Die dinge van ’n kind. Marita van der Vyver. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marita van der Vyver
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624080381
Скачать книгу
dink jy van Ben?”

      “Hy’s oraait.” Sy draai haar gesig na my toe sodat die maan soos ’n soeklig op haar wang skyn. Haar vel lyk so wit soos die laken. “Bietjie te soet vir my smaak.”

      “Hoe bedoel jy …te soet?” Ben het my gister gevra, stotterend en stamelend, om saam met hom na Heinrich se partytjie toe te gaan. Ek sou in elk geval die naweek by die partytjie gewees het – maar nou het alles skielik verander. Ek weet nie wat om aan te trek nie, ek weet nie of ek my ma se krullers moet leen om my hare in te draai nie, ek weet nie of my kort hare simpel sal lyk met ’n klomp krulle in nie, ek weet nie eens of ek nog by die partytjie wil wees nie. “Kan hy darem dans?”

      “Nogal nie sleg nie.” Haar tande flits wit in haar wye mond. “Maar as jy verder as dans wil vorder … hy’s vrek skaam, hoor.”

      “Dis okay,” sê ek vinnig.

      “Ek dink nie hy’t al ooit ’n meisie ordentlik gesoen nie.”

      “Só skaam?” Ek hoor die teleurstelling in my stem.

      “Miskien kan jy hom iets leer,” troos Dalena. “Daar’s altyd ’n eerste keer.”

      Nog ’n paar oomblikke van stilte terwyl ek die nuus verteer.

      “Wanneer was jóú eerste keer?”

      “French kiss?” Haar lyf skud soos sy lag. “In standerd ses.”

      “Wat’s so snaaks?”

      “Ek het nooit eens sy naam gevra nie! Dit was op een van my susters se paarties. Ek het heelaand met die ou gevry en eers die volgende oggend agtergekom ek weet glad nie wie hy is nie. Ek was so bly om eindelik ’n French kiss te kry dat ek nie omgegee het wié dit vir my gee nie!”

      Ek skep diep asem, skraap al my moed bymekaar. Dis altyd makliker om sulke vrae in die donker te vra: “En verder?”

      “Verder?”

      “Wat’s die verste wat jy al gegaan het?” My stem is so sag dat ek dit self amper nie kan hoor nie.

      “Die keer in die stort,” fluister Dalena. “Saam met juffrou Lourens se broer.”

      “Wat het julle gedóén?”

      “Ons het aan mekaar gevat … Hy’t aan my tieties gevat en ek het aan sy … jy weet … daar onder gevat …”

      Ek kan nie ’n woord uitkry nie.

      “En toe word hy stokstyf.”

      Ek waag dit nie om na Dalena te kyk nie, maar ek weet sy kyk na my. Trek die laken op tot onder my ken, want die kamer voel skielik koud. My lyf die ene hoendervleis.

      “En toe?” fluister ek, dringend, bang dat sy aan die slaap gaan raak.

      “Ek het my oor ’n mik geskrik!” Sy begin giggel, haar tande weer wit in die donker. “Ek het geweet seunskinders word styf … maar ek het nie geweet dit lyk só nie!”

      “Hoe … hoe lyk dit?” Dis die belangrikste vraag wat ek nog ooit in my lewe gevra het.

      “Het jy al gesien hoe lyk ’n donkie as hy jags word?”

      “Jy bedoel … sy dinges het op die grond gehang?”

      “Nee, man, dit hang nie! Dit staan regop! Dit word langer en langer soos … soos Pinocchio se neus!”

      “Soos Pinocchio se neus!” fluister ek verwonderd en probeer my die vreemde prentjie voorstel. Sonder sukses.

      “Miskien het dit ook iets met liegstories te doen,” giggel Dalena weer. “ ’n Seunskind sal enigiets sê as hy eers só lyk. Moenie worry nie. Ek sal dit nie indruk nie. Ek weet wat ek doen. Jy kan my vertrou …”

      “Is dit wat juffrou Lourens se broer vir jou gesê het?”

      “Gelukkig het my pa ons betyds betrap.” Dalena se sug hang soos ’n seepbel in die lug, lank, voordat dit bars. “Anders weet ek nie . ..”

      “En hoe voel dit?” Ek skop weer die laken af. Ruik my eie sweet. Amper so sterk soos die walms van Peaceful Sleep. “Ek bedoel, as dit … as dit soos Pinocchio se neus lyk … vóél dit ook soos Pinocchio se neus?”

      “Ek weet nie. Ek het nog nooit aan Pinocchio se neus gevat nie!”

      Sy begin so lag dat sy haar gesig in die kussing moet druk om te bedaar. Ek giggel senuweeagtig saam, bang dat ’n prefek of die juffrou in die gang ons sal hoor. Bang dat ons nie verder oor hierdie lewensbelangrike onderwerp sal kan praat nie.

      “Nee, man, ek bedoel … voel dit soos hout?”

      “Hout? Is jy bedonnerd!”

      Sy begin weer skud van die lag. Ek begin wanhopig word.

      “Nee, man,” fluister sy eindelik, “dit voel soos vleis! Soos rou wors. Rou wors wat hard gevries is. Maar dis natuurlik nie koud nie …”

      “Soos warm, hardgevrieste wors?”

      “As jy jou so iets kan voorstel.”

      Ek kan glad nie.

      “Waar’s hy nou?” vra ek om die prentjie van die vreemdste wors in die wêreld uit my kop te kry. “Juffrou Lourens se broer.”

      “Vra dit.”

      “Het jy hom nie weer gesien nie?”

      “Ek sê mos hulle lieg almal as hulle in daai toestand is.”

      “Almal?”

      “Ek hoor mos hoe my susters praat.” Dalena se twee ouer susters, albei op universiteit, het die afgelope twee maande my belangrikste bron van inligting oor hierdie onweerstaanbare onderwerp geword. Deur middel van Dalena, want ek het nog nie een van hulle ontmoet nie. En miskien ook nie eens ’n betroubare bron nie, want volgens Dalena het nie een van hulle nog “al die pad” gegaan nie. “Hulle sê ’n mansmens kan nie dink as sy dinges eers styf is nie. Hulle sê dis jou eie skuld as jy hom te ver laat gaan, dan kan jy nie meer nee sê nie. Hy raak skoon mal.”

      “Mal?” Ek sluk swaar. Ek sien die stil, skaam Ben met wilde windmeul-arms en skuim om die mond. “Hóé mal?”

      “Hulle sê hy sal jou sommer rape.”

      Dit word doodstil in die kamer.

      “Maar hoe weet jy …” Ek skep asem soos iemand wat ’n ent onderwater wil swem. “Hóé ver is te ver?”

      Die stilte duur voort. Al wat ek hoor, is Dalena se reëlmatige asemhaling. Dié keer het sy rêrig aan die slaap geraak, besluit ek.

      “Ek dink dis as jy self nie wil hê hy moet ophou nie,” antwoord sy eindelik, so sag dat dit klink asof sy in haar slaap mompel.

      “You can stay as you are for the rest of your life,” neurie Dalena terwyl sy koffielikeur en vodka in drie lang glase meng. “Or you can change …”

      “Wrong song!” Suna lag op ’n hoë kroegstoeltjie langs my. “Dis nie cane nie, dis Red Russians!”

      “Black Russians,” sê ek en kyk hoe Dalena Coke in die glase skink.

      “It’s all the same fucking thing, man,” sê Dalena in Janis Joplin se lewensmoeë stem.

      Suna word oorval deur ’n giggelbui. Ek kan nie help om saam te lag nie. Niemand kan vloek soos Dalena kan vloek nie. Behalwe miskien Janis Joplin.

      Ek kan in my gedagtes vloek, soos iemand wat skelm eet wanneer niemand haar sien nie, maar sodra ek ’n vloekwoord hardop sê, spoeg ek dit uit soos melk wat suur geword het. En Suna is soos iemand op ’n streng dieet wat dit geniet om te kyk hoe ander mense eet. Ek het haar nog nooit hoor vloek nie, maar sy begin onbeheerbaar giggel elke keer as Dalena ’n onbeskofte woord sê. En Dalena swets soos ’n smulpaap. Sy rol die woord in haar mond rond soos my pa met goeie wyn maak.

      “Cheers,