NOOIT IS ’N LANG,
LANG TYD
ANCHIEN TROSKIE
KWELA BOEKE
Ek dra hierdie boek op aan:
Nèlleke de Jager – vir haar waardevolle rigtingwysing en geduld.
My familie en vriende – vir al die kere wat julle oproepe en e-posse gedurende die skryf van hierdie roman onbeantwoord gebly het.
Aan Chris en Joice – omdat ek julle liefhet en so trots op julle is.
Aan Lafras – wat geduldig bekers koffie en plakke sjokolade aangedra het. Dis vir jou, Fras, met liefde.
En aan my Hemelse Vader, wat my hand heelpad vasgehou het.
Don’t walk in front of me, I may not follow.
Don’t walk behind me, I may not lead.
Just walk beside me and be my friend.
– ALBERT CAMUS
The only way to have a friend is to be one.
– RALPH WALDO EMERSON
’n Plan
Daleen glimlag breed vir Yvonne, haar ontvangsdame. “Ek is weg! Geniet die res van die middag. Met die klomp snotneuse in die dorp twyfel ek of jy sal kan, maar nietemin.”
Dan kyk Daleen verskonend na die paar “snotneuse”, wat met ontevrede blikke in haar rigting hul beurt in die wagkamer afwag. “Ja, Daleen, voet in die mond soos gewoonlik,” sê sy binnensmonds. “Wanneer gaan ek onthou dat hierdie ‘snotneuse’ sorg vir die botter en jam op my brood?”
Yvonne sug, rol haar oë dramaties. “Dokter is reg, dit gaan dol.” Sy beduie met haar kop na agter. “Dokter Malan sal sy storie vanmiddag moet ken om deur al die afsprake te kom.”
“Die vreugdes van die mediese praktyk,” sê Daleen sagter. “I’m out of here!”
Sy wuif en stap deur die groot glasdeure na buite. “Verdomp,” prewel sy toe die koue haar tref, “moes ek nou juis vandág kies om spreekkamer toe te stap?”
Sy slaan haar denimbaadjie se kraag hoog op en stap met ’n verbete pas, lyf vooroor en kop afgewend, na die koffiewinkel op die hoek. As sy durf opkyk, weet sy uit ondervinding, word sy voorgekeer deur almal op straat, en daarvoor sien sy nie nou kans nie.
Daar is eienaardige mense op hierdie dorp, seker maar op elke dorpie op aarde, mymer sy. Daar is die soort wat haar gereeld, selfs wanneer sy draf, in die straat voorkeer om gratis mediese advies te kry. Hulle glo sy kan selfs sonder ’n ondersoek presies vir hulle sê wat met hulle – of hul kind, man, vrou, ouma of oupa – fout is.
Én sy word gereeld betrek by huismoles; dis ’n veralgemening dat net predikante huismoleste moet oplos. ’n Dokter is vir sommige mense meer aanvaarbaar omdat hulle as “mensliker” beskou word. In teenstelling met predikante wat as “heilig” beskou word en liefs nie moet weet van Pappa se drankprobleem en dat Mamma se lus vir seks al jare lank geblus is nie.
Daleen skud haar kop. Toe sy medies gaan swot het, het niemand vir haar gesê dat sy ook biegmoeder, sielkundige en berader as beroep gekies het nie. Tog, daar is nie ’n ander beroep wat sy eerder sou wou hê nie. Dalk net op ’n ander dorp, in ’n ander gemeenskap. Nie hier op Sandfontein waar almal alles van jou weet nie. Sy sug ietwat oordrewe en verras haarself daarmee – sy is nie gewoonlik iemand wat emosie wys nie.
Sy kyk skrams op, steeds bang dat iemand haar sal voorkeer. In haar grootwordjare was hierdie dorpie nog kleiner. Stofstrate, een bank, een dokter, een prokureur, darem twee supermarkte. Toe tref vooruitgang Sandfontein, in die vorm van teerpaaie, prokureurs, tandartse, dokters, hospitaal, ensovoorts ensovoorts. Nou nie wat jy ’n metropool sal noem nie, maar darem. Al wat die dorp nog kort, is ’n verkeerslig. Daardie dag sal die Sandfonteiners seker na hulleself as stedelinge begin verwys.
Sy is op die buurdorp gebore, omdat Sandfontein toe nog nie ’n hospitaal gehad het nie. Hier is sy skool toe – koshuis toe. Sy het haar onstuimige tienerjare hier beleef. Hier gematrikuleer. Sy kon nie wag om met skool klaar te maak sodat sy die dorp se spreekwoordelike stof van haar voete kon afskud nie. Die jare op Kovsies was bevrydend, in meer as een opsig.
En toe kom sy terug. Na Karien en Amelia. Maar veral na Darius, haar broer. Omdat hy haar nodig het, het sy in ’n waas van eiewaan geglo. Al het sy nie by hom op die plaas ingetrek nie, maar eerder in die lelike woonstel bokant die supermark waar sy nou nog woon, kon sy darem middae na werk en naweke uitry plaas toe. Jare later het sy agtergekom dat Darius haar nie nodig het nie, eintlik nooit nodig gehad het nie. Dat hy sy eie bed kan maak en daarop kan slaap.
En hier sit sy steeds, met ’n vennoot in ’n winsgewende praktyk, twee beste vriendinne en ’n lover. ’n Lover, dink sy geamuseerd, praat ’n mens nog op veertigjarige ouderdom van ’n lover?
Sandfontein, dwing sy haar gedagtes terug na die dorp. Sy dreig gedurig om hier pad te gee, maar sy twyfel of sy sal kan. Dis haar tuiste, haar ménse. Hier is sy gelukkig. Want Sandfontein is verdraagsaam. In tye van nood slaan Sandfontein se inwoners hulle arms om jou, omdat jy een van hulle is.
Só val jy met die deur in die huis, dink sy met ’n laggie toe die wind haar deur die koffiewinkel se ingang druk.
“Middag, dokter!” groet Magrieta waar sy agter die toonbank met die indrukwekkende koekuitstalling staan. “Jy lyk asof jy ’n defrosting nodig het, die wind verwaai ons weer behoorlik vandag. Die gewone?”
Dis nog taamlik stil; die gewone klomp kom eers later vir hul daaglikse koppie boeretroos, dink Daleen. Dit kan ook wees dat die koue weer baie van die kliënte verjaag. Of dat almal in die spreekkamer se wagkamer sit, spekuleer sy wrang.
“Asseblief, Magrieta, maak dit sommer ’n dubbel.”
’n Ou, simpel grappie tussen haar en Magrieta, en een van die dinge wat Sandfontein en sy inwoners so spesiaal maak. Sy sak dankbaar op ’n stoel neer. Karien en Amelia is nog nie hier nie, maar wat is nuut? Sy is gewoond daaraan om vir hulle te wag.
Dis nou al tien jaar dat hulle elke week hier bymekaarkom. Hulle drie alleen hou hierdie koffiewinkel solvent, dink sy. Aan die begin was hul ontmoetings nie noodwendig op dieselfde dag van die week nie, daarvoor was hul beroepe te uiteenlopend. Maar Karien werk nou al vir jare nie meer nie, so ook Amelia. Hulle het op ’n Maandag besluit, omdat dit die dag is waarop Amelia haar kinders by die koshuis kom aflaai vir die week. Dis haar dorp-toe-gaan-dag, die enigste dag dat sy ander mense sien.
Daarom vat Daleen elke Maandagmiddag twaalfuur af. Nie die gebruiklike Woensdagmiddag soos Muller, haar vennoot, nie – sy speel nie gholf nie, sy drink koffie saam met haar vriendinne. Sy is seker al drie van hulle sou wyn verkies, maar hulle sien nie kans vir ’n kroeg nie. Veral nie op Sandfontein nie.
Dis warm in die koffiewinkel, sodat sy haar baadjie uittrek en oor die stoel se rugleuning hang. Sy strengel haar vingers inmekaar, elmboë op die tafelblad soos een wat bid, haar kortgeknipte naels styf in haar hande gedruk. Haar lover . . . Sy vind dit nog steeds moeilik om te glo dat sy voor só ’n ultimatum gestel is. Dat sy ’n keuse moet maak.
As sy na haar hart luister, sal dit ’n maklike keuse wees. Probleem is net dat sy nog nooit iemand was wat na haar hart geluister het nie. Sy is ’n analis. Alles word tot in die fynste besonderhede ondersoek. Die voor- en nadele word tot satwordens toe herhaal. Dan, wanneer sy haar hart sover gekry het om na haar verstand te luister, dán neem sy haar besluit. En haar hart weet dat die besluit lankal in haar kop geneem is.
Dis hartseer dat sy nie meer gereeld na haar hart luister nie. Dit maak haar hart seer. As die lewe net eenvoudig kon wees, sonder keuses. Darius sê dat God mense juis die grootste gawe gegee het: die gawe om te kan kies. Die gawe om te kan onderskei tussen reg en verkeerd, met jou hárt. Maar sy is nie Darius nie.
“Dankie, Magrieta,” sê sy toe die ouer vrou die stomende koppie koffie voor haar neersit.
“Jy’s diep ingedagte.”
Magrieta sê dit nie nuuskierig nie, besef Daleen, dis bloot