Nooit is 'n lang, lang tyd. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703294
Скачать книгу
het medies gestudeer, Karien B.A. met tale – sy wou joernalis word en later natuurlik skrywer – en Amelia huishoudkunde. Daleen was vanselfsprekend die langste op universiteit; die ander twee het klaargemaak en is terug na Sandfontein. Nadat sy haar graad gekry het, het sy by oudokter Cronjé gaan soebat om haar in te neem in sy praktyk. Sy wou naby haar vriendinne wees.

      En naby Darius, haar enigste familielid. Hy het die plaas oorgeneem, maar was op daardie stadium nog ongetroud. Baie kere gesê dat hy by die diep kant ingegooi is. Die voortydige afsterwe van hul ouers het hom gedwing om sy studie op te skop en te gaan boer. Gelukkig was hy nog altyd ’n boer in murg en been; hy wou nooit iets anders wees nie.

      Toe Daleen terug is Sandfontein toe, was Amelia reeds getroud met Gert, ryk en gesiene boer van die distrik, en reeds swanger met hul eersteling, Werner. Dawid, pas gekwalifiseer as tandarts, het ’n praktyk op die dorp oopgemaak en sterk by Karien begin vlerksleep. Daleen het gevoel die beste dae van hulle vriendskap is verby. Dat haar twee beste vriendinne aanbeweeg het, móés aanbeweeg, het sy hulle gegun. Dit was net swaar om nie meer so ’n belangrike deel van hul lewe te wees nie.

      Sy self kon natuurlik ’n belangrike deel van iemand anders se lewe geword het, want aan vlerkslepende jong manne was daar aan die begin nooit ’n tekort nie. Later, toe sy dit duidelik gemaak het dat sy nie belangstel nie, dat sy op haar beroep wil konsentreer, het die ewige gekuier afgeneem.

      Sy het altyd gewonder of daar iets met haar skort. Hoekom kon sy nooit verlief raak nie? Nie eens op skool was daar outjies wat haar hart vinniger kon laat klop nie. Sy het wel op skool met ’n paar ouens uitgegaan, nie omdat sy noodwendig wou nie, eerder omdat sy genoeg druk van haar ouers en vriendinne ervaar het om te voel sy móés. Sy het haarself gereeld getroos dat dit in haar gene is. Hulle Jouberts trou laat, soos haar ouers gedoen het.

      Darius was toe ook nog ongetroud, en sy was gerus in die wete dat hulle twee tog nog iemand sal ontmoet. Darius het uiteindelik. Hy is getroud met Veronica, tot die ontsteltenis van die hele dorp. Daleen het selfs as gevolg van hul huwelik pasiënte verloor. Want Veronica is bruin . . . En ’n klein dorpie bly ’n klein dorpie.

      Vandag, vyf jaar later, skinder die mense nie meer so erg nie. Die meerderheid het Veronica al aanvaar as deel van hul gemeenskap. Veral ná die geboorte van Rikus, wat hierdie jaar drie word. Hy lyk op ’n druppel water na sy oorlede oupa, en hy’s wit, tot groot vreugde van die Sandfonteiners.

      “Gelukkig vir Darius kuier sy darem nie so tussen die hotnots nie,” het Daleen eendag ’n gesprek tussen twee gesiene vrouens gehoor, ook maar lekker jaloers omdat hy nie een van húlle gekies het nie. Op daardie oomblik het Daleen se gevoel jeens Veronica begin verander. Want ja, tot haar skaamte moet sy erken dat sy ook vir Darius bitter kwalik geneem het oor sy keuse, veral aangesien daar nooit ’n gebrek aan vrouens was wat in hom belanggestel het nie. Sý wat kastig so verlig is!

      Sy het ná hulle troue nie meer so gereeld op die plaas gekom nie, vir Darius gesê dis omdat sy hom en sy bruid tyd alleen saam gun. Sy het geweet hy weet sy lieg. Dit was net vir haar so moeilik om te sien hoe Veronica in haar pa en ma, groot Verwoerd-ondersteuners, se huis leef. Asof dit haar reg is. Asof sy daar hóórt.

      Nadat sy toevallig die gesprek tussen die twee snobistiese vrouens gehoor het, het sy besluit om vir ’n naweek te gaan kuier sodat sy self kon besluit wie en wat Veronica is. En sy is ontnugter. Veronica is ’n stil vrou wat die grond aanbid waarop Darius loop, en hy voel kennelik dieselfde oor haar. Daleen het daardie naweek ’n diep gesprek met Veronica gehad – en uitgevind die rede hoekom Veronica nie meer saam met haar eie mense kuier nie, is nie omdat sy haarself nou as blank beskou nie, maar eerder omdat haar eie mense haar nie meer wil ken nie. Omdat húlle haar as blank beskou. Apartheid in reverse.

      Daleen se hart het oopgegaan vir die pragtige, petite vrou. Sy kon vir die eerste keer vandat sy ’n skoonsuster het haar arms om haar slaan en haar opreg in die familie verwelkom. Nie omdat sy vir haar jammer is nie, eerder omdat sy haar so bewonder. Vir Darius het sy gesê dat hul ouers trots sou gewees het om Veronica as skoondogter te hê – haar manier om vir hom jammer te sê.

      En klein Rikus het behoorlik in haar hart gekruip. Bloed is dikker as water, weet sy nou. Darius het daardie aand, nie meer heeltemal nugter nie, bely hy hoop sy volgende kind is nie so wít nie. “Ons is so ’n bleek nasie,” het hy vir Daleen gesê terwyl hy oor die rand van sy brandewynglas na haar loer, “en ek het nog altyd van donker sjokolade gehou.”

      Daarna het niemand dit meer gewaag om voor Daleen iets neerhalends oor haar familie te sê nie. Sy het nie meer stilgebly nie, sy het hulle verdedig. Al het die meeste dorpenaars Veronica en Rikus in die gemeenskap begin aanvaar, sou daar altyd diegene wees wat hulle nie kon of wou aanvaar nie. Wat altyd ’n rede gesoek het om smalend van hulle te praat.

      Met die terugry dorp toe ná daardie naweek het Daleen gewonder hoekom ware liefde – hel, énige liefde – haar nie beskore is nie. Asof sy Cupido op een of ander wyse te na gekom het . . . Tot sy vir Jan ontmoet het. Skielik het sy geweet hoekom die liefde haar so lank ontwyk het: sy moes rég wees daarvoor. Vir alles op aarde is daar tog ’n tyd. En met die ouderdom kom selfvertroue, ook vertroue in jou vermoëns – as mens, as vrou, as lover. Sy was eindelik rég vir die liefde.

      Die laaste paar weke het sy egter weer begin twyfel. Die huwelik is ’n heilige instelling. Wie is sy om die derde party in ’n huwelik te wil wees? Hoekom doen sy dit aan haarself? Aan hulle? Is dit nou die tyd om die verhouding te beëindig . . . en die risiko te loop om vir ewig alleen te wees? Nou, vóór die waarheid uitkom en die dorp nog ’n sappige skinderstorie beetkry?

      Of moet sy Jan se voorstel ernstig oorweeg? Wat is in elk geval fout met haar en Darius dat hulle liefdeslewe so kontroversieel moet wees? En wat van Bennie, Jan se seuntjie? Hoe gaan hý haar aanvaar?

      Die nuwe tandarts

      Karien kyk met deernis na Daleen, wat wel aan die slaap geraak het en nou met haar kop ongemaklik teen die ruit lê. Hoekom het sy nie vir Daleen vertel nie? ’n Gedeelde las . . . Maar as sy vertel, maak sy dit wáár. En sy is nog nie gereed vir die waarheid nie.

      Wat het haar in die eerste plek na Dawid aangetrek? Sy onthou hulle eerste ontmoeting goed, maar wat was nou eintlik die aantrekkingskrag? Tog sekerlik nie net dat hy so ’n mooi man is nie?

      Sy het ná universiteit by die plaaslike koerantjie op Sandfontein begin werk. Sy was amptelik ’n joernalis, maar was te skaam om dit aan haar studentemaats te erken. Die meerderheid van hulle het by vooraanstaande koerante en tydskrifte begin werk. Sy, wat een van die topstudente in hul jaar was, het boerebegrafnisse en -troues gedek. Meer begrafnisse as huwelike, dink sy wrang. Nie omdat sy nie beter werk kon kry nie, maar omdat sy graag na haar tuisdorp wou terugkeer.

      Haar pa was toe al afgetree, maar besiger as ooit. Hy het in bykans elke komitee gedien, en was nog tot sy dood baie aktief by die skool betrokke. Hy is al amper drie jaar dood, dink sy verras, soms voel dit nog soos gister. Sy het nooit, soos so baie ander skoolhoofde se kinders, hand uitgeruk net om haar pa te wys nie. As sy reg onthou, het hulle nie eintlik probleemkinders in die skool gehad nie. Want haar pa was regverdig . . . goed.

      As enigste kind was sy nog baie afhanklik van haar ouers – dis hoekom sy Sandfontein se koerantjie bo ’n glanstydskrif verkies het. Seker ook omdat sy gedink het dat sy die koerant tot groter hoogtes kon neem. Die vermetelheid van die jeug, darem . . . Tog was sy nooit spyt oor haar keuse nie, want sy was gelukkig met haar beskeie werksomstandighede.

      Sy het een oggend opgestaan met die allerverskriklikste tandpyn, en ’n week lank met die pyn probeer saamleef omdat sy ’n fobie oor tandartse het. Dit bly eienaardig dat sy met haar tandartsfobie toe halsoorkop vir een geval het. Tot die oggend toe sy weer, ná die eerste mond vol van haar ma se saggekookte eier, inmekaargekrimp het van die pyn.

      “Ek het gister vir jou ’n afspraak by die nuwe tandarts gemaak,” het haar ma doodluiters gesê. “Jy loop nou al ’n week met ’n dik bek rond. Gaan vanoggend spreekkamer toe en kry dit agter die rug. Pyn verdwyn nie omdat jy dit ignoreer nie.”

      Met haar hand nog steeds beskermend om haar mond gevou, het sy grootoog omgedraai. “Wat het van dokter Maritz geword?”