Nooit is 'n lang, lang tyd. Anchien Troskie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anchien Troskie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795703294
Скачать книгу
het plek gehad, maar hy is nou regtig nie iets om na te kyk nie.”

      “Ma het vir my ’n afspraak by hom gemaak omdat hy aantreklik is?” het sy verstom gevra. “Ma, as jou tand seer is, gee jy nie om of ’n trol dit stop nie!”

      “Jy het nog nie vir Dawid du Plessis gesien nie! Selfs ek moet erken dat hy my knieë lam maak, en jy weet mos dis net jou pa wat dit nog ooit kon regkry.”

      Haar ma was reg. Een kyk in Dawid se blouer-as-blou oë, en sy was verlore. Soos in ’n goedkoop liefdesverhaal, dink sy wrang. Sy het hom ge-“dokter” toe sy daar in is, ’n uur later was hy Dawid, ’n paar maande later was hy haar verloofde, na nog ’n paar maande was sy swanger met Ronel en kort daarna was sy mevrou dokter Du Plessis.

      Wie weet of sy met hom sou getrou het as sy nie saam met hom in die bed gespring en swanger geword het nie . . .

      Dalk was dit die enigste keer dat sy haar pa teleurgestel het, mymer sy. Hy het nooit van Dawid gehou nie, het ook nie regtig probeer om dit weg te steek nie. Hy was vriendelik genoeg met hom, maar altyd op ’n afstand.

      Avontuurliker

      Amelia kyk glimlaggend na Daleen toe sy haar oë lui oopmaak en haar arms bo haar kop strek.

      “Rise and shine, sleeping beauty! En hier dog ek ek’s die enigste een wat in die dag slaap.”

      “Ja, toe, moet dit nie invryf nie,” gaap Daleen. “Waar is ons?”

      “Welkom, skone dame, by Aliwal-Noord,” sê Karien droog.

      Amelia volg Daleen se blik na die brug waaroor hulle ry, die skeiding tussen die Vrystaat en die Oos-Kaap. Die Oranjerivier vloei in ’n kolkende massa onder die brug deur. Vir ’n oomblik staar sy verstom daarna. Dis ’n vreemde gesig in die winter, aangesien die gebied in ’n somerreënstreek val.

      “Wat maak ons in Aliwal-Noord? Moes ons nie in Burgersdorp wees nie?” vra Daleen.

      “Ons het besluit Burgersdorp lyk darem te veel na Sandfontein, te depressing,” sê Karien. “Die ry deur die dorp was genoeg, nou kan ons ook sê ons was al daar.”

      “En ek wou by die kuns-en-stokperdjiewinkel in Aliwal-Noord uitkom,” sê Amelia. “Hulle het blykbaar die mooiste goed. Julle kan my daar aflaai terwyl julle supermark toe gaan. Onthou net om vir my sigarette te koop.”

      “Het ek nog nie genoeg vir jou gepreek oor daardie slegte gewoonte nie?” raas Daleen.

      “Askies, dokter, maar dié kankerstokkies is al wat my nog so te sê normaal hou. So, los my en my vieslike gewoonte uit. Ek moet ook dringend tekkies kry, so ons moet asseblief by ’n sportwinkel stop.”

      “Dis nie ’n slegte plan nie,” beaam Karien. “Soos Daleen ons laat stap, sal ek ook ’n paar gemaklike skoene moet kry.” Sy kyk vinnig op haar polshorlosie. “Dis amper vieruur, jy het ’n uur voor die winkels sluit,” waarsku sy Amelia toe hulle voor die kunswinkel stilhou.

      Toe hulle haar later daar kom oplaai, staan ’n glimlaggende Amelia en wag met pakkies boepens gelaai met inkopies.

      “Soos ’n kind op Kersdag,” mompel Karien terwyl Amelia haar pakkies in die kattebak laai. “Haar kinderlike opgewondenheid maak my soms naar!”

      Daleen knik instemmend. Soms is Amelia se entoesiasme vir haar stokperdjies net te oorweldigend.

      “Genade, ek het die mooiste goed gekry!” sê Amelia toe sy inklim. Toe sy geen reaksie kry nie, vervolg sy: “Ek het die oord buite die dorp gebel en sommer vir ons plek bespreek. Daleen, vat so, dalk kan jy my kriptiese aanwysings beter verstaan as ek. Iets ruik lekker!”

      “Ons het pizzas vir middagete gekry,” sê Daleen terwyl sy die stukkie papier aanvat.

      “Gesónde pizzas,” skerm Karien, “met baie groente en min vleis.”

      “Bestaan daar iets soos gesonde pizzas?” wil Amelia weet. “Onthou om gou by ’n sportwinkel te stop.”

      “Kom ons gaan swem,” sê Karien terwyl sy deur haar tas krap op soek na haar swembroek. Danksy Amelia se kriptiese aanwysings het hulle die oord maklik gekry. “Ons het oefening nodig ná daardie pizza.”

      “Is jy heeltemal gek?” roep Amelia uit. “Dis te koud!”

      “Hélkoud,” lag Daleen, en kry ’n verwytende kyk.

      Karien rol haar oë dramaties. “Warmwaterbron, Amelia, die klem val op wárm.”

      “Dit gaan nog steeds te koud wees. Julle kan swem, ek sal kyk.”

      “Tipies Amelia,” sê Daleen, haar blik tergend. “Altyd die toeskouer, nooit ’n deelnemer nie.”

      Amelia gluur haar verontwaardig aan, maar weier om op die aanmerking te reageer.

      Hulle stap af na waar die bordjies aandui die bron moet wees.

      “Dit ruik na méns hier binne,” sê Amelia en trek haar neus fyntjies op toe hulle die deur oopstoot en binnestap. Daar hang inderdaad ’n aardige reuk in die lug. Hulle is verstom om ’n jong paartjie in ’n vurige omhelsing in die water aan te tref. Karien kug hard, sodat hulle vervaard uitmekaarspat en verleë na die drie stuks staar.

      “Oeps!” roep Karien gemaak verskonend uit, haar hand voor haar mond.

      Amelia gaan onbedaarlik aan die giggel, en Daleen voel ook die lag in haar opborrel. Karien kyk die twee jonges só verontwaardig en uit die hoogte aan dat hulle summier die hasepad kies.

      “Goed so,” knik sy, “mens vry wragtig nie waar ander wil swem nie!” Sy trek haar sweetpak uit, toets die water met haar toon.

      “Jy gaan tog nie regtig swém nie?” vra Amelia. “Sê nou hulle het ge- . . . jy weet . . .”

      “Gewat? Gekafoefel? Toemaar, hulle het nie skuldig genoeg gelyk dáárvoor nie.” Karien laat haar lyf stadig in die water sak.

      Amelia ril merkbaar en oordrewe, sodat Karien sê: “Ek ril ook, al kan julle dit nie onder die water sien nie, maar van lekkerte. Kom voel,” nooi sy Daleen, wat besluiteloos op die rand staan.

      “Te hel daarmee,” sê Daleen vir niemand in die besonder nie. Sy laat val haar sweetpak op ’n hopie en duik met ’n sierlike boog in. “Dis heerlik warm!” roep sy na Amelia. “Maar die reuk is erger as jy in die water is.”

      “Jy is nie veronderstel om te duik nie.” Amelia wys na ’n bordjie teen die muur.

      “Kinders, moenie in die water mors nie, die grootmense wil dit drink,” lag Daleen.

      Dís haar probleem, erken Amelia teenoor haarself waar sy op die bankie sit, haar knieë hoog teen haar bors opgetrek: sy speel altyd ma. Selfs teenoor haar vriendinne, selfs teenoor haar man. Dalk is dít die rede waarom Gert haar nie meer as vrou sien nie – sy het vir hom ’n ma geword.

      Sy sug, kyk afgunstig na Daleen en Karien wat in die water

       baljaar. Sy wil ook swem, uitgelate soos ’n kind, maar sy het nie haar swemklere aan nie en sy’s te bang om alleen terug te stap chalet toe. Dis tyd dat sy avontuurliker raak, besluit sy, haar blik steeds op Daleen en Karien, wat nou verbete resies swem. Hierdie vakansie is net die regte medisyne vir ’n bangbroek soos sy. Sy sál – sonder om aan die gevolge te dink, sonder om die bobbejaan agter elke bult te gaan haal – meer pret saam haar vriendinne hê.

      Sy maak haar oë lui toe. Die hitte maak haar lomerig, die uitbundige gelag van haar vriendinne skielik verder weg, maar tog, soos altyd, gerusstellend naby.

      Sy skrik regop toe Daleen en Karien langs haar kom sit.

      “Ek kan nie glo jy het gesit en slaap nie,” lag Karien.

      “Ek het nie! Ek het net my oë laat rus,” keer Amelia verontwaardig. “Kom ons gaan eet vanaand in die restaurant. Ek betaal, so julle mag nie weier nie!”

      ’n Ete in ’n restaurant is nou nie so avontuurlik