Drieklawerblaar. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798174046
Скачать книгу
onbewustelik die beroep van verpleegster laat kies het, hierdie begeerte om gesond te maak van heel onder af, daar waar dit verkeerd begin loop het.

      Eers lank na haar oupa se dood, toe ouma Sarah byna nie meer kon loop of sien nie en sy self al verpleeg het, het Kate probeer om brok­kie vir brokkie die gebeure van daardie jare op die stuk grond in die Klein-Karoo uit haar ouma se geheue los te wikkel.

      Die ou vrou was teësinnig. En soms was Kate jammer dat sy haar ouma dit wou aandoen, dat sy haar probeer terugvat het na die eenvoudige huisie met die misvloere en die twee slaapkamers wat sy moes agterlaat. Die kombuis. Die afdak. Die werf en die herinneringe.

      Wat sou in haar oupa se kop aangegaan het destyds? Hoe bring ’n mens jouself sover om so iets te doen? Dit nadat hy in die eerste plek ook nog skuldig was aan ’n medemens se ondergang – die éérste sonde waarvan haar ouma gepraat het. Miskien is dit waaraan hy uiteindelik dood is, die skuld. Of verwyt.

      Nou nog sien sy hoe ma Grace na hom kyk as sy ’n koppie koffie voor hom neersit, met soveel minagting, nee, meer as dit, met weer­sin. So moet dit wees, dit waarvan die Bybel praat, ’n hel wat nooit uitbrand nie.

      Haar oupa het sy nooit met ’n hand op ’n Bybel gesien nie, maar haar ouma het tot op die einde met bewende vingers in die Douay-Rheims geblaai. En haar ma, Grace, het ’n vreemde soort godsdiens gehad wat Kate laat dink het sy speel speletjies met God. Ek doen iets vir jou en dan doen Jy weer iets vir my. Omgekeerd van die gewone prosedure. En tog. Haar ma het haar grootgemaak dat sy ook gelowig was. Maar dis veral die predikante se preke oor sonde en verdelging waar­van sy onder die indruk was. En toe het sy nog nie eens geweet van die volle lading van die erfenis wat haar later sou toeval nie.

      Die oggend is ligblou met ’n enkele vliegtuig se wit streep deur die hoë lug toe Kate oor die brug ry met die pad wat Oudtshoorn toe loop. Spoorlyne en paaie strek soos ’n spinnekop se pote oor hierdie deel van Beaufort-Wes. Teen die bult dra bruin kinders groot hampers op die rug huis toe vir die week wat kom se kos. Mielierys. Bone. Blikkies tamatievis. Stapelvoedsel. Vuurhoutjies en kerse. Tabak.

      ’n Vragmotor met ’n klompie skape kom van voor af. In die spieël­tjie sien sy die wollerige lywe teen mekaar beur. Dis nog 173 km na Oudtshoorn. Daar sal sy langer stop en iets eet voordat sy deurhou na Doringboom. Haar binneste voel asof dit in ’n klemskroef inmekaar­gepers word. Sy weet nie of die Doornboom van oupa Jakob en die Doringboomplek wat Alex opgespoor het, dieselfde plek is nie. Enige mens by sy regte verstand sou sê dis net te vergesog. Maar die geskie­denis van haar oupa en ouma is nog meer so, ondenkbaar so.

      Mense hou nie van snuffelaars nie; sý ook nie. En dis nie dat sy van die begin af beplan het om by die Le Grange-vrou se gastehuis oor te bly nie. Dit was nie haar idee om verder te grawe nie. Al wat sy wou, was om vir Abel Marais ekskuus te gaan sê; die feite bekend te maak aan ’n nasaat van iemand wat gruwelik ondergrawe is. Soos wat sy die nasaat is van iemand wat weet wat gebeur het. Ook daarná.

      Hierdie ding wat nou so onverwags saamval met haar oorspronklike motief is iets wat sy nie voorsien het nie, maar haar vrees om te bly saamleef met alles wat sy weet sonder om iets daaraan te probeer doen is groter as die weghardloop-instink.

      Links deur die draad langs die pad het boerbokke gekruip; in spier­wit onskuld staan hulle langs die pad en wei, reg om voor ’n kar in te spring of om deur ’n veedief ingepalm te word. Hulle skrik toe ’n klomp motorfietse van voor af kom, die ene leerpakke en helms. Vóór lê ’n padstal, die muur adverteer karoolam, koeldrank, biltong, droëwors. Maar Skeurfontein se genades is weggesluit. Teen die yster­hek sit ’n dof glimmende koperslot.

      ’n Entjie verder is De Rust. Dit is haar allerwens. Rus. Om in die aand in die bed te klim en nie meer hoef te dink nie. Maar ’n mens eindig nie voor jy by die eindpunt kom nie.

      Sy wonder hoe dit by die gastehuis van die Le Grange-vrou sal wees. Bowenal wil sy privaat wees, hoewel sy weet dat sý juis die teen­oor­gestel­de wil doen; sy, wat haar nog altyd eenkant gehou het, gaan in die lewe van hierdie Abel indring.

      By die plaas Amandelhoogte staan ’n wit, kliniese huis. In hierdie afgeleë wêreld het ’n man vir sy vrou ’n huis gebou na haar hart – of soos hy gedink het sy dit wou hê.

      Die son in Meiringspoort kaats goud en amber van die rotse. Wadrif. Ou Tol. Gerolms. Die bordjies met name van die driwwe wat om elke draaitjie wag, verklap een na die ander geheime oor die streek se kleur­ryke pionierstyd. Deur ouma Sarah se oë ervaar sy die wêreld waarvan sy gepraat het. Die nag van die vlug is hulle rigting Winkelplaas en Plathuis langs. Daarvandaan met die trein van Laingsburg af na Nou­poort en toe na oupa Jakob se neef Lange in Graaff-Reinet. Op De Aar moes hulle oorstaan vir ’n donkerswart nag. Om nooit daarna weer terug te keer na die vlammende son van die Klein-Karoo nie.

      Weerskante van die pad voor Oudtshoorn loop ’n klompie volstruise. ’n Paar jaar terug het sy oor die nuus gehoor hoe diewe in die nag die voëls byna kaal pluk om die vere op die swartmark te verkoop.

      Op die teer, so ver as wat sy kan sien, is oral swart en grys pleisters soos die pad se wonde gelap is. Fifty Shades of Grey – the South African version, het Mathilde se Alex gelag toe hy haar die video op sy slimfoon wys. ’n Hier en daar geplak van dikker en dunner plaksels om die ergste skade toe te smeer.

      Haar ma was ’n pleisterkind, een wie se dienende lewe die wreedheid wat agter lê, moes toeplak. Maar dié kind het grootgeword in ’n huis sonder liefde en innigheid.

      Die veld is droog hier. Ook in die Oos-Kaap kla die boere dat die regering niks doen om hulle te help nie. Aanvraag om subsidie is ’n nodelose saak. Die plaasnaam Dankbaar op die bordjie langs die pad is ’n ironie, of ’n desperate gebed. Dwaalfontein verder aan is dalk ’n beter uiting van die ware omstandighede.

      Vir die eerste keer sedert sy kan onthou, voel sy ’n stekie jammerte vir oupa Jakob. “Moenie omkyk nie,” praat hy met homself terwyl hy die trek­perde aanhits,“wat agter lê sal jy nooit weer goedmaak nie.”

      Hoofstuk 2

blaar.jpg

      “Ek is jammer, Tinneke,” vir ’n oomblik het Jannes le Grange daardie middag op die plaas na haar gedraai, “maar ek het nou klaar vir die mense ja gesê. Ek kan nie nou teruggaan op my woord nie. En ter wille van die behoud van Doringboom moet ons groter gaan, ek kan nie anders as om hulle aan te stel nie.”

      Maar wat van ons? Wat van my? Hoekom het jy dan hoegenaamd my opinie gevra? Die sinne spring deur haar kop, duikers tussen die rantjies. Dit sal nie help om hulle te uiter nie. As Jannes ’n ding gesê het, het hy dit gesê. Hy sal sy woord hou teenoor die mense, vergeet dat sy ook ’n sê gehad het. Behoort te gehad het.

      Haar lewe saam met die boer van Doringboom is ’n akasialoot wat groei waar daar enigsins ’n stroompie water kan deursypel en jaar na jaar meer en meer skerp dorings dra. ’n Stuk oorlewing in die harde wêreld waar Jannes se pa die stuk grond met die grootste moeite, sui­nig leef en spaargeld gekoop het; dit uiteindelik help afbetaal het met ’n geelhouttafel en ’n erf-staanklok van sy vrou se Duitse oupa. Morg vir morg het hy sy grond bymekaargemaak, totdat hy eindelik ’n amper lewensvatbare stukkie aarde gehad het. En later ’n veel groter stuk grond aan sy seun kon oormaak.

      Die soet geur van die geel doringboomblommetjies is die verade­ming, die troos, die beloning vir sy opoffering. En die dorings, die dorings is iets wat deel is van die pakket wat Tinneke, sy skoondogter, moet aanvaar.

      Aan die begin van haar lewe saam met Jannes was die dorings verskuil agter die donsige blommetjies en sagte groen blaartjies, maar in die droogtetye het hulle groot en wit uitgesteek teen die lug.

      Onder die blink van die glas wat die tafelblad voor haar bedek, is daar afdrukke van proteas, verskillende soorte, pienk, room, rooi. Bo-­op die lessenaar is twee rame met twee foto’s: Petrus en Jakkie, die een donker, die een blond. Net die twee foto’s. Haar kinders.

      Uit die handsak by haar voete haal sy ’n tissue en begin die glas oor die foto’s skoonvryf. In die linkerhoek van Jakkie