Drieklawerblaar. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798174046
Скачать книгу
gevryf. Maar die boerdery self was syne, net syne. Geen voorstel of woord van haar het ooit op goeie aarde geval nie.

      Die proteas het haar lewe uiteindelik verander, haar ’n doel in die lewe laat kry nadat die kinders kosskool toe is. Die cynaroides het die kinders geword waarvoor sy kon sorg. In haar hart het sy die woorde onthou van die vos in Die klein prinsie: As jy ’n roos mak gemaak het, moet jy vir hom sorg. En dit snags woordeloos gefluister wanneer Jannes in sy kussing lê en snork het, geweet hy het haar mak gemaak, en haar toe aan die woestyn oorgelaat.

      Fôkop, dis alles net ’n fôkop!

      Dis die skerpbek-African Grey op die staander in die hoek van die kombuis wat een van sy geliefkoosde frases uitkrys. Jannes het die voël op ’n keer gekry by een van die inkommerboere wat na ’n jaar of twee weer padgegee het. Hy was in sy skik met die voël se woordeskat en het hom nog ’n paar van sy eie uitdrukkings ook geleer. Die papegaai se klagtes help haar soms om te lag, om die droewigheid en die verlange te skei van die vreugde wat sy in die paar jaar van die blomme gehad het. Verlang sal sy altyd na die pienk en rooi en waswit blomme. Maar daar is ’n tyd om te rou, en daar is ’n tyd om jou kop op te lig. Om jou liefde vir die mooi en edele om te sit in dit wat noodsaaklik is. Brood op die tafel. Soos Petrus haar oor en oor vertel het.

      Dit het lank geneem daardie jare om Jannes te oortuig en nog ’n hele lang tyd daarna om die blomme gevestig te kry. Dit was ’n paar jaar voordat sy sou kon pluk. Sy het kuikens gekoop intussen, ’n hoen­derboerdery aan die gang gekry wat geld sou inbring sodat sy die plante kon koop en vir Jannes kon vra om die grond te rip. Geweet hy sou reken ’n besigheid is ’n besigheid en ’n boerdery nog méér. Maar sy was meer as bereid om vir die diesel en arbeid te betaal.

      Gelukkig was die grond vanself suur genoeg; sy het nie nodig gehad om enigiets te laat byvoeg nie. En humus. Die mis wat Jannes aan mense in die omgewing verkoop het, kon sy geredelik teen ’n afslagprys in die kraal gaan optel.

      “Asseblief,” het sy Jannes twee weke voor die groot dag gevra, “kan ek die plaasbakkie kry vir die dag, ek wil self die plante gaan haal. Ek weet hulle kan dit laat aflewer, maar ek wil so graag sien hoe lyk dit by die kwekery.

      “Sy, die kweker, sê sy het ook ’n klompie boeke en aantekeninge vir my. Daar is repens-plantjies wat nog klein is wat ek teen die wind wil beskerm en daar is geelbosse waarna ek ook wil kyk. Die vrou sê dis ’n goeie idee, want hulle gebruik dit as vullers; mense wil die bosse só koop dat jy dit net so in ’n pot kan sit. En later, as ek uitbrei, sal dit my goed te staan kom. Asseblief?”

      Hy het sy oë hemelwaarts geslaan, niks gesê nie. Sy het geweet hy sien syfers en die prys van die brandstof, die slytasie, die ongerief wat hy sou moes verduur vir die dag. Sy het gewag tot dit aand was, toe langs hom in die bed ingeskuif, en weer gevra. Met haar hand op sy bors.

      Hy het ja gesê. En dat sy dadelik huis toe moet kom en nie nog langs die pad by winkels ook aangaan nie; hy het die bakkie die aand weer nodig om na ’n melkprodusente-vergadering te gaan. Sy het geknik, hom nie daarop gewys dat hy ook die ander bakkie, die dubbelkajuit, kon gebruik nie. Geweet hy sou sê die ding is te swaar op diesel; dat sy mos weet hulle gebruik dit net vir kerk toe gaan en wanneer die kinders van die koshuis af by die huis is.

      Dis donkernag toe sy die oggend opstaan, die luggie is koel. Met die inklimslag in die bakkie draai sy eers weer terug huis toe om ’n warm ding te gaan kry. In die verbygaan druk sy ’n soen op Jannes se kaalwordende kop waar hy by die tafel sit en koffie drink.

      “Dankie,” sê sy voordat sy by die deur uitloop. “Jy sal sien – dit gaan ’n sukses wees.”

      Die grondpad is sleg; die streekdiensteraad doen lankal nie meer moeite om die plaaspaaie te onderhou nie.

      In die lug wat ligblou begin deurskemer, sien sy ’n bokkie teen een van die drade staan. ’n Steenbokkie. Jannes word radeloos wanneer die wildsbokke die wingerd so aftop. Hy en Petrus en Jakkie vat soms snags oor naweke die bakkie en probeer die kwaaddoeners vastrek. Agterna word die slagwerk in die stoor gedoen.

      Sy kon nooit kyk nie. Nie na die dooie oë van die bok nie en ook nie na die bloederige derms en binnegoed nie. “Maar jy eet darem die vleis,” het Jannes met ’n skewe trek om die mond aan die beginjare van hulle huwelik gesê. “ ’n Boervrou moenie grillerig wees vir bloed nie, jy sal moet leer om harder te word. Kyk, die kinders staan dan by as ek slag, hoekom is jou murg so waterig?” Sy het die klank van haar skoonpa se stem in sy woorde gehoor.

      By die aansluiting waar die teerpad begin, op pad na ’n nuwe lewe wat sy vir haarself gaan begin met die proteaplantjies, voel sy hoe dit lig word in haar, ’n seepborrel wat uit ’n draadvormpie skiet en al hoër styg. Uiteindelik gaan sy ’n eie besigheidjie hê. Vir die geld, wat altyd nodig is, maar ook vir die genoegdoening van iets te hê om te dóén. Om waarde te hê, nie altyd te voel sy is ’n nuttelose aangenaaide lap nie.

      Haar skoonouers, toe reeds dorp toe getrek, het destyds met kwalik verborge misnoeë gekyk na die eertydse skoolbibliotekaresse wat op die plaas aan hulle seun se sy wou kom staan. “Nou toe nou! Wat sal Horak sê?!” het Jannes se ma skepties laat val toe hulle die middag die nuus van die voorgenome verlowing en troue meegedeel het.

      Tinneke het haar bes gedoen. Gemaak of sy die twyfel in die ou mense se oë nie sien nie; of sy die onderlangse gepraat van Jannes se suster en haar man, ook ’n boer van die Groot-Karoo, tydens vakansies op die plaas nie gehoor het nie.

      Toe die kinders skool toe is, koshuis toe, was daar dae dat sy nie wou opstaan nie. Dae dat sy haar kop toegetrek het onder die duvet en nie kans gesien het om die telefoon met sy twee lang luie en twee kortes op te tel nie. Dit het gevoel of daar niks meer van haarself oor was nie. Haar enigste doel in die lewe was om soggens, smiddags en saans kos op die tafel te sit.

      Drie dae in die week het sy iemand gehad om haar in die huis te help en die was- en strykwerk te doen. Daarvoor was sy Jannes dankbaar, want sonder elektrisiteit het sy soms moedeloos oor ’n bondel doeke van die kleintjies gestaan. Maar blyer nog was sy vir die ander asem, die bietjie gesels, as vir die werk wat Klaartjie in die plaashuis gedoen het.

      In die jare op die plaas het sy genoeg tyd gekry om te lees, haar te verdiep in alles wat sy begeer het om te lees toe sy nog die skoolbiblio­teek behartig het, maar nie tyd daarvoor gehad het nie. Maar haar lees, ver van ander mense met wie sy kon praat, het ’n vlug uit die werklikheid geword eerder as wat dit ’n soeke na kennis was. Wanneer sy gelees het van karakters in ander plekke, ander omstandighede, het sy haar eie ingeperktheid vergeet. Dan was sy saam met die mense in die boeke op húlle plekke. Maar wanneer sy teruggekeer het uit die verbeelde werklikheid, was die stilte om haar ’n groot sambreel. Iets wat haar nie beskerm het teen elemente nie, maar afgeskerm het van die milde reën van kontak met ander mense.

      “Jy bederf die bruingoed met dié dat jy hulle so aan hulleself oorlaat,” het haar skoonma gesê wanneer hulle ’n naweek op die plaas kom kuier en gesien het hoe Tinneke Klaartjie haar eie gang laat gaan met die skoonmaak en spens regpak. “Jy sal nog leer, ’n mens moet tóésluit – jy kom nie van ’n plaas af nie, jy sal moet leer by die ander boervroue!”

      Sy het haar skoonma se afwysende woorde by die een oor laat ingaan en by die ander een uit. Die oggend Weskus toe, op pad na die kwekery, het sy die bakkie se ruite by die begin van die teerpad oopgemaak dat die wind kon deurwaai. In haar gedagtes het sy gesien hoe haar stuk­kie grond met die blomme sou lyk; hoe sy tussen die rye sou deurstap, sou kyk na elke plant, sou seker maak dat hulle nie siektes het nie, kyk of die blomme reg was vir pluk. Sy sou beheer kry oor haar lewe.

      En sy het. Haar blomme het ’n bron van inkomste geword. ’n Bron van trots, maar veral ’n manier van leef. Totdat Boet Stander aan Jannes begin karring het. Hierdie man van Ladismith het dit dan nou só sleg getref – kan hy en Jannes dan nie maar vir Doors Heyman help nie? Hy het nog altyd net die gatkant van die lewe gesien. As hulle drie nou ’n maatskappy kon stig, dan kon hulle uitbrei en die proteabesigheid baie groter maak. Doors kan die fisieke werk doen, hy en sy vrou, Henna. Jannes kan die grond en die geleentheid bied en Boet sal geld insteek.

      “Néé.” Dit was haar antwoord toe Jannes die aand by die huis