Op ’n Dinsdagoggend sê ou-Melitie: “Jô, die mossie sy sê vanmôre vor my nonwe Alie sy gaan goed loop by die skool, want al die somme sy sal helle reg maak. Det es so?”
Dan sê Alie: “Nee wat, ou-Melitie, die mossie jok sommer. Ek hou nie van somme nie. Vandag sal die hele dag weer rooi wees. Maar sal jy vandag elfuur jou oë toemaak en vir my ’n lang wens wens? Dan doen ons hoofrekene, en dan dans al die syfertjies deurmekaar in my kop. Dis net soos die bye in die garinglaning, ou-Melitie, hulle swerm almal deurmekaar, die ene en die tweetjies en die drietjies en die viertjies en dan kan ek hulle nie in my kop laat stilsit om hulle agtermekaar te kry nie. En as juffrou Barnard sê: ‘Alie, wat is die antwoord?’ dan voel dit of die hele swerm weer opvlieg. Ag, ou-Melitie, ek hou niks van somme en hoofrekene nie,” sê Alie, en sy hap ’n groot hap brood en kou sulke vinnige koue. Net so sal sy graag al die syfers van die hoofrekene wil stukkend kou.
Ou-Melitie vat aan haar kopdoek, net daar waar sy die plat blikkie snuif bêre, en dan sê sy: “Jy moet moi kou by darrie brot, nonwe Alie. Nou die som sy es swar, want jou koppie sy es vol by die banja anner deng. Sos jy bagen by die som, nonwe Alie, jy moet so vat by darrie koppie en jy moet hom skud en jy moet sê: ‘Kop, nou jy moet leeg kom by die banja anner deng, jy moet moi skoon kom, want nou die som hy wel die plek hê bennekant.’ Jy moet darrie koppie uitskud sos ek skud die emmer leeg van die meel voor ek set die water by die emmer. Jy skud hom uit vor Lulu, jy skud hom uit vor die vleggesel van nonwe Cillie, jy skud hom uit vor die Ingelsman by Brakfontein, jy skud hom uit vor die kiewietnes, jy skud hom uit vor die loop by die rivier sos ons gan was – nou jy skud hom uit al darrie deng, nou jy sê: ‘Die som sy kan maar kom, my kop sy es leeg.’ Jy sal so mak vandag, nonwe Alie? Nou jy moet gou drenk darrie melk, nonwe Alie.”
Ghoemps-ghoemps glip die melk in Alie se keel af, en sy maak haar oë styf toe en verbeel haar sy is Kommetjie se nuwe kalf wat so staan en uitsuip as Sammie en Diek vergeet het om die kalwerhok se hek toe te maak. Dan sit sy haar hand op haar maag en voel of dit net so uitswel, uitswel soos die kalfie s’n as hy staan en drink.
“Nonwe Alie,” sê ou-Melitie, “ek hor hom die eerste karretjie verbykom. Jy moet gou maak. Jô, darrie melk sy val weer hard vanmôre, net sos die paddas wat sy spreng by die water. Netnou die padda sy sal prat by darrie maag.”
“Alie,” roep tant Lenie van die rondawel af waar sy staan en vleis sout, “jy moet gou maak, kindjie. Ou-Melitie, kyk of sy die deken oor haar bed gegooi het voordat sy loop.”
Die bed opmaak, die deken met die fraiings oorgooi, die water uit die waskom in die emmer gooi en haar nagrok opvou, dit moet Alie doen voordat sy skool toe loop. Een oggend het tant Lenie haar van die draad af teruggeroep om eers die water te kom uitgooi. Nou moet ou-Melitie elke oggend kyk of al daardie werkies klaar is voordat Alie loop.
Daar hoor Alie Lulu se stem: “Môre, tant Lenie. Is Alie al klaar?”
“Tot siens, ou-Melitie,” sê Alie gou, gryp haar boeksak en spring oor die vloer agterdeur toe. “Môre, Lulu, tot siens, Mammie, tot siens, Hennie,” sê sy sommer alles so op ’n ry en soen tant Lenie en Hennie sulke vinnige wangsoentjies en daar spring sy agter Lulu aan in die veldpaadjie af.
“Nes ’n stokstert-meerkat darem, dié Alie,” sê tant Lenie en Hennie sê agterna: ‘Alie is ’n mee’kat, mee’kat, mee’kat, mee’kat …”
Alie en Lulu stap aan in die veldpaadjie, want dis korter as die karre se pad.
“Ek het ’n nuwe griffel, kyk,” sê Lulu. “Tonie het dit gister van die dorp af gebring. Kyk, daar is blou sterretjies op die papiertjie wat om die agterste punt gedraai is.”
Alie se oë val amper uit. Sy het nog nooit ’n griffel gesien met so ’n mooi papiertjie om die agterste punt nie, en Lulu het die griffel se punt geslyp dat dit so dun is soos die potloodpunte waarmee hulle skoonskrif skryf in die boeke met die swart lyne.
“Ek het op ons kombuistrappie gespoeg en die griffel daar geslyp,” sê Lulu. “Vandag gaan ek al my somme reg hê met hierdie griffel.”
“Oe, Lulu, dis die mooiste griffel in die hele skool,” sê Alie. “Lulu, sal jy dit vir my leen om net boaan die somme te skryf s-o-m-m-e? Ek wil dit net voel.”
Nou voel Lulu lekker. As Alie nie gevra het om ’n woord daarmee te skryf nie, sou sy nie tevrede gewees het nie, want dan sou dit vir haar gevoel het of die griffel nie vir Alie regtig baie mooi is nie.
“Jy kan s-o-m-m-e daarmee skryf, ja,” sê Lulu. “Maar ek het vir jou ook iets gebring, raai wat?”
“’n Nuwe lappie om mee lei skoon te maak?” raai Alie.
“Nog twee raaie,” sê Lulu.
“’n Kruisbessie,” raai Alie.
“Nog een raai,” sê Lulu.
“’n Prentjie vir my plakboek?” raai Alie.
“Almal verkeerd, almal verkeerd,” sê Lulu. “’n Leë sentbotteltjie van Mary vir jou lei se water, kyk hier,” sê Lulu en sy hou ’n fraai klein rondemaagbotteltjie vol water in haar hand.
“Oe, dis mooi,” sê Alie en sy steek haar hand uit.
“Maar wag dat ek dit oopmaak, dan ruik jy net hoe ruik jou leiskoonmaakwater,” sê Lulu en sy skroef die blink koppie af.
Dit ruik net soos juffrou Barnard se gesig as sy by jou buk om jou somme te merk, dink Alie, en sy maak haar oë toe soos sy ruik.
“Oe, Lulu, dis mooi, baie dankie,” sê Alie en sy hou die botteltjie styf vas in haar hand, sodat sy kan voel dis regtig daar. “Ek wens ek het ook groot susters gehad wat sent koop,” sê sy.
“Groot susters is sommer simpel,” sê Lulu en sy gooi haar kop agteroor, net soos Tonie maak as hy hom vererg vir Mary-hulle, en sy spoeg ’n lang straal in die gras, net soos Jantjies, want Lulu se voortand wat gewissel het, is nog nie weer uit nie.
Dis vir Alie amper net so mooi soos die botteltjie met die blink koppie waarin haar leiwater nou is, die kop se gooi en die spoeg in die gras.
“Kyk, daar kom die Britse se skoolkar,” sê Lulu. “Ek sal nie na die pad toe kyk nie, want dis Piet Brits se skuld dat juffrou Barnard ons van mekaar af gesit het.”
“Haai,” sê Alie, “weet jy wat, Lulu, Piet Brits sê in die skool waar hy eers was, skryf hulle van klein klassies af met potlode in boeke. Hy sê leie in die skool is sommer van nie beter weet nie.”
Lulu spoeg weer so ’n lang straal in die doringbossies in en sy gooi haar kop ver agteroor en dan sê sy: “Piet Brits is sommer simpel. As ’n mens op ’n lei skryf, kan jy ’n botteltjie hê wat lekker ruik vir jou skoonmaakwater en jy kan ’n bont lappie hê en jy kan ’n griffel met ’n mooi papiertjie om die agterpunt hê. Ek wil tog glad nie met ’n potlood in ’n boek skryf nie. Dis net van nie beter weet nie dat ander skole se kinders met potlode in boeke skryf.”
Nou voel Alie sommer beter. Laat Piet Brits net weer iets sê van Rietdraai se skool se leie en griffels, dan gaan sy haar kop net soos Lulu s’n gooi en vir hom net so sê, maar sy sal net nie so kan spoeg nie.
By die draad langs die ysterpaaltjie buk hulle tussen die twee doringdrade deur en dan is hulle op die bultjie. Van die bultjie af kan hulle die grys skooltjie onder in die duik sien lê.
“Die skool lyk net soos ’n ou treintjie met drie deure,” sê Lulu.
“Die skool lyk soos ’n ou vaal hennetjie wat sit en broei op ’n groot nes,” sê Alie.
“Oe, knolletjie, tolletjie!” skree Lulu. “Daar kom meneer Bronkhorst se perdekar al deur die skoolhek. Kom, Alie, ons moet hardloop, anders lui die klok voordat ons by die eerste klip kom.” Lulu gryp Alie se hand en hulle hardloop