“Hy’s ’n dokter, Ma,” het Mikey gesê, sy stem amper eerbiedig. “Wow. Salome lyk bietjie soos hy, dink Ma nie ook so nie? Daai trek om sy mond.”
Jy ook. As jy gewig verloor. Jy loop soos hy. Soms, as jy wegstap, dan sien ek. Die manier waarop jy jou bene so vooruitskop. Asof jy hulle uit hulle potjies sou kon skop, as jy wou.
Dis toe dat haar ma na haar toe draai en haar in die oë kyk, arms gevou. “Dis nie reg nie, weet jy, Mina,” het sy gesê, “dat die mans almal so wegkom met moord. En nogal ’n dokter. Hulle rol behoorlik in die geld. En so ewe op TV. Oop en bloot.”
“Oscar het nie weggekom met moord nie, hy sit in die tronk,” het Mikey gesê.
“Shut up, Mikey.” Hy het haar ma begin irriteer. Sy kon sien.
“Dis nie ’n skande om vir die pa van jou kind te sê om na sy kind te help kyk nie. Dis wat ons vroue dink. Ons vat alles op ons. Kyk nou vir jou. Daar werk jy in ’n slaghuis en probeer terselfdertyd jou boetiek aan die gang hou. Jou droom. Jy waitress nou ook al hoe lank om kop bo water te hou. Jy kry swaar. En dan bly jy hier. Dis nie die beste deel van Newlands nie. Jy moes anderkant die hoofpad gekoop het. Dié kant raak al hoe meer vervuil van die uitlanders. Hulle’s ’n gevaarlike klomp.”
Toe draai haar ma na oom Boet toe. Hy het doodstil voor hom uitgestaar, vroetelend aan die pyp en die pakkie tabak in sy hande. Sy kon sien hy was reg om op die stoep te gaan staan vir sy dampie. Sy ook.
“Daar’s net een ordentlike man wat die Goeie Vader op die aarde gesit het, en dis Boet.”
Sy kon sweer hy’t gehop toe haar ma sy naam sê; haar ma het so ’n manier, sy sê jou naam hard as sy met jou praat, asof sy wil seker maak jy luister.
“Wat van my, Ouma?”
“Jy’s nog nie ’n man nie, Mikey.”
“Ek is!”
“Ek’t jou nog nooit saam met ’n meisie gesien nie.”
“So what?”
“Jy sit heeltyd agter jou computer. Dis nie hoe mens ’n man word nie. Jy het ’n ander mens nodig daarvoor. Is jy nie dalk skeef nie? Jy lyk partykeer vir my so, weet jy. Jy kan bly wees jou oupa leef nie meer nie. Dít sou hom nou vroeg graf toe gestuur het as dit nie vir die kanker was nie. ”
“Ma!” Sy kan haar ma se nek omdraai as sy eers met haar gay-stories begin.
“Wat weet Ouma?” Mikey was dié keer goddank kalm. “Ouma is old school. Mens ontmoet deesdae mense online. Hoe weet Ouma waarmee ek besig is as ek myself nie doodwerk nie?”
“O,” het haar ma gesê, “so, sê jy jy’t nuus wat jou ouma se hart gaan bly maak?”
Mikey het sy kop geskud. Oordrewe gesug. “Ek sê mos. Ek werk heeltyd, Ouma, dag en nag. Dit vat tyd om ’n nuwe besigheid van die grond af te kry. Ouma weet seker van Steve Jobs en die ouens van Google? Hulle het almal uit hulle garages gewerk toe hulle jonk was. Programme design. Mét universiteitsgrade. Ek het niks, Ouma. Ma het nie geld om my universiteit toe te stuur nie. Ek moet myself help. Ek moet ekstra hard werk. Wys Ouma vir my ’n meisie wat ’n ou wil hê met niks agter sy naam nie, en boonop met niks geld in die bank nie?”
Toe kom hy met die idee vorendag. “Ek dink Ma moet hom in Kaapstad gaan soek.”
Sy’t haar dom gehou. “Ek moet wat?”
“Hom gaan soek, Ma. Salome se pa.”
“Vir wat?”
“Vir onderhoud. Vir alles wat hy Ma al die jare skuld.”
“Wat bedoel jy, al die jare?” Sy het senuweeagtig begin raak.
“Ek bedoel kinders is duur, Ma. Ma kon vir ’n ruk nie voltyds werk nie. Hy moet Ma alimony ook betaal. Nie net onderhoud nie.”
“Ja, weet jy,” het haar ma gesê, “Mikey is reg. Dis nie ’n slegte idee nie.”
Mikey het teruggesak op die bank, arms gevou. “Dankie, Ouma. So ek kwalifiseer nou as ’n mens?”
“Amper. Maar nie as jy skeeftrek nie.”
“Ma! My genade maar Ma is knaend!”
Die arme kind. Hy raak al sensitief daaroor. En wie sou nou nie? Iemand wat so aanhou karring en karring oor dieselfde ding. Hy’s kapabel en begin dit oor homself te dink. En dis die laaste ding wat hy nou nodig het. Om deurmekaar te raak oor sy seksualiteit. Nie dat sy omgee of hy gay is of nie, kyk mens hom so, dan’s jy as ma maar net te bly as iemand hom ’n kans wil gee.
“Ek het jou die kriteria gegee, Mikey. Wys my. Kry ’n meisie.”
Mikey het sy arms gevou, dieper in die bank afgesak en na die TV gestaar.
Toe kyk haar ma na haar en stamp haar teen die skouer. “Ek sê mik hoog en kyk hoe ver jy kom.”
“Wat bedoel Ma?”
“Sê jy wil ’n miljoen hê.”
“’n Miljoen wat?”
“Rand.”
“Ma wil hê ek moet hom geld vra?”
“Ja.”
“Hoekom dink Ma sal hy vir my ’n miljoen rand gee?”
“Want hy skuld Ma, big time,” het Mikey skielik gesê en homself regop getrek. Toe kyk hy weer so vir haar. So asof hy weet. Sy haat dit. Sy kyk altyd eerste weg.
“Want mens kan sien, Ma. Hy’s van daai soort. Hy’s ’n dokter. En dokters is skatryk. Ek’s seker hy het ’n vrou en ’n string kinders. Hulle weet van niks. Dat hy nóg ’n kind het nie. Wie weet, dalk is daar meer. Daai soort het nie net een girlfriend nie. Of een buite-egtelike kind nie.”
“Jy sê ek moet hom afpers?”
“Nee, Ma. Ma moet hom net kans gee om sy verantwoordelikhede na te kom.”
“Hoe’s dit anders as afpersing?”
Toe kyk haar ma vir haar stiefpa. “Oom Boet het mos ’n rewolwer. In die kluis. Jy kan hom saamvat.”
Mikey het uitgebars van die lag, die kanaal verander na een van kykNET se musiekkanale toe wat vir haar net soos Afrikaanse Bollywood-musiek klink.
“Go, Ouma!”
“Wat?” Sy kon haar ore nie glo nie. “Is julle almal kop in een mus?”
Oom Boet het in sy vuis geproes. Toe kan sy ook nie help om te lag nie.
“En wat’s miskien so snaaks?” Haar ma was verontwaardig. Haar stemtoon die een wat haar gewoonlik haar sin laat kry. Ten minste met oom Boet. Dis hoe sy hom al jare lank op sy plek hou. Hy met sy sagte hart, wat nog steeds met leepoë na haar ma kyk. Soms lyk dit of haar ma nie sien hoe hy vir haar kyk nie. Dalk is dit hoekom hy so hard aanhou probeer.
“Saamvat waarheen? Is Ma ook nou mal?” het sy gevra.
“Saamvat Kaap toe, Mina. Moenie maak asof jy nie verstaan nie.”
“Mikey sê ek moet hom afpers, Ma sê ek moet hom skiet as hy nie vir my ’n miljoen rand wil gee nie?”
“Nee, man! Ek sê nie jy moet die arme sot sommerso voor die voet afmaai nie. Dis nie nodig om gewelddadig te raak nie. Ten minste nie dadelik nie. Waarsku hom net.” Toe wys sy haar, staan op en beduie. “Hou die rewolwer aan die binnekant van jou baadjie, dan maak jy hom só oop terwyl jy praat. En dan maak jy die baadjie weer toe.” Toe kyk haar ma na oom Boet. “Maak jy net seker daar’s nie koeëls in die rewolwer nie, hoor, as iets fout gaan, blameer ek jou.”
Oom Boet was stom.
“Ma kyk te veel soapies,” het sy gesê en opgestaan. “Is die program opgeneem, Mikey?”
“Ja,