daarvan. En julle het in elk geval belowe.” Sy beduie vir Daleen presies waar om te staan en neem ’n paar foto’s, voor sy na Karien draai.
“Kom, ek neem jou nou af,” sê Karien toe haar beurt verby is.
“Nee,” besluit Amelia, “ek neem ons almal saam af.”
Dankie tog vir tegnologie en ’n slim seun wat die werking van die self-timer op haar nuwe digitale kamera vir haar verduidelik het, dink Amelia toe sy die kamera op ’n omgevalle boomstomp staanmaak en die knoppie druk.
Sy gaan tussen