Drieklawerblaar. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798174046
Скачать книгу
die glas weer blink en vee ook die vlieëmis van die raam van Petrus se foto af. Sy sal Bettie moet sê om beter te kyk; hulle weet sy raak moerig as die kinders se foto’s nie skoon is nie.

      Sy hoor iets, kyk op. In die deuropening van die ouhuis staan ’n vrou met grys hare, die dowwe skynsel van ’n vroeëre rooi daarin. As sy haar kop nie opgelig het nie, het sy haar nie hoor aankom nie; sy sal moet laat kyk na haar ore, dis of sy toenemend dower raak. Dit loop in die familie, dis ’n genetiese ding. Haar pa en oupa moes albei apparate dra toe hulle ouer word.

      Die besprekingsboek val van die lessenaar af toe sy opstaan om deur toe te loop. Sy tel dit op, steek haar hand uit na die vrou.

      “Goeiedag. Tinneke le Grange.” Haar woorde het ’n vraagklank.

      “Kate Jooste.” Die vrou neem haar hand. “Ek het bespreek. Gistermiddag.” Haar oë kyk vlugtig na binne, asof hulle iets daar soek, haar lyf gespanne.

      Tinneke tel die besprekingsboek op, trek met haar vinger teen die blad af. “Natuurlik. Hier is dit.”

      Sy loop saam met Kate Jooste na die motor, betig haarself dat sy toe­gelaat het dat die verlede haar bekruip terwyl sy die boekwerk vir die gastehuis aan die doen was. Sy moes tog dadelik besef het dis die vrou wat vir twee weke aaneen bespreek het. Dis vreemd, het sy nog ge­dink toe die vrou die vorige middag bel en so gehaas klink. En toe vra of sy vir so lank sal kan bly. Gewoonlik is dit maar ’n oornagstop of dalk twee aande se oorbly. Behalwe die vrou wat haarself al vier, byna vyf, dae besighou met die vetplante, en meneer Lindeman, die geoloog, wat na elke klip in die omgewing kyk. Maar hulle is die uitsondering. Deesdae is dit in die media ’n ge-óé en ’n ge-áá oor die Klein-Karoo, maar die uitgestrektheid van die gebied interesseer min mense vir langer as ag-en-veertig uur. En dit pas haar; sy het geen behoefte aan gaste wat weke lank bly nie. Mense wat hulle later verbeel hulle is jou vriende, wat uitvra en in jou huis begin rondloer.

      By die motor help sy om die groot tas uit te laai. Sy is verbaas oor die gewig, selfs vir ’n klompie dae voel dit na ’n klomp goed om saam te sleep. Maar dis ’n hele paar dae se geld en ook nie elke dag se skoon oortrek van beddegoed nie. Die geld is haar brood en botter. Al wat sy moet doen wanneer mense vir langer as ’n dag of twee bespreek, is om haar afstand te hou.

      Nadat Jannes drie jaar terug dood is, het sy haar dit voorgeneem: nooit weer laat sy iemand toe om haar menswees in te neem nie. Daar is bitter min mense wat sy vertrou behalwe haar kinders, en al twee van hulle sit ver. Jakkie is landuit, Kaïro toe, ’n paar maande na haar pa se dood. Daar vat sy toeriste na die piramides en na Luxor se Vallei van Konings met die versierde graftombes van die farao’s diep onder die grond. En ná universiteit het Petrus ’n pos aanvaar as wildbewaarder by ’n reservaat naby Bloemfontein, nie sonder bitterheid teenoor Abel wat hom op sy eie pa se plaas ’n werk aangebied het nie. Nou het hy rus en vrede vir sy siel. Sê hy.

      Sy stap voor die vrou uit. Meneer Van Schalkwyk het gister al vertrek en die kansellasie het gemaak dat die kamer skoon en reg is vir haar nuwe gas. Dat dit haar nou so kon ontgaan dat die vrou sou opdaag – vanoggend nog het sy vir Bettie gesê om die vensters oop te gooi. Vir die heel eerste keer het sy in die drie kamers mense wat gelyktydig vir ’n langer periode bly. Voordeliger, reken haar kop tussendeur, groter hoeveelhede van dieselfde kos werk uit op minder om te spandeer. Waspoeier, elektrisiteit vir bak en kook, stryk, en dan die belaglike beurtkrag van Eskom wat ekstra onkoste van ’n kragopwekker beteken.

      Die tas wat sy opgetel het, het nie wieletjies nie, sy tel dit op om na die kamer te dra. Kate Jooste moet ’n paar jaar ouer wees as sy, ten minste in die sestig. In die kamer sit sy die gewig op die rakkie met die leerrieme neer.

      “Dié is die Olive Schreiner-kamer; my dogter het gedink dis ’n goeie idee om die Karoo- en Klein-Karoo-mense so te vereer. Langs­aan is Langenhoven, Sagmoedige Neelsie, en die laaste kamer heet Pauline Smith. Maak u tuis en trek die gordyne maar oop as u wil. Die kamer is vanoggend skoongemaak, maar ek hou dit donker ter wille van die warmte wat so in die huis kan intrek; daar is van gister af ’n broeierigheid in die lug.

      “Wanneer u uitgepak het, kan u gerus ’n koppie tee of koffie in die sit-eetvertrek kom drink. Daar staan deurentyd kookwater en alles wat nodig is.”

      Sy loop terug na ontvangs. Die deur wat na haar eie deel van die huis loop, hou sy verbete toe teen gaste se nuuskierige oë.

      Van Graaff-Reinet af kom sy, het Kate gesê. Vir ’n sekonde het Tin­neke se hart geruk; sy weet dis onsinnig, maar alles wat noord van Ladi­smith lê, laat haar voel dis op Petrus se agterstoep. Wanneer laas het sy hom gesien? Met Kersfees het hy gesê hy kom nie huis toe nie, hy gaan Bosveld toe om by vriende te kuier.

      Sy weet wat dit is; dis nie oor vriende of die Bosveld nie, dis die pyn oor Doringboom. Die plaas wat onder hulle hande uit is ná Jannes dood. Die plaas wat Petrus wou kom boer nadat hy klaargemaak het met ’n BSc in Bewaringsekologie. Hy het soveel nuwe planne gehad, impakstudies wat hy wou doen, die erosie in die afloopslote wat hy wou aanpak.

      Sy druk die gedagtes weg; as sy daaraan begin dink, kom al die ou en bitter gedagtes terug. Die proteas wat ook haar kinders was, ’n eie stukkie veld wat sy omtower het in ’n blomparadys. Jannes wat haar, huiwerig eers, bygestaan het daarmee en dit toe van haar af weggevat en vir homself geneem het.

      Daardie eerste dag toe sy die inkommers sien, het sy geweet. Hierdie is mense wat nooit die mas gaan opkom nie. Sukkelaars. Mense wat die een werk na die ander verloor het; ’n eie ou plasie kwytgeraak het, wie se broer en swaer hulle ingeloop het. Mense wat vir alles maar op die Ouvader vertrou, maar wat nie murg in die pype het om self iets gedoen te kry nie. Mense wat later by die plaasbidure hulle deemoe­digheid en hulpbehoewendheid hardop by die Here sit en uitkerm het. Sodat die bure begin praat het: Kan Jannes dan nie beter omsien na die man en vrou wat hy blyplek op die plaas gee nie?

      Die deur klap; dis Bettie wat ’n mandjie vol wasgoed uitdra. Bettie moet die pot aan die kook hou; dis ses maande terug dat OuBen die beroerte gekry het en sy werk langsaan by Doringboomlaagte, Abel se vakansie- en wildplaas, was úit die hande wat nou slap op sy bene lê. Bedags sit hy in die stoel buite die platdakhuisie, sy oë leeg van die niksdoen. Bettie se kinders is baie, ses opgeskote seunskinders en ’n mei­sietjie, Kleinbet, maar hulle noem haar Nippie. Oor sy die laaste enetjie is, sê Bettie. OuBen sal nie weer kinders maak nie.

      Waarvoor sy haar Petrus-kind altyd dankbaar sal bly, al sien sy hom nou byna nooit, is die feit dat hy die sake so goed bestuur het toe die plaas in die mark kom. Dat hy gesorg het dat hulle ’n stukkie van die grond wat ’n eie kaart en transport het, kon laat afsny.

      “Vir Ma,” het hy gesê. “Dan kan Ma ’n gastehuis hier maak op dié stukkie grond, dit kan taamlik inbring as ons dit mooi inrig. En dan het Bettie darem ook nog werk. As dit later goed loop, kry Ma nog iemand om te help.

      “Gelukkig loop die grond met ’n punt op boontoe, so daar is ’n stukkie berggrond ook waar die besoekers kan gaan stap en daar is water in die rotspoel, dis die belangrikste. Mense is deesdae mal daaroor om deur die Klein-Karoo te ry; die agterpaaie is almal wat 4x4-­voertuie het se kos. En met elke dorp wat deesdae ’n fees of ’n ding het, sal Ma nie ’n tekort aan gaste hê nie. Ons sal die meeste werkers moet laat gaan, dis nou maar soos dit is, maar hou vir Bettie, sy sal Ma baie kan help.”

      “Vir wat sal Ma nou nog op ’n afgeleë stuk grond bly sit?!” Jakkie het gedink dis lawwigheid. “Was Ma nie lank genoeg van alles en almal afgesonder nie?”

      Maar Petrus was reg. Hoe moeilik dit ook al aan die begin van haar en Jannes se huwelik was om gewoond te raak aan die wye stilte met net die klank van krieke en paddas saans, sy het haar versoen met alleen bly, alleen wees. Soms het sy verwonderd teruggekyk na die Tinneke wat op Barrydale kom skoolhou het. Die jong onderwyseres wat altyd van mense omring was, wóú wees; die meisie wat oor ’n na­week wanneer sy alleen in die skoolkoshuis agtergebly het, die skool­kinders huis toe en haar goeie vriendin Ester wat Engels gee ook êrens heen, haar siel uitgehuil het van eensaamheid.

      Tot Jannes haar kom haal het, Doringboom toe.

      Hoe bereid was sy nie om vir hom ’n maat te wees nie, om dinge saam