Drieklawerblaar. Christine Barkhuizen-le Roux. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Christine Barkhuizen-le Roux
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798174046
Скачать книгу
ek het dit opgebou; ek soek nie ander mense daar nie.”

      Op die ou end het hy haar oorrompel. Met sy manier van praat, sy opnoem van hoe swak die markte vir die pere en die perskes en pruime was. Dis net die melk wat hom maandeliks help om kop bo water te hou. As hulle die blomboerdery kan uitbrei én boonop medemenslikheid teenoor Doors en sy vrou betoon, is dit tog vir almal ’n bonus. ’n Mens moet ook doen wat die kerk van jou vra. En sy, Tinneke, sal tog nog altyd die helfte van die wins wat na Jannes se kant toe kom, kry. Veel meer as wat sy tot op hede toe uit die besigheid gemaak het.

      “Ek wil hulle eers ontmoet,” het sy uiteindelik gesê. “Ek wil weet wie in my besigheid betrokke gaan wees. Vir Boet Stander ken ek net van sien en hierdie ander man, van hom weet ek niks.”

      Dit was ’n Saterdagoggend in die laatsomer. Die wolke bo die plaas was swanger met vog; in die huis was dit bedompig en donker. Vir Tinneke het dit gevoel soos kerk; almal was styf en stram en niemand behalwe Boet Stander het veel gepraat nie. Sy self kon dit moeilik oor haar lippe kry om te vra of hulle koffie of tee wou drink. Haar keel het gevoel of daar dwarsstokke in gesteek was, soos die stokkies waar­mee Jannes die jong peerbome se takkies uitmekaar dwing om wyer te sprei.

      “Ek sê jou, dit gaan nie werk nie,” het sy gesê terwyl sy en Jannes later die mense oor die werf sien wegry het. “Hierdie Doors en Henna, ek sê vir jou vandag, dis moeilikheid. Hoekom het niks nog ooit vir hulle uitgewerk nie? Die man is vir die hoeveelste keer uit sy werk geskop. Kan dit nou regtig elke keer die werkgewer se skuld wees? En die storie van sy broer wat hom bedrieg het met die stukkie grond – wie weet wat die broer se storie is?”

      In haar hart het sy siek gevoel oordat sy so onbarmhartig was, maar daar was iets in die Heymans wat gemaak het dat sy ’n fisieke afkeer gevoel het. Skroomvallig het hulle daar gesit. Die lang man met die groot grys Bennie Boekwurm-oë agter die dikraambril, stamelend en verduidelikend, en die vrou met neergeslane oë wat vertel het hoe hulle maar altyd in al die moeilike omstandighede op die Ouvader vertrou het. Hulle sou so dankbaar wees as hulle net weer êrens ’n begin kon maak. As die Ouvader hulle nou maar net weer kon help …

      Sy het ’n weersin gevoel. En skuld. En woede. Jannes wou haar deel maak van iets waaraan sy nie met ’n tang wou vat nie. Sy wou die mense nie eens koffie gee nie, wat nog te sê by haar geliefde proteas toelaat.

      “Nee,” het sy weer die aand voor hulle gaan slaap, gesê, “ek sien nie kans daarvoor nie, Jannes. My antwoord is nee. En jý is ook nie die Ouvader nie.”

      Hy het na haar gekyk. Sy skouers was opgetrek soos een wat wil sê dat hy dit nie kon verhelp nie. “Per slot van sake is dit my grond, Tin­neke. Ek is rentmeester van dit wat ek geërf het van my pa. En ek is die een wat op die ou end moet rekenskap gee.”

      Hoofstuk 3

blaar.jpg

      Abel Marais staan op uit die rottangstoel op die stoep; hy strek sy arm, vryf oor die dowwe, dooie kol agter op sy rug. Die bouery aan die derde deel van die lodge op Doringboomlaagte maak hom soms verskriklik opgewonde en soms beangs. Nie dat hy dit vir ’n siel sal laat blyk nie. Maar sy droom is sy kruis, sy verlossing, maar ook sy vagevuur.

      I must do as dreamers do. Toe hy Walt Disney se biografie gelees het daardie klompie dae in Frankryk toe hy sy voorvaders se spore gaan naloop het, het hy geweet dit is ook hý. Hier, op dié grond wíl hy wees, maar vanmiddag voel dit meteens weer of die jare wat agter lê, ’n gebou is wat ineengestort het weens ’n swak fondament of derderangse boustene. Sy mislukte huwelik, sy onmag om sy droom en sy huwelik te verenig.

      Oorkant die hoofgrondpad wei ses gemsbokke en so pas het hy koe­does deur die verkyker gewaar. Die aangeplante gras wat hy gesaai het, het goed gevat, die diere is blinkvet. Van die oorsese besoekers sal wil skiet wanneer hulle die diere so sien, maar hulle sal skiet met die kamera, dis al. Die wild is om na te kyk, nie vir die pot nie, of nog erger, om as ’n trofee terug te neem huis toe nie. En as die bokke te veel raak, dan sal hy self ’n plan maak.

      Wanneer alles klaar is, die lodge in geheel, die drade en kampe, die waterpunte vir die diere, wil hy net op hierdie klipstoep met die breë veranda sit en kyk na God se bokke en berge en bome. Malie is weg van hom. Toe hy die plan vir die wildplaas hier anderkant Barrydale met haar begin bespreek het, het sy haar gat op ’n stok gesteek en gesê sy het lank genoeg met die spoke uit sy verlede saamgeleef. As hy dít nou ook nog kom doen, terugkom na die onheilsplek, dan los sy hom. En sy het.

      Hy trek die geur uit sy pyp diep in. Die tabak wat Monkey, sy dog­ter, van oor die water vir hom gestuur het, het ’n sterk karamel-en-­koffiegeur. Hy kan Malie nie kwalik neem nie; hoe sou sy ook kon begryp hoe dié ding, die skelmstreek wat sy oupa van sy plaas verdryf het, in ’n seun of ’n kleinseun kon gaan sit? Grond is iets waarvan die leem en die klei en die sand oplos in jou bloed – en as jy nie gehoorsaam is aan die roepstem nie, heg die goggas in die stof vas aan die binnekant van jou are, begin dit soos ’n kanker aan jou vreet. Soos die melanoom wat onverwags drie jaar terug op sy rug uitgeslaan het.

      Aan kanker het hy nooit bewustelik gedink nie; sy ma het teen haar einde kolonkanker ontwikkel, maar sy was al so oud dat dit nooit ’n bedreigende faktor in sy eie gedagtes was nie. In sy kop is sy ma dood van ouderdom. Dit was toe hy besig was met die transaksie om die grootste gedeelte van Doringboom van die Le Granges te koop dat die huisdokter so tussendeur die griepinspuiting wat hy gaan kry het, opsluit ’n roetineondersoek wou doen. En die plat donker vrat op sy rug ontdek het. Verspreide melanoom.

      Dis besweer, het die kankerdokter uiteindelik gesê na maande se herhaaldelike behandeling: die uitsny en die bestraling van die uit­saai­ings het alles weggeneem, Abel is gesond. Maar die ander kanker, daar­die vretende geheimenis, die ontneming van dit wat wettiglik sy familie s’n was, sýne was, het diep gekerf, verder as vel en dieper as vleis. Snags wanneer hy onder die muskietnet aan die slaap probeer raak na drie glase Joseph Barry-brandewyn, bly hy wakker in sy geheue en in sy wete. Sy drome dring hom tot die waarheid.

      Nadat die dokter hom die middag uiteindelik die groen lig gegee het, het hy geweet wat hy moet doen. As hy die min of meer onmiddellike verlede nie ongedaan kon maak nie, sou hy sy Hugenotevoorvaders en -moeders se plek van die verre verlede gaan opspoor. Êrens moes hy ’n anker kry om homself aan vas te maak.

      Hy kon dit bekostig. Sy konstruksiemaatskappy in die Paarl het uit­gebrei oor die hele Boland en in al die jare het hy net een keer ’n terug­slag gehad. Maar dit was op die rekening van die betonmaatskappy by wie hulle die swak materiaal te goeder trou aangekoop het; sy eie onder­neming het seëvierend deur die hele hofgeding gekom. ’n Sakeman, dit was hy by uitstek, maar ’n skelm, nee. Die plaas het hulle verloor deur die onderduimsheid van ’n man wat sy woord nie gehou het nie, maar eerlikheid is iets wat sy pa en sy oupa in hom ingedril het. Dít is die manier waarop jy sake doen. En om te staan vir dit waarin jy glo.

      Uiteindelik is dit ook die ding wat hom gedwing het na die grond grensend aan Longvilliers, die Franse dorpie, waarvandaan sy Huge­notevoorouers padgegee het na die Kaap. Sy mense wat nie langer kon ja en amen op die Katolieke priesters se geheimsinnige manier van om­gaan met die Woord en met God nie. Mense wat wou uitkom vir hulle geloof – wat sou vlug, maar ook sou sterf vir dit waarin hulle glo.

      Hy was lank nie ’n groentjie in die buiteland nie, maar om by ’n klein gehuggie aan te kom sonder dat daar definitiewe treinverbindings of busse was tussen die groot stad en die stukkie platteland waar hy sy voorvaderspore wou gaan naloop, was nie die maklikste ding nie, moes hy uitvind. Die derde dag nadat hy in Parys aangekom en goed uitgerus het, het hy die metro gevat na Gare Saint-Lazare en van daar is hy na die volgende stasie by Montparnasse waar hy ’n trein gekry het na Rambouillet.

      Op die stasie het hy homself probeer duidelik maak by die kaartjie­kiosk, maar die middeljarige vrou het haar kop geskud. Geen Engels nie. Je ne comprends pas. Ek verstaan nie! En by die aanhoor van ’n naam soos Longvilliers het sy haar hare geskud dat dit in ’n aswolk om haar kop gestaan het. Oor Bouc Étourdi, die plaas waar hy uiteindelik moes wees, die grond waar sy voorouers regtig vandaan kom, het hy liewer nie eens begin nie.

      Oplaas