Nooit is 'n lang, lang tyd. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703294
Скачать книгу
in die restaurant stel Karien voor dat hulle deur die oord gaan stap.

      “Dis te koud en te donker om te stap.” Amelia trek haar baadjie stywer om haar lyf. Dan skud sy haar kop beslis. “Nee, dit is nie,” sê sy met soveel drif dat haar vriendinne haar verbaas aankyk. “Kom ons gaan stap. Ons ry môre en ons het nog nie veel van die oord gesien nie.”

      Sy kyk skepties na die ligte wat nie veel meer as die voetpaadjies verlig nie. “Nie dat ons veel kán sien nie. Maar nou ja, ten minste sal ons kan sê ons hét hier gestap. Ons moet in elk geval ons nuwe tekkies toets.”

      Hulle stap in stilte, elkeen besig met haar eie gedagtes, tot Karien die stilte verbreek. “Ek was nog altyd so ’n bietjie jaloers op julle twee, het ek julle al gesê?”

      “Op ons? Hoekom op aarde sou jy wees?” vra Amelia.

      “Wel, jy is pragtig, Amelia, maar dis jou warmte, jou goedheid, wat mens eerste raaksien. Ek het nooit verstaan wat dit beteken nie, tot ek dit op ’n dag in jou gesien het. Dís waarop ek jaloers is. Ek het selfs op ’n stadium meer soos jy begin optree. Sagter begin praat. My hande minder gebruik om saam te gesels. My oë sag probeer hou . . . tot Dawid my gevra het of ek siek voel. Ek bedoel, kan julle mý so sien?”

      “Dis die probleem,” sê Amelia terwyl sy gedwonge saam met Daleen lag. “Almal sien altyd net die goed in my raak, dalk omdat ek so goed kan voorgee ek is goed.”

      Daleen kyk skeef na haar, maar Karien sê: “Nee wat, jy is goed gebore. Ons weet dit almal.”

      “En op my? Wat aan my kan jou jaloers maak?” wil Daleen weet.

      “Jou lyf. Jy eet wat jy wil en tog sukkel jy nie soos ons ander gewone siele met jou gewig nie. En jy’s mooi. Regtig mooi. Vra maar al die mans op die dorp. Ek wens ek was so klein en fyn soos jy.” Karien vee oor haar maag en heupe.

      “Jy kan nie jou liggaamsbou verander nie. Ek is kleiner as jy gebou. En ek het nog nie kinders gehad nie, onthou. En ek eet wat ek wil omdat ek elke dag so hard oefen.”

      “En die feit dat jy so beskeie daaroor is, daarop is ek éérs jaloers,” sê Karien. “En op julle huise.” Sy kyk vinnig op toe die ander weer lag. “Ek weet dit klink simpel, maar ek is. Daar is seker nie ’n mooier huis as joune nie,” sê sy amper beskuldigend vir Amelia, “en Daleen, jou woonstel is –”

      “Gehúúrde woonstel,” onderbreek Daleen haar.

      “Is so individueel en casual soos jy,” hervat Karien.

      “Jou huis is self stunning!” roep Amelia uit.

      “Nie vir my nie. Ek hou van kleur,” sy kyk af na haar swart uitrusting, “in my huis. Nie die vervelige neutrale kleure wat Dawid verkies nie. Dis so boring.”

      As sy kon kies, dink sy, sou sy ’n huis soos Amelia s’n wou hê. ’n Kasarm van ’n kliphuis, klip vir klip gebou deur Gert se oupagrootjie. Dis so ’n warm, gesellige huis. Ruim vertrekke, en die meubels van denne-, geel- en stinkhout dateer ook uit die oupagrootjie se dae. Die geelhoutvloere is blink gepoets en nuwe bruin kleiteëls is in die kombuis en badkamers gelê. Persiese tapyte lê knus in al die vertrekke en in hul leefarea is groot, vet kussings oral te sien. Afrika-kuns teen die mure laat die huis nog vriendeliker vertoon.

      In die winter word die gordyne dig getrek teen die Vrystaatse koue en die kaggelvuur brand gesellig hoog. Maar in die somer word die gordyne weggetrek; die groot skuifdeure wat Gert aangebring het, word wyd oopgemaak sodat die koelte van die druiweprieel op die stoep, wat reg rondom die huis loop, jou laaf. Dis die een huis, naas haar ma s’n, waar sy nog altyd welkom gevoel het. Sy en die kinders gaan kuier gewoonlik op die plaas wanneer Dawid op een van sy jagtogte is.

      As sy kón kies, dink sy grimmig, sou sy nie net Amelia se huis wou hê nie, maar ook vir Gert. Nie dat sy verlief is op hom nie, sy bewonder hom, en slegs op ’n afstand. Groot van postuur, klein van hart. Hy gesels met haar kinders asof hulle familie is, nie die kinders van sy vrou se effens neurotiese, bedonnerde vriendin wat gereeld naweke ’n oorlas van haarself maak nie. Speel met hulle, laat hulle lag – dingetjies wat hul eie pa selde doen. Deesdae minder as ooit.

      Sy hou so daarvan om by Amelia en Gert te kuier. Die gesels tot laataand, die klere wat Amelia vir haar wat Karien is, ontwerp en maak. Vrolike, effens uitheemse kleure en klere, sodat Gert meestal sy kop in ongeloof skud. Dis juis dié ontwerpe van Amelia wat Karien soms laat wonder wat regtig onder daardie preutse uiterlike van haar vriendin skuil.

      Daleen se plekkie, daarenteen, alhoewel klein en minimalisties gemeubileer, laat met die inkomslag geen twyfel oor wie daarin woon nie. Dis ’n blyplek waarin daar gelééf word. Elke meubelstuk, elke mat en skildery ís Daleen.

      Hoe anders is haar eie huis nie! Dawid hou van sy omgewing kalm, byna steriel. Die mure en die matte alles in boring beige en wit. Gordyne in pastelle. Slegs haar kombuis het kleur – liggeel mure. Dis die meeste wat hy haar toegelaat het.

      As sy besluit om te skei, is dit die tweede ding wat sy sal doen: haar huis in al die kleure van die reënboog verf. Sy, Daleen en Amelia. Daarvan gaan hulle drie ’n partytjie maak, neem sy haar voor. ’n Regte reënboogpartytjie.

      ’n Donnerse graad

      “Kom ons draai om,” sê Daleen. “Ek raak nou lekker lui na die ete, ons sal gesonder moet eet. En daardie bottel wyn in die yskas roep na my. Al weer.”

      “Dis dan juis die lekkerste van die vakansie, die etes,” sê Amelia, ’n effens gefrustreerde klankie in haar stem. Sy kan dit maar erken, aan haarself en haar vriendinne, dat kos haar troos geword het. Dat sy saans saggies kombuis toe stap en die kaste oopmaak op soek na iets waarmee sy haar frustrasie, haar woede en haar honger na seks kan wegvréét.

      Dis geen wonder dat haar lyf deesdae so lyk nie. Sy het haarself verwaarloos. Omdat sy by die huis moet sit, haar graad onder ’n maatemmer moet wegsteek, haar kinders selde sien, laataand langs ’n snorkende man met ’n slap penis in die bed moet klim, of koud en alleen haar eie kamer moet opsoek. Ander vrouens sal dood vir die kans om ’n huisvrou soos sy te wees. Het nog nooit aan huiswerk geraak nie – daarvoor het sy mos twee huishulpe. Selfs naweke het sy hulp; hulle maak beurte om in te kom.

      Daarom doen sy handwerk, enigiets om haar besig te hou. ’n Ruk terug toe die lapverf-craze die land tref, het sy dit gedoen. Alles van kussings tot tafeldoeke met verf besmeer. Nou is dit weer scrapbooking. Haar werkskamer lyk op enige gegewe tyd of sy ’n kleuterskoolklas aanbied – vol snippers papier, karton en gom.

      Geniet sy dit? As sy eerlik moet wees, ja. Baie. Sy het nog altyd daarvan gehou om kreatief besig te wees. Maar dit bly so léég. En dit bring nie vir haar iets in die sak nie. Sy sal daarvan hou om haar eie salaris te verdien, nie ’n toelaag van haar man nie.

      Sy is gátvol, besluit Amelia. Sy moet met Gert praat. Of dalk vir hom ’n brief skryf? Ja, ’n brief sal beter wees. Dalk sal hy dán na haar luister, as hy die woorde op papier sien. Sy sal net moet sorg dat sy dit vir hom gee . . . wanneer? Wanneer sal dit vir Gert ’n goeie tyd wees? Nie wanneer hy in die veld is nie – dan trek die boerdery sy aandag af. Nie wanneer hy tuis is nie, dan trek die televisie sy aandag af. Sy haat televisie, omdat dit vir Gert belangriker as sy geword het. Sy kompeteer elke dag teen óf die boerdery óf die televisie. ’n Brief sal beter wees, sug sy, dan sal sy ook nie die teleurstelling in sy oë sien wanneer sy hom meedeel dat sy vir haar ’n werk wil kry nie.

      Sy luister hoe Daleen in die kombuis werskaf, voel skuldig omdat sy al in die bed lê terwyl Daleen moet opruim. Sy het te veel gedrink, Daleen se bottel wyn het ook na háár geroep, môre gaan sy met ’n hoofpyn opstaan. Niemand het vir haar gesê dit gaan ’n drinkvakansie wees nie! Sy is nie gewoond aan drank nie. Sy en Gert drink net by geleentheid.

      Sy trek die duvet hoër op, sodat net haar oë uitsteek. Nee, nou lieg sy weer vir haarself. Sy ís drank gewoond. Herinneringe aan haar kinderdae is gevul met drogbeelde van drank. Suipende ma, arme pa . . . Sy kon nooit vriende huis toe nooi nie. Nee, dis ook ’n lieg, sy wóú nie. Omdat sy skaam was vir haar slingerende, vloekende, drónk ma. Omdat sy skaam was vir haar patetiese pa.