“Ou-Melitie!” roep tant Lenie by die kombuisdeur. “Is julle nog nie klaar nie? Wat is dit weer vanoggend met jou en Alie?”
Ou-Melitie se rok maak sulke kort bogies om haar enkels soos sy met die pappot om die hoek draf.
By die kombuisdeur kry Sanna en klein-Melitie elkeen ’n stukkie brood en perskekonfyt en Alie kry ’n koppie melk. Dan sit sy dit op die kliptrappie voor die kombuisdeur en drink en sy kyk hoe Sanna en klein-Melitie by die melkkamer se deur die dopemmertjie vol melk by ou Hoppies vat en die voetpaadjie afstap strooise toe. Die vier ronde swart beentjies blink in die son, en Alie wil net haar wit beentjies voor haar uitskop om nog ’n slag te kyk, dan sê ou-Melitie agter haar: “Nonwe Alie, sos jy vee vor my die stoep, jy sal vamerrag saam loop by die rivier.”
Dan gryp Alie die ou skewe stoepbesem by ou-Melitie en sy spring in die rondte met die besemstok se punt op haar een handpalm en die besem in die lug.
“Vakansie! Lekker vakansie!” skree sy so hard dat ou Piet, die ou grys kat, net een spring gee en verskrik agter die rondaweldeur op ’n hopie gaan sit.
By Ouma op Brakfontein
Oom Jan en tant Lenie en Hennie is weer Bloemfontein toe, en Alie bly by Ouma op Brakfontein. Brakfontein het ’n gronddam en ’n populierbos en garingbome en turksvye en ’n vieruurboompie langs die voordeur; dis die mooiste dinge op Brakfontein. En Brakfontein het ’n kampie waarin daar ’n grondgraf is en waarin daar ’n Engelsman begrawe lê. Dis die wonderlikste ding op Brakfontein. Maar dan is daar nog drie dinge op Brakfontein wat die lekkerste dinge is, en dit is dat Alie in ’n klein bedjie met ’n bulsakkie slaap wat so ’n wal maak om jou as jy daarin gaan lê, dat sy soggens saam met Cillie op die donkiekarretjie skool toe ry en partykeer ook die leisels mag hou, en dat sy saans saam met Ouma en Cillie en tant Sannie voor ’n mieliestronkvuur in die swart stoof in die kombuis sit. Baie al het Alie vir ou-Melitie gevra: “Ou-Melitie, watter een van die drie dinge sal dan nou vir my die lekkerste wees – om op ’n bulsakkie te slaap of om soggens op die donkiekarretjie skool toe te ry of om saans in die kombuis voor die mieliestronkvuur te sit?” Ou-Melitie het ook nooit mooi geweet nie en toe het sy eendag gesê: “Sos jy slap by darrie belsakkie, des die lekkerste by die nag. Sos jy ry by die karretjie, des die lekkerste by die oggend. Sos jy set by die ouma by die vuur, des die lekkerste by die aand. Nou alman es die lekkerste, nonwe Alie. Hoekom jy vra nou?” Toe het Alie ou-Melitie se voorskoot ’n harde pluk gegee en gesê: “Ou-Melitie, van almal wat ek ken wat slim is, is jy heeltemal, heeltemal die slimste! Regtig!”
Nou wonder Alie nooit meer wat die lekkerste is op Brakfontein nie. In die aand as sy en Cillie en Ouma en tant Sannie klaar aan die groot tafel in die eetkamer geëet het, dra tant Sannie Ouma se wye stoel met die riempies wat so blokkies-blokkies in die mat is, na die kombuis toe, en dan gaan Ouma daar sit, langs die stoof. Dan sit Cillie op die een kombuisbankie, tant Sannie sit op die een kombuisstoel en Alie kruip in die leë hoekie van die stronkekissie in, sommerso teenaan die swart stoof. Dan kyk sy hoe die kersliggie so waai-waai op die kombuistafel en die skaduweetjies so lek-lek aan die vloer, en hoedat die rooi vlamme sulke klein liggies maak op Cillie se dik vlegsels. Dan lyk dit nie meer soos die groenmielies se baard nie, dan lyk dit soos ’n donker takkie met vuurvliegies op. En heel laaste kyk Alie altyd na Ouma se hande, wat so wit is op haar swart voorskoot, en die breë goue ring wat aan een vinger is. Dis so mooi, daardie breë blink band, maar Alie dink altyd dit sal mooier gewees het as dit soos ou-Melitie se armbande los kon wees en “trienge-rieng” sê as Ouma so stadig beduie met haar hande. Ouma se gesig is net so wit soos haar hande, maar haar oë is bruin, bruin soos die ronde mispels wat op die koppies op Rivierplaas groei, so lyk hulle in die oggend as Alie haar soen voordat sy op die karretjie skool toe klim. Maar as Ouma saans so stil sit en sy kyk na die vlammetjies wat so op en neer, op en neer in die bek van die swart stoof dans, dan is haar oë weer bruin soos die watertjies in die leidammetjie in die tuin.
Dan sê Alie: “Ouma, ou-Melitie sê dis ’n Engelsman wat in die grondgraf in die draadkampie hier langs die pad begrawe lê? Is dit so, Ouma?”
“Hedetjie, Alie,” sê tant Sannie, “as ek nou moet tel hoeveel keer jy al daardie storie gehoor het, sal ek nooit genoeg vingers en tone daarvoor hê nie. Begin jy al weer daarmee?”
“Alie, my liewe hartjie, is jy nog nie moeg van daardie storie van die Engelsman nie?” sê Ouma, en om haar oë kom nog meer fyn rimpeltjies as sy wegkyk van die vlammetjies af na Alie wat so tussen die stronke sit.
“Ag, asseblief, Ouma, vertel dit nog net hierdie keer weer. Asseblief, Ouma!” sê Alie, en sy wikkel haar nog dieper tussen die stronke in.
“Jy sê altyd so, en as jy hier kom, wil jy dit weer hoor, Alie. Jy ken dit mos! Ek sal jou sê, jy kan vertel en dan sal Ouma sê waar vertel jy verkeerd,” sê Cillie.
“Dit sal ek graag wil hoor,” sê tant Sannie. ‘Alie sal die storie so vertel dat ons nie sal weet dis dieselfde storie nie. Sy sal sommer baie dinge aanlas.”
“Toe maar, hartjie,” sê Ouma, “as jy graag die storie weer wil hoor, sal ek dit vertel. Maar dan moet jy nou nie vannag weer skree nie, hoor? Dit moet jy eers belowe.”
“Sowaar, Ouma, ek sal nie vannag skree nie. Ek belowe,” sê Alie, en haar voorkop trek twee diep plooie, so goed belowe sy.
“Ja, vannag stap die Engelsman weer uit die vrykamer uit en hy vat jou so aan jou kort haartjies agter jou nekkie,” sê tant Sannie, en dadelik voel Alie se hele rug so koud soos die yswater wat soggens in die slootjie langs die huis lê, van pure bang, maar dis nie ’n lekkerkry-bang nie.
“Nee, wag nou, Sannie,” sê Ouma. “Dis nou gans en al onnodig.”
“Ag, asseblief, Ouma, vertel die storie. Toe, Ouma, ek sal regtig nie vannag skree nie,” sê Alie sommer gou voordat hulle op haar gesig kan sien haar rug is so koud soos die waterslootjie se yswater.
“As Ouma vertel, moet jy nie weer tussenin sê soos jy altyd maak nie,” sê Cillie.
“Ek sal niks tussenin sê nie, ek belowe,” sê Alie en haar voorkop trek weer twee diep plooie, so goed belowe sy.
“Nou ja,” sê Ouma, “dan vertel ek maar weer ’n slag die storie, ai ja,” en Ouma sug so ’n lang sug, maar dis ’n ander soort sug as die wat oom Krisjan altyd sug as hy by oom Jan oor swaar tye kla. Oom Krisjan se sug kom sommerso uit sy baard, maar Ouma se sug kom uit haar oë, lyk dit vir Alie. Ná daardie sug bly Ouma eers ’n rukkie stil, want, so dink Alie, nou moet Ouma mos eers weer die Engelsman wat in daardie grondgraf is, lewend laat regop staan voordat sy kan begin vertel. Die storie begin mos waar hy lewe en op ’n wa sit.
“Ja, dit was kort nadat die Boereoorlog oor was en hulle die Vrede van Vereeniging geteken het. Toe kom ek met my vyf klein kindertjies mos uit die konsentrasiekamp uit by Kroonstad, en ou Andries Coetzee bring ons met die wa tot hier op die plaas. En hier sit ons moedersaligalleen,” en Ouma sug weer.
“En Oupa is toe mos nog op Ceylon ’n krygsgevangene, nè, Ouma?” sê Alie.
“Daar begin Alie al weer,” sê Cillie, en sy gooi haar een blink vlegsel sommer van ergernis oor haar skouer.
“Toe maar, my kind,” sê Ouma, en sy lig haar wit hand met die breë goue ring op; “laat staan jy nou vir Alie. Ja, oorlede Oupa was toe nog op Ceylon. Al wat toe van hierdie huis staan, was stukke muur, en die beste was die mure van die vrykamer. Nou ja, toe ek die middag laat hier aankom, met my vyf kindertjies, weet ek nie her- of derwaarts nie,” en Ouma sug weer.
“Toe dink Ouma: Waar berg ik my, waar vlug ik heen,” sê Alie en haar ogies word sommer groot en blink.
Alie sien Cillie kyk so ’n skewe kyk na tant Sannie, maar sy bly net vir Ouma kyk.
“Ja,” sê Ouma, en sy vat aan haar gesig, net soos ou-Melitie as sy amper lag of amper