“Wat van ’n hoenderstuitjie?”
Nikka lag borrelend. Thys Vorster moes ’n dokter geword het, want hy weet van medisyne en pleisters plak op die seer. As Ruan nie daar was nie, as sy ouers nie destyds uit die Kaap Gauteng toe getrek het nie, of as hulle ’n huis naby ’n ander hoërskool gekoop het en sy Ruan nooit ontmoet het nie, sou dit so maklik gewees het om vir Thys Vorster se ongekompliseerde sjarme te val.
Dalk sou dit vir haar beter gewees het … Sy sou nie die bruisende, ekstatiese hoogtepunte ervaar het wat sy saam met Ruan gehad het nie, maar ook nie die gitswart, angswekkende laagtepunt waardeur sy nou worstel nie. ’n Lewe saam met Thys sal rustig, veilig en vredig wees.
Thys eet ’n poffertjie en ’n hand vol springmielies. Dan tel hy een van die pienk muise op en bestudeer dit van alle kante. “Pas hulle in die kleuterrympie ‘Three Blind Mice’?”
“Hoekom vra jy?”
“Omdat die arme goedjies nie oë het nie.” Hy begin sing, vals en onmelodieus: “Three blind mice, see how they run. They all run away from the carving knife … Maar die slagter gaan hulle vang! Die muise kan nie sien nie en gaan in die deur vashardloop.”
Nikka giggel oor die verspotte prentjie van skarrelende malvalekkers wat hy skep. Sy neem korente uit ’n bakkie op die werksblad en druk hulle in posisie. “Daarso! Tevrede?”
Thys stoot sy bordjie weg. “Nou het hulle gesiggies. En elkeen ’n persoonlikheid … Nou kan ek hulle mos nie byt en kou en insluk nie. Dis erger as die slagter se lang mes!”
Albei vroue proeslag. “Hoe weet jy die poffertjies het nie ook gegil toe jy hulle opgeëet het nie?” vra Nikka.
Dit laat haar ma nadink. “Ek wou met twee groen joep-joeps en ’n ronde sjokolade vir die luiperd oë en ’n neus gegee het, maar ek beter nie. Dit sal dalk die kleintjies bang maak. Ek sal hom liewer net met geel en swart kolle versier.”
Thys se oë begin blink. “Wat gaan ta’ Let daarvoor gebruik?” wil hy belangstellend weet.
“Liquorice Allsorts.”
Dis waarop Thys gehoop het. “Asseblief, kan ek help?”
Nikka keer. “Nee! Daar sal niks van die pak oorbly nie. Ek onthou jy en Ruan was altyd mal oor liquorice. Ek het julle probeer afskrik deur te sê die oumense het dit hondebloed genoem. Of bobbejaanbloed! Maar dit het julle nie gepla nie. Julle het gewoonlik die hele pak verorber, sonder om één enkele een vir my aan te bied.”
“Ons was twee nare goed. Jy moes ons uitgeskop het en vir jou ’n ander kêrel gekry het. Daar was stringe aspirante wat tougestaan het om jou na ’n sokkie of jooldans toe te neem, maar hulle was te bang vir Ruan.”
“Is dit? Sou Ruan omgegee het?”
“Natuurlik! Hy sou selfs vir mý opgefoeter het as ek dit te na aan sy meisie gewaag het.”
“Ek was net so besitlik oor hom gewees, bang hy val vir die eerstejaartjies wat vir hom wimpers gefladder het …”
Thys verwens homself toe hy haar oë sien: soos dié van ’n gekweste steenbokkie. Dit was ’n fout om Ruan se naam te noem. Hy weet Ruan het haar nog nie weer gebel nie en is lus om sy vriend aan die gorrel te gaan gryp en te wurg. Hierdie ding tussen Ruan en Nikka raak ’n turksvy. Dis besig om ’n wig tussen hom en Ruan in te dryf en ’n einde aan hulle vriendskap van dertien jaar te maak.
“Ek was vroeër vanmiddag by die lapa aan,” vertel Thys om haar aandag af te lei. “Die mense ken hulle storie. Die grasdak sal nie weer lek nie.”
“Dis goeie nuus.”
“Nog goeie nuus is dat julle buurman en sy skraper uitstekende werk gedoen het. Die slingerpaadjie lapa toe is so glad soos ’n baba se boudjies.”
Dit lok ’n skewe glimlag uit Nikka, maar dit strek nie tot by haar oë nie. Thys soek na ’n ander onderwerp om die somber atmosfeer te verlig, maar hy is sonder inspirasie.
Hy kry hulp uit ’n onverwagte oord. Buitekant, vanuit die groentetuin, klink ’n skielike beroering op. Honde wat ’n kabaal opskop, Andries wat skree en Ouperd wat runnik.
Thys is eerste op sy voete, gevolg deur Nikka en haar ma wat vanuit die spens met ’n besem aangestorm kom. Dit het met die hoenderhaan gewerk, maar ’n volgroeide perd is ’n ander storie. Die honde doen hul deel om die oortreder te verwilder, Andries stoot en Nikka trek, maar Ouperd staan sy staan. Hy wil ’n sappige happie hê en skrik nie vir ’n sweepklap, ’n swaaiende besem of die ganse wat om hom sis en blaas nie.
Hy roer nie, tot Thys vir hom ’n wortel uittrek en hom daarmee weglok. Sy oë rol en sy neusvleuels tril. Dan vou sy lippe om die beloning en werk dit agtertoe, tussen sy tande in. Hy loer eenogig vir Thys en skud sy maanhare agteroor.
Nikka skater van die lag. “Toemaar, dis net die platgetrapte tiemie en pietersielie wat skade gekry het,” paai sy haar ma.
Sy draai na Andries. “Dit sal jou leer om nie weer die hek oop te los nie.”
Andries is ontstoke. “Daai ou perd maak self die hek oop, dis nie ekke nie. Hy kom steel elke dag my groente!”
“Ons sal hom in die boonste kamp laat wei, ver van die groente af,” kalmeer Nikka hom. “Gee vir hom elke dag ’n wortel om hom tevrede te hou, dan sal hy nie weer kom steel nie.”
Andries begin brom-brom opruim, terwyl Thys die sondebok weglei.
Haar ma kyk hulle agterna tot Thys buite hoorafstand is. “Dáárdie is die man vir jou,” merk sy op. “Ek het dit destyds al gedink, maar jy was so steeks soos daardie perd. Jy moes met Vonk getrou het, dan het jy nie nou met rooigehuilde oë gesit nie.”
Dís ’n nuwe deuntjie. Nikka weet haar ma hou van Thys. Almal hou van Thys, sy ook. Maar met hom trou? Wat ’n vreemde, vergesogte gedagte!
Sy kan haar nie indink dat hy haar sal soen en wat haar reaksie sal wees nie. In die eerste plek sal hy heeltemal te skaam wees daarvoor. En sy? Sy sal ook skielik verleë wees. Waarskynlik giggel of taktvol wegrem, niks sê nie en maak of dit nie gebeur het nie – asof hy sommer ’n grap gemaak het en hulle albei môre daarvan sal vergeet het.
Haar ma maak aandete, maar Nikka is nie honger nie. Sê nou Ruan is siek, daarom dat sy niks van hom hoor nie? Nee, dan sou van sy kollegas haar laat weet het. Piet Bester van Rapport of Daan Strydom van die TV. Hulle is huisvriende en ken haar goed.
Ruan makeer niks; sy berigte verskyn gereeld in Weeknuus. Hy het Dinsdag in ’n sportprogram oor die radio onderhoude met sleutelspelers gevoer en na afloop van die wedstryd tussen die Stormers en die Waratahs het sy hom op die TV langs die kantlyn sien staan. In jeans en sy donkerblou kabeltrui met die V-nek. So bekend en so naby, sy wou haar hand uitsteek en aan hom raak; haar mond teen die skerm druk en hom soen.
Ruan is nie siek nie. Hy wil net nie met haar praat nie. Nie nou nie en ook nie in die toekoms nie. Hy is moeg vir haar, hy wil haar nie meer hê nie.
Haar knaende hoofpyn word erger, word kloppende hamerslae teen haar slape, waarvoor sy gedurig pille moet drink. Pille wat op die krop van haar maag gaan lê sodat sy nie kan eet nie.
Sy maak huis skoon, maak dieremaskers vir Hennie Viljoen en sy maatjies en draai die geskenkies in vrolike papier toe met prentjies van leeus en olifante daarop. Maar sy doen alles werktuiglik, asof in ’n dwaal, asof sy ’n robot in ’n tydkapsule is wat wag dat die tyd verbysleep sodat haar man kan huis toe kom.
Die onsekerheid maak haar gek. Sy wil oorkant Ruan by ’n tafel sit en hom in die oë kyk, vra wat in sy kop aangaan en wat hy vir haar wegsteek. Wat hy beplan en wat die toekoms vir háár inhou. Sy het alles in hul huwelik ingesit, sonder voorbehoud gegee en liefgehad. Sy het die reg om te weet waarom hy wil skei en wat hy vorentoe beoog.
Saterdag se partytjie is ’n wegholsukses – met Ouperd en die blouselblou karretjie, en Andries met sy sweep, kruisbande en laphoedjie