My pa dink nie veel van die Broederbond nie. My ma sê dis oor hulle hom nooit gevra het om lid te word nie. Ek dink dis net nog iets waaroor hy háár kwalik neem. Haar pa, my oupa Visdam, was glo ’n Sap, en sy lyk so half Engels oor sy haar hare kleur en Cameo rook.
“Hmmm.” Suna lek haar lippe af. “Waar’t julle dié goed leer drink?”
“Dis Mart wat my daarvan vertel het,” sê Dalena. “Sy lyk maar so onskuldig.”
“By die see,” sê ek. “By Niek.”
“Wie’s die Niek van wie jy so baie praat?”
“Moenie vra nie,” waarsku Dalena. “Tensy jy die res van die aand wil hoor hoe fantasties hierdie ou is wat jy nog nooit ontmoet het nie. Die bruinste oë, die breedste skouers, die mooiste bene, die ongelooflikste persoonlikheid, die grootste …”
“Jy jok, ek het nog nooit só aangegaan nie, Dalena!” Die vodka het waarskynlik ook iets met die warmte op my wange te doen.
“Het jy al na jouself geluister, Mart?”
“Die grootste wát?” wil Suna weet.
Nou is dit Dalena se beurt om te giggel. Suna se oë rek. My wange word warmer en warmer.
Daar is sekere woorde wat selfs Dalena nie sal sê nie. As dit by geslagsdele kom, manlik of vroulik, kan sy nie eens die biologiese name oor haar lippe kry nie. Al klink dit so kuis in ons mooi biologiejuffrou se mond.
“Penis!” het sy nou die aand, vir die eerste keer, in ons koshuiskamer gefluister. “Dit klink soos ’n nuwe soort hoofpynpil!”
“En wat van vagina?” wou ek weet, soos altyd dapperder in die donker. “Klink dit nie vir jou soos ’n oujongnooi se naam nie? Ou tante Vagina sit op die stoep?”
Dalena moes haar hand voor haar mond hou om op te hou lag.
“En testikels!” het ek gegiggel. “Soos iets wat aan ’n seekat behoort! Hy swaai sy gevaarlike testikels voor hom rond om die vyand af te weer!”
“En vulva kon ’n kar gewees het. Hy klim in sy nuwe Vulva en jaag weg.”
“En uterus?” Ons was albei verwonderd oor ons waagmoed. “Is daar nie ’n stad in Holland met die naam Uterus nie?”
“Uterus en Clitoris!” het Dalena in ’n dramatiese fluisterstem aangekondig. “Die Onmoontlike Tweeling!”
“Dalena oordryf.” Ek vat ’n paar vinnige slukke uit die glas voor my, al weet ek dis nie koeldrank nie. “Dit was net ’n vakansieromanse.”
“Dis wat sy nóú sê!” Dalena se stem klink harder as gewoonlik, selfs méér soos ’n seun s’n. “Nadat ou hakkelende Ben haar hart verower het.”
“Hy hakkel nie, hy …” Ek val elke keer in elke slaggat wat sy vir my stel. “Hy’s net skaam.”
“Ha!” Sy trek ons glase nader om nog drie Black Russians te meng, so tuis soos ’n professionele kroegman agter haar pa se toonbank. Sy dra ’n wynrooi manskamerjas van ’n syerige materiaal. Sy sê alewig sy hou nie van haar pa nie, maar sy kan blykbaar nie die versoeking weerstaan om sy klere te dra nie. “Kom ons drink terwyl ons nog kan. Moenie dink ons gaan môreaand iets meer as Coke en Fanta kry nie. Miskien ’n paar skelm biere vir die ouens, maar beslis niks vir die meisies nie! Ordentlike meisies drink mos nie!”
“Kom ons drink ’n heildronk op Mart en Ben!” Suna se stem, anders as Dalena s’n, het hoër en dunner geword. Sy klink soos ’n sesjarige dogtertjie. Dit kan ook die alkohol wees wat my ore aantas. “Op wat ook al môreaand gebeur!”
“Soos ek ou Ben ken, sal daar bokkerol gebeur,” sê Dalena.
My lyf voel te lig op die kroegstoeltjie, my voete te ver van die vloer af. Ek bestudeer die mure om my, behang met dosyne geraamde rugbyfoto’s. Meestal spanfoto’s, van Springbokspanne tot plaasskoolspanne, sonder enige onderskeid tussen beroemde en onbekende spelers.
“Wat gaan jy aantrek?” wil Suna weet.
“Tj’aag, ek weet nie.” Ek kan mos nie erken dat ek al ’n week lank met dié vraag worstel nie. “Seker maar jeans. En jy?”
“Dit maak seker nie saak nie,” sê Suna sugtend. “Ek het nie ’n date nie.”
Suna is nie lelik nie, lang blonde hare en ’n fantastiese lyf en alles, maar sy het ’n akneeprobleem. Nie té ernstig nie, maar as gevolg daarvan sukkel sy met selfvertroue. Die oomblik as ’n seunskind na haar kyk, laat sak sy haar kop en sluk haar tong in.
“Aag, kom nou, Suna!” bulder Dalena. “Ek het jou mos gesê ek gaan jou met my susters se make-up mooi maak! Jy gaan soos Aspoestertjie op die prins se paartie lyk!”
“Aspoestertjie het ’n goeie fee gehad.” Suna streel ingedagte oor haar growwe gesigvel. “Jy kan nie tóór nie, Dalena.”
“Daar’s niks wat foundation en blusher nie kan regkry nie! Daar’s net mooi niks …”
En met hierdie voorspelling val my kamermaat met ’n oorverdowende slag van haar hoë kroegstoeltjie af.
Ek sit op die balkon voor Dalena se kamer en kyk uit oor haar pa se plaas. Dis nie ’n popspeelplasie soos my pa s’n nie. Krisjan van Vuuren is ’n regte boer, nie ’n prokureur wat wil boer speel soos my pa nie.
Ek het die naweek eers besef my kamermaat se pa moet stinkryk wees. Jy sal dit nooit raai as jy haar in die koshuis sien nie. Sy’s nie een vir fantastiese klere of blink armbande of enigiets wat wýs haar mense het geld nie. Ek weet wat my ma sal sê. As jy gewoond is aan geld, hoef jy dit nie te wýs nie.
My eie mense is nie juis behoeftig nie, maar my pa se bankstaat was nog altyd so onvoorspelbaar soos sy volgende scheme om vinnig geld te maak. Of vinnig geld te verloor, wat meer gereeld gebeur. Op die oomblik gaan dit goed, met ’n plaas en ’n swembad, maar die Van Vuurens se plaas en swembad laat ons s’n soos ’n voorstedelike erfie met ’n visdam lyk. Die Van Vuurens het nie net ’n swembad waarin jy ’n skoolgala kan hou nie, hulle het ook ’n jacuzzi en ’n sauna.
“Jacuzzi,” sê ek hardop om te hoor hoe die eksotiese woord in my mond klink. Amper so mooi soos Frans. “Je t’aime, mon amour …”
“Wát?” vra Dalena agter my en die skryfblok val van my skoot af soos ek skrik.
Sy staan in die dubbele glasdeur wat uit haar slaapkamer op die balkon oopmaak, gee ’n lui gaap en strek haar arms hoog bo haar kop uit. Sy het net die los T-hemp aan waarin sy geslaap het. Love is … lees ek op haar bors, bo-oor ’n prentjie van twee poppies styf teen mekaar op haar maag, met die res van die sin op haar heupe: … being nice to her even if she’s grumpy.
“Ek dog jy en Suna slaap nog.”
“Toe sit en praat jy maar met jouself.” Sy knip haar oë in die skerp oggendlig. “Mens sou sweer jy’s verlief.”
“Het jy die paartie geniet?”
“Tj’aag, dit was okay.” Sy val in die seilstoel langs my neer, gaap weer ’n keer, strek haar kaal bene lank voor haar uit. “Dit was in elk geval duidelik dat jý dit geniet het.”
“Waar’s Suna?”
“Droom seker nog oor hoe lekker sy gedans het.” Sy draai haar kop na my toe, haar grysgroen oë nou helder wakker, en glimlag daardie onmoontlike wye glimlag. “Sy was omtrent ’n hit, nè?”
Danksy Dalena se susters se grimering, en die dowwe rooi ligte in die rondawel waar die partytjie gehou is, het Suna skoon van haar velprobleem vergeet. En toe die seuns eers sien hoe sy haar lyf op die dansvloer rondgooi, het sy die res van die aand nooit kans gekry om te rus nie.