“Ek het nie geweet hy sal so gou vinnig ry nie,” sê sy. “Sjoe, my been brand,” en sy spoeg op haar bak hand en vryf oor die nerfaf been.
Alie soek-soek in haar kop na ’n woord om te sê, maar van skrik kan sy nie een raak vat nie, haar mond bly net oop.
“Kom, ons moet nou gou loop,” sê Lulu, en sy draf aan na die emmer toe.
“Jy kon jou ongelukkig geval het,” sê Alie toe hulle weer die emmer optel, net soos tant Lenie altyd vir haar sê as sy seerkry. Dis die eerste woord wat sy kan raak vat.
“Aag,” sê Lulu, en sy gooi haar kop so agtertoe, “dis niks seer nie. Maar kyk hoe donker word die lug.”
Alie sien nou eers hoe donkerblou lyk die lug, net soos uitgevalde ink.
“Daar kom ’n weer aan,” sê sy, net soos oom Jan altyd sê.
“Dalk kry ons nou die dag af,” sê Lulu. “Kom ons loop vinniger.”
By die skool sien hulle meneer Bronkhorst op die kliptrap voor sy deur staan. Hulle weet hy kyk na die weer.
Toe hulle by juffrou Barnard se deur ingaan, kom Petrus Snyman van graad ag agter hulle in.
“Meneer sê almal moet dadelik gaan inspan en huis toe gaan,” sê hy. “Die weer kom op.”
“Nou ja, kinders, pak gou julle boeke in en staan,” sê juffrou Barnard.
Dit gaan soos die vinke saans in die populierbos soos almal boeke inpak.
“Dag, kinders,” sê juffrou Barnard.
“Dag, juffrou,” sê almal, en Alie hoor nie weer Lulu se stem los deur die ander s’n ryg soos altyd nie. Nou weet sy darem Lulu het groot geskrik, anders sou sy nie vergeet het om weer ’n ander stemmetjie te maak nie.
Buitekant skree almal vir die donkies in die kampie, en Alie en Lulu help gou vir Cillie inspan, want dit word al hoe donkerder. Die lug lyk vir Alie soos ’n groot tafeldoek waarop die ink uitgeval het, en nou kom die donker inkkol al hoe nader.
Piet Brits en sy broertjie is eerste klaar en ry al by die hek uit toe Alie nog die een swingel vir Cillie vasmaak. Tweede ry Anna Poen en haar twee broers, en dan trek Cillie agterna. Die Krouses sukkel nog met hulle donkies, sien Alie toe sy en Lulu op die bultjie deur die kampdraad klim om deur die veld huis toe te loop. Agter die grootste koppie trek die weerlig sy eerste blink streep teen die lug, en kort daarna brul die donder ver anderkant die verste koppies. As almal vinnig ry, sal hulle voor die storm by die huis wees, dink Alie.
As die ou weer sy Afrikanerbul laat brul agter die kop, is hy nog nie so op jou hakke nie, sê tant Lenie altyd, maar as hy eers sy sweep so oor die koppe klap, moet jy weet hy vat-vat aan jou rug, en dan wil hy niemand buite sien nie.
Ou-Melitie staan voor die rondawel en waai vir Alie en Lulu en wys hulle moet vinniger loop.
“Ou-Melitie is weer bang vir die weerligvoël,” sê Lulu. “Ek is nie bang vir hom nie. Ek sal net doodstil sit op ’n klein hopie in die veld, ver van ’n boom af, dan sal hy my nie raak pik nie.”
“Haai,” sê Alie, “dit sal mos nie help nie. Hy het ’n bek soos ’n slang se tongetjie, hy skiet dit so heen en weer, heen en weer, sê ou-Melitie, en tussenin slyp hy dit skerp teen die lug, en dis die kere dat hy die blink wikkelstrepe teen die lug maak. Oe, as hy jou darem raak pik!”
“Wat dan?” vra Lulu, en sy vryf die been wat sy so nerfaf geval het.
“Ou-Melitie sê as hy jou raak pik, is dit so goed soos iemand trek met ’n vuurgriffel ’n streep deur jou. Dan krimp jy klein-klein op en jy lê doodstil en jy roer nooit weer nie.”
“En is dit seer?” vra Lulu.
“Natuurlik is dit seer! Vuur maak mos seer, seerder as nerfaf val, sowaar,” sê Alie.
By die werfhekkie loop ou-Melitie hulle tegemoet. Die lug is amper so donker soos aand, en die vuurgriffel trek vinnige strepe teen die inkblou lug.
“Kros-jor-hart-en-doun-sy,” sê Lulu vir Alie, en Alie weet dis oor die val.
“Jôna whê, nonwe Lulu,” sê ou-Melitie, “wat jy’t gemak by darrie been? Jy was weer banja stout, ek hor hom darrie deng van die kros-jor-hart.”
“Lulu het geval, ou-Melitie,” sê Alie. “Dis regtig niks nie.”
“Jy moet gou loop, nonwe Lulu, die storm sy’s naby,” sê ou-Melitie.
Lulu gee so ’n paar vinnige spronge in die voetpaadjie op en waai vir ou-Melitie en Alie so in die spring. Voor die winkeltjie staan Lulu se pa en wys sy moet vinnig kom. In die veldpaadjie skree net een kiewiet ’n harde skree, en dan slaan die weer so ’n sweepslagslaan, en Alie weet nou is die storm by Rivierplaas.
“Jô, nonwe Alie,” sê ou-Melitie, “loop by die huis, die grot voël sy pek nou naby.”
Plops val ’n groot, swaar druppel op Alie se kop, net toe tant Lenie roep: ‘Alie, kom in die huis in, kind, en laat ou-Melitie die agterdeur toemaak.”
Vinniger, vinniger val die groot swaar druppels, en buite in die skemer veld hoor Alie aaneen die een kiewiet skree: “Swaar weer! Swaar weer! Swaar weer!”
As die Skeerders Kom
Op ’n Maandagoggend toe Alie nog sit en eet, roep ou-Melitie haar na die eetkamervenster toe: “Kyk wie loop daar, nonwe Alie.”
Alie kyk na die grootpad wat dorp toe loop, en net waar die pad tussen die twee klipkoppies deur wegraak, kom vier Basoeto’s aangestap.
“Die skeerders!” skree Alie, en sy word so bly dat haar maag heeltemal anders voel, so asof dit skielik nie meer daar is nie, en nou wil sy ook sommer nie meer eet nie. Sy het lankal gehoor oom Jan sê hy het die skeerders gaan soek, maar Alie vergeet al die stories van die skeer totdat sy op ’n dag die vier Basoeto’s tussen die twee koppies deur sien kom. Dan, weet sy, is dit skeertyd op Rivierplaas, en dis amper so lekker soos skoolvakansie of ’n kissie van die Boland. Die week as dit skeertyd is, het Alie nooit een som in die skool reg nie, en haar hele kop is deurmekaar, want sy wag net dat dit moet middag word, sodat sy kan huis toe gaan en na die skeerdery gaan kyk.
Ou-Melitie praat niks meer van die etery nie, sy sê net: “Nonwe Alie, jy moet darrie koppie leeg maak van die skeer vandag, anders jy sal sleg loop by die skool.”
Die middag kom Alie en Lulu soos twee springhase deur die veld huis toe. Gou-gou eers ou rokke aantrek, skoene uittrek en eet, dan kan hulle na die skeerdery in die waenhuis gaan. Toe Alie by die waenhuisdeur kom, staan Lulu al daar. Langs die waenhuis is die houtkraaltjie waar die skape vol wol nog staan, en op ’n ry teen een muur sit die skeerders, die vier Basoeto’s wat die oggend gekom het, en ou Hoppies en Jantjies. Sammie moet by die deur staan, want hy moet kort-kort vir een ’n skaap gaan uitvang. Dit lyk vir Alie altyd te snaaks as ’n skeerder so wydsbeen sit en voor hom sit die ou skaap ook so agteroor met twee pote in die lug en twee pote op die grond en die wol rol so af oor sy maag, net soos die bruinwit skuim uit die seeppot as tant Lenie buitekant seep kook. Ghwier, ghwier, ghwier gaan die skêre, vinnig en deurmekaar, net soos ’n klomp paddas wat met skerp stemme saam sing.
Die vinnigste van almal skeer ou Joas, die ou Basoeto wat al wit knolletjies op sy kop het van oud word en wat elke jaar voor loop as die vier skeerders tussen die rantjies deur kom. Oom Jan het ’n seilsakkie vol lootjies, sulke kort wit stokkies, en elke keer dat ’n