Wat doen sy as hy haar los? As hy Sondag by die huis kom en steeds volhou dat dit wat van hul huwelik oorgebly het, nie genoeg bied om ’n brug oor die afgrond te bou nie? Ruan is die spil waarom haar lewe draai. Sonder hom het sy geen lewe nie. Wíl sy nie lewe nie.
Vrydag sal sy met die piekniek besig wees en die tyd sal gou omgaan. Saterdag ook, want dan is dit opruim en skoonmaak. Maar Sondag lê soos ’n berg voor haar. Dan begin die lang wag, die naels kou, die naarheid op die krop van haar maag …
Sy vlug sal seker eers teen laatmiddag land. Nikka wou hom op die lughawe ontmoet, soos altyd in die verlede wanneer hy weg was. Maar Ruan het nie sy vlugnommer of tyd van aankoms laat weet nie, en Thys het gemaan sy moet terugsit, nie aandring of eise aan Ruan stel nie. Hy sal vooraf eers met hom gesels, hom pols en haar dan laat weet wat Ruan verkies. Sy moet niks doen nie, net wag.
7
Wág, wat die moeilikste van alles is … Dieselfde doodse, angstige gevoel lê steeds haar lyf vol toe Nikka Sondagmiddag buite op die stoeptrappie by die voordeur sit en wag. Thys het verduidelik dat Ruan bedagsaam is, daarom dat hy nie van haar verwag om die ent pad lughawe toe te ry nie. Die paaie is besig, daar’s verleggings, sy gaan sukkel met parkeerplek, en die vlug is dalk vertraag. Maklikheidshalwe sal Ruan reël dat iemand hom by die huis kom aflaai.
Thys Vorster was nog nooit ’n goeie leuenaar nie en sy kon sien hy is ongemaklik. Hy het ’n paar keer keel skoongemaak en met sy sleutels gepeuter terwyl hy verduidelik het. Te véél verduidelik het en te veel verskonings vir sy vriend geprakseer het.
Ruan het ’n eie agenda en die enigste bedagsame een is Thys – Thys wat jok en improviseer om haar gevoelens te spaar, peins Nikka terwyl haar oë in die pad af dwaal na die hek met die twee aalwyne weerskante. Aalwyne wat aan die begin vir haar ’n kosbare stukkie bosveld was, maar wat sy nou skaars oplet.
En haar ma is ook bedagsaam, op háár manier. Nikka weet haar ma wou graag op die plot aanbly, omdat sy eensaam is en van nut wil wees. Sy geniet die bak en brou in die kombuis en die geselskap. Maar pas na middagete het haar ma haar tas en resepteboeke gepak en aangekondig sy gaan huis toe.
“Dis beter as julle jonges alleen is om julle sake uit te pluis en mekaar te vind,” het sy verduidelik. “Wil nie inmeng nie.”
Nikka wou haar amper weer vervies. “Nee, natuurlik nie. Ma meng mos nooit in nie,” het sy geskimp. “Dis mos sommer ‘toevallig’ dat Hannah van der Walt se naam ter sprake gekom het – hoe ’n voortreflike bakster sy is, terwyl ek tien duime en twintig tone het.”
Haar ma was op die verdediging. “Dis nie ék wat Hannah se naam geopper het nie, dit was jy self.”
“Maar Ma het die vuurtjie aangeblaas en saam met Thys gekonkel,” het Nikka volgehou. “Voorgestel dat ek kastig vir Hannah haar resep moet vra … Vir hom koffie aangedra asof dit op ’n vervoerband is. My heel beste Madeira-tafeldoek uitgehaal, Thys gevra om te bid en ons laat hande vashou.”
“Dis ’n goeie ou Boeretradisie om een van die gaste te vra om die tafelgebed te doen en dan almal in ’n kring hande te hou. Ek doen dit al jare, vandat jy ’n klein dogtertjie was.”
Nikka wou nie bes gee nie. “Moenie Ma so onskuldig hou nie, Ma weet wat ek bedoel. Was dit om my jaloers te maak? Op Hannah van der Walt, van alle mense! G’n wonder Ma en Thys het so onderlangs vir mekaar geloer nie. Die plan het geflop omdat dit ’n simpel plan was, van die begin af.”
“Ek wou jou oë laat oopgaan, sodat jy kon besef Thys Vorster is nie sommer ’n hierjy nie. Hy’s ’n uitstekende vangs – en daar’s ander meisies wat dit raaksien.”
Nikka het nie die moed gehad om verder te baklei nie. “Ek wil nie ’n man vang nie, Ma, ek het dit al honderd keer gesê. Ek hét ’n man, ’n wonderlike een, en geen ander man sal ooit sy plek kan inneem nie.”
Haar ma het moedeloos gesug en boedel oorgegee. “Jy ken jou eie hart die beste. ’n Ma kan maar net probeer, en as dit nie help nie, op haar knieë gaan en vir haar kind om genade bid.”
Nikka het nie meer trane oorgehad nie, net haar ma baie styf vasgehou. Haar liefgehad en waardeer; vergewe vir haar geknoei saam met Thys en gedurige kritiek op Ruan. “Dankie vir al Ma se hulp gister. Dit was ’n reusesukses en alleen sou ek dit nooit kon behartig nie.”
“Ek en Thys het maar agter die skerms ons deeltjie bygedra. Jy en Ben Troebadoer was die sterre. Dis ‘Liefling’ wat hy gesing het wat Lorna die jawoord laat gee het. Ben het ’n pragtige stem en is toe glad nie so bot soos jy voorspel het nie.”
“Nee, hy het my verstom. Ek het nie gedink Ben kan die woord ‘sjarmant’ eens spél nie, wat nog dit wéés! Lyk my dis daardie ellendige skool wat ons almal ’n spul suurknolle gemaak het. Daai hoof kan selfs heuning in asyn laat verander.”
Haar ma het in die motor geklim en deur die oop venster vir oulaas herhaal: “Onthou, Pretoria lê net oor die bult. Ek is daar as jy my nodig het, kindlief. Bel net. Ek sal dadelik kom as dinge met Ruan vanaand vir jou verkeerd loop …”
“Dankie, ek sal.” Nikka het vir oulaas gewuif en ’n soentjie gewaai. “Lief vir Ma!”
Dis ’n luukse om ’n slag alleen te wees. Om in rustige stilte hier in die wind op die stoeptrappie te sit met Kattebol op haar skoot en Wieldop by haar voete. Die ganse wei by die grensdraad, waar hulle alarm sal maak as ’n motor in die grondpad aankom.
Dit het skemer geword en die wind het koud oor die dam begin waai. Die ganse het al gaan nes soek en Nikka het stram opgestaan om te gaan koffie maak toe Wieldop opeens buitekant blaf. Die volgende oomblik hoor sy ’n voertuig dreun en ruik die stof van die grondpad.
Haar ingewande knoop in ’n bondel en haar hande is dom. Sy moet haar dwing om die ketel af te skakel en om te draai, vyf treë te loop tot by die kombuisdeur, dan om die hoek en deur die sitkamer na die voordeur toe. Toe sy op die stoep kom, is die motor besig om tru te stoot en te draai. Dieselfde donkergrys motor wat Ruan kom oplaai het die aand toe hy weg is. Dieselfde rooi agterliggies wat in die pad af en deur die hek verdwyn … Die fisio of spandokter of iemand, het hy gesê.
Die honde is rasend, tjankblaf en dans op hul agterpote. Selfs Kattebol en ’n vaak Haandrik het kom kyk waaroor al die opgewondenheid is. Ruan is besig om hulle te groet, ore te vryf, te streel en ribbes te krap. Hy het ’n verbleikte denim aan by sy donkerblou kabeltrui. Hy het nie vanoggend geskeer nie, sy hare krul langerig in sy nek en hy lyk sexier as ooit.
Toe hy omdraai en sy bagasie bymekaarmaak, wil Nikka met die trappe afhardloop en haar arms om hom gooi, hom druk en soen en vashou en terugverwelkom, soos altyd wanneer hy weg was. Sy wil sê hoe sy verlang het en hom gemis het … Maar sy onthou Thys se waarskuwings en bly op die stoep staan.
Ruan kom tot voor haar en sit sy tas, skouersak en rekenaar neer. Hy groet nie, praat nie, steek net sy arms uit en trek haar krampagtig styf teen hom vas. Nikka lê haar wang teen sy breë skouer, voel die heerlike, wonderlike bekendheid van sy lyf, sy hande agter teen haar rug, sy liggaamshitte wat deurslaan deur die growwe wollerigheid van die trui.
Sy weet: die wag is verby, Ruan is veilig tuis en hy is ook bly om haar te sien. Dis die belangrikste. Van nou af gaan hulle verhouding regkom. Al is daar verwyte en misverstande, gaan alles regkom. Sy sal die minste wees. As dit moet, selfs Piekepiekniek prysgee en weer gaan skoolhou. Enigiets om Ruan terug te wen en te behou. Hy is haar hawe aan die stormsee, haar oase in die woestyn. Solank sy in sy arms is, kan niks slegs met haar gebeur nie.
Hy gee haar ’n laaste drukkie, dan hou hy haar ’n armlengte van hom weg. Hy kyk lank na haar, neem haar gesig in sy hande en soen haar saggies op die voorkop. “Ek het al amper vergeet hoe pragtig jy is. Fyn en delikaat, soos ’n feetjie. ’n Vlinder met die hemel in haar oë …”
’n Feetjie … Nikka weet nie of sy wil lag of huil nie. Al het sy vroegaand begin koudkry, is sy bly sy het die blou sonrok gekies, Ruan se gunsteling.