Ou-Melitie se blou sisrok maak sulke kort, kort swaaitjies soos sy om die bed se hoek en by die kamerdeur uit draf om te gaan tafel dek, en Alie sluk haar koffie vinnig in. Nou gaan sy haar vinnig aantrek en dan kan ou-Melitie dalk nog ’n storie vertel voordat sy skool toe moet gaan.
Net so staan Alie in die oggend op, elke oggend. Nee, darem nie elke oggend nie, want Woensdag is anders as ander dae, en Woensdagoggend is anders as ander dae se oggende. As ou-Melitie op ’n Woensdagoggend die groen blinding so sjirts laat opgly, sê Alie dadelik: “Ou-Melitie, vandag weet ek tog dis Woensdag. Woensdag is ’n blou dag, blou soos my valletjiesrok en soos jou sisrok.”
“Hoekom sy’s blou?” vra ou-Melitie, en sy maak of sy niks daarvan weet nie.
“Woensdag is blou, want Woensdag lees juffrou Barnard vir ons ’n uur lank stories uit haar groot boek voor. En Woensdag doen ons nooit hoofrekene nie, en Woensdagmiddag gaan julle by die rivier was, en dan gaan ek en Lulu saam. Lekker!” skree Alie en sy swaai soos ’n valk wat opvlieg uit die bed uit en pluk ou-Melitie ’n slag in die rondte voordat sy haar klere gryp om aan te trek. “Jôna whê!” sê ou-Melitie en sy hou haar dom. “Die mevrou sy sê Maandag sy’s blou. Hoekom Maandag sy’s nie blou nie, nonwe Alie?”
“Maandag is nie blou nie,” sê Alie tussen haar onderrokkie se voue deur, “Maandag is rooi, bloedrooi soos jou kopdoek, want dan is juffrou Barnard altyd kwaai en sy gaap baie agter haar hand. Ou-Melitie,” en nou kyk Alie eers na die deur se kant toe en dan praat sy so agter haar hand soos ou tant Katrina maak as sy in die kerk praat, “ou-Melitie, ek het gehoor tant Martha sê juffrou Barnard flankeer te veel op die dorp in die naweek, nou is sy Maandag vaak in die skool. Wat beteken flankeer, weet jy?”
“Jôna whê,” sê ou-Melitie en sy knyp haar oë styf toe soos een wat amper nies of amper lag. “Nonwe Alie, darrie woord sy’s nie goed nie en sy’s nie waar nie. Jy moenie darrie woord praat nie.”
“Maar ek sê vir jou, Maandag is ’n rooi dag. En Dinsdag is ’n groen dag, want Dinsdag skryf ons altyd ’n somtoets en ons doen hoofrekene, en dan staan ek altyd onderkant Anna Poen in die ry, want ek het altyd minder as sy vir die somme,” sê Alie met haar rokkie in haar hand.
“Jô, hoekom jy’s dom by darrie somme, nonwe Alie?” vra ou-Melitie.
“Ek hou nie van somme nie, ou-Melitie, ek hou van leesles en van diktee. Donderdag is ’n geel dag, want dan skryf ons diktee en staan ek heel bo in die ry, heel bo by die venster wat langs die skool se draad is, want ek het altyd die meeste van almal in diktee.”
“Jô, nonwe Alie,” sê ou-Melitie, “jy trek jou rok aan en hoekom jy was nie eers jou gaseg nie?” En dan gooi ou-Melitie die water uit die beker met die blou blommetjies in die wit kom met die blou blommetjies onder op die boom.
“En Vrydag is ’n wit dag, want Vrydag maak ons ons banke skoon, en Vrydag het ons Engelse leesles, maar Vrydag is so lank, dit wil nooit gou middag word nie,” sê Alie so tussen die hande vol water waarmee sy gesig was deur.
“Nou jy moet gou maak, nonwe Alie,” sê ou-Melitie by die deur, “sos jy loop moi die hele dag, jy sal saam loop by die rivier vandag.”
Woensdagmiddag is ou-Melitie se groot wasdag by die rivier. Dan sit sy die groot swart kleipot op haar kop, vou die stukkie boerseep in die doek wat sy in ’n rolletjie om haar middel dra, roep vir klein-Melitie en Sanna en stap af rivier toe. Op ’n ry stap hulle, eers ou-Melitie met die swart pot op die kop en die blou sisrok wat so swaai-swaai om haar enkels, dan klein-Melitie, wat net ’n kralebandjie om het en ’n klein bruin potjie op die kop dra, en agter haar Sanna, wat ook net ’n kralebandjie om die middellyfie het en op haar kop die plat blikkie vet dra. By die plaashuis verby loop die voetpaadjie deur die pendoringbome en met ’n draai teen die rivierwal af tot by die groot plat vaalwit klippe langs die stroom, waar Emily altyd Maandagoggende die bondel wasgoed was. Oral in die voutjies op die plat klippe lê die wit strepe van Emily se boerseep en die blou strepe van Emily se blousel. Op die kleinste wasklip sit ou-Melitie haar swart pot neer, sy maak die doek om haar middellyf los en sit die spierwit boersepie langs die pot neer. Dan sit klein-Melitie haar bruin potjie langs die swarte neer en sy begin die kralebandjie om haar middellyf losmaak.
“Pakisa, Sanna,” sê ou-Melitie vir Sanna, wat nog met die blikkie vet op haar kop na die water staan en kyk. Dan sit Sanna die plat blikkie skaapvet ook langs die twee kleipotte neer en sy begin haar kralebandjie ook losmaak.
“Wha!” skree een opeens tussen die pendorings uit. Klein-Melitie skrik so groot dat sy amper van die wasklip af in die water val, en ou-Melitie vlieg so vinnig om dat haar rok ’n swaai in die lug maak.
“Jô,” sê sy, “sos nonwe Alie sy loop saam by Lulu hulle is banja stout.”
Alie en Lulu spring bo van die wal af tussen die pendorings uit tot in die riviersand agter die wasklippe.
“Het jy geskrik, ou-Melitie?” vra Lulu. “Ag whê, jy het tog geskrik!” en sy skud haar kop dat die swart hare net so vinnig swaai soos ou-Melitie se sisrok.
Ou-Melitie maak of sy nie hoor nie. Sy sê net: “Pakisa, Sanna.”
Dan staan Sanna nader vir haar was. Sy gaan staan op die groot wasklip, naby die rand, ou-Melitie vat die wit boersepie, duik hom ’n slag in die water in en vryf dan ’n groot wit skuim tussen haar lang maer hande. Dan sit sy die sepie weer neer en vryf met daardie skuimhande oor Sanna se hele lyfie. Dis vir Alie te mooi as die seep sulke wye nat paadjies oor Sanna se boepmagie maak. Sanna se ogies knip-knip so by elke vryf wat ou-Melitie gee, en kort-kort lig haar voete half van die klip af op so is die vryf. Tot bo-oor Sanna se kaal kop en oor die klein knolletjie hare wat reg voor op die kop sit, vryf ou-Melitie met haar skuimhand.
“Jôna whê,” sê Lulu, en sy probeer om net soos ou-Melitie te praat. “Jy vryf te hard, ou-Melitie.”
Alie weet ou-Melitie hoor, want sy vat met haar nat hand aan haar kopdoek, net daar waar sy die plat blikkie snuif bêre, maar sy maak of sy nie hoor nie; sy vryf net aanmekaar. Dan lig sy haar regop en gee Sanna ’n klappie op die arm met haar nat hand. Dit beteken sy het klaar met Sanna. Klein-Melitie is al groot genoeg om ’n klein kleipotjie op haar kop te dra en om haar eie seepskuim te maak en haar self in te vryf. Ou-Melitie kyk net van naby om te sien of klein-Melitie se bene en ore goed skoon is, dan gee sy haar ook ’n klappie op die arm.
Net soos twee groot blink torre klim Sanna en klein-Melitie nou stadig van die wasklip af in die vlak water en dan staan hulle met die blink seeplyfies in die poeletjie dat ou-Melitie hulle kan afspoel. Groot-groot hande vol water skep ou-Melitie en gooi dit oor die blink lyfies totdat al die seeppaadjies afgespoel is.
“Tokkelos! Daar kom die tokkelos!” skree Lulu opeens. Alie se nek ruk van die skrik, maar Sanna en klein-Melitie met die blink nat lyfies gee net twee spronge, soos twee spreeus op ’n vyeboom se tak, dan staan hulle bo-op die wasklip en klou aan ou-Melitie se wye blou sisrok vas. Nou is ou-Melitie regtig kwaad, en haar stem is amper so rooi soos tant Lenie s’n as sy Alie partykeer roep.
“Lulu, sos jy maak weer darrie deng, ek sal die mevrou sê, nou jy sal nie weer hier by die rivier loop nie,” sê sy.
Lulu hoor amper nie eens nie, want sy lag so hard en so lekker dat ’n katlagter eintlik verskrik uit een van die doringbome opvlieg. Ou-Melitie gee Sanna en klein-Melitie elkeen ’n goeie skud om die nat lyfies en die nat hande van haar sisrok af te kry, en laat hulle dan sit op die groot plat wasklip in die son.
“Hoekom droog jy hulle nooit met ’n handdoek af nie, ou-Melitie?” vra Alie.
“Sos jy’s wet, jy droog af by die handdoek. Sos jy’s swart, die son sy’s jou handdoek, nonwe Alie,” sê ou-Melitie.
Alie vat aan die warm wasklip en dit voel vir haar asof die son