Willempie voel aan haar hand soos die roomafskeier toe Alie dit die eerste keer probeer draai het, so vassit-vassit, en toe meteens begin hy skree, eers net soos ou Piet as sy stert in die spensdeur vasknyp en toe al harder, dat dit gaan soos Kommetjie as sy kwaad is oor haar kalf wat nie by haar is nie. Willempie hang net aan Alie se rok en hy skree aanmekaar, nie ’n skree wat is soos huil wat ’n mens huil as jy seerkry nie, en ook nie ’n harde praatskree wat jy skree as jy kwaad is vir Sammie-hulle nie, nee. Willempie skree sommer net. Hy druk so hard teen Alie dat sy teen die kant van die baal val en dit sommerso laat boepens maak na die buitekant toe.
“Alie!” skree oom Jan, en Alie hoor hoe rooi is sy stem. “Wat maak julle?”
“Niks, oom Jan,” skree Lulu. “Willempie is bang!”
“Lig hom op dat ek hom kan uittel,” skree oom Jan.
“Willem, stil nou, my seun! Wat makeer, Willem?” roep die dominee. Maar Willempie skree net sy skree, sonder praat en sonder huil, en hy druk Alie amper dwarsdeur die baal.
“Alie, maar si’ jy die kind oplig!” skree oom Jan weer, en sy stem word al hoe rooier.
Alie se stem wil glad nie kom nie, dit sit vas in haar keel, en net toe sy weer probeer of dit nie wil kom nie, sien sy Jantjies se kop oor die rand van die wolbaal kom. Hy buk oor, steek sy arms uit en sleep Willempie uit die wol uit boontoe. Nou skree Willempie nie net nie, hy skop saam met die skree en hy lyk nes ’n stukkende windpompwiel toe Jantjies hom oor die rand van die baal lig.
“Klim julle ook uit, Alie,” roep oom Jan se stem van anderkant die baal af, en Alie en Lulu klouter oor die rand en klim af met die trapleertjie wat Jantjies nader gesleep het.
Nie een van die skeerders se skêr sê “ghwier, ghwier, ghwier” nie, almal sit en kyk na Willempie. Die dominee probeer Willempie so vashou dat die woldonse nie aan sy swart klere kom nie, en Alie sien hoe vol vaal kolle is die dominee se baadjie van Willempie se skop. Willempie skree niks meer nie, hy huil net so ’n effense huiltjie. Hennie en Bennie sit op hul hurke eenkant met oop, ronde oë na hom en kyk, toe sê Hennie: “Whê, Willempie is tog bang!”
“Willempie is bang,” sê Bennie agterna.
Oom Jan probeer die donse van Willempie aftrek en hy sê: “Toe maar, broertjie, toe maar, kom ons gaan vra vir tant Lenie ’n koekie vir jou.”
Toe maak hy sy stem anders en hy sê: ‘Ag, dominee, dit spyt my opreg dat daar nou so ’n onaangenaamheid was.”
Ou Joas skud sy kop met die wit knolletjies heen en weer en vee ’n slag oor sy mond voordat hy buk om weer die wol met sy skêr vas te vang, en Alie sien hoe wit blink ou Hoppies se tande soos hy lag bokant sy skaap se lyf.
“Ghwier, ghwier, ghwier,” sê al die skêre weer, en dis vir Alie of sy en Lulu skielik wakker word uit ’n kort slapie met ’n nagmerriedroom in, toe oom Jan en die dominee met Willempie by die waenhuisdeur uitstap, met Hennie en Bennie soos twee stertjies agterna.
“My bene is tog vuiler as joune,” sê Lulu. Alie kyk af na haar bene, wat so lekker vetterig en vol vuil strepe is van die wol.
“Kom ons gaan klim op die bale wat Jantjies daar agter opgepak het,” sê Lulu.
“Nee, kom ons gaan speel op die kapkar, dan speel ons ons ry dorp toe en ek is die ma en jy is die pa en …”
“Ag nee wat,” sê Lulu, “ek is nie lus vir kom-ons-speel nie. Kom ons hardloop in die pad op en dan kyk ons wie se bene vang die meeste stof op.”
“Aliéé!” roep tant Lenie van die huis af, en Alie luister goed om seker te maak dat haar stem nie rooi is nie. “Kom drink julle koffie.”
“Het julle nog van die pitjie-soetkoek?” vra Lulu.
“Ja, kom,” sê Alie. Tussen die sakke in die waenhuis draf hulle deur, woeps oor die kardisselboom en by die klein deurtjie van die waenhuis agter uit spring hulle in die voetpaadjie af. By die eetkamervenster verby sien Alie die dominee en oom Jan en tant Lenie drink koffie uit tant Lenie se blommetjieskoppies, dis die kuiermenskoppies, en Willempie sit op ’n hoë stoeltjie langs sy pa en drink sy koffie ook uit ’n blommetjieskoppie.
“Willempie tel tande,” sê Lulu.
In die kombuis sit Hennie en Bennie elkeen met ’n bekertjie melk en ’n hand vol soetkoek teen die muur op die vloer, en ou Piet lek elke druppel melk wat Hennie stort met sy rooi tong op.
“Jôna whê, nonwe Alie,” sê ou-Melitie, “die bentjie sy’s banja vuil. Jy moet stan hier by die tafel. Nonwe Lulu, jy moenie darrie tong uitsteek by die kleintjies nie.”
Alie en Lulu kry koffie uit die wit elkedagse koppies en by elkeen se koppie lê ’n hand vol pitjie-soetkoekies.
“Zoem, zoem,” sê een ou vlieg al om die gompapier wat van die dak afhang, en ghoemps-ghoemps val die koffie in Lulu se keel af. Gou-gou drink hulle die koffie uit en dan wip hulle by die deur uit.
“Alie, ons gaan saam,” skree Hennie en hy val amper oor ou Piet, maar net toe maak tant Lenie die middeldeur oop en sy sê: “Hennie, kom speel jy en Bennie met Willempie voor die deur op die gras. Julle gaan nie weer na die skeerdery toe nie, hoor.”
Op die kweek langs die huis gaan Alie en Lulu lê en kou aan die soetkoekies met die amandelpitjies in. Die huis se dak maak ’n langpuntskaduwee oor die gras en die perskebome in die tuin.
Die lug is pesleintjie-blou en die wit skuimwolk wat so stadig verbyseil, lyk soos die gesig van ’n oupatjie met ’n lang baard, wat al hoe langer rek. Langs Alie se kop in die lang gras maak ’n torretjie ghirr, ghirr, ghirr.
Die Portret
Op ’n oggend toe Lulu langs die draad afkom vir die skool toe gaan, kom Alie na haar toe aangehardloop met sulke kort, kort sprongetjies.
“Jy lyk net soos Koos Janse se ou maer donkie in die swaar weer. Kan ek drie raaie kry?” sê Lulu, want as Alie die oggend nie by die hoekpaal bly wag nie, is dit omdat sy iets het om te vertel.
“Ja, eerste raai!” sê Alie en sy dans al in die rondte in die pad.
“Daar kom môre weer ’n kissie van die Boland,” raai Lulu.
“Uit, uit,” sê Alie. “Nog twee.”
“Jou ma het gesê jy kan maar lang hare kry vir vlegsels.”
“Uit, uit,” sê Alie, “nog een.”
“Jy gaan saam met ou-Melitie Basoetoland toe as sy nou weer huis toe gaan,” raai Lulu haar laaste raai.
“Oe!” sê Alie en sy vergeet heeltemal om te sê: “Whê, al drie verkeerd!” Net Lulu sal so ’n ding raai soos Basoetoland toe gaan saam met ou-Melitie, sy raai altyd sulke snaakse raaie.
“Hoekom sê jy dan nou nie?” sê Lulu, en sy stap sommer vinniger.
“Al jou raaie is verkeerd,” sê Alie. “Ou-Melitie gaan een van die dae weer Basoetoland toe, en nou gaan ons almal Saterdag dorp toe en by die afnemer gaan ons afgeneem word, ek en Hennie en ou-Melitie en as jou ma sê ja, gaan jy ook saam. Sal jou ma ja sê, Lulu?” en Alie dans weer al in die rondte, al in die rondte in die pad.
“Ek sal sê Tonie moet vra,” sê Lulu, “dan sal sy ja sê. Ek sal jou sê, Alie,