Nooit is 'n lang, lang tyd. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703294
Скачать книгу
op die verslaentheid nie.

      “Ek gaan gou die kinders bel, hoor hoe dit gaan,” verskoon sy haar en stap na die badkamer, waar dit meer privaat is.

      Ronel antwoord haar selfoon na skaars twee luie, haar stem hees van opwinding. “Ma sal nooit raai wat gebeur het nie!”

      Karien glimlag. “Ek is seker ek sal nie kan nie, vertel eerder.”

      “Jaco het uiteindelik wakker geskrik en my na die lentebal gevra!”

      Jaco is die seun oor wie haar dogter nou al amper ’n maand lank swymel, onthou Karien. “Ek hoop nie jy het dadelik ja gesê nie. Het jy hom darem eers so ’n bietjie laat sweet?”

      “Nou klink Ma nes Ouma,” sê Ronel verwytend.

      Inderdaad, dink Karien. “Jammer, my skat, ek is bly hy het jou gevra. Dis net nog lank, amper vier maande voor die bal.”

      “Maaa . . .”

      “Jammer. Sodra ek terug is, moet ons na patrone gaan kyk vir jou rok. Tannie Amelia sal maar alte bly wees om vir jou iets te maak.”

      “En dit moet stunning wees! Die klomp kan juis so uithang!”

      “Ons sal sorg dat dit stunning is,” verseker Karien haar.

      “En ons moet solank plek bespreek vir my hare en naels en grimering.”

      “Dis nog vier maande,” kreun Karien. Waar kom sy aan hierdie dogter? Sý het nooit omgegee waarmee sy na ’n dans gaan nie – seker omdat sy nie juis baie gevra is nie.

      “Die ander meisies het al plek bespreek!”

      “Goed,” gee Karien bes. “Sodra ek terug is, sal ons vir jou bespreek. Hoe gaan dit met die tweeling?” probeer sy die gesprek in ’n ander rigting stuur.

      “Dit gaan goed met hulle, hulle wil ook met Mamma praat. Maar vertel eers hoe dit met Mamma gaan.”

      Karien hoor die bekommernis in haar dogter se stem en is ineens dankbaar dat Ronel nog kan uitsien na ’n bal saam met Jaco, dat haar pa se streke haar nie in ’n hoek laat wegkruip nie. “Dit gaan goed; ons slaap vanaand by die Gariepdam oor. Dis so mooi hier, ek dink ons klompie moet vir ’n naweek kom.”

      “Dit sal lekker wees.”

      Sy hou die gesprek opsetlik lig, ook met Marli en Dawie. Hulle vind dit veral vermaaklik dat hulle ma vandag gaan stap het. Sy vertel hulle van die katte, hoe sy die aand se orige pasta vir hulle uitgekrap het.

      Toe sy die versugting in Marli se stem hoor, belowe sy haarself dat sy vir haar en die kinders troeteldiere gaan kry. Elke huis het ten minste ’n hond en ’n kat nodig.

      Sy probeer die gesprek met haar ma ook lig hou, maar in die middel van haar vertelling oor die mooi landskap val Irma haar in die rede: “Ek weet dinge tussen jou en Dawid is nie lekker nie. Jy kan my maar vertel, die kinders het verkas televisie toe.”

      “Niks is fout nie, Ma,” sê sy ongeduldig. “Moenie altyd moeilikheid sien nie.”

      “Ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie, ek kan mos sien iets is fout, by jou én by die kinders. Nie dat hulle iets sê nie, en ek het probeer.”

      Dit glo Karien goed. Min mense is bestand teen Irma, maar sy het haar kinders goed voorberei. Voor sy nie sekerheid het nie, wil sy haar ma nie onnodig ontstel nie.

      “Alle huwelike het probleme, Karien. Dink jy ek en jou pa was net gelukkig? Ons het ook ons probleme gehad, maar ons het daaraan gewerk. ’n Huwelik verg werk, dag en nag. Jy weet dat ek nie glo in huwelike wat opbreek nie. Wat God saamgevoeg het, mag ons nie skei nie.”

      “Soms neem ons besluite sonder om God in ag te neem, Ma, daarom noem ons dit foute. God het ons nie saamgevoeg nie, seks het.”

      “Is dit nie dalk die probleem nie, Kariena? Is julle sekslewe nog opwindend genoeg? Onthou, dis nou eenmaal die vrou se plig om haar man gelukkig te hou.”

      “Ma,” sy sukkel om die ysigheid uit haar stem te hou, “ek wil nie my sekslewe met jou bespreek nie. Ek wil seks glád nie bespreek nie. Seks is die wortel van alle mense se kwaad, van Eva se dae af.”

      “Met ander woorde, seks ís die probleem in julle huwelik,” sê Irma. “Daar is deesdae goeie, opgeleide seksuoloë. Sodra jy terug is, maak ons vir jou ’n afspraak.”

      Haar ma bly ’n oomblik stil, waarskynlik om asem te skep, dink Karien.

      “Jy kan ook lesse in erotika neem. Jy weet, iets soos lapdancing of paaldanse, dit behoort vonk in julle sekslewe te blaas!”

      “Ma, los dit nou.” Sy sukkel om, ten spyte van haar irritasie, die lag uit haar stem te hou. In die hele wêreld is daar seker net een ma soos hare. “Ek wil nie baklei nie. As daar probleme tussen my en Dawid is, is dit in die eerste plek ons besigheid. Ek sal Ma vertel as ek moet – as daar iets is om te vertel.”

      “Sal jy regtig, Kariena?”

      Sy lui met ’n swaar hart af. Sy weet haar ma glo haar nie dat sy haar van haar probleme sal vertel nie. En met reg – haar pa se skouer was altyd die een waarop Karien gaan huil het. Nie dat Irma haar ooit rede gegee het om nie met haar te praat nie, of om haar nie te vertrou nie, sy was maar net altyd eerder haar pa se kind.

      Wat sou hy van hierdie verwikkelinge dink? Oor haar ma se sekspraatjies sou hy waarskynlik net sy kop skud. Vir háár sou hy styf teen sy bors aantrek, vir haar sou hy huil. Sy mis hom so verskriklik baie.

      Haar ma is waarskynlik reg, dink sy swaarmoedig. Seks is dalk tog die rede waarom Dawid haar verneuk. Wie wil nou seks hê met ’n oorgewig vrou wat haar gereeld aan kos vergryp? Soos gister. Sy het vir Daleen gelieg: sy het ’n meat pie én slaptjips geëet, afgesluk met Coke Light om haar minder skuldig te laat voel.

      Maar sy kon dit nie vir haar vriendinne vertel nie; haar eetgewoontes hou sy nog altyd streng geheim. Soos haar bedlaaitjie vol lekkernye vir laataand se eet, wanneer Dawid slaap. Nee, sug sy, seks kan nie die probleem wees nie. Dawid se seksdrang is steeds so hoog soos vroeër, en sy het hom nog nooit geweier nie.

      Sy staan van die rand van die bad op om haar by haar vriendinne te gaan aansluit.

      Haar pa het nooit baie van Dawid gehou nie, maar ter wille van Karien het hy voorgegee. Sy het altyd gedink hy is maar net jaloers, besitlik oor sy enigste kind, sy dogter. Nou wonder sy of hy nie dieper gesien het as die mooi uiterlike nie.

      Haar ma, daarenteen, was . . . is steeds . . . gek oor Dawid. Voor Dawid se intrede het sy Karien gereeld gewaarsku teen mans wat rooi onderbroeke dra en nie van diere hou nie. Sy was te skaam om haar ma te vra wat die rooi onderbroeke beteken. Dawid dra nie onderbroeke nie. Ook nie boksers nie. Sy sou graag haar ma wou vra wat dít beteken, maar was, weer eens, te skaam. Dis die dae toe sy nog skaam was. Deesdae maak niks haar meer skaam nie; sy het te veel van die lewe gesien.

      Sy het wel vir haar ma vertel dat Dawid nie van troeteldiere hou nie, maar Irma het hom klaar as toekomstige skoonseun geoormerk en haar eie raad verontagsaam. “Hy kan nie help dat hy allergies vir diere is nie,” het sy haar toekomstige skoonseun verdedig. “Ek is seker dat hy, as hy kon, van honde sou hou. Hy lyk soos ’n hondeman.”

      “Vir my lyk hy soos ’n gigolo,” het haar pa gesê, “te glad van haar en vel.”

      Wys jou net, dink Karien, die eerste keer dat sy haar ma se raad volg en nie haar pa s’n nie, sit sy jare later met die gemors.

      Jy laat my aan Gert dink

      Amelia is besig om die paar skottelgoedjies te was – die vorige aand se oorskietvleis het sy reeds kunstig tussen toebroodjies op ’n skinkbord gepak – toe Daleen by die kombuis inbars.

      “Jy’s papnat gesweet!” Amelia tap ’n glas water vir die blasende Daleen.

      “Ek sweer, hoe ouer ek word, hoe moeiliker is dit om fiks te bly,” sê Daleen tussen dorstige slukke deur. Sy sit die leë glas op die wasbak neer, neem ’n toebroodjie. “Dit lyk lekker.”