4
Nikka het ’n bossie geurige laventeltakkies uit die tuin in die water gegooi en sy lê in die bad toe haar selfoon lui. Op die kombuistoonbank, waar sy hom vergeet het …
Sy verwens haar verstrooidheid, draai ’n handdoek om haar lyf en hardloop met nat voete die gang op, amper bo-oor die hoogswanger foksterriër vir wie sy met ’n ou duvet ’n lêplek gemaak het in ’n hoek van die gang.
Dis nie Ruan nie.
“Skiet my maar met ’n haelgeweer omdat ek so laat bel en jou seker uit die bed gejaag het,” maak Thys verskoning. “Ek het nou net by die huis gekom en jou boodskap op die antwoordmasjien gekry. Ek kan nie gaan slaap sonder dat ek jou gelukgewens het nie. Ek het mos gesê Piekepiekniek gaan vlerke kry en vlieg! Sal ons sjampanje oopmaak of gaan steaks eet om dit te vier?”
“Hokaai, dis maar een piekniek,” keer Nikka, “vir tien klein seuntjies. Dis skaars hamburgers werd.”
“Darem met tjips daarby. En ’n lekker bottel landgoedwyn!”
“Jy’s rojaal …”
“Roekeloos rojaal en plesierig!” stem hy saam. “Hoe lyk dit, meis, sien jy kans vir ’n verlowingspartytjie?”
Thys klink vrolik. Dit laat haar wonder waarvandaan hy gekom het, so laat in die aand. Was hy uit saam met die manne, of saam met daardie meisie wie se oë sy netnou nog wou uitkrap?
“Verlowingspartytjie?” vra sy versigtig. “Wie s’n?”
“Joune, mooiste, indien jy daarvoor kans sien.”
Hoe bedoel hy? Sy frons onbegrypend. “Mýne?”
“As jy wil, ja. As jy lus is en sou belangstel.”
Is hy dig, of is dit sý? “Maar … ek is getroud, Thys,” stamel sy.
“Jou huwelikstatus het niks daarmee te doen nie, mooinooi,” terg hy. “Getroud of ongetroud maak nie saak nie. Ek sal jou bystaan, en ek weet ons twee saam sal ’n groot sukses daarvan maak.”
Hulle twee saam? Hy het netnou erken hy voel plesierig. Nikka wonder of ’n bottel rooiwyn iets met sy vrolikheid te doen gehad het. Hy kom dalk nou van ’n partytjie af, daarom dat hy so onsamehangend en deurmekaar praat. Saam verloof raak, of wat? En ’n sukses waarvan maak?
“Thys, gaan drink ’n kan sterk swart koffie saam met twee Disprins en klim in die bed,” beveel sy. “Bel my môre wanneer jy wakker word en nugter is.”
Hy vind dit snaaks en lag vir haar. “Ek is nie dronk nie. Meis van my hart, hoe ken jy my?”
“Ek dag ek ken jou … Maar jy klink gekletter,” beskuldig sy hom. “En ek staan hier en koud kry, in ’n nat poel water op die mat, met net ’n handdoek om.”
“Met net ’n handdoek om? Wat’s onder die handdoek?” wil hy geïnteresseerd weet.
“Niks.”
Hy gee ’n wolwefluit. Sy stem daal ’n paar desibels, met ’n nuwe nuanse daarin. “Níks …?”
“Ja. Niks met jou te doen nie. Drink twee kopseerpille en gaan slaap. Ek gaan nou loop. Die foon neersit, my afdroog en warm pajamas aantrek voor ek môre griep het.”
Thys hou op terg. “Ek is jammer, engeltjie,” maak hy berouvol verskoning. “Sowaar? Het ek jou nie uit die bed gejaag nie, maar uit die bád uit?”
“Wat is so vreemd daaraan? Die meeste beskaafde mense bad van tyd tot tyd. Doen jy dit nie ook soms nie?”
“Net wanneer ek dokter toe of kerk toe gaan. Ek is vreeslik jammer, ek het nie besef nie … Waar was die foon dan dat jy moes uitklim?”
“In die kombuis.”
“Al die ent pad in die gang op, val-val oor die string honde? Hoekom het jy die foon nie op die bad se rand neergesit nie?”
“Ek het vergeet, Thys. Dit gebeur in die beste families.”
“Hoekom al die moeite gedoen om te antwoord? Jy moes hom gelos het dat hy lui en ’n boodskap neem.”
“Ek het gedink dis Ruan.”
Hy is skielik stil. “Ruan … Natuurlik. Waar was my kop? Ekskuus vir die teleurstelling. Jy het gehoop dis jou prins. En toe is dit die skurwe padda in die poeletjie rioolwater.”
Waar het hy dié storie nou gaan uitgrawe? Thys is erger as haar ma. Nikka onderdruk ’n sug en begin weer tel …
“As jy nie gekletter is nie, Thys, hoekom praat jy so los en vas?” vra sy geduldig.
“Dis ’n lang storie … Wil jy eers gaan afdroog en warm pajamas aantrek?”
“Nee, Thys. Ek is moeg en wil gaan slaap. Sê wat jy wou sê, en dan gaan klim jy self in die bed.”
“Goed,” antwoord hy gedienstig. “Ek het vir jou ’n kliënt gekry vir ’n piekniek. ’n Maat van my by die 4x4-klub, Deon Liebenberg, het besluit hy hoor klokke lui en orrelklanke wat die troumars speel. Nou wil hy verloof raak. ’n Okkasie maak van die ring-aanstekery. Dit moet glo ‘anders’ wees, iets oorspronklik en romanties. Toe dink ek dadelik aan jou en stel ’n maanligpiekniek voor, met vioolmusiek, sjampanje en roosblare en sulke goete … Jy sal beter weet van daai soort detail. Ek het gedink dit kan werk. Ek sal jou help, van agter die skerms sorg dat alles vlot verloop.”
As hy nader was, het sy Thys met ’n kastrol oor die kop geslaan. “Hoekom het jy my eers kwaad gemaak? Hoekom nie dadelik van die piekniek vertel nie?”
Hy lag. “Jy weet mos ek is in die Kaap gebore.”
“Is alle Kapenaars dus effens mallerig?”
“Ja, en dan hou hulle daarvan om lang Kaapse draaie te gooi. Sien jy kans vir so ’n maanligmakietie?”
Nikka vergeet haar nat voete en iesegrimmigheid. Eintlik verdien hy ’n warm soen.
“Natuurlik. Jy’s ’n skattebol! G’n padda nie, nie eens ’n prins nie, maar ’n koning! Dankie, dankie! En askies dat ek met jou geraas het.”
“Is oukei. So ’n fraaie meisiekind vergewe ’n man enige ding.”
“Ek was laf.” Sy gee ’n borrellaggie. “Ek het gedink dis ’n oordosis rooiwyn wat oorgevat het, wat gesuggereer het dat ek en jý verloof moet raak.”
“Laf? Nie ek nie. Inteendeel. Dit sou my die gelukkigste man suid van die ewenaar gemaak het. Dit sou my ook laat droom het van Mendelssohn se troumars.”
Hy klink so ernstig dat Nikka ’n wyle van stryk is. Bedoel hy háár, of bedoel hy in die algemeen? Hy noem haar altyd “mooiste”, maar dis sommer spot. Dink Thys regtig sy’s “fraai”? Hy is altyd met sy neus in turbo-enjins en vergassers, sy het nie gedink hy sal oplet as sy met ’n groen gesigmasker rondloop nie.
Maar miskien het sy die Vonk onderskat. Nie net nou nie – al die jare wat sy hom net as Ruan se goedhartige vriend gesien het. Hy was as’t ware deel van die meubels, soos ’n gemaklike stoel of ’n stofsuier. Jy sien hulle net raak wanneer hulle die dag breek.
Sy ken Thys al veertien jaar. Langer as vir Ruan. Maar hy was altyd “onsigbaar”, op die agtergrond, of daar diep binne-in ’n skrum waar jy soms net ’n stukkie voet sien uitsteek. Sy glo nie hy het al ooit ’n drie gedruk nie. Sy rol is altyd die harde werk ágter die skerms, terwyl ander ouens in die kalklig is en die eer kry.
Ruan het altyd die aanskoulike naellope gewen en die toeskouers op die pawiljoen op hul voete gehad. Maar min het gekyk hoe Thys die gewigstoot wen. Almal het geweet dit was Ruan van der Hoven wat die drieë gedruk het, terwyl net ’n kwart besef het die eintlike held van die wedstryd was die stut wat verhoed het dat die skrum ineenstort. Thys was altyd net Ruan se goeie ou tjom wat min praat – en nooit oor homself nie.
Vandag