Die boek van gelukkige eindes. Debbie Loots. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Debbie Loots
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795802041
Скачать книгу
Verder voor hom in die vertrek staan twee ou wit leerstoele teenoor mekaar. Pasiënt en terapeut. Op die kelim staan ’n koffietafel met ’n boks tissues. Die blokkiesvloer het hy charcoal laat verf en toe laat politoer, dit laat die vertrek deftig lyk. Dis nodig, anders steek die twee vintage leerstoele af, lyk hulle onvanpas. Hy het hulle jare gelede op ’n vendusie teen ’n weggooiprys gekoop.

      Die etse en skildery teen die mure het hy alles een dag by ’n studente-uitstalling gekoop. Connie het dit nog saam met hom bygewoon. Ramona wou gaan. Sy was seker so sewentien, opgewonde oor die moontlikheid om kuns te gaan studeer. Hy onthou hoe bly hulle was, hoe hulle haar probeer ondersteun het. Dit was kort voor Connie hom van Sam vertel het. Dinge tussen hulle was stram. Hy onthou hoe sy probeer het, hoe vals sy was.

      Hy kyk af na die TED Talk wat hy gestop het, slaan die rekenaar toe, stoot sy gerestoureerde Skandinawiese kantoorstoel op sy nuwe wieletjies terug, en vou sy arms. Jan-hulle het hom genooi vir ’n bier by die kroeg naby die Tuine, maar hy is nie vandag lus vir die klomp nie. Hulle praat altyd oor dieselfde goed. Oor hoe kak die ouens Saterdag rugby gespeel het. Hulle lieg oor hoeveel keer hulle elke week met hulle vrouens seks het. Wat hulle nie weet nie, is dat twee van hulle vroue sy pasiënte is. Hý sal weet. En die mans drink te veel, te vinnig. Dan begin hulle rondkyk na die meisies in die kroeg, maak aanmerkings. Lag, vertel kak grappe. Spot hom oor hoe jonk Bella is. Hy weet hulle is jaloers. Nee, hy wil liewer huis toe. Hy’s moeg.

      In sy studeerkamer by die huis haal hy sy rekenaar uit, slaan dit oop en weer toe. Hy kyk of daar boodskappe op sy foon is, verwag iets van Bella, nuus oor waar sy en Emmie is. Hy wonder partykeer waarmee hulle hulleself besig hou, wat hulle in die middae doen. Gerta is ook nie hier nie, seker vroeg huis toe.

      Hy staan op toe hy hulle by die hek hoor inkom. Hulle was parkie toe, soos gewoonlik, sê sy. Haar kar staan in die garage. O, sê hy, en soen hulle op hulle voorkoppe hallo. Hy kyk by die venster uit en sien deur die staalheining ’n oranje Cortina in die straat staan. Hy skrik. Kan tog nie dieselfde een wees nie? Getinte vensters. Die kar begin stadig wegtrek, draai links om die hoek. Verdwyn agter die huis oorkant. Hy voel sy hart in sy bors klop.

      Skollies wat hom dalk soek? Nee. Hulle ry nie sulke ou karre nie. Maar dis tog nie toeval nie? Onmoontlik. Iemand soek iets. By hom. Hy het lankal Ramona se marijuana-skuld afbetaal. Met rente ook. Dit was ’n nagmerrie wat net nie einde wou kry nie en dit het die kontant in sy kluis ’n helse knou toegedien. Fok, hulle was omtrent knaend. Sy senuwees was op. Die gespuis waarmee sy haar darem al opgehou het. Hy hoop nie sy is al weer met sulke onderduimshede besig nie. Wat hy nie al alles vir die kind moes doen nie. Hy wil liewer nie daaraan dink nie.

      Eers toe Bella hom die derde keer roep, loop hy agter haar stem aan kombuis toe.

      “Jy sal nie raai wie’t my gebel nie,” sê Bella later. Sy is besig om paella te maak, ook haar ma se resep. Sy draai om en glimlag.

      “Wie?”

      “Rosa.”

      Hy is verbaas. “Hoekom?”

      “Sy het ons vir ete genooi. Saterdagaand.”

      Hy het gedink Rosa sou vergeet, hulle was so gekuier nou die aand.

      “Dis gaaf,” sê hy. Emmie sit op sy skoot. Hy probeer haar fyngemaakte wortels voer. Dis koud. Lyk soos kots. Hý sal dit nie eet nie, hoe kan hy verwag sy moet? Bella is streng. Sy moet haar groente inkry. Hy moet aanhou probeer.

      Toe sy terugdraai stoof toe, staan hy vinnig op en met die pienk plastiekbakkie in die hand en kind skeef teen sy heup vasgedruk, loop hy badkamer toe. “Ek bad gou vir Emmie,” sê hy oor sy skouer.

      “Dankie, Chris. Het sy klaar geëet?” roep sy agterna.

      “Ja, meeste,” sê hy.

      Hy krap die wortels met die pienk lepel in die toilet uit.

      Later kruip hy langs haar in. Sy is nog wakker. Hy kan stemme in Amerikaanse aksente hoor lag in die grasgroen oorfone oor haar ore. Hy kyk na haar, sy lê op haar sy, haar rug na hom toe. Haar lyf laat hom dink aan dié van ’n jong meisie, ’n vreemdeling in sy bed. As dit dan is soos hy dink dit is, dat ’n mens spesifieke mense kies om jou lewe mee te deel, hoekom juis Bella? Omdat sy ongekompliseerd is? Omdat sy maklik is om mee saam te leef ná die emosionele uitmergeling wat hy met Connie deur is? Omdat dit is wat hy op hierdie stadium wil hê, of nodig het? Eenvoud? Of is dit omdat sy professionele lewe meestal bestaan uit komplekse psigiese raaisels en legkaarte wat net soveel aanspraak op sy intellek maak as sy mensekennis? En dat Bella se kleurvolle Lego-brein wat hom meestal irriteer, soms ook welkome ontsnapping bring? Hy weet nie. Hy het nie altyd al die antwoorde nie.

      Hy trek sonder waarskuwing die iPad uit haar hande, en met die gedempte gille van mense wat op iets afkom, iets buitensporig merkwaardig ervaar, want hy sal sekerlik later vertel word hoeveel miljoene views die video al gehad het, trek hy haar syerige slaaphempie se bandjie af en begin aan haar tepel te suig.

      John

      Terwyl hy oopsluit, ruik hy die Brasso waarmee Gloria Dinsdae die kopernommers teen sy woonstel se deur blinkvryf. 21. Sy gelukkige nommer. Binne hang vanoggend se reuk nog in die lug. Gebraaide uie, spek, meestal eier. ’n Sweem van sy vorige aand se wynasem. Handy Andy. Die Cobra-politoer wat Gloria hom altyd vra om te koop vir hout en gelamineerde vloere. Hy maak die kombuisvenster oop, loop deur die sitkamer. Op die stoep lig hy sy sak van sy skouer af en skuur verby die droograk, die twee plastiekstoele, en verby die tafel waaroor sy groen trui netjies op ’n handdoek uitgelê en platgedruk is soos sy ma altyd met sy truie gemaak het. Hy het Gloria gewys.

      Hy maak die venster oop. ’n Sterk seewierreuk kom in. Daar is ’n spesifieke ritme in ’n plek se klanke, het hy besef vandat hy in Seepunt bly. ’n Paar seemeeue krys en swiep deur die lug. Hulle verdwyn agter ’n woonstelblok. Hy probeer die see hoor. ’n Boorpunt klap iewers teen sement – ou woonstelblokke maak plek vir nuwes.

      Die klank van branders wat vroegoggend teen die promenade se klipwal breek, word later deur Kusweg se verkeer geabsorbeer, en party somermiddae klink die wind se geloei om die woonstelblok soos die onheilspellende gefluit van hekse. Dis stil vandag.

      Op pad terug kombuis toe gooi hy sy sak op die bank neer en maak koffie in die Nespresso-masjien met een van die twee Milanogeur-pods wat nog oor is in die lang, elegante boksie. Dit laat hom soos ’n ryk man voel. Die dag toe sy afdankingsgeld en pensioen in sy bankrekening inbetaal is, het hy Waterfront toe gery en die masjien gekoop. Net mooi ’n jaar gelede. Die Sondag daarna het hy by sy ma gaan kuier in die aftreeoord buite Somerset-Wes, met sy slegte nuus op die hart.

      “Moenie worry nie. Ek gaan vryskut, Ma,” het hy gesê. “Almal doen dit deesdae. Hulle werk van die huis af. Mens spaar geld so, die maatskappye en die joernaliste.”

      Toe sy niks sê nie, het hy gesê hy het in elk geval ’n paar goed in die pyplyn wat hom sal deurdra. Dat hy weer opgewonde is oor sy lewe, dat hy kies om die afdanking te sien soos die base dit aan hulle probeer verkoop het: ’n geleentheid om oor te begin. En dit is so. Hy het homself oortuig dat die direkteure omgee oor hulle toekoms, hulle vier fiftysomethings wat soveel jare lank die koerant se getroue diensknegte was. Daar was selfs ’n gasspreker, ’n soort moderne career-guide-slash-life-coach, toebroodjies en tee. Hy het die moeite waardeer.

      “Skryf online, begin ’n blog,” het die outjie hulle aangemoedig. ’n Jong man met ’n baard, blink oë en ’n hemp vol helder, vaagweg bekende blompatrone waarvan hy nie kon wegkyk nie. ’n Glasbotteltjie water in die hand. “Raak ’n ekspert oor iets, skep ’n profiel sodat mense van jou weet, jou sal onthou. Laat iets na, die internet is die wêreld se vertoonkas waarin elkeen se eie spesiale karakter uitgestal kan word. Gebruik dit. Nou’s jou kans. Dis nie te laat nie.” Hy het sy hand met die botteltjie in hulle rigting aanhou druk, sy pinkie en ringvinger in die lug. “Júlle is die mense met kennis. Júlle kan ons leer. Júlle kan húlle leer,” het hy gesê en met die botteltjie wyer beduie, na die venster toe gewys.

      Skalkse kollegas wat dit gewaag het om in hulle rigting te kyk, kon hulle deur die glasvenster binne die kantoor sien, sien hoe begeesterd hulle is, sien dat hulle