“Kom ons speel ou-Melitie is die koningin en ons kom almal uit ’n vreemde land hier by haar aan. Elkeen moet ’n present bring, anders roep sy die tokkelos om jou na die watertronk toe te neem. Toe, Lulu, kom ons speel dit,” sê Alie.
“Goed,” sê Lulu, “dan is ek die prins, en jy en Sanna en klein-Melitie is my soldate.”
“Nee,” sê Alie, “ek is die prinses, en Sanna en klein-Melitie is die hofknape. Toe, jy kan eerste loop en dan praat jy eerste.”
Lulu pluk vir haar ’n stok, ry wydsbeen daaroor asof dit haar perd is en kom staan met ’n wye draai voor ou-Melitie. Dan buig sy dat haar swart hare tot in die sand sleep en sê: “Koningin van Rivierplaas, ek vra jou mooi, mag ek en my prinses en ons twee hofknape vannag hier in jou mooi land slaap?”
Ou-Melitie vat ’n slag aan die knolletjies op haar kop en dan sê sy: “Die prens sy kan slaap sos sy breng die pasella.”
Woerts pluk Lulu een van die wit knope van haar rokkie af en gee dit vir ou-Melitie: “Hier is jou present, Koningin, en …”
“Jôna whê!” sê ou-Melitie. “Lulu, hoekom jy’s so stout?”
“Ag nee, ou-Melitie,” sê Alie, “jy’s dan die koningin, jy moenie nou so praat nie! Lulu se susters sal die knoop aanwerk, wat. Maar nou moet ek weer sê, luister nou, ou-Melitie.”
Alie trek haar rokkie uit en laat dit agter haar op die grond hang. Nou moet Sanna en klein-Melitie elkeen ’n punt vashou. Dan buig sy laag voor ou-Melitie en sê: “Skone Koningin van Rivierplaas, vergun my om te oornag in jou poorte en te rus aan jou stille waters. Ek en my prins en die twee hofknape kom van ’n ver en vreemde land. Net wat jy my vra, sal ek jou gee, al is dit ook die helfte van my koninkryk. Miskien wil jy hierdie twee skone hofknape as prys aanneem vir jou goedheid en guns, en …”
“Ag nee, Alie,” sê Lulu, “jy praat nou net soos oom Krisjan. Dit hou te lank aan.”
Alie maak of sy nie hoor nie en gaan voort: “En hier is my geskenk aan jou – toe, Sanna, gee nou die blikkie vet vir ou-Melitie. Nee, jy moet eers buig, so.”
Sanna maak ’n klein stywe buiginkie en gee vir ou-Melitie die blikkie vet.
“Tanki,” sê ou-Melitie. “Nou ons moet die vet smeer by die prens se mense. Pakisa, Sanna.”
“Dis ’n goeie plan,” sê Alie, “ons speel sommer die koningin smeer die twee hofknape met die salf uit die blikkie om hulle te beskerm teen die draak wat hulle moet gaan vang.”
Ou-Melitie smeer haar twee kinders altyd in met die vet as hulle droog is ná die was en dan smeer sy haar bene ook in totdat hulle blink soos die bruin sitkamertafeltjie se blad.
“Hoekom smeer jy dan altyd die vet aan as julle gewas het, ou-Melitie? Nou is julle mos weer vuil!” sê Lulu.
“Sos ek was vor nonwe Alie, sy been is roi sos sy skoon is. Sos ek was vor Sanna en Melitie, sy been moet blenk sos sy skoon is,” sê ou-Melitie en sy staan op om haar droë klere van die bos af te haal en haar aan te trek. Dan skep sy die twee kleipotte vol water bokant die wasplek. Klein-Melitie kry die klein bruin potjie vol water op haar kop, ou-Melitie vat die groot swart pot vol water op haar kop en Sanna kry die blikkie vet. Nou stap almal op ’n ry teen die wal uit: Eers ou-Melitie, dan klein-Melitie, dan Sanna, dan Lulu en laaste Alie. Ou-Melitie se blou sisrok swaai in sulke klein kreukeltjies om haar enkels. Klein-Melitie se koppie lyk glad en blink onder die bruin kleipot en Sanna se kralebandjie wip-wip om die blink bruin middellyfie. Lulu gee sulke kort sprongetjies en probeer al op Sanna se skaduwee trap. Alie ruik die lekker biesieruik van die rivier en luister na die kiewiet wat voor ou-Melitie se voete opvlieg en skree: “Huis toe! Huis toe!”
’n Oggend in die Vakansie
Alie hoor eendag juffrou Barnard sê vir tant Lenie: “Ag, hoe bly is ek tog oor die skoolvakansie wat aankom, dan kan ’n mens tog weer lekker laat slaap.”
Dit kan Alie glad nie verstaan nie. As dit skooltyd is, is dit vir haar tog te swaar om soggens op te staan as ou-Melitie haar roep, maar as dit vakansie is, dan kan sy soggens nie wag dat ou-Melitie haar koffie met die twee lepeltjies en nog ’n bietjie suiker moet bring nie. Elke dag van die vakansie voel vir haar soos die perdekar wat net wil-wil wegry dorp toe voordat sy al opgeklim het. Daar is sulke baie lekker dinge om te doen as dit vakansie is, en Alie is altyd bang as sy nie gou opstaan nie, sal die dag sommerso omblaai soos ’n storieboek se bladsy voordat ’n mens al die sinne klaar gelees het.
Die eerste ding en die lekkerste ding van ’n vakansiedag is dat sy nie in die oggend aan die tafel hoef te gaan sit en eet nie. Solank tant Lenie en oom Jan en Hennie aan tafel sit en eet, maak Alie haar bed op en sy maak tant Lenie-hulle se ou groot bulsakbed op, net soos ou-Melitie haar geleer het. As die yslike ou vereberg omgekeer is op sy ander kant, trek sy die ronde stok by die voetenent uit en stryk die bulsak van hoek tot kant mooi glad en gelyk.
“Nonwe Alie, jy mot vee-vee by darrie bed tot sy staan sos die grasveld, moi gelyk, nie tot sy stan sos die koppietjie nie,” het ou-Melitie haar geleer. Nou kan Alie dit al so kry soos die grasveld, mooi reguit en gelyk.
Net soos sy die laaste kussing so woep-woep geklop en neergesit het, glip sy by die voordeur uit, oor die stoep en om die huis se hoek en dan gaan sy staan, sommer net staan om sommer net te kyk: in die sonkol langs die huis se symuur staan die swart pappot met die wit pap soos wit heuweltjies daarin, en daarby die blou bakkie met die bruin vleissous in. Langsaan sit ou-Melitie, lekker langbeen met klein-Melitie by haar voete en Sanna langs haar linkerarm. Doodstil sit hulle, en ou-Melitie kyk ver weg, asof daar g’n stuk pappot staan nie. Net soos Alie om die hoek kom, roep ou-Melitie net so ver weg soos sy kyk oor die perskebome in die tuin: “Nonwe Alie! Nonwe Alie! War es nonwe Alie?”
Dan gee Alie sulke kort eenbeensprongetjies, oor ou-Melitie se reguit bene, en klaps val sy langs klein-Melitie neer.
“Hier is ek!” sê sy en sy skop haar beentjies net so lankuit soos ou Melitie s’n, sit haar voete oorkruis en trek-trek aan haar rokkie om dit ook so tot oor die enkels te kry, net soos ou-Melitie s’n. Dan sê ou-Melitie: “Jôna whê! Ek soek vor nonwe Alie ver, maar sy set naby. Lat stan darrie rokkie, nonwe Alie, sy sal skeur. Sos sy’s grot, jou bentjie sy sal dek word, jou rokkie sy sal lank wees. Die son sy moet skyn by darrie bentjie, lat stan nou die rokkie.”
Almal op Rivierplaas weet hoe graag wil Alie lang dik vlegsels hê, almal, van ou Hoppies af tot by Kappie, die ryperd, want sy het al vir almal daarvan vertel. Maar van Alie se beentjies – niemand weet dit nie, nie tant Lenie nie en nie die rooibont hoendertjies nie – nee, niemand met wie sy baie gesels, weet dit nie, net ou-Melitie. Net vir ou-Melitie sê sy party dae: “Ou-Melitie, hoekom is my beentjies so dun? Ek wil so graag ronde beentjies hê, vet beentjies soos Sanna en klein-Melitie.”
Dan sê ou-Melitie: “Ronne bentjie, sos Sanna en klein-Melitie? Hoekom jy wel die ronne bentjie hê, nonwe Alie?”
Dan sê Alie: “Omdat Attie Poen by die skool gesê het my beentjies is so dun dat hulle my spykerboud moet noem.”
Dan vat ou-Melitie aan haar kopdoek, net daar waar sy haar blikkie snuif bêre, en sy sê: “Nonwe Alie, sos sy sê weer vor jou so, nou jy sê neks, jy loop net weg by darrie kend. Jou bentjie sy sal dek word, moi dek van die son sos jy word grot. Jy moet nout nie denk by darrie bentjie nie. Sos jy denk by darrie bentjie, hulle bly den, sos jy vorgeet darrie bentjie, hulle word dek.”
Nou probeer