“Ek sal regkom.”
“Ek het ’n spyskaart vir Maria uitgewerk, anders gee sy jou elke dag dieselfde kos. Ek wou nog vir haar wys hoeveel koffie en suiker in die warmfles kom, maar daar was nie tyd nie. Sy sê sy het baie al gemaak, so ek’s seker dit sal reg wees. Sy sal dit soggens vir jou volmaak, dan kan jy net skink as jy koffietyd inkom. Die koekies is in die kas bókant die ketel. Die biltong en soutbeskuitjies is in die kas lángs die ketel. Moenie nou al die biltong opeet nie, dis vir Saterdag se rugby. Die sjokolade wat in dieselfde kas is, is vir die kinders. Joune het ek in jou bedkassie gesit. Maria sal ongelukkig nie jou badwater kan intap nie, sy loop te vroeg, dit sal net koud word. Maar sy sal jou nagklere en ’n skoon handdoek op die bed uitsit.”
Amelia draai haar na Gert, bewonder, soos amper elke dag, sy sterk profiel, sy enorme hande wat gemaklik op die stuurwiel rus. Hoe kan sy hom so los? Hy sal nooit alleen regkom nie. “Gert, ek kan bly. Ek hoef nie te gaan nie.”
“Ná al die reëlings met Maria? Sy sal jou nooit vergewe nie!” lag hy en vou haar hand in syne toe. “Dis die eerste keer in sewentien jaar dat ek my eie badwater gaan tap! Ek kan mos nie so ’n kans laat verbygaan nie.” Hy vervolg ernstiger: “Dalk is dit goed dat ek leer om dinge op my eie te doen. Jy doen te veel.”
“Genade, Gert, ek hóú daarvan om dinge vir jou te doen.”
“Ek weet.” Hy probeer haar nadertrek, maar die tas is in die pad.
Dis nou van op ’n plaas bly, dink sy. Wanneer daar ingery word dorp toe, moet daar noodwendig ook by die koöperasie aangedoen word, dié dat hulle nie met die motor kon ry nie. Sy wonder soms waarvoor hulle wel ’n motor het; hulle gebruik dit slegs Sondae om kerk toe te gaan.
Die peperbome aan die regterkant van die pad hou vir ’n oomblik haar aandag. Gewoonlik sien sy uile hier, selfs in die dag, hoe ongelooflik dit ook mag klink. Vandag sien sy niks.
Die tas druk haar nog steeds teen die arm, sodat sy al hoe meer na die deur moet skuif. “Gert, stop asseblief en laai die tas agterop, my arm kan dit nie meer hou só nie.”
“Die tas gaan toe wees onder die stof! Wat sal Daleen sê as jy jou stowwerige tas in haar grênd kar laai?”
“Dis net stof. Die naaste aan stof wat haar 4x4 ooit sal kom, as jy my vra.”
Hy hou tog stil, tel die tas agterop. Toe hy terugklim, nestel sy met haar kop styf teen sy skouer aan. “Ek is lief vir jou.”
“En ek vir jou.”
“Is jy seker jy sal regkom?”
“Hou op om jou so te bekommer, ek sal regkom.”
Hulle ry in stilte verby die buurplase, waar troppe skape langs die pad wei. Dis, soos gewoonlik in die Vrystaat, ’n droë winter. “Ek sien van die boere het al begin voer,” merk sy later op.
Gert staar egter woordeloos voor hom in die pad.
“Dink jy al daaraan om te begin voer? Jy sal dit seker nie veel langer kan uitstel nie.”
Hy bly haar ’n antwoord skuldig.
“Gert, ek praat met jou.”
Stilte.
“Genade, Gert, antwoord my!” roep sy moedeloos uit.
“Ek dink.”
Soms, meer gereeld as wat sy sou wou erken, wil sy hom met iets gooi. Enigiets. Sy loer sydelings na hom, kry skaam vir haar gedagtes. Hy is ’n goeie man. Sy weet hy ignoreer haar nie doelbewus nie, hoekom laat sy dan toe dat dit haar so ontstel?
Sy sug verlig toe die dorp in sig kom. Sy stiltes krap haar om, maak haar bang. Gert was nog nooit ’n man van vele woorde nie. Sy verstaan hom nie altyd nie.
“Wil jy gou die kinders gaan groet?” vra hy.
“Ek dink dis eers heelwat later pouse, ry maar by die skool om sodat ons kan sien. As dit pouse is, sal ek ’n sms stuur dat hulle hek toe moet kom.”
Dit is tog pouse toe hulle voor die skool stilhou. Amelia stuur die sms en hulle twee kinders kom gou saam om die hoek gestap. Riana, haar vyftienjarige meisiekind, lank en lenig met die mooiste bos donker hare, en Werner, haar blok van ’n seun, sestien jaar oud en baie bewus van sy aantreklikheid. Sy kom dit agter aan die manier waarop hy loop en kort-kort rondkyk om seker te maak dat die meisies hom sien.
“Is Ma nou seker dat Ma wil weggaan?” vra Riana met ’n temerige aansitstemmetjie.
“Los vir Ma, sy het dit ook nodig om alleen te wees.” Werner se stem is growwer as ’n paar dae gelede, dink Amelia verbaas.
“Ek weet, ek sê maar net,” antwoord Riana. “Dit gaan vreeslik boring die naweek by die huis wees. Ma weet dit hopelik?”
“Hoekom sal dit boring wees?” wil Amelia weet.
“Met Pa en Werner? Al waaroor hulle gaan gesels, is boerdery en rugby.” Sy sug oordrewe. “Arme ek.”
“Sê eerder arme ons, alleen met jou daar,” kap Werner terug.
“Bly stil, ek het nie met jou gepraat nie.”
“Moet dan nie ván my praat nie.”
Riana rol haar oë dramaties en kyk na Amelia vir hulp.
“Nou toe,” maak sy ’n einde aan hul gestry. “Groet my, ek moet ry.”
Albei die kinders hou haar lank vas, en Amelia besef dis vir hulle ook ’n nuutjie, sy was nog altyd naweke en vakansies op haar pos by die huis. Sy sluk hard aan die knop in haar keel. As sy nou moet huil, voor haar kinders se maats wat belangstellend van die hek af toekyk, vergewe hulle haar nooit.
’n Rukkie later hou hulle voor Karien se imposante huis stil. Gert haal haar tas af, sit dit langs die tuinhekkie neer.
Karien staan tas in die hand by die stoeptrappies en lig haar hand in ’n groet. Gert wuif terug en trek dan vir Amelia styf teen hom aan, haal ’n bondel note uit sy sak. “Vir jou.”
“Gert! Ek het tog die kredietkaart, ek het nie nog geld nodig nie!”
“ ’n Mens het altyd kontant nodig. Bederf jouself met iets moois.”
“Dankie.”
Sy druk hom styf teen haar vas, staan dan langs haar tas terwyl hy in die bakkie klim. Sy kyk die bakkie agterna tot dit oor die heuwel verdwyn. Eers dan tel sy haar tas op en stap na Karien, wat steeds met haar tas in die hand staan.
Asof sy wil vlug, dink Amelia, asof sy nie kan wag om pad te gee nie.
Daleen
Dís hoekom ek draf, dink Daleen toe sy om haar kyk. Die winterson steek sy kop lui bokant die koppies uit, sy hoor voëltjies om haar roep, dis net sy en haar ritmiese voetval op die teerpad. Sy het jare terug begin draf om haar kop skoon te kry, nou vermoed sy dat sy verslaaf is daaraan. Die lekkerte van die stilte, die pad en sy.
Selfs die honde agter die toe hekke groet haar stertswaaiend wanneer sy verbykom. Sy weet altyd wanneer daar nuwe intrekkers is: dis die honde wat nog vir haar blaf. Maar eendag, nie te ver in die toekoms nie, gaan hy haar ook stertswaaiend kom groet, glimlag sy toe sy verby ’n blaffende hond draf.
Miskien moet ek nou omdraai, besluit sy. Sy het al klaar verder as gewoonlik gedraf, en sy moet nog pak en vir tannie Hester die woonstel se sleutel gaan gee.
Toe sy die trappies na haar woonstel twee-twee uitgedraf het, leun sy teen die deur om haar asemhaling weer normaal te kry. Jy wóú mos verder draf, berispe sy haarself. En dit het nie eens gehelp nie. Die spoke wat knaend om haar draai, vir húlle kon sy nie weghardloop nie.
“Dokter is nie gewoonlik so uitasem nie, is alles reg?” klink tannie Hester se bekommerde stem agter haar op.
Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe, haal eers weer diep asem