Janet Viljoen bel in vervoering om dankie te sê vir haar moeite. Thys bel; twee ander ma’s bel om oor kinderpieknieks navraag te doen. Deon Liebenberg bel oor die maanligpiekniek, en die buurman om te verneem of sy nog oukei is. Maar Ruan bel nie.
Die volgende dag kry sy ’n sms: Moeg gesukkel. Lees jou e-pos.
Nikka was dorp toe, bank toe en by die koöperasie om mielies te koop. Sy was lank laas by haar rekenaar en hardloop studeerkamer toe om haar inboks oop te maak. Tussen die rommelpos, ’n Piekepiekniek-navraag en ’n sarsie rekeninge is ’n brief van Ruan.
Haar hart sidder ’n slag en begin dan weer moeisaam klop. Onrustig. Behoedsaam. Haar vingers bewe toe sy op die afsender se naam klik en die brief voor haar oopsprei, die hele skerm vol.
Liewe Nikka
Met wie praat jy so lank dat ander oproepe nie kan deurkom nie? Jou foon bly beset. Ten einde laas stuur ek maar gou ’n brief op my skootrekenaar, al is my tyd min. Ek is in Hamilton, in die bus op pad na Waikato – Bulls vs Chiefs. Soos jy op die telkaart kan sien as jy TV kyk of ’n koerant koop, lê die Bulls bo, gelyk met die Crusaders. Baie hang dus van hierdie wedstryd af. As ons wen, is ons kanse goed op ’n semifinaal in SA op Loftus. Ek kom in elk geval vroeër huis toe, direk ná volgende naweek. Die ander manne wil gaan kyk hoe Fidji en Tonga lyk, maar ek kom dadelik huis toe.
Nieu-Seeland se natuurskoon is asemrowend. Ek sou in Auckland kon woon, was dit nie vir die triestige weer nie. Dis nat en koud hier. Hoop dis sonskyn by julle. Thys sê hy dokter jou Volla en jy ry met die bakkie. Gaaf van hom. Gebruik my kar as jy hom nodig kry. Het Foksie se babatjies al gekom? Ek hoor Ouperd het bevordering gekry – van steenkool- na piekniekkarretjie. Hy voel seker geëerd. Sê asb Andries moet die geute skoonmaak. Ek sal help wanneer ek terug is.
Pas jouself op.
Groete
Ruan
Nikka lees die brief drie keer. Dit sê alles – en niks. Alles oor die rugby en niks oor hom en haar nie. Hulle verhouding. Hulle huwelik. Is dit goed of sleg? Sy vermoed laasgenoemde. Hy sê nie hy is lief vir haar of dat hy verlang nie … Tog het hy darem probeer bel. En gesê sy moet haarself oppas.
Sy stuur dadelik ’n sms: Dankie vir jou brief. Mis jou. Sien uit na jou tuiskoms. Laat weet jou vlugnr.
Ruan antwoord nie.
Nikka gee nie om nie, want sy het dit nie verwag nie. Hulle is seker al by die stadion. Dalk is die wedstryd al aan die gang. Hy moet ’n berig skryf en kan nie nou met sms’e sit en sukkel nie. Dis wonderlik dat hy tyd gemaak het om ’n e-pos te skryf. Dit wys hy gee om vir haar.
Maar sy is terug by die begin: by die vrae en vrese en spekulasies. Hoekom kom hy vroeër huis toe? Waarom het hy niks gesê oor hul selfoongesprek vroeër toe dit “moeilik” was en hy nie met haar kon praat nie? Hy en Thys gesels blykbaar, daarom dat hy van die kinderpartytjie weet. Een ligpunt is darem dat Ruan nog by die plot belang het, by die diere en instandhouding van die huis.
Nikka sou meer gerus gevoel het as hy eers saam met die manne eilande toe gegaan het. Sy het ’n nare voorgevoel. Dis asof daar ’n onheilspellende dringendheid omtrent sy terugkoms is.
Haar hoofpyn gaan nie weg nie. Toe sy egter die volgende aand weer vroeg in die bed wil klim, keer haar ma.
“Ek sluk nie hierdie storie van hooikoors of verkoue nie. Jy dink jouself siek, jy het afleiding nodig. Gaan neem ’n laventelbad, sit komkommerskyfies op jou geswelde oë en maak jou mooi. Ek het bobotie en soetpatats gemaak en Thys genooi om saam met ons te kom eet. Die arme kind skeep homself af. Hy leef van baked beans en Two Minute Noodles. Dis tyd dat hy ’n slag ’n behoorlike bord kos in daardie groot lyf kry.”
Nikka trek ’n gesig. “Ag, Ma!”
“Niks van ‘Ag, Ma’ nie. Jy verwaarloos jouself. Kyk hoe lyk jy! Loop heeldag kaalvoet in ’n kortbroek wat lyk of jy hom op ’n basaar gekoop het. Smeer vir ’n verandering bietjie vogroom aan jou gesig, en darem ’n lagie lipstiffie. Daardie poniestert lyk so strak, lyk of jy jou hare haat … Laat jou hare los hang, trek ’n vroulike sonrokkie aan en hoëhaksandale. Dit sal jou opbeur en jou gees vernuwe.”
“Ek bly op ’n plot, Ma, nie in Hollywood nie; ek is ’n werkende vrou, nie ’n modepop nie.”
“Almiskie, maar ’n smeerseltjie lipstiffie en parfuum sal jou die wêreld se goed doen. Jou opkikker.”
Nikka kyk haar vas aan. “Dit gaan nie om my nie, Ma. Ek weet … Dit gaan om Thys. Ma bedoel dit goed, maar moenie Ma se hoop op ’n verhouding tussen ons plaas nie. Ek soek nie ’n man nie. Ek hét ’n man wat ek liefhet – te lief om ooit ’n ander een in sy plek te stel. Ek erken ons beleef ’n slegte tyd, maar dis net tydelik. Dit beteken nie ons huwelik is op die rotse nie. Vir Ruan sal ek my mooimaak en lipstiffie en parfuum aansit. Maar nie vir Thys Vorster nie. Moenie hom aan my afsmeer nie. Ek is ’n getroude vrou en hy stel nie belang nie. Dit sal ’n verleentheid veroorsaak, vir my én vir hom.”
“’n Verleentheid? Vir hóm?” Nicolet snuif veelbetekenend.
Nikka is geïrriteerd. Haar ma het self besluit om nog ’n paar dae te bly om met Deon se maanligpiekniek te help. Maar sy wonder of dit ’n goeie plan was. Sy het eendag ’n artikel gelees oor te veel “togetherness”. Man en vrou in dieselfde besigheid, ma en dogter in een kombuis … Liefde werk beter op ’n afstand.
Behalwe as dit jou man is …
“Ek is nie blind nie,” hou Nicolet vol. “Ek het oë in my kop. Ek kan sien hoe Thys na jou kyk. Nie net nou nie, al lankal – toe jy en Ruan nog na mekaar gevry het.”
“Ma laat dit so banaal klink!”
“Julle kon julle hande nie van mekaar afhou nie.”
“Dis normaal. Ons was nie anders as ander tieners nie.”
“Ek weet. Dis mos maar hoe moderne jongmense is … Maar ek het toe al gesien hoe Thys op die kantlyn wag, reg om jou te gryp as Ruan jou nie meer wil hê nie.”
Tel help nie meer nie. Nikka gee liewer pad. Gedagtig aan haar goeie voornemens klap sy nie die badkamerdeur agter haar toe nie. Maar die handdoek wat sy met mag en geweld van die reling afpluk, moet dit ontgeld. Asof sy op ’n veiling is! As die eerste bieër haar nie wil hê nie, erf die volgende koper die oorskot.
Sy voel moedswillig. Sy lê lank in die bad, tot lank na sy Thys se Jeep onder die soetdoring hoor stilhou het. Toe sy uiteindelik uitklim, borsel sy haar hare so strak moontlik agteroor en trek ’n stywe rekkie daarom. Sy soek haar oudste T-hemp en denimkortbroek met die uitgerafelde rande. Beslis geen grimering nie.
Sodat Thys die boodskap kan kry: sy is nie oorskot nie, en sy en haar ma is nié besig om vir hom ’n slagyster te stel nie.
6
Thys ken Nikka goed genoeg om daardie wipstappie te herken waarmee sy die kombuis binnekom. Hy is versigtig neutraal en drink eers rustig sy koffie klaar voor hy ongeërg opmerk: “Jy ruik lekker. Soos laventel …”
“Dis nie parfuum nie,” maak sy dit af. “Sommer ’n stuk roosmaryn uit die tuin wat ek in die badwater gegooi het.”
“Dan behoort hulle roosmarynparfuum te bemark, dit sal ’n blitsverkoper wees.”
Nikka gee hom net ’n kyk. Sy is nie meer ’n tiener van sestien wat gedurig komplimente nodig het om goed te voel nie. Geen wonder haar ma begin dink die man is verlief op haar nie. ’n Misgissing wat sy so gou moontlik in die kiem moet smoor.
Sy haal piesangs uit die yskas en begin slaai maak. Dan wil sy ewe luiters weet: “Wat het geword van daardie rooikop in matriek, die een wat altyd vir jou sjokoladekoek gebring het?”
Thys sug in vervoering en lek sy lippe af. “Sjokoladekoek direk uit die hemel – nogal met haar eie hande gebak!”