Satyn Omnibus 8. Ettie Bierman. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ettie Bierman
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624087045
Скачать книгу
vra hy sag.

      “Ek het verlang en jou gemis …”

      “Is die huis oukei? Die diere, die tuin? Jou ma?”

      “Alles en almal piekfyn. En jy? Is jy moeg en honger?”

      “Net moeg. Suf en gedreineer … Dit was ’n lang vlug.”

      Hy strek en tel sy bagasie op, wag dat Nikka voor stap en gaan dan in. Binne bly hy staan en kyk waarderend om hom rond. “Na vyf weke in ’n hotelkamer is die huis ’n paleis! Ruim en gesellig. Feestelik, met al die blomme en ballonne en die rooi kerse. Dit lyk mooi.”

      “Dis om jou te verwelkom. Die rose kom uit die tuin en die briefie uit my hart; die res is oorblyfsels van Vrydagaand se verlowingspiekniek.”

      “Thys het my vertel van die maanligpiekniek en hoe ondernemend jy is. Lyk my ek het jou onderskat. Jou idee werk heel duidelik.”

      Nikka skep moed. Daar is donker kringe onder sy oë en ’n moeë lyn om sy mond. Hy is effe terughoudend, tog lyk hy minder gestres as toe hy weg is. Al het hy haar nie vurig omhels nie, het hy haar ook nie haastig weggestoot nie. Hy het nie gesê hy het ook verlang en haar gemis nie, maar hy práát darem weer.

      “Ek stem saam dat dit ’n risiko was om die standvastigheid van ’n onderwyssalaris prys te gee,” erken sy. “Maar Piekepiekniek gaan ’n goeie inkomste genereer. Hoewel ek aanvanklike onkostes moes aangaan, het ek reeds twee pieknieks aangebied en my banksaldo is nie in die rooi nie.”

      “Geld is belangrik, maar geld is nie alles nie. ’n Mens moet doen wat jy voel reg is en wat jou gelukkig maak.”

      “Ek geniet die pieknieks.”

      “Dan was dit die regte skuif. Ek is bly dit werk vir jou.”

      “Ek het ook maar vingers gekruis en wakker gelê, maar dit begin dividende afwerp. Ek het nog ’n bespreking vir ’n kinderpartytjie én ’n bruilof.”

      “Geluk! Jammer dat ek so ’n remskoen was. Ek was die afgelope tyd nie myself nie.”

      “Om lief te hê, is om nooit te hoef sê jy is jammer nie,” herinner Nikka hom aan ’n ou gesegde uit hulle kysjare. “Ek het pasta gemaak, maar as jy nie honger is nie, kan dit oorstaan tot môre. Is jy dors? Kan ek vir jou koffie bring? Of ’n glasie rooiwyn? Daar’s ’n bottel merlot, waarvan jy hou.”

      “Net wat die maklikste is.”

      Die merlot het nagmerrie-assosiasies, maar Nikka het iets sterkers as koffie nodig. ’n Dankbare Deon Liebenberg het vir haar ’n bottel rosé sjampanje present gegee, vir ’n spesiale geleentheid. Sy wou dit vir haar verjaarsdag bêre, maar geen geleentheid kan meer spesiaal wees as Ruan se tuiskoms nie.

      Toe sy met twee langsteel-kristalglase en die bottel pienk sjampanje in ’n ysemmer terugkom, sit Ruan op die bank, sy oë toe en sy kop agteroor geleun.

      “Toemaar,” keer Nikka toe hy mik om op te staan. “Jy lyk gedaan. Sit en ontspan. Ek het Vrydagaand genoeg oefening gehad om ’n sjampanjeprop te laat skiet. Ek sal regkom.”

      Hy stoot sy kuif weg en hark sy vingers deur sy hare, ’n gebaar wat sy die afgelope tyd leer ken het. Spanning? Senuwees? Sy weet nie. Maar sy moenie weer op hol raak nie. Hulle verhouding was so lank al wankelrig, sy kan nie verwag dit moet so maklik stabiliseer net omdat sy hartjies en ballonne opgehang het en erken het dat hy reg was, dat die piekniekidee ’n risiko was wat hulle bankrotskap kon gekos het. Hy het wel verskoning gevra omdat hy haar onderskat het, maar daar lê nog ’n lang, opdraande pad voor.

      Sy skink twee glase sjampanje en hou hare omhoog. “Op die Bulls, wat die Super14 gaan wen!”

      Dit lok ’n skewerige glimlag uit. “Ja, op die Bulls!”

      Hulle gesels ’n rukkie rugby, oor Thys wat mooi gesorg het, Foksie se drie kleintjies, die pieknieks en Ouperd se petalje in die groentetuin. Sy vertel van Deon en Lorna en Ben Troebadoer wat so romanties gesing het. Deels om hom onderlangs te pols oor wat hy van so ’n plan dink en deels om hom voor te berei op die guns wat sy wil vra.

      “Ben het regtig baie moeite gedoen,” voeg sy by. “Hy het spesiaal ’n nuwe aandhemp gekoop. Ek voel die fooi wat hy gevra het, is te min. Dit dek skaars sy petrol. Ek weet hy is ’n fanatiese rugby-afficionado en sy bloed pomp blouer as ’n blou Maandag. Hy sal sy regterarm gee vir kaartjies vir die halfeindstryd. Dink jy … Kan jy dálk … net miskién … e …” Sy laat die sin in die lug hang en toor haar verleidelikste glimlag op.

      Ruan is ewe gewillig. “Geen probleem nie. Ek gaan môre Pretoria toe, dan sal ek twee kaartjies by Weeknuus optel en sommer by hom by die skool aflaai. Dit maak die pad dalk oop vir die toekoms, indien jy Ben weer nodig kry.”

      “Dankie, dankie! Jy’s ’n liefie. ’n Skattebol.” Sy wens sy kon op sy skoot gaan sit, haar arms om sy nek vou en sy kop aftrek tot teen hare, tot sy mond hare ontmoet. Hom soen, sy mond en sy lippe proe en die punt van haar tong teen syne laat speel … Eers liggies, tergend, uitlokkend. Dan warm en passievol, harder en sagter … totdat sy meer emosie uit hom kan lok as hoflikheid, erkentlikheid en hulpvaardigheid.

      Hy is terug in die gees, sy wil hom na liggaam óók terug hê. Kan ’n fikse, viriele man só moeg wees dat hy nie die verlange in sy vrou se oë herken nie? Na vyf weke se skeiding nie dieselfde hunkering in hom voel opstu nie?

      “Dis ’n plesier. Ek help graag as ek kan.” Ruan drink ’n laaste sluk, maar skud sy kop toe Nikka vir hom nog sjampanje wil skink en sit sy glas op die koffietafel neer.

      Hy sluit sy oë en strek sy rug. “Jammer, maar ek is vlugvoos en swak geselskap. ’n Zombie, uit op my voete. Sal jy my verskoon as ek nie eet nie en gaan slaap?”

      “Natuurlik.”

      “Vir die minste moeite, sommer in die spaarkamer. Ek het nie gestort of geskeer nie en gaan waarskynlik snork. Môre sal ek weer mens voel.”

      ’n Vuis klem haar maag in ’n bondel. Maar Nikka probeer positief bly, probeer haarself breinspoel. Sy moenie meer daarin lees as wat Ruan bedoel het nie. Hy was meer as vier en twintig uur in ’n vliegtuig, op ’n oos-wes-vlug met ’n tydsverskil van agt uur. Dis nou oggend in Australië; dis verstaanbaar dat Ruan gedisoriënteer is en nie wil eet nie. Veral nie pasta nie. Sy gestel en kophorlosie is ingestel op ontbyt. Sy moes spek en eiers gemaak het.

      Kos is egter nie die belangrikste nie. Hoekom die spaarkamer? vra sy haarself af. Hulle het mos nie rusie gehad nie. Verlang hy nie ná die lang tyd na sy eie bed nie? Vanwaar hierdie obsessie om eers te stort en te skeer voor hy naby haar kom? Sy is mos nie ’n vreemdeling of ’n nuwe nooi op ’n eerste afspraak nie. Genade, hulle is getroud! Hulle leef saam in dieselfde huis.

      Sy hou van ’n dag oue baard. Dis modern en sexy. Ruan het nog nooit in sy lewe gesnork nie. Hy is fiks en sweet min. En ás hy effe na sweet ruik, wat maak dit saak? Sy gee nie om nie. Dis normaal. Dis hý, Ruan, haar man wat sy liefhet en na wie se nabyheid sy verlang. Sy skouers en sterk arms om haar, sy baard wat teen haar gesig girts, die gevoel van sy ferm lyf onder haar hande. Die reuk van sy vel teen haar neus en die souterige, effens sweterige smaak teen haar tong …

      Dit sal haar nie pla nie. Inteendeel, dit sal juis haar hormone oprui, haar laat tintel en bruis. Vyf weke is ’n ewigheid om vroualleen te wees en sy het haar lenige Kapenaar bitter baie lief … Hy slaap vannag alleen, maar hy het belowe om môre weer mens te wees. Mán te wees. Háár man wat huis toe gekom het …

      Nikka wens sy het die vrymoedigheid gehad om stil-stil in te sluip, die beddegoed op te lig en snoesig agter sy rug in te kruip. Al slaap hy, sal sy hom nie steur nie. Net styf teen hom lepellê met haar arm om sy middel. As hy dalk in die nag wakker word, hom ’n sagte soentjie gee en teen hom nestel. Dan verder slaap, veilig en geborge in die wete dat hy hier is – tuis en by haar.

      Maar toe sy in die gang verbystap, is die spaarkamer se deur toe.

      Sy sit die honde uit, sluit die deure en skakel die buiteligte aan. Dan gaan sy kamer toe en trek haar blou sonrok