In haar verbeelding sien Nikka die volmaan op die rimpeling van die water weerkaats en ’n verliefde paartjie in mekaar se arms. Veraf, op die oorkantste oewer, Schoemansville se liggies soos ’n flonkerende halssnoer, ’n paddakoor op die agtergrond en ’n jakkals wat in die verte na sy maat roep. Sy en Ruan in mekaar se arms, daar in die lapa. Al die stremming en stres vergete in die rustige, romantiese atmosfeer …
Hoekom het sy nie lankal so ’n plan bedink om sy hart week te maak nie? Haar huwelik te red … Sy kan op Deon Liebenberg oefen, saam met Thys se insette oor wat mans romanties vind, en dit op Ruan toepas.
Dit moet vir hom ’n verrassing wees. Sy sal die hulpmiddels vooraf regsit: yskoue vonkelwyn en kristalglase, oesters, fetakaas, agurkies, olywe en als waarvan hy hou. Plus twee slaapsakke, ’n duvet en kussings en als waarvan sý hou … Ewe onskuldig vir Ruan nooi om ’n draai saam met haar op die perdekarretjie te gaan ry. Aanbied dat hý kan dryf. Ruan hou daarvan om in beheer te wees en dit sal nie deug as Andries ’n vyfde wiel aan die wa is nie. Ruan sal nie kan weier nie, nie as sy haar arms agterom sy nek sit, warm teen hom aanleun en die uitnodiging saggies in sy oor fluister nie … Dit kan werk. Dit móét werk! Die eerste volmaan ná hy terug is …
“Nikka?” vra Thys. “Is jy nog daar? Of het die sein opgebreek?”
Sy kom met ’n skok terug huis toe, na die nat gangmat en die foksterriër in die hoek, wat haar met groot, vraende oë aankyk. Ja, my honne, ek dink ook jou ounooi mik hoog, stem Nikka saam. Maar ek het nie ’n keuse nie. Ek is desperaat! Sê nou Ruan is ernstig, dat hy nie langer met my getroud wil wees nie?
Ek wil nie, kán nie sonder hom lewe nie. Hy is deel van my, van my menswees. My hele toekoms. Ek sal nooit weer iemand so liefhê soos daardie pragtige man van my met sy harde, manlike lyf, blonde skoolseunkuif en mosgroen oë nie. Wat sal van my word as hy my los? Ek kan nie alleen op die plot bly nie, kan nie met Piekepiekniek voortgaan nie, en my pos by die skool is reeds gevul. Ek het nie ’n sent nie, net ’n berg skuld. En ’n dieretuin vol kinders wat van my afhanklik is …
“Meis? Is jy daar?” herhaal Thys.
Sy klem die foon vas. “Ja … Ja, ek is hier,” hakkel sy.
“Wat dink jy van die idee om vir volmaan te mik?”
Ek dink dit gaan boemerang en my teen die kop tref, sien Nikka voorspooksels. Ruan wil die afgelope tyd skaars saam met my in die motor ry, wat nog ’n perdekar? Hy sal sê hy het nie nou tyd nie, hy’s haastig, hy’t ’n vergadering, ’n berig om te skryf, ’n rugbywedstryd om na te gaan kyk. Wat doen ek dan?
“Ou Deon trap rond soos ’n hoenderhaan wat bang is hy kry nie plek op die stellasie langs sy hennetjie nie. Dink jy ’n volmaan sal maak dat Lorna ja sê?”
Nikka ruk haar reg en klad haar oë met die punt van die handdoek. “’n Volmaan het magiese kragte. Ek sal reël dat ’n ster verskiet en ’n jakkals in die verte tjank. Of ek kan een van die honde vra. Wieldop tjank vreeslik weemoedig, gewaarborg om die hardste hart te versag.”
Sy het gedink sy slaag daarin om vrolik te klink, maar Thys ken haar te goed. “Wat makeer, fraaitjie? Het Ruan nog nie weer van hom laat hoor nie?”
Sy vergeet Thys kan haar nie sien nie en skud miserabel haar kop.
“Hy sal,” belowe Thys. “Die sportskrywers het ’n stywe program en die Aussies se tydsverskil bemoeilik sake. Al tyd wat hy het om te bel, is vroeg in die oggend – en dan is dit nag in Suid-Afrika, dan slaap jy. Moenie te veel loop en tob nie. Skakel af en konsentreer op ander dinge. Hoe vorder Hennie se partytjie?”
“Goed. My ma kom môre vir ’n paar dae om te help.”
“Dis gaaf. Ek sal ook deur die loop van die week inloer om te groet en te sorg dat die werk aan die lapa behoorlik gedoen is.”
“Dankie.”
“Ek is bly jou ma kom, ek is bekommerd omdat jy so alleen op die plot is.”
“Tussen die honde en die ganse het ’n skelm nie ’n kans nie. Die buurman is naby genoeg om te hoor as ek skree. En ek het ’n vuurwapen wat ek weet hoe om te hanteer. Ruan het my leer skiet.”
“Loop die bakkie nog reg?”
“Beter as ’n Ferrari. Nogmaals dankie vir die bruikleen.”
“Ek het mos gesê jy kan hom hou. Ek het intussen jou Vollatjie se enjin uitmekaar gehaal, nou soek ek nog na ’n paar onderdele.”
“Dankie, Thys.”
“Nou ja … Gaan trek jou pajamas aan en klim in die bed.”
“Ek sal.”
“Lekker slaap, fraaitjie.”
“Jy ook.”
Daarmee beskou Thys blykbaar sy broederlike plig as afgehandel. Nikka is bly toe hy eindelik neersit. Sy is seker Ruan het probeer deurkom, maar haar foon was heeltyd beset.
5
Haar ma het ’n voordeursleutel en is alreeds in die kombuis doenig toe Nikka met haar inkopies tuiskom.
“Ek het koppies reggesit, die opwasbak ’n ordentlike skrop gegee en die gediertes met ’n besem uitgeboender. Waar het jy gehoor van ’n yslike lummel van ’n brak wat hom so ewe op die sitkamerbank tuismaak? Dis verregaande! En ’n hoenderhaan in die kombuis? Hy los oral visitekaartjies, en netnou trap een van ons daarin!”
Dis soos Nikka verwag het: haar ma vat soos gewoonlik weer oor. “Dis Haandrik, Ma,” probeer sy walgooi. “Hy mors nie, hy’s mooi geleer.”
Haar ma gee ’n snork. “Hoenders het sulke klein koppies, dit wys hulle is dom. Jy kan hulle niks leer nie. Soos katte. Jy behoort aan húlle, nie hulle aan jóú nie.”
“Askies, julle ouens,” prewel Nikka onderlangs. “Wees maar geduldig. Ouma kuier nie vir altyd nie, net ’n week.”
Haar ma wil niks weet van enige gekoopte eetgoed nie, dan kon Janet Viljoen mos ewe maklik sélf die partytjie gegee het. Dit moet tuisgebak wees, uit Piekepiekniek se eie kombuis, en ’n wye verskeidenheid vir alle smake. Hulle maak fudgeblokkies, karamelpoffertjies en skuimpies.
Die volgende dag kaasstrooitjies, mini-frikkadelletjies en springmielies. Die verjaarsdagkoek is halfpad en Nikka is met die malvalekkermuise besig toe Thys Donderdag in sy posbusrooi Jeep daar opdaag.
Hy bly in die kombuisdeur staan en snuif behaaglik. “Vanilla en geroosterde klapper! Beter as enige GPS. Jy volg net jou neus as jy by tannie Let wil uitkom.”
“Thysman!” Nicolet straal. Sy strek op haar tone om by te kom en gee hom ’n klapsoen. “My jig is sommer weg noudat ek jou gesien het! Hoe gaan dit, kind? Kom sit hier by die tafel, dat ek vir jou ’n bord vol kan gee. Jy het mos aljimmers ’n soet tand gehad, nes klein Hennie Viljoen.”
Terwyl sy praat, stapel Nicolet die koekbordjie op. Twee van als. Selfs van Nikka se halfklaar wit en pienk malvamuise.
Nikka maak koffie, maar sy kon net sowel ’n prent teen die muur gewees het. Haar ma monopoliseer die gesprek en laat Thys selfs ’n happie van die koek proe – ’n afgesnyde stukkie van die luiperd se stert.
Thys is die perfekte proefkonyn. Hy oe en aa, klik sy tong en rol sy oë op al die regte plekke. Toe sy ’n koffiebeker voor hom neersit, knipoog hy vir Nikka. “Hierdie is die lekkerste luiperdstert wat ek nog ooit geproe het. Ek het gedink dit sal souterig smaak, soos vleis.”
“Hoeveel