Nooit is 'n lang, lang tyd. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703294
Скачать книгу
bondels bymekaarmaak net toe hy die deur oopstoot.

      “Wat de . . .!” Dawid kyk geskok na haar traanbesmeerde gesig, haar arms vol klere.

      Sy ignoreer hom. Laat die bondel vloer toe val. “Ek’s nie meer bang vir jou nie,” sê sy hard terwyl sy hom uitdagend aankyk.

      “Asseblief, spaar my die melodrama! Wat gaan hier aan?”

      Sy tree bo-oor die klere, ignoreer sy blik op haar.

      “Ek kan nie glo dat jy nou van alle tye wil gaan rondflerrie nie,” sê hy bars.

      Sy draai na hom, ineens so kwaad dat sy hom kan vermoor. “Hoe de fok kan jy praat van rondflerrie? Jý van alle mense! Ek gaan weg sodat jy jou gemors van ’n lewe kan uitsorteer, ek gaan nie vakansie hou nie!”

      “Karien, jy weet ek hou nie daarvan dat jy kru taal gebruik nie. Dis onvroulik en dit pas nie by jou nie.” Sy oë is vasgenael op die deurmekaarspul in die kamer.

      “Fokkof, Dawid!” gil sy, vat haar tas en stap verby hom.

      “Gee my die tas dat ek jou help dra.” Hy vat die tas summier uit haar hand.

      “Het jy my nie gehoor nie? Gee pad! Los my uit! Ek kan my eie tas dra.”

      Sy ruk die tas uit sy hand, storm daarmee die trappe af. “Ek sal buite gaan wag, ek kan nie langer na jou kýk nie!” skree sy oor haar skouer.

      Sy sit haar tas op die stoep neer, sak sommer op haar hurke daarnaas neer. Sy’s besig om beheer te verloor; dalk het sy lankal beheer oor haar lewe verloor. Sy haal haar bril af, vryf oor haar oë. Sy’s moeg. Tot satwordens toe móég.

      Sy het gedink hierdie rusreis van Daleen is ’n goeie idee, maar nou wonder sy. Twee weke waarin sy sal moet toneelspeel. Sal moet maak of dit goed gaan met haar huwelik. Want hoe kan sy aan haar vriendinne erken dat haar man haar gefaal het? Dat sy as vrou gefaal het. Sy wat altyd so kon spog oor haar wonderlike man?

      Sal dit nie beter wees om eerder alleen weg te gaan nie? Iewers waar sy haar kop in ’n gat kan indruk en verdwyn. Weg van Dawid, weg van haar ma se vraende blik, weg van haar kinders se verwarde oë. Kinders mág nie sulke oë hê nie.

      Toe sy opkyk, staan hy in die voordeur na haar en kyk.

      “Ek kan nie glo jy los die kinders sommer so nie. Wat vir ’n ma is jy?” vra hy sag.

      Dís wanneer hy op sy gevaarlikste is, het ondervinding haar geleer. Sy druk haar rug stywer teen die growwe muur vas.

      “Los die kinders sommer by jou ma. ’n Goeie ma sal haar kinders saam met haar vat.” Hy lag lelik. “Jammer, dit het my ’n oomblik ontgaan dat jy nie in daardie kategorie val nie. Jy’s net ’n ma, ’n vrou. Jy was nog nooit góéd daarmee nie.”

      Ignoreer hom, besluit Karien. Ignoreer hom net. Moenie dat hy in jou kop klim nie. Die kinders hou daarvan om by hulle ouma te kuier, hulle het nodig om ’n bietjie weg te kom van hulle huilende, histeriese ma. Haar kinders wéét sy het ’n blaaskans nodig. Hulle wéét sy’s nie ’n slegte ma nie, hulle wéét sy’s net moeg.

      “Karien,” probeer hy ’n ander taktiek, sy stem effens harder, “ek is jammer, dit was net daardie een keer, ek sweer. Dit sal nooit weer gebeur nie!”

      Karien voel die lag in haar opborrel. Is sy besig om histeries te word, om onder hierdie omstandighede te wil lag? Sy kyk op na Dawid, haar aantreklike, nee, móói man. Die suksesvolle tandarts dokter Dawid du Plessis.

      “Ek kan nie glo jy staan daar asof botter nie in jou mond kan smelt nie, en dan sweer jy ook nog daarby.” Sy sê dit baie sag, sodat hy moet buk om haar beter te hoor. “Dink jy regtig ek is so dom? Is dít waarvoor jy my nog altyd aansien – die dom huisvroutjie wat van niks weet nie?”

      Sy kom stadig orent, haar kuite en bobene protesteer dadelik. “Ek was dalk dom, stókblind, maar nie meer nie, Dawid. Ek het slim geword.”

      “Pasop, soms vang slim sy baas,” is sy siniese antwoord.

      “Ek het gedink dis vir ewig,” vervolg sy sag, asof sy hom nie gehoor het nie. “Ek het gedink dat ons saam gaan oud word.”

      Hy kom nader, sit sy hand op haar skouer. “Ons kan nog, Karien. Ek sweer, nooit weer nie.”

      Sy klap sy hand weg. “Jy kom elke aand bedonderd by die huis aan, ontstig my en die kinders. Ek dog dis al weer ék, ek dog jou werkslading is te veel. Min het ek geweet dat jy nie by ons wíl wees nie. Ek was dóm.”

      “Karien . . .”

      “Los my uit, ek is moeg. Ek is glad nie lus vir hierdie onsinnige gesprek of vir jou nie.”

      Hy kom nog nader, sy regterhand in ’n vuis gebal langs sy sy. Sy maak haar reg vir die hou wat gaan kom, maar tot haar verbasing draai hy om en gaan die huis binne.

      “Onthou die ding van karma? Dit kom terug na jou, onthou! Ek sal nóú al begin hardloop as ek jy is!” skree sy agter hom aan.

      Die trane wat oor haar wange rol, is van verlies en frustrasie. En van moegheid.

      Amelia

      “Maria, onthou nou asseblief om genoeg kos te maak.” Amelia kyk op van waar sy besig is om Gert se klere in netjiese hopies opmekaar te stapel: hemp, broek, onderbroek en kouse, genoeg vir twee weke. “Jy weet mos hy is lief vir eet. Maak seker dat jy elke middag sy slaapklere en ’n skoon handdoek vir hom op die bed neersit.” Sy onderbreek haar werk om na Maria te kyk, seker te maak dat sy luister. “Kyk tog mooi na hom.”

      “Mevrou kan my vertrou,” sê Maria terwyl sy Amelia help om die hopies klere in die kas te pak.

      “Genade! Dis juis omdat ek jou vertrou dat ek kan weggaan,” verseker sy Maria.

      Hulle kyk albei op toe hulle ’n toeter hoor skel.

      “Meneer wag,” knik Maria in die rigting van die geluid.

      “Ai, Maria, ek wou nog vir jou gewys het hoe om koffie in die flask af te meet.” Amelia stap vinnig kombuis toe, Maria kort op haar hakke.

      “Mevrou beter gaan,” sê Maria toe die toeter weer skel. “Ek het mos darem baie vir meneer koffie in die flask moes maak voor julle getroud is.”

      Amelia twyfel nog, toe die derde skel getoeter haar aan die beweeg kry. “Dan is dit goed, ek moet gaan.”

      Sy kyk vir oulaas om haar rond. Alles is reg en op sy plek, Gert behoort nie probleme te hê wanneer Maria smiddae huis toe gaan nie. “Dink jy ek het nou alles?” Sy kyk hulpsoekend na Maria.

      “Ek het alles self in die bakkie gesit, mevrou kan maar loop.” Maria neem Amelia se een hand in hare. “Ek sal mooi agter meneer kyk.”

      “Het jy onthou om die goedjies in die vrieskas ook uit te haal?”

      Amelia het die vorige twee dae aanmekaar kos gemaak, wat sy gevries het, sodat hulle waar hulle ook al oorslaap iets sal hê om te eet.

      “Dis in die groot cooler-boks. Meneer wou gehad het ek moet die boks ook voor sit, maar daar wassie plek nie, toe sit ek hom maar agterop.”

      “Dankie, Maria,” glimlag Amelia en gee die ouer vrou se hand ’n drukkie.

      “Magtig, jy kan draai!” sê Gert toe sy langs hom in die bakkie klim. “Het jy seker gemaak jy het alles? Ek draai nie halfpad dorp toe om nie.”

      ’n Ydele dreigement, weet sy uit ondervinding; vir haar sal hy omdraai. Maar sy sê nietemin: “Dit wat ek vergeet het, moet maar bly.”

      Sy kyk om toe hulle deur die hek ry, na haar huis wat sy nog nooit vir so lank verlaat het nie.

      “Toe nou, jy kan nie nou begin huil nie. Kyk vorentoe, na ’n luilekker wegbreek.” Gert glimlag vir haar. “Wanneer was julle drie musketiers laas iewers heen?”

      “Ek kan nie onthou nie,” sug Amelia. “Maar ons was definitief nog nooit saam op vakansie nie.”