“Ek dog jy wil na Darius toe gaan?” vra Karien.
“Ag, by Darius is ek steeds bereikbaar,” sê Daleen vinnig. “Ek het pas besluit dat ek Jeffreysbaai toe wíl gaan. Ons drie. Toe nou, kom saam!” Sy het haar vriendinne nodig terwyl sy hierdie groot besluit moet neem. Al is hulle nie eens bewus daarvan nie.
Karien kou nadenkend aan ’n hap blaarslaai. “Die kinders kán bietjie by my ma kuier, hulle sal dit geniet. My ma ook.” Sy bly ’n oomblik stil, laai haar vurk weer vol. “Dawid sal dit ook geniet om ’n paar weke se vryheid van vrou en kinders te hê,” sê sy sinies. “Count me in!”
“Hoe lank is jou verlof?” vra Amelia.
“Twee weke. Toe, man, Gert sal nie omgee nie,” sê Daleen.
“Sjoe, dis lank. Gert sal dalk nie omgee nie, maar ek weet nie of ek hom so lank alleen kan los nie.”
“Hoekom nie? Is hy siek?” Karien se wenkbroue is ’n reguit lyn van verontwaardiging.
“Nee, man! Dis net . . . jy weet . . .” Amelia gooi haar hande hulpeloos in die lug.
“Amelia,” sug Karien terwyl sy vertroostend oor Amelia se arm vryf, “jy mag maar asemhaal sonder Gert. Hy weet dit, óns weet dit. Dis tyd dat jy dit ook besef. Kom saam. ’n Vakansie in Jeffreysbaai is net wat die dokter voorskryf.” Sy kyk laggend na Daleen. “No pun intended!”
“ ’n Vakansie ís dalk net wat ek nodig het,” sê Amelia. “Goed, julle het my oortuig, ek sal dit met Gert bespreek.”
“Nie ’n vakansie nie, ’n rusreis,” korrigeer Daleen. “ ’n Reis met die doel om te rus.”
En om keuses te maak, voeg sy in haar gedagtes by toe sy opstaan en hul rekening by Magrieta gaan betaal.
Karien
“Ek gaan julle ongelooflik baie mis,” sê Karien gesmoord in Dawie se nek toe sy hulle voor die skoolhek groet. Hy ruik nog na bába, dink sy verstom, nie na die sewejarige wat hy is nie.
Marli druk tussen hulle in, slaan haar skraal armpies om Karien se middel. “Ek gaan vreeslik baie verlang,” sug sy, “maar Mamma moet gaan om Mamma se kop oop te kry, nè?”
Haar oë is vol wysheid op Karien gerig. Karien dink soms dat dié kind van haar oud en wys gebore is; sy’s baie meer volwasse as haar tweelingbroer.
Karien hurk voor die twee. “Is dit wat Ronel sê?”
Hulle knik ernstig.
“Ronel is reg, almal moet soms hulle koppe skoonkry.”
“Selfs mammas?” vra Dawie, sy blou oë stip op haar gerig.
“Ja, selfs mammas.”
“Kom nou, Ma, netnou is ek laat!” roep Ronel uit die motor.
Karien gee die kleintjies ’n laaste druk. “Nou toe, julle beter draf. Onthou, Ouma sal julle ná skool kry. Wag by die hek, sy sal saam met julle oor die pad stap.”
Sy kyk hulle agterna toe hulle wegstap na waar die ander graadeentjies staan en wag.
Toe hulle ’n rukkie later voor die hoërskool stilhou, bly Ronel in die motor sit.
“Ek sê nog steeds Ma moet skei. As dit mý man was, sou ek.” Sy kyk uit oor die speelgrond. “Baie van my klasmaats se ouers is geskei en hulle cope, so Ma hoef nie te worrie oor ons nie.” Sy draai skielik na Karien, wat haar verstom aankyk. “Ek wens ek kon hom haat, maar ek kan nie, hy’s my pa.”
Karien trek haar dogter styf teen haar vas. Soos bykans elke dag is sy verbaas oor die vroulike rondings wat die veertienjarige lyf reeds kry. Sy weet sy moet sê dis reg dat Ronel haar pa nie haat nie, maar sy is onmagtig om die woorde oor haar lippe te kry. Daarom laat sak sy net haar ken op haar dogter se blonde hare. “Ek is lief vir jou,” sê sy gesmoord.
“En ek vir Mamma.” Dan onthou Ronel skielik waar hulle is en maak haar vinnig uit die omhelsing los. “Ek sal hom nooit kan haat nie, maar ek mag mos vir hom kwaad wees, of hoe?”
Karien knik. “Ja, ek dink jy het die volste reg om vir hom kwaad te wees.”
Hulle kyk op toe daar aan die ruit geklop word. Ronel se vriendin waai glimlaggend vir hulle. Ronel gee Karien ’n vinnige soen op die wang en klim uit. ’n Paar treë weg steek sy egter vas, kom dan teruggehardloop.
“Ek’s lief vir jou, Ma, geniet jou vakansie en moenie oor ons bekommerd wees nie!” sê sy deur die venster.
Karien wag dat die wasigheid voor haar oë heeltemal weg is voor sy die motor aanskakel en na haar ma se huis ry. Daar maak sy eers seker dat alle tekens van weemoed uit haar oë is voor sy uitklim. Sy sleep die kinders se tasse teen die stoeptrappies op.
Irma staan in die voordeur vir haar en wag, haar indrukwekkende grys bolla onberispelik soos altyd. “En?” vra sy toe sy een van die tasse by Karien vat.
“En wat?” verweer Karien, terwyl sy sorg dat haar blik afgewend bly.
Sy sal versigtig moet wees. Haar ma is baie dinge, maar sy is nie dom nie. Onderskat enigiets, het Irma haar geleer, maar nooit iemand se intelligensie nie. Haar ma mag nie nou al weet nie.
“Gaan ons koffie drink?” vra Irma toe hulle die tasse in die gastekamer neergesit het.
Karien oorweeg dit sterk om haar ma se aanbod te aanvaar toe sy agter haar aan kombuis toe stap. Die hart van hierdie huis, het sy nog altyd geglo. Elke keer as sy by haar grootwordhuis instap, spoel ’n kalmte oor haar. Hier is meer rykdom en karakter in hierdie deurmekaar huis as wat daar ooit in haar eie huis sal wees.
“Ek kan nie, Ma, ek moet nog gaan pak.” Sy druk Irma teen haar vas, voel die trane opnuut in haar oë brand en draai vinnig om.
Sy het nog nooit so baie gehuil soos die laaste paar dae nie, dink Karien toe sy in die veiligheid van haar motor die trane van haar wange vee. Hoe is dit moontlik dat twee sulke teenpole soos Irma en Willem van Tonder so lief vir mekaar kon wees? So gelukkig kon wees? Karien het geglo dat sy en Dawid ook só sal wees, omdat hulle ook so baie verskil.
Haar pa was jare lank onderwyser by die plaaslike laerskool, en daarna skoolhoof tot met sy vroeë dood. Haar ma was nog altyd anders. Toe Irma aftree-ouderdom bereik, het sy geweier om soos al haar vriende by die boekklub of die rolbalklub aan te sluit, omdat dit haar kwansuis oud sou laat voel. In plaas daarvan het sy by die veel jonger klomp se aërobiese oefenklas aangesluit.
Haar kleresmaak kon nog nooit as ordinêr beskryf word nie. Sy was die eerste vrou op Sandfontein wat in die vroeë 1960’s met ’n bitter kort mini en ’n beehive gespog het – baie trots daarop dat dit haar eie lang hare was wat sy so gestileer het. Nie almal op die dorp wou haar aanvaar nie, maar dit het Willem nie gehinder nie, hy het haar laat begaan. Hy het haar ruimte gegee om te wees wie sy is, binne en buite die huis.
Aanvaarding, dís die verskil tussen haar huwelik en haar ouers s’n, dink Karien toe sy wegtrek.
Karien maak haar tas hardhandig toe, kyk dan verward na die deurmekaarspul in hul altyd netjiese slaapkamer. Die klere waarteen sy besluit het, lê die bed vol. Skoene op die vloer. Sy begin halfhartig kledingstukke optel om terug te pak. As Dawid vanmiddag terugkom en hierdie gemors aantref . . .
Haar hande verstil bokant die bloes wat sy aan die opvou is. As Dawid vanmiddag terugkom, is sy reeds ver weg. En gee sy nog hoegenaamd om wát Dawid dink? Sy draai om na haar yslike klerekas, begin gooi alles op die vloer. Ruk dan Dawid se kas oop, staar vir ’n oomblik verstom na die netjies gevoude klere. Volgens kleur gepak. Volgens kléúr! Hoe het sy dit veertien jaar met hom uitgehou? Sy weifel ’n oomblik en dan beland Dawid se klere ook in wanorde op die vloer.
Sy voel die snik in haar keel te laat, sak op haar hurke tussen die klere op die vloer neer. Véértien jaar, snik sy. Sy het hom haar beste jare gegee. Veertien jaar lank. Dag en nag. Hy was haar alles. Hoe moet sy sonder hom klaarkom?